raap die hondjie op, net om die fatale giggel te onderdruk.
“En die polisie sit en doen niks, niks! Sê jy vir my wat het Peesee van Deventer al in sy lewe reggekry?”
Basie wonder of hy dan nie vanoggend sy skoene aangetrek het nie. Of het hy? Dan lê dit hier iewers.
Hechter-die-Vegter is nou op volle vaart: “Rook, ja, dit kan hy doen! Pleks hy sy vrou beheer. Spandeer bietjie minder op sigarette en bietjie meer op klere vir sy vrou. Koop vir haar iets beters om in te draf! Nog beter: Hou haar besig! Leer haar verf, dat sy die blomstaanders wat hy aanmekaarsweis kan verf. Dat sy haarself nie so loop en uitstal op straat nie! Helder oordag!”
Worsie begin tjank.
“Los tog maar, skatjie,” paai Basie. Dit is die probleem met eenrigtinggesprekke – as jy nie ingryp nie, neem dit ’n eie loop. En voor jy jou kom kry, staan jy, heel onskuldig, aan die verkeerde kant daarvan. Buitendien, herinner hy homself, daar is die Groter Doel – tans staan dit agter die televisiekas. Amper leeg; dit sal nooit hierdie naweek en al sy uitdagings oorleef nie. Hy sal ’n plan moet maak.
Versigtig nou, Basie Hechter, tel jou woorde. Hy haal diep asem. “Peesee …” begin hy. Maar dit blyk nie ’n goeie woordkeuse te wees nie. Die klanke strompel moeisaam verby sy lippe. Hy moet oor begin: “Van Deventer is nie so sleg nie. Meestal poog hy om sy beste te lewer. Hy kan dit seker nie verhelp sy vrou is so ’n bietjie van ’n … losj … ’n los klos nie.” Basie kyk haar reguit aan. Sy moet weet hy bedoel wat hy sê. “En dis darem seker nie ’n wit mens nie. Ek bedoel … daar onder die brug.”
Marie draai op haar hakke om; dit lyk vir Basie of die stralekrans kantel, of dit enige oomblik kan aftuimel. Middelpuntvliedend, kom dit skielik by hom op. Of is dit nou middelpuntvlie-tend? Daar glip die giggel uit! Hy druk sy hand voor sy mond. Die hondjie wil aan sy vingers lek. Nou begin hy hik. Gedorie! dink hy, hik! Soos ’n kind wat suiker gesteel het.
“Het jy iets gesê?”
Basie hoor die dreigement. Hy druk sy hande in die lug, asof hy oorgee. “Soos ’n kind wat sj… wat gesj… ’n kind wat iets gevat het!”
Daarsy! Wat sê jy nou, Rondekoppie!
Sy maak sulke skooljuffrou-geluidjies met haar tong. Hy hoor sommer sy staan met haar rug na hom toe. Dan kliek-klak-kliek-klak haar polvye in die gang af, kamer toe.
Basie gooi die hond van sy skoot af. “Gaan lê! Gaan lê!” Hy is darem nog die baas van iets in hierdie huis!
Hy waggel kombuis toe. Die pad is lank en swaar. Die kosyn wil sommer padgee wanneer hy daaraan vat. Die yskas staan en bewe. “Skatjie!” roep hy. Hy leun teen die yskas se rillende deur. “Sal jy nie gou die Porra vang voor hy toemaak nie! Daar’s ’n banksj-” Asem, versigtig nou: “Bank … sakkie in my leerbaadjie op die tafel! Asseblieftog, sjka… asseblief, my ou engel!”
Kliek-klak-kliek-klak. Sy vroetel by die eetkamertafel. Die sleutels rinkel, die voordeur maak oop. En weer toe.
“Sssjjjj,” maak Basie vir sy hond. “Sy weet mos wat vir haar goed is! Of hoe, my honne?” Hy draai om. “En hier beter genoeg ys wees!” raas hy met die plat vrieskas wat vir hom so staan en aankyk. “Anders is hier vandag gróót moeilikheid. Big, big troubles!” Hy buk onverskillig en krap wild tussen die koue pakkies rond. “Lucky you!” Daar is nog ’n ton ysblokkies. Genoeg tot volgende jaar! “Sharp, my maat!” salueer hy die getroue vrieskas.
Worsie tjank. Hy verstaan alles.
“Dankdiegoeievader ek het nie destyds die hoofpos gekry nie!” sug hy en klap die yskas agter die blad. “Om met Hechter-die-Vegter getroud te wees bied genoeg eiesoortige uitdagings. Om die verdomde skoolhoof te wees en haar heeldag onder jou voete te moet hê … Nee, kyk, dit sal ’n man tot drank dryf!”
Hy proes uitbundig en kyk goedkeurend na hoe die klein worsie saamlag. “Of hoe, my little sausage doggy?”
9
Wat maak hy hier? Hoe het die storie so gou by hom uitgekom? P.C. draai sy rug op die nuwe aankomeling. Noudat hulle op droë grond is, voel hy nie meer so blootgestel nie. Is hy nie meer op sy hoede vir die groeiende aantal nuuskieriges nie. Nou irriteer hulle hom net. Nou is daai vetgat ook nog op pad hierheen.
Die karre wat met die tuislandpad kom verminder skielik spoed wanneer hulle die mense op die brug sien. Hulle moet stilhou. ’n Versigtige pad deur die skare probeer ooptoeter. Die plaaswerkers wat vir die Saterdagoggend met die voet dorp toe kom, stroom oor die smal brug. Die ontsag vir voertuie wat oor die brug jaag eensklaps daarmee heen. Safety in numbers. Adjudant-offisier van Deventer weet skarebeheer is nou buite die kwessie. Dié besigheid het nou ’n eie lewe gekry.
Die groot man kom teen ’n gevaarlike spoed die bult af. Soos ’n sleggestopte streepsak, kom dit by P.C. op. ’n Swáár sak. Met die alewige kamera om die nek. Wié het hom hiervan gesê? Dink hy hier is iets te ete?
Paul Vincent van Dorp & District. Vreet soos ’n vark. Ruik ook so. Oujongkêrels maak soos hulle wil, weet P.C. Eet en was is hulle eie saak. Niemand om niks te sê nie.
“Ek het niks vir jou nie!” roep P.C. na hom toe. Hy maak nie oogkontak nie; netnou dink die koerantman hy wil praatjies maak, dan kom hy nóg nader. “Jy kan Maandag kantoor toe kom! Dalk is die kaptein daar. As jy gelukkig is. Hy reik die persverklarings uit. Jy weet dit.”
P.C. retireer. Die man moet die boodskap kry. “Dis ’n misdaadtoneel dié, Vincent! Moenie nader kom nie.”
Studentekonstabel Beukes sien vir hom kans. Hy het nou van sy klip af opgestaan. “Oom kan nie hier deur nie,” sê hy en wys na die geel lint.
“But I … ek is from the media.”
“Kan ek Oom se badge sien?” Beukes hou sy hand uit. P.C. merk geen teken van ’n beseerde voet nie. Die skoene is reeds aangetrek. Blink. “Daai een wat sê Oom is van die TV.”
Paul Vincent het sy hand in die lug. “Pee Cee!”
Hy kry geen reaksie nie.
“Warrant!”
Die polisieman steek ’n sigaret op.
“Pee Cee! Adjudant! Please, man!”
P.C. sug, draai na die man toe. “Kom dan maar!” sê hy. “Beukes, los tog. Hy’t nie ’n perskaartjie nie. Hy’s plaaslik.” Hy kyk hoe die man met moeite onder die lint deurbuk en nader geskommel kom.
“Wat kom maak jy hier, Vincent? Hier’s niks vir jou nie. Net ’n gerug. En dis maar effentjies, selfs vir jou koerantjie. En jy kan maar die kamera los; jy kan nie foto’s neem van ’n gerug nie.”
“I’ve heard that a murder was committed here. At the river. The corpse was discovered under the bridge.”
“Ek weet nie waar kry jy jou inligting vandaan nie, Vincent.”
“Dit is tog … moord, Adjudant?” steun die koerantman. “Can I quote you on that?”
Hy kom wragtag nader. P.C. staan vinnig opsy, trap amper weer in die water. “Bliksem!” sê hy onder sy asem, en dan: “Haal aan wie jy wil, Vincent. As jou koerantjie volgende Vrydag uitkom, is dit nie meer nuus nie. Noem tog net die kaptein se naam in jou berig. As jy weet wat goed is vir jou. Vir ons almal. Jy weet hoe maklik strip kaptein Coffee se moer.”
Hy wou dit nog altyd gesê het.
Dan hoor P.C. die ambulans se sirene aan die bopunt van die straat. Vinnig op pad na die bruggie toe. En dít nou? Die skare op die brug brom hard. “Wie het die donnerse ambulans laat kom?” roep hy. “Een van julle?” Dadelik skud Motaung sy kop. Beukes kyk weg. Klein kak.
Hy steek weer ’n sigaret op, stap na die Tazz toe. Wink vir Motaung. Laat hy met die dikbek ambulansmanne in hulle taal praat. Laat Beukes maar verduidelik. Hy gaan nou ry. Daar’s ysters wat in sy garage vir hom lê en wag. ’n Halwe Saterdag in sy moer.