Helena Hugo

Veldpad van verlange


Скачать книгу

Andreas op sy pligte te wys en dis moeilik om haarself te bedwing. Sy is kwaad vir Lüther, maar sy gaan nie toelaat dat ’n snip van ’n modelletjie hom kritiseer nie. Hy is op slot van sake ver haar meerdere en ’n man met verantwoordelikhede. Hy kan nie ’n siek pasiënt wat raad soek, aanjaag of wegwys nie! Lewe is belangriker as die gemaksug van ’n verveelde poppie wat skielik lus het om iets te bewys.

      Tel jou woorde en jou gedagtes, maan Paulie haarself, die poppie doen jou ’n moewiese guns. Al moet sy nog haar plek leer ken en al gaan sy haar moses teëkom.

      Sy drink die laaste druppel in die bottel voor sy dit van haar mond af wegneem. In haar keel stol ’n bloeddorstige luiperdwyfie-grom wat in woorde beteken: Los my man, hy is myne en jy het niks oor hom te sê nie.

      “Is jy oukei?” Andreas kom staan tussen haar en Natika.

      “Warm,” is al wat sy antwoord voor sy wegstap om die leë bottel in die naaste vuilgoeddrom te gooi en ’n laaste draai in die damestoilet te maak.

      Dis vroegherfs, maar Pretoria is tipies bedompig en net so broeiend soos haar gemoed én die oorvol drom. In die waskamer loop ’n kraan. Sy probeer dit toedraai, maar dit wil nie. Dan maak sy dit wyd oop en was haar gesig só woes, haar hare plak teen haar voorkop vas.

      Sy kam dit met haar vingers en frons vir haarself in die spieël bokant die wasbak. Soms wonder sy of dit die moeite werd is: die geswoeg om een aand in ’n rooi toga oor die Aula-verhoog te kan stap met ’n rooi pampoen van ’n hoed op haar kop en ’n gepaste band om haar nek. Is dit vir die applous en die erkenning, vir die ontdekkings wat sy gaan maak en die werk wat sy moontlik sal kan losslaan?

      Soos sy vandag voel, sal sy gelukkiger wees sonder boekgeleerdheid iewers op ’n ysblok in die middel van die Arktiese See. Alhoewel, daar vrek die vis ook deesdae aan metaalvergiftiging. Wat help al die navorsing as mense nie luister nie en as niemand wil saamwerk nie!

      Die gesukkel om genoeg vrywillige helpers bymekaar te skraap het haar byna laat tou opgooi. Was dit nie vir Lüther wat haar moed ingepraat het en toe verlof geneem het om saam te kom nie, hét sy tou opgegooi. Al moes sy dan haar beurs terugbetaal en al sou sy bekend staan as ’n mislukking.

      “Ek’s lus en kanselleer alles en vlieg maan toe,” het sy moedeloos verklaar.

      “Dis darem te ver,” het Lüther gekeer en dadelik sy pa gebel om haar dilemma aan hom te verduidelik.

      Oudokter Meyerhoff was baie toegeeflik, aangesien hulle praktyk nogal besig kan raak wanneer die seisoen begin draai en Lüther drie weke weg sal wees.

      “Hy doen jou die guns van sy lewe, Pauline Hopkins, al wag jy nog ’n uur,” sê sy vir haarself in die spieël. “Wees geduldig.”

      “Pau-lie!”

      Dis Natika se dun stemmetjie. Sy staan in die gang voor die deur. Hoekom kom sy nie in nie?

      “Ek was my hande!” Paulie se stem weergalm deur die leë vertrek.

      Natika verskyn in die deur. Sy lyk vies en trek haar neus op.

      “Jou verloofde is hier,” kondig sy amptelik aan. “Hulle het so pas stilgehou.”

      “Hoog tyd!” roep Paulie onwillekeurig uit en byt amper haar tong af. “Dankie dat jy my kom sê het,” voeg sy by.

      “Hulle laai sy goed.”

      Paulie kyk op haar horlosie. Tien oor twaalf in die middag. Wat ’n simpel tyd om te ry.

      “Wil jy ook hande was?” vra sy.

      “Liewer by die volgende vulstasie.”

      Natika kyk rond asof ’n kiem enige oomblik op haar gaan spring, maar druk tog haar vingerpunte onder die lopende kraan in.

      Paulie los haar daar en stap haastig aan viertrek toe, waar Andreas en Lüther halflyf in die bagasiebak hang terwyl oudokter Meyerhoff lastig instruksies gee. Geen wonder Lüther kon nie betyds wees nie. Sy pa het natuurlik daarop aangedring om hom te kom aflaai en toe moes albei dokters eers hul afsprake afhandel.

      Lüther is dertig en sy ma en pa dink steeds hy kan nie sy eie lewe reël nie. Die helfte van alles wat hy aanvang, sal die oumense nie glo nie. In hulle oë kan hy nie ’n voet verkeerd sit nie. En doen hy dit, sal hulle maklik die skuld op hul eie skouers laai.

      Paulie steek haar verwyte agter haar glimlag weg en groet so vriendelik soos sy onder die omstandighede kan. “Middag, dokters. Kom oudokter ook saam?”

      “Nee, ek bring vir Loet. Hy kan nie sy Porsche vir drie weke op die kampus los nie.”

      “Dis veilig, oom Heinz. My Volksie staan gereeld weke lank hier en dit het nog nooit iets oorgekom nie.”

      Sy soen Lüther op sy wang. “Haai,” groet sy vlugtig.

      “Dis ’n Porsche!” roep sy pa uit.

      Sy en Lüther kyk vir mekaar, sê wat hulle moet sê.

      “Ekskuus dat ek laat is, ons het ’n krisis by die spreekkamer gehad.”

      “Jammer, ek was ongeduldig met jou, maar ek het nie geweet hoe lank ons nog vir jou moes wag nie.”

      “Ons wag al hier van nege-uur af!”

      Almal kyk in die rigting van die stemmetjie. Dis Natika wat aangesweef kom. Haar grimering is opgeknap en haar hare blink geborsel, die ene vlamme en vonke, haar parfuum ’n swaar geurende seringbloeiselwolk.

      Al drie mans los wat hulle doen en kyk haar aan met begerige oë. Paulie sien nou eers die pienk skouersak oor Natika se linkerskouer. Sy hou duidelik haar mooimaakgoed byderhand, maar dit sal nie werk in die veld as die sweet begin stroom en die insekte begin byt nie. Dan is sonblok, lipsalf en sitronella al wat jy nodig het. Nogtans voel Paulie skielik vuil en asvaal – die leier van die ekspedisie en niks besonders nie.

      Lüther se mond hang oop. Moet sy haar vir hom skaam omdat hy so staar asof hy nog nooit ’n vrou soos Natika gesien het nie!

      Natika stol in haar spore en poseer asof sy vasgevang is in ’n kollig. Kyk hulle vir mekaar of kyk hulle net? Die mans vir haar en sy vir die mans?

      Paulie het nie meer tyd om haar aan hulle te steur nie. “Ons moet roer!” skud sy hulle wakker.

      Andreas kom eerste uit sy beswyming.

      “Dis Natika. Ek glo nie julle het al ontmoet nie?” Met ’n frons in Paulie se rigting.

      Lüther spring galant op aandag, hand uitgestrek. Hy oordoen dit, dink Paulie, en hy lyk simpel.

      “Definitief nie! Ek sou haar nie vergeet het nie! Lüther Meyerhoff!”

      “Dokter!” voeg sy pa by en lek oor sy lippe. “Dokter Meyerhoff.”

      “Hallo, dokter.” Sy glimlag uitlokkend. “Ek sal dokter vergewe as dokter vir my ’n roomys koop.”

      “Waar?” Lüther kyk om hom rond.

      “Nie hier nie, by die eerste oase langs die pad!”

      Asof sy ooit ’n hele roomys alleen opeet, dink Paulie venynig.

      “Ons moet ry, dit word baie laat.” Sy gee oudokter ’n vinnige drukkie. “Totsiens, oom Heinz.”

      Andreas het die sleutel. Hy en Paulie is die enigste twee wat klaring het om die departement se voertuie te bestuur.

      “Ry veilig. En laat weet ons sodra julle aankom,” vermaan die ouer man, “voor jou ma haar heelnag bekommer.”

      “Ons sal,” knik Lüther. “Ons het goeie selfoonverbinding op Graspan.”

      “Waar sit ons?” vra Natika.

      “Jy kan vandag voor langs Andreas sit,” sê Paulie. “In die veld ry ek voor.”

      “Dankie,” sê Natika, maar sy kyk spytig na Lüther wat sy tros kameras van sy nek afhaal en op die sitplek tussen hom en Paulie pak.

      Hy