Johannes Bertus de Villiers

Die einde van die wêreld


Скачать книгу

huidige sonsiklus omtrent net twee derdes so sterk soos die vorige een is,” vertel Donald Danskin my in ’n stem wat glad te rustig klink vir iemand wat hom heeldag met radioaktiewe sonuitbarstings besig hou. Trouens, hy klink effens verveeld, asof hy in sy lewe al gans te veel vrae oor sonstorms gehoor het.

      Hy lys redes om nie te gou paniekerig te raak nie.

      “As ’n storm op die son losbars en ’n klomp uitstralings afvuur, hou dit gewoonlik net sowat ’n uur lank aan, ongeag hoe sterk dit is. Daardie kort tydsduur van die storm is goeie nuus vir die aarde, want dit beteken net die deel van die aarde wat vir sowat ’n uur na die son toe wys, sal daardeur geraak word.

      “Daar is heelwat tussen ons en die son wat ons beskerm. Benewens die magnetiese sfeer wat skadelike bestraling laat wegbons, is daar nog die ionosfeer, wat groot hoeveelhede energie absorbeer. En dan die atmosfeer, en spesifiek die osoonlaag, wat ultraviolet strale uitfiltreer.”

      Maar selfs hy moet tog toegee dat ’n sonstorm so sterk soos die Carrington-storm moeilikheid op die aarde se oppervlak kan veroorsaak?

      “Ja, seker,” erken hy. “As hulle regtig baie sterk is, kan hulle geomagneties geïnduseerde elektriese strome in ons kragnetwerke veroorsaak. Maar dikwels is die daaropvolgende probleme die gevolg van sekondêre faktore, eerder as die sonstorm self. Toe dele van Kanada se kragnetwerk in 1989 afgeslaan het, was dit nie weens die krag van die storm nie, maar eerder omdat die netwerk se ingeboude veiligheidstelsel opgelet het daar is vreemde strome in die netwerk en toe homself afgeskakel het. Die kragonderbrekings was dus eintlik die gevolg van die veiligheidstelsels, eerder as die storm self.”

      ’n Tweede erge storm het Kanada in 1982 getref, voeg hy by. “Ons het ’n paar satelliete kortstondig verloor en kon ’n ruk lank nie TV kyk nie. Dis eintlik maar die ergste wat kan gebeur.”

      * * *

      Dit sal seker verkeerd wees om teleurgesteld te voel as iemand jou vertel daar is geen ramp op pad nie, maar ek het regtig iets meer dramaties verwag. Talle 2012-doemprofete skets ’n prentjie van hele gemeenskappe wat in honger barbare gaan ontaard binne dae nadat ’n sonstorm die samelewing lamgelê het.

      Ek gaan kuier dus by nog ’n slim ruimtekenner, die kernfisikus Gerrit Genis, by sy huis in Pretoria. Gerrit was al betrokke by allerlei projekte oor kernkrag en satellietkommunikasie, en is een van die kenners by wie mens gerus kan aanklop vir ’n betroubare mening oor dié tipe goed.

      “Dit klink baie erg as mense jou vertel daar kan sonstorms wees wat satelliete uitslaan,” begin hy, “maar dit gebeur elke jaar so twee keer dat sonstorms hewig genoeg raak om satellietkommunikasie te benadeel. Mense begroot daarvoor. Satelliete is nooit honderd persent van die tyd beskikbaar nie.”

      Die deurslaggewende faktor is dat die aarde relatief tot die son baie klein en baie ver is, gaan hy voort. So selfs al vind ’n ondenkbaar massiewe uitbarsting op die son se oppervlak plaas, is die kans steeds skraal dat dit die aarde gaan affekteer. Kyk een aand op in die lug en jy sal sien wat ’n klein deeltjie van ons hemelruim enigeen van die planete, soos Jupiter of Venus, vul. Die kans dat enigiets wat lukraak van die aarde af opwaarts geskiet word een van daardie planete gaan tref, is minimaal. Net so is die aarde piepklein as dit vanaf die son se oppervlak gesien word. “Die aarde vul 4/1 000 000 000 000 (dis vier miljoen-miljoenstes) van die son se lugruim. Die kans dat enigiets wat deur die son uitgestraal word spesifiek op die aarde gemik gaan word, is baie klein.”

      * * *

      Luister jy na die slim mense, kan jy dalk net-net heeltemal gerus raak en ophou om jou oor die son te bekommer. Maar ek was skaars terug van my besoek aan Genis toe ek ’n persverklaring van NASA lees waarin hulle skryf van ’n storm wat op ’n ander ster waargeneem is.

      In Desember 2005 het NASA se Swift-satelliet ’n storm op die oppervlak van II Pegasi, ’n ster in die konstellasie Pegasus, gewaar. II Pegasi is niks groter as die son nie, maar ’n storm het van hom af uitgebars wat 100 miljoen keer sterker was as enige storm wat al op ons son waargeneem is. Die energie wat dit vrygestel het, was gelyk aan 50 miljoen triljoen atoombomme. Sou iets soortgelyks op ons son plaasvind, skryf die gewoonlik heel nugtere NASA, “sou dit tot ‘n massa-uitwissing van lewe op aarde lei”. In so ’n geval sal niemand hulle oor hul kragnetwerk of selfoonsein bekommer nie; mense en alles wat ons op aarde tot stand gebring het, sal verkool word.

      Aan die einde van die persverklaring troos NASA egter: “Genadiglik is die son ’n stabiele ster wat nie sodanige sterk uitstralings produseer nie.”

      Daar het jy dit. Sonstorms kan moontlik die einde van die wêreld laat afskop, maar die kenners sê dit is onwaarskynlik. Die meeste mense sal die kwessie dus daar laat en die son geniet wanneer ons op ’n somersdag langs die swembad wil lê.

      Ek het ook so gedink, totdat ek met Patrick Geryl gesels het.

      In 2005 het ’n boek genaamd World Cataclysm in 2012, geskryf deur Geryl, ’n voorheen obskure Belgiese navorser, die lig gesien en is sonstorms skielik midde-in een van die ergste nagmerrie-scenario’s geplaas waarmee die mensdom nog vorendag gekom het – een wat tot die uitwissing van sowat 99% van die mensdom sou lei indien dit ooit bewaarheid word.

      Ek het Geryl by sy huis in België opgebel om meer oor sy voorspellings te hoor en ek is nie skaam om te erken nie: Wat hy my vertel het, het die hare in my nek so ’n bietjie orent laat staan.

      * * *

      Katastrofe 101

      Wat kan gebeur? ’n Uitbarsting op die son stuur tonne plasma in die aarde se rigting.

      Wat beteken dit vir jou? Kommunikasiesatelliete en kragnetwerke word uitgeslaan. Jy kan niemand kontak nie, daar is skielik geen krag, geen kos in die winkel en geen medisyne in die hospitaal nie. Die beskawing stort in duie.

      Jou kans op oorlewing? Die sonuitbarsting sal jou nie seermaak nie – maar die buurman wat jou laaste sak meel kom steel, sal wél.

      Maar gaan dit régtig gebeur? Sonstorms van een of ander aard, ja. Sonstorms wat sterk genoeg is om die samelewing lam te lê, nie sommer maklik nie. Tot dusver slaap ek rustig.

“Soewereine mense” Terwyl ek rondgesoek het na mense in Suid-Afrika wat hulle op die eindtyd voorberei, het ek meer as een keer gehoor dat mense die naam “Ramtha” noem. Ben het soms vertel van die mense wat voorbereidings vir die eindtyd tref, is by Ramtha betrokke – hoewel hy bygevoeg het dat hy self niks daarmee te doen het nie. Michael Tellinger (oor wie ek later meer sal vertel) het by geleentheid Ramtha se volgelinge gaan toespreek.
Ramtha wie? vra jy. Ek het ook gewonder, en ná ’n paar navrae die volgende vasgestel:
Die Ramtha Skool van Ontwaking is ’n geheimsinnige Amerikaanse godsdiensgroep wat ook in Johannesburg ’n tak het. Die beweging is in die 1970’s gestig deur J.Z. Knight, ’n skatryk, blonde vrou wat beweer ’n geestelike wese genaamd Ramtha praat deur haar. Ramtha vertel deur haar onder meer dat alle mense inherent goddelik is en hul wêreld met hul eie denke skep.
Waar Ramtha (of waarskynlik Knight) se boodskap veral interessant raak, is in hul raad aan volgelinge dat hulle “soewereine mense” moet word. ’n “Soewereine mens” is glo een wat op sy of haar eie kan oorleef, onafhanklik van die beskawing, banke en die aandelemarkte. Sommige Ramtha-volgelinge sê hulle wil “soewereine mense” word juis ingeval die beskawing in 2012 in duie stort.
Op die oog af klink dit na dieselfde ding wat Jakkals in sy grot probeer doen, maar in die geval van Ramtha se volgelinge het dinge al by geleentheid ’n meer sinistere wending geneem. In Januarie 2011 het twee Franse oudlede van die Ramtha Skool van Ontwaking, Philippe Menière en Agnes Jardel, op ’n plaas in die Karoo in ’n skietgeveg met die polisie betrokke geraak. Dié twee het meer as ’n dekade vantevore hul werk in Johannesburg opgegee sodat hulle Ramtha se filosofie prakties kon uitleef deur soos twee egte Robin Crusoes afgesonderd op ’n plaas naby Sutherland te gaan woon. Kort voor lank het die twee begin om afgesien van al hul ander proviand ook wapens op die plaas op te gaar.
Toe twee polisielede eendag