Dit het verlede jaar begin. Iewers teen die einde van die somer, wat genadiglik mos korter as gewoonlik was. Almal het daaroor gepraat, die vreemde weer, want teen Aprilmaand was dit reeds koud.
Hy het al hoe minder begin praat. Sondae het ek in die kerk gesit en my verluister aan die stem wat ek die hele week feitlik nooit gehoor het nie. Wéét jy hoe voel dit? En toe die sagter lente uiteindelik kom, het dit reeds ’n patroon geword.
Ek het toe lankal al die gesprekke begin. Ek het belang gestel in sy werk, uitgevra, gesimpatiseer oor dinge wat ek vermoed by vergaderings skeefgeloop het. Die ou ooms, jy weet mos? Ek het selfs ’n slag op my manier probeer konfronteer – niks het gewerk nie. Daar was net geen reaksie nie, niks.
Iewers moes ek seker begin het om my gedagtes hardop uit te spreek, net om woorde in die huis te hê. Totdat Anneke Oosthuizen, my enigste soort van vriendin, op daai reguit manier wat plaasvrouens maar het, vir my gesê het dat ek darem práterig geword het! En of daar iewers ’n probleem is. Kry jou man darem ’n woord in? het sy gevra.
Dis juis die probleem! wou ek vir haar sê. Dit was op die punt van my tong om dit te sê, om vir haar te vertel. Toe onthou ek gelukkig die pastoriewette, sy wette. Ek het toe maar verder stilgebly.
Nee, hy kry sy woorde in. Hy laat hulle opdam, ses dae lank, en op die sewende dag laat hy dit in een groot massa vry. Alles. Vir almal wat wil hoor. Nie dat daar baie is nie – nie baie toehoorders nie, ook nie baie woorde nie! Maar dan is hy eers klaar. Dan is alles opgebruik. Tot volgende keer, dieselfde tyd, dieselfde plek.
Wat hét in daardie tyd gebeur, vra ek my af. Die Here weet ek is óp gevra! April, Mei, laas jaar, agt maande gelede?
Dit was Pinkstertyd, onthou ek. Hy moes ’n reeks bidure hou, soos elke jaar. Soos elke predikant, dink ek. Daar was wel heelwat sterfgevalle in daardie tyd, die begin van die winter, dit onthou ek ook. Dit is tog die lot van ’n dorpie soos dié. En ons het toe ook daaroor gesels; hy het toe darem nog gepraat. Oor die migrasie van die oues – sommiges trek stad toe, na hulle kinders toe. Daar is die klompie wat kans sien vir ’n ouetehuis, as hulle dit kan bekostig, maar verreweg die meeste word swakker in hulle eie huise, sterf sonder drama. En almal praat vir ’n rukkie nog oor hulle, vertel stories, dik maar ’n bietjie aan ter wille van die goeie herinneringe. As jy verstaan wat ek bedoel.
Hulle verhuis na hulle ewige tuiste, sal hy, my eens welsprekende man wat nou ook deur die clichés van sy beroep ingeneem is, in die halfleë kerk voor die klompie toehoorders sê. Maar voorlopig trek hulle maar net na die oorgroeide en oorvol begraafplaas teen die hoofpad. Deesdae is daar mos ook die opsie van die muur met die gate, soos starende, gretige oë. Jy moes dit tog seker gesien het, daar by die kerk. ’n Mens kan dit nie miskyk nie, al wil jy.
Maar saam met die groeiende stilte was daar ook – hoe sal ek dit nou vir jou stel? – sy skielike beheptheid met siektes en kwale. Ek dink ek het jou al gesê; jy hét my mos al hieroor gevra, of hoe? Ag, vergewe my as ek knaend is, ek dink so baie hieroor; aanhoudend, eintlik.
Watter oggend was dit dat ek hom die eerste keer voor die lang badkamerspieël betrap het? Dat hy probeer het om agter op sy rug te kyk? Op soek na ’n melanoom, het ek sommer gou vasgestel toe ek een van my tydskrifte bo-op die rakkie langs die toilet opspoor. Dit was oop by een van daardie tipiese bangmaak-artikels, ’n promosie vir die een of ander soort salf. Dit was die April-uitgawe, ek het later gaan kyk. Ek het maar niks gesê nie. Gehoop dit sou verbygaan, dalk was dit maar my verbeelding. Maar soos dinge seker moet gebeur, het Anneke later daardie einste oggend mos kom vertel van die jong vrou aan die ander kant van die dorp wat sterwend is, enkele weke nadat daar ’n swart kolletjie met ’n oneweredige rooi rand op haar rug ontdek is.
Ja, sy ís in ons kerk, het Anneke gesê, jou man het haar beslis besoek. Anneke ry glo van die plaas af voor die huis verby en sy het die bakkie ’n paar keer daar sien staan.
Of was dit in Julie? Ek onthou dat Andries Delport in Julie dood is, vier-en-dertig jaar oud. Massiewe hartaanval, het Oudok vir my by die begrafnis gesê, ek het help tee skink vir die begrafnisgangers. Later daardie maand sou Elnatan self vier-en-dertig word.
Ek het agtergekom dat hy versigtiger begin eet, my man. Hoe hy die vet van die vleis wegsny; die krakerige hoendervelletjies met die mes en vurk afskil. En sonder om te vra, het ek begin eksperimenteer met lekker ligte slaaie, ek het die hoenderborsies gestoom. Hy het niks gesê nie, dalk het hy dit nie eens agtergekom nie. Soms het hy net sy kos op die bord deurmekaargekrap en hom verskoon. Sonder ’n woord. Nie eens ’n dankie nie. Dan word hy deur die studeerkamer ingesluk.
Einde November – dit was die week ná die Kerssangdiens en Oudok was self ongesteld – het ’n histeriese tannie in rolbalklere by die pastorie aangejaag gekom. Ek moes hulle help om ou oom Gert Esterhuizen, daai rolbal-omie wat altyd so met die bedelvorms loop, in ons motor te laai. Dit was nogal ’n aardige besigheid, so met die bemorste broek, die stank! Maar ek het voor ingeklim en saam met Elnatan na die stad se hospitaal toe gejaag, die ou oom op die agtersitplek. Toe moes ons by hom in die staatshospitaal se wagkamer bly sit. Tot laatmiddag. Dit was nogal erg. Maar toe eers was daar ’n jong doktertjie beskikbaar en die oom is opgeneem.
Later daardie aand het ons by die huis die motor se agtersitplek skoongewas. Ek het boererate probeer onthou om die reuk uit te kry – asyn, wasgoedversagmiddel, sterk soutwater. Alles het op ’n manier gehelp en laatnag het hy die motor in die garage getrek.
En toe hy later by die kombuis inkom, het hy nog gesê hy dink dit moes vir die oom ’n groot vernedering gewees het, hy is nie meer vandag se kind nie. Maar sy stem het ’n klank gehad wat ek nie geken het nie, dalk was dit maar die een lang sin wat ek toe reeds nie meer gewoond was nie. Hy moet baie siek wees, het Elnatan gesê, en toe het hy in die studeerkamer verdwyn. Nie ’n dankie-dat-jy-saamgegaan-het nie, dat jy heeldag daar by my gesit en die stank verduur het nie, dat jy gemaak het of dit niks is nie. Nie ’n woord oor die agtersitplek wat ek so geskrop het nie. Toe ek hom laatnag uiteindelik in die donker slaapkamer hoor insluip, het ek ook maar niks gesê nie. Net so gehoop hy praat weer!
Maar die badkamerlig het aangegaan en deur die badkamerdeur het ek die geluide van erge diarree gehoor. Dit was twee maande gelede.
Nou maak ek maar die slaapkamerdeur toe, teen die hitte, teen hom. Eintlik ter wille van hom, dat hy nie verplig voel om in te kom nie – netnou moet hy met my praat, aan my vát …
Maar vroeër, dit was nie eens ’n jaar gelede nie, skaars agt maande, het Sondagmiddae hier anders gelyk. Nee, die dorp se oumense het ook maar geslaap soos nou. Die klompie kinders het seker van altyd af buite gejil en met hulle fietse op en af in die strate rondgery. Maar ons, die pastoriepaar wat nie kan kinders hê nie, ons het by mekaar gelê en gesels. Oor die lui Sondae destyds op ons universiteitsdorp; oor die jare wat so verbygeglip het. Saam verlang na die goeie tye, die mooie plek. Ons drome gedroom. Gelag, met mekaar gespeel, asof ons nog daar was.
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.