Johannes Bertus de Villiers

Die einde van die wêreld


Скачать книгу

is een van die vernaamste bedreigings wat die laaste jare deur doemprofete as ’n moontlike oorsaak van die komende wêreldeinde aangevoer word. My vriend Ben beweer dit gaan die hele string gebeure afskop wat tot die apokalips gaan lei. Maar ná die teleurstellende “katastrofe” van Januarie 2012 het baie skeptici hul skouers opgehaal en die woordjie “sonstorms” van hul lysie van wêreldbedreigende gevare geskrap. Dit is ’n fout.

      Om te weet hoekom sonstorms wel ’n mate van amok op die aarde kan saai (hulle het dit immers in die verlede al reggekry), hoef mens net te kyk hoe die son werk.

      Die son is eintlik een uitgerekte proses van ontploffings, waansin en geweld, wat voortdurend die afval van dié ontploffings die ruimte in stuur. Die son se uitstralings sou alle lewe op aarde millennia terug al verkool het asof ons in ’n reuse-mikrogolfoond sit, maar gelukkig word die aarde deur ’n onsigbare skild, die magnetiese sfeer, omring. Die magnetiese sfeer is ’n veld wat die planeet soos ’n jas toedek (dink aan die onsigbare “shields” wat ruimteskepe in Star Trek om hulle oprig sodat vyande se missiele daarvan afbons). Die ergste bestralings wat die son in ons rigting stuur, bons van die magnetiese sfeer af weg in die rigting van die pole en kom nooit by ons op die oppervlak uit nie.

      Maar nou kry mens dae dat die son buitengewoon woedend raak en ’n paar ekstra uitstralings afvuur. Dit is wat ons ’n sonstorm noem. Die sonstorms stuur ’n vernietigende wolk (wat miljarde tonne weeg) van elektrone, protone, helium, waterstof en allerlei ander dinge wat die son self nie eens meer onder sy oppervlak wil hê nie teen ’n spoed van tot 8 miljoen km/h die ruimte in. Dit is soos ’n paar miljoen kernwapens wat gelyk in een rigting afgevuur word.

      Gelukkig is die son ver en die ruimte groot, so verreweg die meeste van sy uitbarstings vlieg ver by ons verby en verdwyn in die dieptes van die ruimte in. Skiet mens egter oor ’n lang tyd genoeg skote in die duister, is dit onvermydelik dat jy eendag ’n sensitiewe teiken gaan tref, selfs al het jy nie daarvoor gemik nie. So van tyd tot tyd tref ’n groot sonstorm se uitstralings ons reguit. En wanneer dít gebeur, so gee die meeste kenners toe, kan dit ten minste ’n mate van ongerief op aarde veroorsaak, indien nie iets ergers nie. In die verlede het sulke uitstralings al elektriese kragnetwerke ontwrig, transformators vernietig, met elektronika ingemeng en mense in hoë vliegtuie en satelliete aan gevaarlike bestraling blootgestel.

      * * *

      Die uitwerpsels van ’n sonstorm tref die aarde in drie fases.

      • Eers sal ’n groot klomp elektromagnetiese bestraling wat blitsvinnig van die son af uitbeweeg hier aankom. Dit het die potensiaal om GPS-satelliete te beskadig en ons kommunikasienetwerk te ontwrig.

      • Kort op die hakke daarvan volg ’n vlaag protone wat die elektronika van satelliete verder sal beduiwel.

      • En dan kom die relatief stadige, maar gevreesde “koronale massa-uitwerping” (dit tref die aarde eers ’n dag of wat ná die sonstorm). Die koronale massa-uitwerping is die deel wat werklik moles maak op die aarde. Ruimtevaarders op die Internasionale Ruimtestasie het ’n spesiale hoekie waar hulle daarvoor moet wegkruip. Op die oppervlak van die aarde veroorsaak dit ekstra strome in elektriese geleiers wat in die verlede al hele kragnetwerke oorlaai en transformators uitgeskop het. Doemprofete soos die Amerikaanse skrywer Matthew Stein meen koronale massa-uitwerpings van ’n sterk genoeg sonstorm kan kernkragreaktors wêreldwyd laat smelt en kernontploffings oor die aarde heen veroorsaak (hy skryf van “400 gelyktydige Tsjernobils”), maar daar is nog geen wetenskaplike bewyse om Stein se voorspelling te staaf nie.

      Is daar enige manier om te voorspel wanneer die son so ’n storm in ons rigting gaan afvuur? Nes met aardse weerpatrone, is daar een of twee tekens wat ons soms waarsku dat onweer op die son op pad is. Sonstorms hou byvoorbeeld verband met die aantal sonkolle op ons ster se oppervlak. Sonkolle is die donker spatsels wat mens soms op foto’s van die son kan sien. Hulle is ’n bietjie soos vulkane op aarde – sagte plekke in die kors wat die binnekant toelaat om van tyd tot tyd uit te bars om drukking te verlig. Sonkolle neem in siklusse van elf jaar toe om ’n klimaks van sonaktiwiteit te bereik, neem dan weer af tot ’n laagtepunt, en styg dan weer om elf jaar later ’n volgende klimaks te vorm.

      Diegene wat glo 2012 is die begin van ’n era van rampspoed en verwoesting wys daarop dat ’n maksimumfase van die huidige siklus in Mei 2013 verwag word. Dit sal egter nie help om jou in Mei 2013 in tinfoelie toe te draai en die hele maand in ’n bunker weg te kruip nie – hoewel dit die siklus se maksimum is, is hewige sonstorms in die verlede al tot twee jaar voor of ná die piek van ’n siklus opgeteken.

      Kyk maar na enkele voorbeelde:

      Op Halloween in 2003 het die sterkste sonstorm van sy generasie die aarde getref, maar aangesien dit meestal die poolstreke gelooi het, het die res van die wêreld nie veel daarvan opgemerk nie. In Suid-Afrika het dit egter ’n transformator vernietig en die land se sukkelende kraginfrastruktuur ’n onwelkome knou gegee.

      In 1989 het twee swakker storms Kanada getref en veel groter chaos veroorsaak omdat dit die kragnetwerk in die land oorlaai en ses miljoen mense eensklaps in die donker gelaat het.

      Die ergste sonstorm op rekord – een wat die boonste twee na vulletjies laat lyk – het die wêreld in 1859 getref, genadiglik lank voordat die mensdom van elektriese netwerke afhanklik was. Die Carrington-storm (genoem na die wetenskaplike wat dit eerste verklaar het) het gevolg toe ’n storm elektromagnetiese uitstralings van sowat 10 triljoen triljoen watt in die aarde se rigting uitgestuur het. (Ek kan my nie indink hoe 10 triljoen triljoen watt lyk nie, maar die skrywer Lawrence Joseph beweer dit is sterker as al die energie, elektries of meganies, wat nog ooit op aarde geproduseer is.) Die eerste twee fases van die storm se uitstralings het die aarde ongemerk getref omdat daar geen satelliete was wat daardeur geaffekteer kon word nie, maar die derde fase was so sterk dat dit kompasnaalde regoor die wêreld heen in die rondte laat tol het. Die stroom wat dit in telegraaflyne veroorsaak het, was so aktief dat telegraafoperateurs hul masjiene kon aanhou gebruik selfs nadat hulle die batterye ontkoppel het.

      * * *

      Nou ja, sal die meeste mense sê, dit klink erg, maar ’n kragonderbreking en ’n telegraaf wat buite beheer raak, is nog lank nie die einde van die wêreld nie.

      Probeer jou egter die volgende scenario indink: ’n Sonstorm van die omvang van die Carrington-storm – 50% groter as enigiets wat die mensdom die laaste dekades gesien het – vind vandag plaas en stuur sy uitstralings in die rigting van ’n aarde waarop die mensdom volledig van selfone en elektrisiteit afhanklik geword het. Jy gaan ’n paar dae later winkel toe om kos te koop, maar daar is niks beskikbaar nie omdat die vervoernetwerk tot stilstand gekom het. Al die ou kos in die yskaste, wat ingevolge die huidige praktyke so na as moontlik aan die vervaldatum afgelewer word, het begin vrot. Jy keer terug na jou huis en sien ander mense, wat ook begin agterkom het die kos raak min, is besig om by jou huis in te breek en jou spens leeg te maak. Jy kan nie die polisie bel nie, want jou selfoon werk nie, so jy probeer hulle self stop en hulle slaan jou katswink. By die hospitaal aangekom (jou bure moet jou soontoe dra, want jy kan nie ’n ambulans bel nie en die ambulansdienste het in elk geval tot stilstand gekom sedert die brandstofaflewerings opgehou het), vind jy uit hulle kan jou nie behandel nie, want die krag is af. Talle ander siekes moet ook by die deur omdraai, want die medisyne in die warm yskaste begin min raak. Boonop kan niemand meer vir enigiets betaal nie, want die bankdienste – teen dié tyd volledig op elektroniese data aangewese – het in duie gestort. Krane is droog, want water kan nie meer gepomp word nie, die regering kan nie wet en orde toepas nie, die mense raak al hoe meer rusteloos en die paaie uit die stede word deur verkeersknope versper.

      Dis duidelik waarop dinge afstuur. Kan dit gebeur?

      In die vaktydskrif Space Weather het daar kort ná die hewige sonstorm van Januarie 2012 ’n artikel verskyn deur sterrekundiges in San Diego wat na aanleiding van die siklus van sonkolle uitgewerk het daar is ’n kans van een uit agt dat die aarde voor 2020 deur uitstralings van ’n massiewe sonstorm getref gaan word – ’n storm van Carrington se omvang.

      Voordat ek egter ’n bunker bou of my eie grot gaan uitsoek, is dit tyd om by die weerman aan te klop. Ek bel dus die ruimteweerstasie op Hermanus en word meegedeel ’n navorsingswetenskaplike