nie. Dit moet hy wees wat die foto geneem het. Ek het dit nie agtergekom nie.”
“En die verklaring? Ao. Van Deventer wat bevestig dat dit ’n moord is? Dat dit ’n swart man is, ’n buitelander?”
“Dit het hy bygelieg, Kaptein. Alles. Kaptein ken koerantmanne. Hulle vra vrae. As jy nie antwoord nie, skryf hulle wat hulle wil. Hulle skryf in elk geval net wat hulle wil. Hulle maak hulle eie stories op.”
“Wat hét jy gesê, Adjudant?”
P.C. wonder hoekom hy hom moet verdedig. Hoekom is die man so kwaad? Wat is nou so erg aan ’n Sondagkoerantstorie? Wou hy aangehaal gewees het?
Nou toe.
Goed, Kaptein. Diep asem. “Ek’t gesê hy moet Maandag kantoor toe kom. Dat hy met Kaptein kan kom praat. Sy koerant kom eers Vrydag uit. Hy’t nooit gesê hy gaan die Sondagkoerante bel nie.”
Al reaksie wat hy kry is kaptein Coffee se suisende asemhaling. Of is dit sy eie ore? Wat doen die man op ’n Sondag by die stasie? wonder P.C. In die week is hy nooit daar nie.
“Jy sê hy kom sien my Maandag …?”
Watter ekskuus kom nou?
“Ek het Maandag ’n vergadering met die kolonel. In die stad.”
Die gedruis in P.C se oor is nou harder. Dit moet die telefoon wees.
“Dan moet jy maar seker weer saam met hom praat, môre. Maar luister nou vir een maal na my, Adjudant …”
P.C. besluit om die man te help. Dat hy net klaarkry. “Nee, ek sal niks sê nie, Kaptein. Net die gewone. As Kaptein dan net sal reël met die duikeenheid. Terwyl Kaptein by die kolonel is. Maar ek sal vir Paul Vincent sê hy moet wag tot Kaptein weer terug is. Vir die régte storie.”
Goed, Kaptein. Reg, Kaptein. ’n Lekker dag verder vir Kaptein ook, Kaptein! Bedreigde bliksem … P.C. druk die selfoon dood. Die man sit op ’n stoel wat te hoog is. Hy wil nie by wees as hy die dag daar afdonner nie.
Die Sondagkoerant, dink hy en staan op. Nou toe. Hy sal maar ’n rukkie wag. Tee en ’n sigaret. ’n Rukkie op die bank. Tot almal in die kerk is. Dan kan hy dit in Spar waag. Die sweismasjien kan wag tot die lang agtermiddag.
3
“Ek kan nog die deurmekaargeit van die preek vat, jy weet?” kla Piet Paai en rangskik nog ’n paar stukkies hout op die vuur. “Daar is darem mooi gedagtes tussenin. As jy mooi luister. Maar hoekom tog so lánk!”
Basie Hechter laat nie op hom wag nie; dit is immers sy tuisveld dié. “Daar is weinig aspekte rakende openbare voordrag waarvan ek nie kennis dra nie. Geslag ná geslag redenaars is onder my hande deur, soos jy goed weet. ’n Hele aantal het die provinsiale eindrondes bereik. Daar was selfs die jongste Vogel-dogter wat tweede in die nasionale kompetisie was. En kyk waar bevind sy haar –”
“Sorry, Schalk!” val Piet Paai hom skielik in die rede, “ek kom top gou op!” Tot sy misnoeë sien Basie dis nie ’n kwessie van aanvul nie; Schalk Volschenk se glas is reeds dolleeg. Hierdie weldeurdagte redevoering word dus onderbreek deur ’n kafeebaas wat ’n suipende skoolhoof in sy kwaad sterk.
Maar dit blyk dat Piet tog geluister het. “Ja, goed, Basie,” sê hy terwyl hy sy drankie-rondte ook by die drie vrouens maak wat na die mans sit en luister, “maar wat het ou Saais Vogel se kind nou met die deurmekaar dominee te doen?”
“Wel, dit is my oorwoë mening dat hy bloot sy draad verloor!” roep Basie uit en kyk vinnig of die vrouens sy argument volg. “Oftewel, hy spin hom toe in ’n web van onwaarskynlike formuleringe. Dan raak hy iewers die kluts kwyt, en dan gaan hy maar net so aan en aan en aan. Soos ’n nimmereindigende peloton marsjerende miere.” Te laat besef Basie dat sy akkurate vergelyking weer die bekende snaar by Piet laat tril het. Hy kan homself skop! Hy vat ’n diep sluk, loer dan of Marie dit raakgesien het.
“Noudat jy daarvan praat,” val Piet dan ook gretig in, “ek het mos so ’n luitenant op die grens gehad. Hy het die grootste klomp nonsens gepraat, jy weet? Aangekarring en aangekarring, net om iets te sê.”
Almal weet Piet Paai het drie maande lank as ’n kok in Oshakati se onderoffisiersmenasie deurgebring, maar hy sal ná al die jare steeds volhou om dit te laat klink asof hy die grensoorlog op eie houtjie gewen het. Basie het al dikwels gewonder hoe ’n mens kan toelaat dat jou hele lewe ’n storie word.
“Ek kan hom nie hóór nie!” sê Marie skielik.
Basie skrik, maar dis pure gewoonte – sy lewe lank weet hy Marie trek altyd met ’n uitroepteken weg.
“Hoe langer hy so blêrriewil aangaan,” sê Marie en klap die lui vlieg voor haar gesig weg, “hoe meer begin hy te mompel! Ek hoor elke Sondag net die ‘toemaar, toemaar’ teen die einde. Asof ons kinders is wat hy moet troos!” Sy kyk na Hanna van Piet, asof sy ondersteuning soek, maar dié hou die bak tjips vir die skoolhoof se vrou. “En almal sit en wag dat hy iets moet sê van die lyk wat hy gister by die bruggie gekry het, maar nee! Of het júlle dalk iets gehoor? Hy’t mos niks gesê nie?” Marie klap haar tong. Soos ’n skoolsekretaresse vir kinders wat kanse vat. Hechter-die-Vegter. Basie vat ’n roekelose sluk; haar aandag is nou elders.
“En daai ou vaal vroutjie van hom,” stoom Marie voort, “dié vaar nie veel beter met die vrouebidure nie! Praat aanmekaar van die tyd toe sy op universiteit was. Ook maar daar vasgehaak. Pleks hulle het liewerster daar gebly!”
Basie is jammer vir Marie, wat nooit die geleentheid gehad het om verder te studeer nie. Dit sou haar ’n bietjie blootstelling aan ’n groter wêreld gegee het. Nou koester sy ’n wrok teen geleerdheid en veg sy maar haar gevegte op die tuisfront. Gelukkig tref dit hóm hoofsaaklik net oor naweke.
“Nou maar kom ons drink daarop!” is Schalk Volschenk se reaksie.
Hoe jammerlik voorspelbaar, dink Basie. Dis nou Marie se baas wat so praat. Die sogenaamde skoolhoof. Basie kyk hoe die man die daad by die woord voeg. Dadelik merk hy die afkeer op sy mooi vrou se gesig. Of is dit walging? Die arme mens.
Toe hulle netnou uit die kar klim was Volschenk reeds half beskonke. Almal kon dit sien. Volschenk se vrou het die bak slaai wat sy op haar skoot gehad het vir Piet se Hanna aangegee en haar man gehelp om regop te bly toe hy uit die motor klim. Dis mos die heup wat hom so probleme gee, sê sy altyd.
“Ek het daai storie te veel kere al gehoor,” het Marie vir Hanna gefluister, sommer daar by die kar. Sê nou die arme vrou het dit gehoor?
Sy het haar man tot in Piet Paai se seilstoel gehelp, en daar sit hy steeds. Die gesig word net rooier en rooier. Die slukke uit die glas al hoe vrymoediger.
Laat hulle maar vir hulle kry! dink Basie venynig. Sewe jaar gelede, toe die skoolkomitee tot ’n logiese en alomverwagte beslissing moes kom, was hy wat Basjan Stephanus Hechter is die aangewese kandidaat, maar lewenslange lojaliteit was nie vir hulle voldoende nie; opeenvolgende dekades se spoguitslae kon nie die deurslag gee nie. Nou sit die skool en die breë gemeenskap met ’n dronk hoof, ’n aanstootlikheid in elke beskaafde geselskap. Met ’n arme, verleë vrou. “ ’n Verskrikte muis voor ’n gat,” het Basie eenkeer vir Piet gesê. “Altyd op wag. Altyd gereed vir ’n aanval wat sy moet afweer.”
Basie wens hy kan ’n paar woorde met die vrou wissel – sy is opvallend eensaam. Hanna van Piet en Hechter-die-Vegter smeer nou brood in die kombuis, hulle sal nooit daaraan dink om haar te betrek nie! Sosiale aanvoeling verskyn seker nie prominent op ’n kafee-eienaar se vrou en ’n skoolsekretaresse se vaardigheidstabel nie. Bowendien is sy heelwat jonger as hulle. By vrouens, vermoed Basie, is dit ’n groter inhiberende faktor as by die deursnee-man. “Waar is die kindertjies dan?” vra hy dus; dit is sekerlik neutraal genoeg. Meelewende vriendelikheid kos tog niks!
“Nee, die drietjies het maar by die huis gebly,” antwoord sy haastig, asof sy dankbaar is vir die vraag. “Ons het vir hulle ’n klompie lekker DVD’s uitgeneem. Wat wil hulle nou in die grootmense se geselskap maak? En