Scholtz, Verwoerd, vol. 1, p. 14.
Student en jong dosent
Hendrik Verwoerd het in Februarie 1919 by die Universiteit van Stellenbosch (US) met sy studentetal van 600 ingeskryf. Sy doel was om predikant te word. Onder sy tydgenote was daar verskeie talentvolle mense wat later hul merk sou maak: C.G.W. Schumann, ’n ekonoom; Hendrik van Eck, ’n nyweraar; Meiring Naudé, ’n natuurwetenskaplike; L.C. Steyn, ’n latere hoofregter; Eben Dönges, ’n senior regsgeleerde; en Johann Buhr, ’n legendariese studenteleier wat joernalis geword het maar vroeg oorlede is. In 1925 het Verwoerd, Steyn en Buhr ’n debatstoer deur al vier provinsies onderneem en op vyftien plekke teen mekaar gedebatteer.
Op Stellenbosch ontmoet hy Elizabeth Schoombie, van Middelburg in die Kaap, wat in 1927 sy vrou sou word. Sy was ’n knap student wat ’n BEd- en ’n MA-graad behaal het en met hom oor ’n wye veld van onderwerpe kon gesels. Hulle het sewe kinders in ’n hegte gesin grootgemaak.
Met die plan om tot die bediening toe te tree, bring Verwoerd Sondae besoeke aan verarmde Afrikaners van Kaapstad wat in krotbuurte saam met arm bruin mense woon. Die lot van die armblankes sou vir die volgende 30 jaar een van die sake word wat hom steeds aangryp.
In 1920, toe hy nog maar ’n tweedejaarstudent was, het hy die eerste artikel wat hy publiseer aan hierdie onderwerp gewy. Hy het geskryf oor die wit armes in die gemengde krotbuurte van Woodstock en Soutrivier waar ’n familie met soveel as twaalf lede in twee klein vertrekkies bly. By Soutrivierstasie was daar ’n gebou van 100 meter lank waarin 400 mense gewoon het.
In hierdie artikel maak Verwoerd drie punte wat in sy latere loopbaan soos ’n refrein sou terugkom. Ten eerste was die toestand van die arm Afrikaners deels daaraan toe te skryf dat hulle sleg ingelig is toe hulle besluit het om na die stad te verhuis. Beter inligting en voorligting was noodsaaklik.
Tweedens het hy aangevoer dat waar wit en bruin saam in ’n buurt of selfs in een huis woon dit daartoe sou lei dat, soos hy dit gestel het, “die jong Afrikaners geen beswaar daarin sien om in die huwelik te tree met hul vroeëre speelmaats nie”. Sosiale sanksies was nie voldoende nie; slegs die afdwing van aparte groepsgebiede sou integrasie verhoed.
Ten derde was die opheffing van die arm Afrikaners nie bloot ’n welsyntaak nie maar ’n volksaak. Besef mense, vra hy, “wat vaderlandsliefde in die volste sin van die woord beteken?” Waarom toon die Afrikaners nooit hul liefde vir hul volk prakties nie? Hy meen Afrikaners het nie ’n volle besef van “ware vaderlandsliefde” nie en dat dit blyk uit hul houding teenoor “ons arme blanke kwessie”.[20] Hier word drie drade aanmekaargeweef: Afrikanerarmoede, ’n etniese nasionalisme (wat hy egter patriotisme noem) en die plig van alle Afrikaners om na hul “eie” armes om te sien.
Vir die volgende drie dekades sou armoede onder sowel wit as bruin die hooftema in Verwoerd se openbare optredes word. ’n Botsing met die NG Kerk se kuratorium oor ’n nietige kwessie (Verwoerd wou nie die vereiste getuigskrif indien nie omdat daar niemand was wat hom goed genoeg geken het om so iets te skryf nie) het daartoe gelei dat hy sy voorneme om predikant te word laat vaar en met nagraadse studies in sielkunde begin. Met “Die afstomping van gemoedsaandoeninge” as onderwerp behaal Verwoerd in 1924 ’n doktorsgraad in sielkunde met onderskeiding. Hy het reeds ’n reputasie gehad as ’n man met ’n briljante verstand en sterk persoonlikheid.
Met Verwoerd as voorsitter rig die US Studenteraad in 1923 twee betekenisvolle versoeke: dat die plaaslike NG-gemeente ter wille van die studente ook dienste in Afrikaans hou (dit word onsimpatiek afgewys) en dat die Kaapstadse stadsorkes met sy optrede op Stellenbosch nie meer die Britse volkslied speel nie (dit word toegestaan). Voor ’n groot gehoor neem hy teen twee Oxford-studente deel aan ’n openbare debat oor vryhandel. ’n Plaaslike Engelse koerant berig soos volg: “Like a machine he rattled off a variety of facts and figures.” Een van die Oxford-studente komplimenteer hom so: “I bow to your superior knowledge of the English language.”[21]
Op grond van sy prestasies as student ontvang Verwoerd die ruim Abe Bailey-beurs – met as voorwaarde dat hy aan ’n Britse universiteit studeer. Verwoerd wou nie ’n beurs aanvaar van iemand wat as ’n groot jingo bekend gestaan het nie en het dit van die hand gewys. Hy het ’n ander beurs aanvaar. Dit was heelwat kleiner en het hom genoodsaak om as tydelike dosent te bedank.
Later het hy vertel dat hy en sy vrou met net ’n paar pond in hul sak van hul studiebesoek oorsee sou terugkom. Dieselfde bereidwilligheid om groot persoonlike risiko’s of onkostes aan te gaan ter wille van ’n saak wat hy as belangrik beskou kom telkens later in Verwoerd se loopbaan voor. (Hy sou ’n professoraat vir ’n onsekere redakteurspos verruil en hy sou as redakteur bedank om ’n grenssetel te betwis.) Telkens het dit finansiële opofferings vereis.
Van 1925 tot 1927 het Verwoerd ’n studietoer na Duitse en Amerikaanse universiteite onderneem. Daar is later bespiegel dat hy tydens sy besoek aan Duitsland deur Nazi-idees beïnvloed is, maar daar is geen bewys hiervoor nie. Hy het die universiteite in Leipzig, Hamburg en Berlyn besoek vóórdat die Nazi-party hom as ’n beduidende aanspraakmaker op mag gevestig het. As sielkundige en sosioloog het hy die werk wat aan Amerikaanse universiteite gedoen is verkies bo Duitse universiteite se studievelde en benaderings.
In sy klasaantekeninge as professor eers in sielkunde en later in sosiologie aan die Universiteit van Stellenbosch tussen 1927 en 1936 verwerp hy die idee van biologiese verskille tussen die “groot rasse”. Omdat daar geen verskille is nie, was ras “nie regtig ’n faktor in die ontwikkeling van ’n hoër beskawing deur die Kaukasiese ras nie”. Hy het ook die idee van verskillende aangebore vermoëns verwerp. Hy het opgemerk dat dit wat soos verskille in vaardighede tussen wit en swart mag lyk, eenvoudig verskille in kultuur is as gevolg van historiese ondervinding.[22]
Nadat hy koerantredakteur geword het, het Verwoerd ’n ander aksent laat hoor. Hy het ras (biologiese afkoms) en kultuur as onveranderlike eienskappe van ’n persoon se maatskaplike identiteit beskou.[23] Intieme verhoudinge oor die kleurgrens heen was vir hom onwenslik en moes deur die wet verbied word. Selfs liberale denkers het dit in dié tyd ook as onwenslik beskou maar daarop aangedring dat sosiale sanksie eerder as wette dit moet verhinder.
Verwoerd was vol lof vir die werk van sosiologiedepartemente in die Amerikaanse universiteite oor maatskaplike beplanning en die voorkoming van konflik. Teen die middel-1930’s was baie leidende Suid-Afrikaners só gefassineer met die VSA dat Lord Hailey in sy dagboek opgemerk het: “Suid-Afrika beskou homself as die VSA in wording.”[24] Ook Verwoerd was oortuig dat Suid-Afrika ’n dinamiese staat sou kon word wat groot probleme soos armoede en wrywing tussen groepe deur navorsing en beplanning kon oplos.
Terug op Stellenbosch is Verwoerd in 1927 aangestel as professor in sielkunde en in 1931 as professor in sosiologie. Hy het gou sy aandag begin wy aan die armblankevraagstuk, wat juis toe begin het om die nasionale agenda te oorheers.
20. Scholtz, Verwoerd, vol. 1, p. 19.
21. Scholtz, Verwoerd, vol. 1, pp. 21-22.
22. Roberta Millar, “Science and Society in the Early Career of HF Verwoerd”, Journal of Southern African History, 19, 4 (1993), pp. 638-46.
23. Christoph Marx, “Hendrik Verwoerd’s Long March to Apartheid; Nationalism and Racism in South Africa”, Manfred Berg en Simon Wendt (reds.), Racism in the Modern world: Historical Perspectives on Cultural Transfer and Adaptation