om nie te kyk nie. Verby die bank en die verlate OTM. Hy moenie meer hier kom nie.
Die klompie populiere gooi lang oggendskadu’s oor die rolbalbaan. Dit is Saterdag, speeldag. Die motors staan tot teen die inrypad geparkeer. Nogal baie. Hy het nie geweet die dorp het soveel rolbalspelers nie. Die klubhuis het ’n stukkende ruit, sien hy sommer op dié afstand, ten spyte van die pynlike sametrekkings wat nou tot oor sy oë begin strek. Ou Gert Esterhuizen en sy gevolg samel seker vandag geld in om die ding te vervang. Wie sou dit gebreek het? Wát?
Die oues roer vroeg, dit weet die dominee maar te goed. Wat is daar anders te doen? Die lewe is kort – iewers het hy daaroor gepreek. Vandag gaan iemand weer ’n mond vol hê oor die ruit. Was dit ’n klip? Gaan iemand sê dit was ’n geweer, ’n dwaalkoeël? Die lewe is te lank om dit sonder aanhoudende geveggies agter die rug te moet kry.
Die vergane parkie net duskant die rivieroewer, die skewe geraamtes van gebreekte swaaie. Iewers dieper in lê die oorblyfsels van ’n swembad waarin daar deesdae glo rondlopers slaap.
Die rivier is nogal leeg vir hierdie tyd van die jaar; dit het seker nog nie genoeg in die noorde gereën nie. Die hiasinte neem oor, niemand doen iets daaraan nie. Hulle moes dit daardie einste jaar toe dit hier aangespoel gekom het uitgeroei het. Toe was dit nog beheerbaar. Nou is dit vir altyd te laat. Hy moet omdraai, hy weet dit; hierdie besigheid gaan in ’n volskaalse migraine ontwikkel.
Maar eers probeer hy onthou wanneer laas daar ’n behoorlike vloed was; genoeg water om die laagwaterbrug te oorstroom. Dit gebeur so elke twee, drie jaar.
Dit sal wel nie 1974 s’n oortref nie. Niks sal nie! sug die ouer dorpsmense wat dit beleef het en steeds daaroor praat asof dit gister was. Selfs 1988 se vloed, toe Silwer Streams se deftige oewerwonings vuil rivierwater oor hulle Persiese tapyte gekry het, het nie by ’74 s’n gekom nie. Al kon almal nog ’88 se vloedlyn aan die dominee uitwys, pas nadat hy op Silwer Streams aangekom het. Trots op die groot gebeurtenis wat landwyd opslae gemaak het en weer eens nie hulle dorp oorgeslaan het nie.
Dis waaroor hulle praat. Die vloede van destyds. Die dae lank gelede. Toe die dorp se kinders nog in die parkie teen die rivier gespeel het. Toe hier swemgalas gehou is en daar selfs skole uit die stad kom meeding het. “Hierdie plek,” het hy eenkeer lank terug vir Sandra gesê, “word net deur herinneringe aanmekaargehou.”
Die nostalgie en die heldeverhale. En deesdae die magtelose frustrasie omdat die dorp so onstuitbaar agteruitgaan en elke jaar net meer gehawend daar uitsien as die vorige. Soos deurreisigers dit, met die meedoënlose vrymoedigheid van vreemdelinge, by die Caltex-petrolpompe aan die garagebaas sê en dit liefs nie waag om die toiletgeriewe te trotseer nie. Of wanneer hulle ’n vinnige koeldrank langsaan by Piet Paai se kafee koop en vir Lionel by die kasregister fluister hulle sien die dorp ly ook maar onder die nuwe bedeling. Hy wil nie hier wees nie.
Soos ’n smorende kleed, dink Elnatan. Die teleurstelling wat die dorpie toedek, wat elke seisoen ’n bietjie laer sak. Nog iets doodwurg. Dodeliker as die lokasie se rook.
Dalk moet hy nie so sinies wees nie. Dalk is die doodsheid wat hy al hoe sterker by die dorp se mense aanvoel maar net ’n gelatenheid. Aanvaarding is tog die laaste stadium in ’n suksesvolle terminale proses. Alles eintlik so voorspelbaar. Predikante leef van voorspelbaarheid. Die geykte formules, ’n teksvers vir elke geleentheid. Kapelaan van die gemeenskapsgodsdiens. Dinge gaan maar soos dit gaan.
Elnatan wonder of hy dit kan waag om oor die smal brug tot anderkant die rivier te loop. Sê nou een van daardie taxi’s kom van die oorkant af aangejaag? Hoe gaan hy betyds padgee; die voetgangers se beweegruimte is bitter smal. Wie sal weet as hy in die rivier val? Wie sal hom daar kry? Die water is koud en vuil.
Hy swenk regs, steek Rivierstraat se teerstrook oor. Verbaas hom oor die skielike flinkheid in sy bene – seker maar die afdraand. Seker maar die rivier.
Die pyn in sy kop het hom eensklaps naar. Hoe is hy dan nou so uit sy asem uit. Hy moet by die water kom, dink hy, nóú. Die rivier.
3
’n Saterdag moenie fokkenwil só begin nie!
Adjudant-offisier P.C. van Deventer dwing sy oë oop, probeer op die verligte wekker fokus. Sesuur. Wat ruk so?
Dis Carol wat aan hom skud. “Peesee! Peesee! Word wakker! Daar’s iemand daar buite! Hoor jy? Is daai die asdrom? Daar’s iemand by die asdrom!”
Hy staan op en vat die flits, maar dis reeds helder lig buite. Hy jaag die donnerse hond weg. Een van die skoolhoof se groot dalmations.
Nou is enige poging om verder te slaap in sy moer. Hy maak maar tee. Vir ’n oomblik oorweeg hy dit om sy ysters in die garage te gaan opsoek, maar hy’s nie wakker genoeg vir ’n sweisvlam nie. En dis reeds warm.
Sy eerste sigaret vir die dag. Hy weet hy moenie so vroeg rook nie, en dan nog in die huis. Maar terwyl Carol in die kamer is, sal hy maar die kans vat. Maak maar die vensters oop. Wat anders is daar te doen? Op die voos bank voor die TV lê en rook en infomercials kyk.
Hy moes tog weer aan die slaap geraak het, want dit is asof hy iets van baie ver af hoor. Dit neem ’n rukkie voor hy die deuntjie identifiseer. Dit kom nie uit die televisie nie; dis die selfoon aan die laaier in die gang.
Die stasie. Een van die konstabels by die toonbank. Eers hoor hy nie wat die mannetjie sê nie. Die manier waarop hy praat. “A corpse on the bridge, Sir. A member of the public just phone.”
Hy soek sy horlosie. Dis nog nie agtuur nie, dis naweek, en die gal word reeds deur sy oë gejaag. A cops on de brieds. “Het jy al jou sersant gebel?”
Die stem aan die ander kant huiwer. “There is no … He answer not his phone, Sir.”
P.C. byt amper sy tong raak soos hy hom bedwing. Hy haal asem soos Oudok hom gewys het. Stadig in. Stadig uit. “Jy bel nou vir studentekonstabels Motaung en Beukes, hulle nommers sal daar iewers wees. Nou. Jy sê vir hulle ek kry hulle by die bruggie. Hulle moet hulle gatte roer.”
Hy skeer vinnig. Drie stukke Weet-Bix. Die melk solank in die mikrogolf. Die klere is oor ’n hanger in die gangkas. Sy skoene is onder die bed.
Carol slaap nog. Maak of sy slaap, weet hy.
Ek vra jou niks.
Die melk is in sy moer in oorgekook. Hy stamp die droë koekies ontbytgraan weer terug in die regop pakkie. Hy kom agter sy ore suis.
“Jy gaan dit nie maak nie, Peesee,” het die ou dokter gesê en die stetoskoop weer teen sy bors gedruk. “Nie teen hierdie tempo nie, nie met ’n bloeddruk soos joune nie. En, laat ons nou maar met mekaar eerlik wees, vir wát? Jy moet dit kalm vat, Peesee. Jy gaan nie die polisie regruk nie. Nie in jou leeftyd nie. En beslis nie op ’n dorp soos dié nie.”
Sal hy die oggendprogram se nuus kyk? Die cops on de brieds kan tog nie meer ontsnap nie. Hy gaan lê weer op die bank, maar die nuusbulletin doen niks vir sy bui nie. Al die kak oor munisipale dienste in die townships. Daar is darem iets oor die krieket.
Die Tazz se starter maak dit weer nie. Eendag is eendag, weet hy. Kan die battery ook wees. Carol sê dis van al die buite staan. Oor die ysters wat die garage vol lê. En die sweismasjien se gasbottels. Wat gee hy om. Hy vra haar niks.
Skielik vat die kar. Die petroldampe hang die straat vol soos die Tazz steeks vorentoe beur. P.C. moet konsentreer om wydsbeen oor die reeks slaggate te kom. Agtermekaar geryg soos hempsknope. Wyd-om die twee grotes voor die skool se hek. Regs by die stopteken, af in die hoofstraat. Hierdie tyd van die oggend kyk jy net vinnig. Dis net die paar taxi’s uit die lokasie wat Spar se till-slaners en skoonmakers dorp toe gebring het en nou weer op pad terug is. Met ’n vrag drank vir die sjebiens. Dis naweek. Niemand anders ry nou al rond nie. Net die ou spul by die rolbalbaan; daar staan ’n plaat karre.
Die klompie mense onder by die bruggie gee pad voor sy kar. Dit verbaas hom dat Beukes en Motaung reeds daar is. Hulle beduie iets aan ’n man wat koponderstebo staan. Kort broek. Dun, wit bene. Die predikant. Wat soek dié ou droë drol hier? Hy lyk selfs ellendiger