in die lug rond.
Cilla sug. “Daar was ’n wilde rondloperhond by die skool die anderdag …”
“Cilla het met hom gepraat en hom heeltemal kalmeer, voor die hele skool, die kinders praat nou al dae lank oor niks anders nie,” val Imke haar in die rede.
“In elk geval,” probeer Cilla weer, maar Imke praat verder asof sy nie onderbreek is nie.
“En toe het een van die matrieks sy pa daarvan vertel. Sy pa is ’n bestuurder op ’n plaas naby Villiersdorp en die eienaar sukkel met ’n perd. Hy het toe vir Cilla gevra om te gaan kyk en … ek weet nou nie verder nie, jy moet die res vertel.”
“O, mag ék nou praat?” vra Cilla sarkasties.
“Ja, man, jy’s net te stadig, toe, vertel nou.”
Cilla lag. Dit help nie om vir Imke kwaad te raak nie; sy neem maar ’n gesprek so oor as dit nie vinnig genoeg beweeg na haar sin nie.
“Ek is vroeg vanoggend soontoe, maar die eienaar het ’n probleem met wat ek doen, met die feit dat ek ’n vrou is, met … ag, alles. Hy dink ek gaan sy perd toor. Hy het nie vooraf geweet Koen, die bestuurder, het my gevra om te kom nie en hy was duidelik bitter vies. Sy … e … woordeskat is heel eksplisiet en vurig.”
“Het jy toe na die perd gekyk?” vra haar pa.
“Ja, en ek kan help, maar die eienaar moet self agterkom hy het my hulp nodig. Pa weet hoe dit werk.”
“Wat dink jy is fout?”
“Hy …” Cilla skud haar kop en lag. “Pa sal dit nie glo nie, maar hy het ’n prentjie in sy kop van ’n merrie, en ek kan sweer dis Maggie.”
“Óns Maggie?”
“Ja, rooibruin met swart maanhare. Daar is seker baie ander merries wat net so lyk, maar dit was vir my snaaks. Hy moes haar iewers geruik het. Maar hoe? Ek moes gevra het waar hy al orals was. Dan is hy ook nog verveeld, hy wil vry rondhardloop.”
Haar pa knik. Sy het nooit nodig om breedvoerig oor ’n perd se probleem uit te wei nie, haar pa weet wat sy bedoel.
“Wie is dié man?” vra haar ma.
“Reynecke Retief, hy boer –”
“Naby Villiersdorp. Op Rietfontein.”
Cilla kyk verbaas na haar ma. “Ja, ken julle hom? Ek het nogal gewonder …”
“Nee, jy sal nie onthou nie, jy was ’n baba, maar ek het sy ma goed geken. Ai, so tragies. Hulle het pragtige perde gehad, sy was mal oor perdry. Hulle het twee seuns gehad, as ek reg onthou. Die jongste was net skool toe, toe het ’n perd haar afgegooi. Sy is op slag dood. Haar man het van al die perde ontslae geraak. Ons het een of twee keer weer gaan kuier, maar hy was ’n ander mens, totaal verpletter. Ek was so jammer vir die twee seuntjies wat sonder ma moes grootword. Reynecke, sê jy?” Sy kyk na haar man. “Die jongste enetjie? Wonder hoekom die ouer broer dan nie boer nie?”
“Nee, ek sal nie weet nie. Klink asof hy dan besluit het om weer perde aan te hou.”
“Ja, een van die min dinge wat ek uit hom kon kry, was dat hy so twee jaar gelede die stalle opgeknap het en begin perde koop het.”
Cilla se selfoon lui. Dis nie ’n nommer wat sy ken nie. “Verskoon my,” sê sy, staan op en stap ’n entjie weg.
“Cilla Naudé.”
“Naand,” hoor sy ’n growwe stem aan die ander kant, en sy weet dadelik dis Reynecke Retief.
“Hallo, meneer Retief,” groet Cilla ewe formeel. Wat wil die man tog nou hê?
Hy maak keel skoon. “Ek … ek …” Sy hoor ’n sagte knoop en glimlag. Hy ken ook vloekwoorde wat nié met ’n f begin nie.
“Ja, meneer Retief?”
“My naam is Reynecke. En wat ek probeer sê, is dat ek … oor vanmiddag … ek moes nie … ek weet dat ek …” Cilla hoor hom weer saggies swets.
“Dis reg so, ek aanvaar jou verskoning. Is daar nog iets?”
Dis ’n oomblik stil aan die ander kant. “Kan ek nou my sin probeer klaarmaak, of gaan jy my weer in die rede val?” vra hy vies.
Cilla trek haar asem diep in en kners op haar tande.
“Meneer Retief, ek het nie heelaand tyd nie. As jy eendag jou woorde agtermekaar het, bel my weer.” Sy druk die foon dood en stap terug na die tafel.
“Wie bel jou so op ’n Saterdagaand?” wil Imke moedswillig weet.
“Dis –” Haar foon lui weer. Sy sug oordrewe en stap weer ’n entjie weg.
“Ek is jammer oor vanmiddag, ek het jou nie verwag nie en jy het my …” Dan raak dit stil.
“Ja, ek het jou …?”
“Dis nie belang … Ek wou om verskoning vra vir my optrede en hoor of jy nie asseblief bereid is om weer na Bravo te kom kyk nie.”
Cilla is ’n oomblik doodstil.
“Hallo? Hallo? Cilla?”
Sy druk haar hand teen haar bors waar haar hart skielik wild klop. Om hom haar naam so te hoor sê!
“Meneer Retief, Reynecke, ek weet nie of dit so ’n goeie plan is nie. Wat ek doen, is baie intuïtief, baie natuurlik, en jou kop werk anders. Is jy regtig bereid om my te vertrou en my toe te laat om te doen wat ek dink is reg? En, die belangrikste van alles, is jy bereid om te luister na wat jý sal moet doen? Ek is immers ’n vroumens.”
Dis vir ’n oomblik doodstil. Dan: “Dis vir my baie vreemd. Jy kan dít seker darem verstaan?”
“Wat is vreemd? Dat ek ’n vrou is?”
Sy hoor hoe hy sy asem intrek en dit stadig uitblaas. Tel seker tot tien! Die man is heeltemal te ernstig.
“Nee, die idee dat jy kan weet wat in ’n dier se kop aangaan, dís vir my vreemd,” sê hy afgemete, asof hy bang is sy verstaan weer verkeerd.
Cilla wil haar vererg, maar sluk dit weg en probeer verduidelik. “Dit is nie so vreemd nie. As jy mooi daaroor dink, kommunikeer jy sekerlik ook met die diere op jou plaas. Jy is dalk net nie bewus daarvan nie.”
“Nou wanneer kan jy kom?”
Hoekom het sy tog gedink hy sal verstaan? “Ek hoef nie eintlik daar te wees nie, jy kan ook net vir my ’n foto stuur van Bravo. Ek doen dit dikwels so.”
“Is jy nou hééltemal …” Cilla hoor hoe Reynecke sy asem hard intrek. Sy kan glad hoor hoe hy op sy tande byt.
“Ek sal verkies as jy weer hiernatoe kan kom. Ek sal jou natuurlik vergoed vir jou tyd, die petrol … en raad, natuurlik.”
Cilla sluk liefs aan ’n katterige aanmerking. Sy wil regtig graag die perd help, so sy moet maar sy eienaar se nukke trotseer.
“Wel, ek hou skool, so ek sou volgende naweek eers kon ’n plan maak.”
“Nee, dis te lank. Wat van môre?”
Cilla stap terug na die tafel en kyk vraend na Imke. “ ’n Vriendin kuier by my. Ek sal hoor of sy wil saamkom, dan kan ons so teen …”
“Kom so elfuur, ek sal sorg dat hier iets te ete is. En, uh… dankie.”
Cilla kyk verstom na haar foon. “Hy het die foon in my oor doodgedruk! Hy bel my, sukkel vreeslik om ’n verskoning uit te kry, beveel my dan om môreoggend op sy plaas te wees en voordat ek iets kan sê, druk hy die foon dood! En o ja, ons tweetjies gaan skynbaar kos kry, Imke.” Sy gooi haar hande in die lug.
Imke glimlag. “Klink my na een ou wat nie dadelik oor homself val om jou te plesier nie. En hy hinder jou bietjie. Baie interessant.”
“Allesbehalwe interessant. Ek wil