Helena Hugo

Veldpad van verlange


Скачать книгу

swaargelaaide waentjie agteraan weg en ry stadig deur die stadsverkeer, die groen heuwels tegemoet.

      2

      Net Paulie weet wat vir hulle wag saam met daardie idilliese landskap. Andreas kan hom dit seker ook voorstel. Hy was op soortgelyke ekspedisies, al was hy nie die vorige kere in Paulie se span nie.

      Sy het Lüther probeer voorberei en hy reken dis kinderspeletjies. Natika verbeel haar dis ’n vakansie. Haar parfuum vul die hele kajuit. Haar hare lewe.

      “Whitney!” roep sy uit en steek ’n CD in die speler.

      Sy en Andreas begin saamsing.

      “Tonight is the night that I’m feeling all right. We’ll be making love the whole night through.”

      Andreas klink redelik, maar Natika is vals.

      “Oukei,” sê Lüther en leun vooroor.

      Natika kyk om en skree-sing: “I’m saving all my love for you, only you!”

      Sy bedoel tog seker Andreas, nie Lüther nie? dink Paulie.

      Ja, daar kry Andreas ’n soen op sy oor.

      Paulie het kopseer. Sy leun teen die kussing terug en dink aan die apparaat en voorraad wat sy aangevra het en saam met Andreas en Zane ingepak het. Sy tel in haar kop af of sy genoeg deksels vir die plastiekbottels ingesit het, genoeg bottels, haartangetjies … Het sy ooit haartangetjies ingepak? Rooi doppies, het sy rooi doppies?

      “Moeg?” vra Lüther toe hy langs haar teen die kussing terugval.

      Sy knik. “Het ons die skêr gevat?”

      “Ek weet nie, vra vir Andreas.”

      “Andreas!”

      Hy reageer nie. Hulle is naby die afdraai N1 toe en hy kan nie hoor nie, want Whitney en Natika is op hulle stukke.

      “Daar was ’n skêr op die tafel in die laboratorium, het jy dit ingepak?” skree Paulie oor die lawaai.

      “Weet nie.”

      Die robot slaan oor na groen, daar is ’n pyltjie en Andreas kan draai.

      “As ons nie ’n skêr het nie …”

      Natika vlieg om en gil tussen twee reëls van die liedjie wat sy besig is om te vermoor: “Stop die gestres! Ek het ’n skêr! Jy kan dit leen!”

      “Dankie,” sê Paulie en sy klink nie dankbaar nie, eerder sarkasties.

      Sy vóél sarkasties. Waar het jy gesien een soos Natika wil die leisels oorneem?

      Lüther vryf dit in; hy vat Paulie se hand en druk dit. “Natika is reg, jy kan niks doen tot ons afpak nie.”

      Paulie maak haar mond oop om hom iets toe te voeg, maar sy is moeg gepraat. Sy wens in haar hart dat al drie skêre veilig in die boks ingepak is, by die etikette, potlode, notaboeke en ander skryfbehoeftes. Haar skootrekenaar is op die vloer by haar voete, netjies in sy sak. Dis een van die heel belangrikste items, en haar GPS … en …

      Sy besluit om Lüther se raad te volg en die ellendige lys voorlopig uit haar kop te sit.

      Lüther het ’n donker sonbril op en sy weet nie waar hy kyk nie. Hy glimlag vir haar en streel haar arm, maar sy verbeel haar hy snuffel in die lug agter Natika se seringbloeisels aan.

      Natika se hare wapper welig in die wind en sy wieg ritmies saam met: “I have nothing, nothing, nothing if I don’t love you.”

      Paulie moet keer voor sy ’n gesig trek. Daar sing Natika al weer.

      “Is jy dors?” Lüther haal ’n bottel water uit sy minikoelsakkie en hou dit na haar uit.

      “Nie nou nie, ek het netnou ’n hele 500 ml gedrink.”

      Hy vat ’n paar slukke, skroef die bottel toe en kyk deur die venster na die fabrieke en stoorplekke langs die pad. Hulle is nog nie eens deur Midrand nie.

      “Lang dag … Ons gaan donker by ons bestemming aankom,” verklaar hy asof dit nie sy skuld is nie.

      Paulie wil hom daaraan herinner en sommer vra of hy ook vyfuur opgestaan het. Hy hét waarskynlik, om gim toe te gaan, want hy begin elke dag met ’n ingewikkelde sessie van omtrent ’n uur en ’n half lank. Op die plaas sal hy noodgedwonge ander planne moet maak, maar sy het hom gewaarsku en hy was tevrede. Het gesê hy sal ver gaan draf en ’n paar swaar klippe soek vir gewigoefeninge.

      Lüther leun na haar oor en sê sag maar duidelik: “Hy ry nie te vinnig nie.”

      “Hy mag nie.”

      “Hoekom nie?”

      Daar is ’n plastiekkan met 50 liter alkohol agter in die waentjie en nog bottels suiwer alkohol in die bak. Nie om te drink nie, om haar insekmonsters te bewaar. ’n Botsing sal noodlottig wees: een vonk en vier jong lewens en die helfte van haar doktorsgraad bly in die slag.

      “Ons is gelaai met hoogs vlambare vloeistowwe.”

      “Wat ek darem nie vir jou sal doen nie …”

      Hy laat die sin in die lug hang en sy antwoord nie. Sy kyk na sy hande – die skoon wit hande van ’n voornemende sjirurg, gemanikuurde naels, fyn, ligte haartjies op sy polse.

      Daardie hande kan haar soms so ongenadig beetpak, sy dink hulle verander in wolfkloue. Dan moet sy soebat en smeek voor hy haar loslaat. As hy só word, is sy bang vir hom, bitter bang. Ses-en-twintig en steeds ’n maagd! Dis wat haar glo so begeerlik maak, en dis wat hom soms rede gee om haar eindeloos te treiter.

      Feit van die saak is: sy wil nog nie. En soms wonder sy of sy ooit met hom sal wil … enduit gaan. Sy het natuurlik die gewone drange van ’n jong vrou, maar dis nie hoe sy grootgemaak is nie.

      “Nie voor jy die ring aan jou vinger het en die register geteken het nie,” het haar ma haar dit met soveel nadruk ingeskerp dat Paulie begin wonder het oor haar ma en pa en haar oudste broer wat vyf jaar ouer as haar tweede oudste broer is.

      Sy en Lüther is verloof, byna ses maande al. Dis ’n bindende belofte, al trou hulle eers wanneer sy haar doktorsgraad het en hy ook nader aan sy doelwit is wat sy loopbaan betref. Lüther reken daarop dat sy lank voor daardie tyd tot haar sinne sal kom, aangesien hulle nog ’n jaar of twee sal moet wag. Dit gaan tyd neem voor hy gespesialiseer het en sy beroep is volgens hom strate ingewikkelder as haar navorsing.

      Miskien is hy reg. Dis makliker om insekte en plante te ontleed as om mense oop te sny en harte heel te maak. ’n Hartsjirurg, dís wat hy wil wees, en sy pa ondersteun hom. Oudokter Meyerhoff wou self ook hartsjirurg word en dit was hom nie beskore nie.

      Paulie kyk na Lüther wat verveeld deur die venster staar. Soms kry sy hom jammer, want sy ma piep hom op en sy pa dryf hom genadeloos. Maar volgens hom is hulle wonderlike ouers wat hom alles gee wat hy nodig het. Nie soos sy nie. Sy moes hom lankal toegelaat het om ’n ware man vir haar te wees.

      Goed, sy is nie meer onskuldig nie – hy trek haar broekie af en so aan. Maar een grens kan sy nie oorsteek nie: penetrasie. Dit hang soos ’n swaard oor haar kop. Haar hang-up, noem hy dit. Dit frustreer hom en sy geduld raak by die dag korter. Hy voel die verhouding stagneer en sy manlikheid word gekniehalter.

      Sy besef dit, want Ans Norval, sy vorige meisie, het haar eendag kom vertel dat hulle elke nag drie keer seks gehad het. En dat sy hom gelos het omdat hy haar met ’n getroude vrou verkul het. Paulie het haar weggejaag en gedreig om vir Lüther te vertel. Sy het ook, en hy het alles verontwaardig ontken. Sy glo hom – sy wil graag.

      Want sy bewonder hom van skooltyd af en toe hy haar eindelik raaksien, was sy in die wolke. Sy pa was lank hulle huisdokter en sy en Lüther was saam op skool, sy in graad agt en hy in graad elf. Dit kon sy toe lekker vir Ans invryf.

      Ans werk nou in die Kaap, gee klas by UCT, het Paulie laas gehoor. Dis beter so, want Ans was nes ’n gewete, het haar altyd met ’n alwetende kopknik gegroet. Paulie het hom intussen beter