Barend Vos

'n Dorp soos Silwer Streams


Скачать книгу

eers die saak ondersoek. Dan die ambulans. Dan die dokter. Dán eers jy.”

      “Morning, Sir.” Motaung. Kan Beukes ook wees. Hulle is ’n week by die stasie. Nog vol goeie maniere. Selfs uniforms wat lyk of dit gestryk is. “This gentleman here said he discovered a body.”

      This gentleman staan steeds kop in die grond. “Ek het alles vir die twee konstabels vertel, Adjudant,” fluister hy. “Alles.”

      P.C. moet hom inspan om te hoor. Is die man siek?

      “Kan ek dan maar gaan? Ek voel nie … Ek sal sommer hier bo by die rolbalspelers hoor of een van hulle my nie kan huis toe vat nie. Jy weet tog waar om my te kry as daar nog iets is.”

      Bleek, krom. Dit lyk of hy enige oomblik kan omkap. P.C. besluit vinnig: “Beukes. Of wat jou naam ook al is. Loop saam met die dominee tot by die rolbalbaan. Dan kom jy terug. Haastig.”

      4

      “Saais, Sááis! Kom help!”

      Hy sien nie waarheen Sannie beduie nie; hy het net oë vir haar gesig wat skielik bloedrooi geword het. Toe kyk hy waarheen haar vinger wys – en daar staan hy, swaar leunend teen die klubhuisveranda se pilaar, sy oë gesluit soos ’n mens wat tot die dood toe moeg is.

      “My gottatjie, Saais,” vergeet Sannie haarself, “is daai dan nie ons predikant nie!”

      Dit lyk nou vir Saais of die man besig is om ’n hartaanval te kry. Wit in die gesig, sy mond staan oop soos een wat nie asem kry nie. Maar hy maak nie ’n geluid nie, hy staan net daar. En hy lyk sleg. Van sy voete tot bo by sy broek met modder besmeer.

      “Vat hom gou huis toe, Saais. Of dokter toe. Hospitaal toe, enigiets!”

      Dadelik begryp Saais. Sy wil nie hê die ander moet sien nie, veral nie die besoekers nie. Sy weet hoe belangrik hierdie borgdag vir hulle klub is. Sy wil dit nie laat bederf nie.

      Daar is nie meer juis rolbal-borgdae nie. Beslis nie soos in die ou dae nie. Toe was dit ’n behoorlike klub. Saais weet wat die rede daarvoor is. Niemand wil in ou Gert Esterhuizen se geselskap wees nie. Die ou suurgat. Negatief oor als. Kwaad vir die lewe. Nie dat iemand dit ooit in sy gesig sal sê nie. Deesdae praat hy wat Saais Vogel is sommer openlik hieroor: “Jaar vir jaar sien jy hoe betaal ons klub die prys, en dít oor daai ou bitterbek. Mense hernu doodgewoon nie meer hulle lidmaatskap nie. Ons handjie vol bittereinders wat die klub oor jare heen opgebou het, ons voer ’n opdraande stryd om alles in stand te hou.”

      Die enkele borgdae is hulle behoud. Maar die dorp se sakemanne raak al hoe taaier om geld te gee. Saais ken Gert se rympie hieroor al uit sy kop. “Ons is te leliewit na hulle sin,” sê hy ná elke minder suksesvolle kollekteerpoging. Temerige ou rassis wat hy is. En onnosel. “Ek sê vir hulle,” gloei ou Gert voor die ander, “ek sê: ‘Kyk net wie spandeer die groot geld by julle. Moenie julle blind staar teen getalle nie.’ Maar nee, dis mos net sokker, sokker, sokker!”

      “Saais, dóén iets!” roep Sannie.

      Vervaard klap Saais op sy hempsak, kry die sleutels dan in sy broeksak. Maar sy kar is vasgetrek en hy moet Gert se sleutels gaan vra. Dié is besig met ’n taai wedstryd teen ’n gewese provinsiale kampioen. Ha! dink Saais terwyl hy die motorsleutels by hom aanvat, kyk net hoe wild staan sy oë – natuurlik fluks besig om op sy moer te kry.

      Niemand help Gert reg oor die presiese ligging van die koopkrag in ’n dorpie soos dié nie, beslis nie die winkelbase nie. Hieroor neem Saais hulle erg kwalik. Hy weet wat Piet Paai sal sê: “Los tog die oubaas, hy is amper tagtig, hy’s geregtig op sy onkunde.” Maar dis mense soos die kafeebaas wat maak dat Gert Esterhuizen jaar vir jaar net erger word.

      Skouperd voor die klub se vrouens: “Julle moet maar mooi dink voor julle in die vervolg by Spar koop,” sal hy sê. “Of by Piet Paai. En selfs die garage, wat mos vra net wat hulle wil om ’n skroefie aan jou kar vas te draai. Die skedonke van anderkant die pad loop die strate vol. En hulle mors olie op ál wat ’n parkeerplek is.”

      Saais maak die Corolla se deur vir die arme verdwaasde predikant oop. As die man net iets wil sê! Het hy in die rivier geval? Het hy oor die hengelaars se groot klippe probeer loop? Hy moet mos wéét die rivier is niemand se speelplek nie; hy’s ’n geleerde mens.

      Ou Gert het net standerd ses en die bietjie logika wat hy dalk gehad het is nou geheel daarmee heen. “Daar was nooit veel verstand nie,” het Saais laas jaar al vir Piet Paai gesê. “Maar nou raak hy die kluts so kwyt dat dit vir ons ’n verleentheid is en die hel uit almal irriteer.”

      Maar, wonder bo wonder, uiteindelik kom Gert tog met geborgde pryse by die klub aan. Saais het geen idee hoe dít werk nie. Waarskynlik wil hulle net ontslae raak van die ou. Dalk kry hulle hom jammer en wil hulle nie sy gevoelens seermaak nie.

      Dit lyk darem nie of die predikant seergekry het nie. Die modder op sy bene is reeds aan die hard word. Dis net sy voete wat nog deurnat is; daai tekkies is daarmee heen. Maar hy kan maar op hierdie kar se sitplekke mors.

      Saais neem hom pastorie toe. Die man het net sy kop geskud toe hy hom vra of hulle nie maar eers ’n draai by Oudok moet maak nie. En toe het hy iets gesê van ’n lyk wat onder die brug lê. Seker maar ’n swarte, dink Saais, anders was daar vanoggend ’n groter gedoente by die bruggie. En dit sou die borgdag ordéntlik beduiwel het!

      Elke jaar kom spog die dooilam van ’n Gert met ’n hele klompie skenkings. Beloftes van vleis van die slaghuis, skinkborde met eetgoedjies van Piet Paai. Kontant van die garagebaas. En van Oudok, wat tog nie sy naam genoem wil hê nie. “Ons borgdag is aan,” kom kraai Gert dan by die vrouens. Triomfantelik, die ou bitterbal: “Oudok sê vir my: ‘Gert,’ sê hy, ‘ek hoop die rolbalklub waardeer alles wat jy vir hulle doen.’”

      Sien julle dan nie dwarsdeur hom nie, wil Saais vir hulle vra. Hy is altyd die held in sy eie verhaal, al moet hy dan ook vrá vir ’n handeklap. Die vroumense se goedkeuring uit hulle uit mélk. Nie dat daar veel aan hulle te melk is nie. Ou droë koeie.

      Toe hulle by die Portugees se drankwinkel verbyry en hy die klompie vroeë klante op die sypaadjie sien, wonder Saais vir ’n oomblik oor die lyk. Seker ook maar dronk gewees en in die rivier geval en versuip. Dit het al gebeur. Maar hy kan seker nie die beteuterde skepsel hier langs hom probeer uitvra en dan nog verder ontstel nie. Dié sit steeds met sy oë bot toe en sy kop agteroor gegooi asof hy aan die slaap geraak het. Maar Saais weet hy sal wel agter die kap van die byl kom. Op ’n dorp soos dié vat ’n storie sommer kortpad; dit weet hy wat Saais Vogel is maar te goed.

      By die pastorie gekom, stop Saais so na hy kan aan die randsteen. Die predikant se vrou maak onmiddellik oop nadat hy geklop het, asof sy by die deur gestaan en wag het. Fraai ou dingetjie, dink Saais, so met die langbroek. Nie kinders wat haar afgerem het nie. Maar sy loop ook nie juis oor van dankbaarheid nie. Groet skaars. Nooi hom ook nie binne nie. Vat net haar man vinnig aan die arm en in by die huis. Druk die deur toe.

      Teen die passasierskant se ruit, sien Saais met die terugklim in Gert se kar, sit die vetkol waar die dominee sy kop laat leun het. Die sitplek is vol halfdroë modder soos dit van hom afgeskilfer het. Die mat by sy voete is sopnat. Die kar sal behoorlik skoongemaak moet word. Gert Esterhuizen se bydrae vir die kerk, die ou klipchristen.

      Wag net tot hulle hoor van die lyk in die rivier! Saais gee vet. Hy probeer nie eens uitswaai vir die slaggate nie.

      5

      Wie sou hulle al ’n lyk gewys het? wonder adjudant-offisier P.C. van Deventer. Niemand by die kollege nie. Nie deesdae nie. Wie van die twee gaan eerste kots?

      Hulle is wel geleer om handskoene aan te trek, sien hy. Kan nog nie hulle snotneuse afvee nie, maar kan vigs van hulle lywe afhou.

      “Wat maak ek met hulle?” het P.C. vir kaptein Coffee gevra. “Buitendien het ek nie ’n goeie rekord met studentekonstabels nie. Kaptein sal dit al in my lêer gesien het.”

      Hy het geweet dit sou nie help nie. Kaptein Reginald Coffee se selfvertroue het toegeneem