van Deventer het al geleer om sy mond te hou wanneer sy ore begin suis.
“Wys jy hulle hoe ons sake op die grond benader,” het die kaptein gepaai. “In die kollege het hulle geleer om trots te wees op die uniform; jy moet hulle leer hoe om daardie uniform vir hulle te laat wérk. En, Peesee, tel tog maar jou woorde voor hulle. Jy weet hoe die kolonel voel oor ’n gevloekery by sy manne.”
Ek is nie een van die kolonel se manne nie, Kaptein, sou hy vir Coffee gesê het as dit nie vir die skielike hoë fluitgeluid in sy ore was nie. Ek het my trots. En my woorde is myne. Ek sal hulle tel soos en wanneer ek wil.
Maar hy sê niks. By Coffee se soort loop jy gedurig op dun ys. Gelukkig hou hulle nie lank op ’n dorp soos dié nie. Hierdie kaptein sal ook binnekort stad toe skuif sodat hy naby sy maatjies kan wees. Waar hy gou-gou vir hom twee minibussies sal koop en twee drywers sal kry. Om sy salaris aan te vul. Die belofte van groter dinge.
Die twee het darem hulle skoene uitgepluk, sien P.C. nou, pette bo-op. Hulle wag vir hom.
Vieserig druk hy sy tone in die water. Dis louerig. Maar hy weet dit sal kouer word soos dit teen sy bene opkruip. Hy buk en rol sy broekspype op. Dis moeilik so met die handskoene wat nie wil vasvat nie.
Die predikant het gesê die liggaam lê onder die brug. By die derde, vierde pilaar, het hy glo vir Beukes-hulle beduie. Jy kan dit nie van die pad af sien nie. Jy moet in die water ingaan. Hy wás in die water, dit kon almal sien. Tot amper by sy heupe, sy kortbroek was vol modder. Maar wat het hy in die eerste plek daar gesoek? Hy lyk nie na die visvangtipe nie. Hy het nie ’n stok by hom gehad nie; hy het nie visvangklere aangehad nie. Hoekom het hy nie sy skoene uitgetrek nie?
Die twee studentekonstabels plas agter hulle adjudant aan. P.C. se gestrekte linkerhand kan net-net die onderkant van die bruggie bykom – dit help vir die balans. Wat nié help nie is die klompie nuuskieriges wat bo-op die brug versamel het. Wat elke ongemaklike, selfbewuste tree van die drie polisiemanne volg. P.C. maak of hy nie van hulle weet nie. Dit gaan nie lank vat voordat hulle genoeg gaan wees om te begin aanmerkings skree nie. Safety in numbers, onthou hy uit sy lesings oor skarebeheer. Nie dat hy ooit skares hoef te beheer nie. Beslis nie destyds in die Kalahari nie. As daar sulke joppies hier opduik, laat kom hulle manne uit die stad wat glo daarvoor opgelei is.
Die derde pilaartjie. “Julle moet kyk!” roep hy na Beukes-hulle toe. “Stroomaf ook.” Daar’s byna nie ’n stroom nie, skaars ’n rimpeling teen die pilare. Met sy vry regterhand vee P.C. die hiasinte opsy. ’n Stukkie vislyn kronkel om sy plastiekvingers.
Sal die lyk gesink het? Die man het dit tog gesién. Nie raakgevóél nie. Dan moet hy bo dryf. Dan is hy al lank dood. Verdrink? Vermoor?
’n Kreet. P.C. swaai om. Beukes, vyf treë agter hom. Sy gesig is vertrek van pyn. “Ek het in iets getrap, Adjudant!” kry hy dit uit, sy oë styf toegeknyp. “’n Bottel of iets. Wat gebreek is.”
Bliksem. “Klim tog maar uit!” beveel P.C. “Kry net die bloed gestop. Ek sal netnou kom kyk.” Sal seker jou neus ook moet kom afvee. “Kyk jy nou net waar jy trap, Motaung!”
’n Gelag van bo af. Beukes strompel terug, al met die bruggie se onderkant langs. Iemand koggel hom in ’n taal wat Beukes waarskynlik nie sal verstaan nie. Hulle sal moet gou maak, besef P.C. Lag en koggel word gou skel en vloek. En dan kan enigiets gebeur. Hoe meer hulle word, hoe uitdagender gaan hulle wees. Jy het nie lesings in skarebeheer nodig om dit te weet nie. Saterdagoggende op straat in ’n dorp soos dié is genoeg.
“Is julle seker die man het gesê die vierde pilaar?” vra hy in Motaung se rigting, terwyl sy oë steeds die wateroppervlak fynkam.
“He was not very specific, Sir. He said … there, about the third or the fourth one. He pointed with his finger. He spoke very softly, Sir. In Afrikaans. Sir.”
P.C. kom nie dikwels in die kerk nie; daar is die begrafnis af en toe. Hy weet die man praat onduidelik van die kansel af. Sagte stem. Asof hy met homself praat. As hy moes praat soos hy vanoggend gelyk het, sou hy homself nie eens kon hoor nie.
P.C. is al verby die vyfde pilaartjie. Die hiasinte lê in ’n digte, beweginglose plaat voor hom. Dan dring die gebrom op die brug tot hom deur. Hulle getalle het toegeneem, hy kan dit duidelik hoor. Hy weet nie wat hulle sê nie. Maar hy weet genoeg om te besef hy moet hier wegkom. Ten minste uit die water uit kom. Hulle is maklike teikens. Enigiets van ’n klip tot ’n bolling spoeg. Gister was Vrydag. Betaaldag. Suipdag. Daar is steeds genoeg aggressie oor. P.C. draai om. Motaung sal wel besef wat hier bo-op die brug aangaan.
“Ons mors ons tyd hier,” sê hy saggies vir die jong man met die uitdrukkinglose gesig. “Dis die duikeenheid se werk; hulle moet maar kom kyk.” Daar is so ’n eenheid in die stad. As hulle beskikbaar is.
Terwyl hy met versigtige treë agter Motaung aan sukkel, kyk hy vir oulaas goed. Daar is nie genoeg van ’n stroom nie, besluit hy opnuut. Daai liggaam kon nie weggespoel het nie. Dit lê iewers op ’n voor die hand liggende plek. Net onder die wateroppervlak. Waarskynlik tussen die hiasinte. Maklik genoeg vir die duikers. Dit het reeds te veel van sy Saterdag gevat.
Beukes sit eenkant op ’n plat klip. Konsentreer op sy voet. Hy maak of hy nie die twee sien wat druipnat uit die water kom nie. P.C. wonder hoe erg die wond is. Hoeveel bloed. Hiervandaan sien hy niks. Waarskynlik was daar nooit iets nie.
Hy besluit om die mannetjie te ignoreer. Het die arme predikant toe darem sy huis gekry? Hy sukkel die klewerige handskoene af, prop dit in ’n broeksak. Buk en tel sy skoene op. Nóú moet hy by sy sigarette uitkom. Gou. “Hoe het julle gesê, wat’s julle name nou weer?”
Beukes sit koponderstebo en druk aan sy seer voet. Reageer nie. Dalk is hy te ver om die vraag te hoor.
“Jy?” P.C. wys. “Jy, Motaung? Wat’s jou naam? Hoe roep jou ma jou as jy by die huis is?”
6
By die rolbalbaan is dit net mooi teetyd toe Saais van die pastorie af terugkom. Almal sit onder die veranda rondom Piet Paai se skinkborde. Saais se oë soek totdat hy vir Sannie kry. Besig om die besoekers te bedien natuurlik. As dit ook nie vir háár was nie …
Hy sorg dat hy naby haar stelling inneem – sy moet die storie eerste hoor. Maar tot sy teleurstelling vind hy sommer met die intrapslag uit dat alles reeds uitgelek het. Wie sou dit nou hier kom uitlap het?
Gert is reeds weer die cowboy in sy eie fliek: “Die geweldsmisdaad is al lankal hier by ons, dis ’n feit,” teem hy. “Kyk dan nou vanmôre. En intussen is hulle besig om ons te ontwapen. Iemand sal moet sê tot hiertoe en nie verder nie. Hulle gaan ons nie help nie.”
Hulle. Gert Esterhuizen se vernaamste vyand. Sal iemand hom tog nie vandag kortvat nie! Een van die besoekers dalk?
Maar die hoop beskaam. “Julle het geen idéé nie!” roep een van die vreemdes uit. “Hier by julle is dit nog mák, maar daar by óns, in die stád!”
Saais herken die vestiging van die bekende patroon. Die een storie is beter as die ander. Dit troef en oortroef. Elke dorp het sy eie kampioen. Selfs ou Langjohanna Snyman het ’n eiertjie te lê – iemand het nou die dag haar tuinslang uit die voortuin gesteel.
Hy is bly toe die spul weer baan toe gaan. Nou kan hy vir Sannie met die vuil koppies help. Hy speel nie vandag nie; die hele maand al keil die skouer hom op. Oudok skud net sy kop. “Jy sal moet laat kyk, Saais. Dis waarskynlik artritis. Ek sal vir jou ’n afspraak by ’n ortopeed maak. Jy weet, ons word nie jonger nie.”
Oudok se gat, dink Saais. Hy het die skouer maar net ’n bietjie verlê, dis al.
Dit is toe hy die klubhuis se agterdeur oopmaak om by die vullisblik te kom dat hy die twee gewaar. Hulle sit teen die stam van die groot seringboom, knap voor die deur. Die bene ver voor hulle uit, voete gekruis. Langs die man staan ’n plastieksak met die Spar-logo.
“My heretjie!” kom skrik Sannie skuins agter Saais, “en wat soek hulle nou hier? Julle!” roep sy, “júlle!”
Die