se asem stop, dit word stil, alles staan stil, Elnatan se keel word dik, hy wil sluk, hy gaan opstaan, hy moet padgee, hy sal weghardloop.
Dominee Wait? Die skielike stem van ver af, dit vul die hele ruimte, Elnatan se ore slaan toe, hy kan nie hoor nie, hy sien nie kans nie, hier moet hy uit. Hier moet ek uit!
Hy dink hy het gepraat, hy gee nie om wie hoor nie, hier moet hy uit.
Hier moet hy uit.
1
Ek weet wanneer sy gedagtes nie by die erediens is wat hy lei nie. Dit gebeur die laaste tyd al hoe meer, feitlik konstant die afgelope ses maande, dat hy so sag praat dat selfs die kerkraadslede in die voorste dwarsbanke agterna mor dat hulle hom nie kon hoor nie. Terwyl hy praat, al hoe sagter, sy skouers krommer en krommer trek en dit al hoe stiller word in die kerk, haal hy sy bril af en sit dit voor hom op die kansel neer, ek sien die weerloosheid in sy oë. Oor hulle wat hy so sonder beskerming in die gesig moet kyk.
Ek hoor hulle praat, hulle maak seker dat húlle gehoor word. Ek hoor hulle wanneer hulle in hulle blink karre klim, as hulle ná kerk by Piet Paai se kafee die koerant gaan koop; wanneer hulle saam met hulle vrouens met die opgedoende hare by die bure gaan tee drink sodat die bediende, wat vir die Sondag moes inkom en die vier of meer kilometer met die voet moes loop, die kans het om solank die tafel te dek en die slaai te maak.
Natuurlik verdedig ek hom! Jy sal tog begryp. Maar ek mag mos niks laat glip nie, nie voor enigiemand anders nie. Dit het hy al soveel keer gesê, van die begin af. Hy het my laat belowe. Dis die eerste wet van die pastorie, het hy gesê. Hulle mag niks van ons weet nie.
Hoeveel van sy siel stort hy nie voor julle uit nie! sê ek vir hulle, al is dit net in my kop. Elke liewe Sondag, en dan nog die aanhoudende stroom begrafnisse. Dit voel vir my daar bly niks van hom oor nie, niks vir my nie, in elk geval. En waarskynlik ook niks vir homself nie. Die hele week deur hardloop hy van siekbed tot siekbed, van vergadering tot vergadering. Moet hy telefone antwoord en hulle klagtes aanhoor, nonsenspraatjies maak, lag vir hulle grappies, stilbly vir hulle aanstootlikhede. Die vrede tussen hulle en hulle bure herstel, tussen hulle en hulle kinders, hulle en die res van hulle klein wêreldjies. En hoor my, nooit een skewe woord nie! Nooit sal hy sê wat enige ander sensitiewe, intelligente mens oor soveel kleinsieligheid sal sê nie. Hy sal net troos, hy sal aanhoudend sê, soos vir kindertjies: Toemaar, toemaar …
En dan waag hulle dit nog om te sê hulle hoor hom nie! Hulle verstáán nie wat hy sê nie, dis wat!
Ken hulle hom? Ken hulle sy lewe op ’n godverlate dorpie soos dié?
Nee, wag, die godverlate is seker ’n bietjie kras. Kom ek lê eerder klem daarop dat hy manalleen werk. Los eerder die verwysings na die dorpie. Mense wat vasgevang is wil dit nie weet nie.
En wat van sy traumatiese ontdekking laas Saterdag, wat genoeg is om die sterkste mens te laat wankel? Hulle kan bly wees hy het die volgende dag gepreek.
’n Mindere mens sal dit nooit kan volhou nie. Julle sal lang trane huil die dag as Elnatan Wait hier moet weggaan! sê ek vir hulle. Al is dit net in my gedagtes, agter die ewige glimlag en die gesnoerde mond.
Ag wat, ek sal dit seker nooit régtig hoef te sê nie – die dorp se dominee en Sondagoggend se preek is nou ook nie só belangrik nie. Niemand onthou hulle irritasie met die kerk langer as die eerste skeppie Sondagkos nie – dán was daar reeds ’n koerantstorie wat die gesprek opeis of ’n kleinkind wat ’n SMS uit Londen gestuur het.
Hulle sal hulle in elk geval nie aan my steur nie. Vir hulle is ek maar net die ou predikantsvroutjie wat nie kan kinders hê nie, wat toe maar uit jammerhartigheid verskoon is van die leiding van die Kinderkrans. Wat in elk geval kort daarna doodgeloop het. Die een wat dit nooit kon regkry om die Agastoof in die historiese ou pastorie aan te steek en aan die brand te hou nie en dus nie die baksels en baksels brood en beskuit vir die kerkbasaar kon lewer soos hulle oor die jare heen van hulle predikantsvroue gewoond was nie.
Hulle sal nie weet van die B.Mus. nie; op ’n dorpie soos dié tel dit nie dat die dominee se vrou ’n musiekonderwyseres is nie. Nie met ’n skool waar die klavier in ’n pakkamertjie staan en vergaan nie en waar die tannie wat die orrel in die kerk aanval, bloot haar dun lippies nóg dunner trek wanneer die dominee se vrou ter sprake kom: Julle moet maar net sê as ek nie meer nodig is nie …
Hoe sal hulle weet op watter manier die dominee sy vrou destyds moes troos? Toemaar, het hy gesê, gee maar kans. Hoe lank dink jy sal sy kan uithou terwyl sy weet dat daar een is wie se orrelskoentjies sy nie werd is om vas te maak nie? Druk maar jou ore toe wanneer jy hoor dat dáárdie linkerhand nie weet wat die regterhand doen nie.
Ons twee het maar saans laat in die bed daaroor gesug; dan het sy aanraking my getroos, sy goeie, slim woorde. Jy ken mos die uitdrukking, sal hy vir my sê: Envy is the religion of the mediocre. Dan lag ons, die sagte dominee wat nie konfrontasie wil hê nie. En sy inskiklike vrou wat dinge nie nóg moeiliker vir hom wil maak nie, wat Sondag ná Sondag haar siel sit en prysgee onder die soveelste variasie op die tema van die orreltannie se oormoedige onbevoegdheid.
Nee, jong, hier moet die dominee se vrou kan kook en kan bak en kan brei tot skougehalte toe. Of, op die heel minste, kan kinders baar.
Maar wat, ná amper agt jaar het daardie verwagtinge definitief verflou. Die praatjies het beslis minder geword. En die orreltannie se bedreigdheid het in elk geval ’n Sondagse triomftog geword – nét op die boonste manuaal, en sonder ’n beduidenis van voete. Dit is net die neerbuigende, kammakastige simpatie wat gebly het. Wat eintlik ’n soort meerderwaardigheid is. Hulle moet tog nie dink ek weet dit nié. Jy weet, dit is eintlik die grofste belediging – dié ding dat mense dink jy’s dom. Dat jy nie dwarsdeur hulle kan sien nie, net omdat jy hulle nie konfronteer nie.
Ja, ek hoor hulle soos ek hom nooit meer hoor nie. Maar ek verdedig hom, ek maak namens hom verskoning. Al gee hy pad, tree vir tree verder van my af weg.
2
“Jou selfoon, Peesee!”
Hierdie tyd. Dis nog nág.
“Hy lê iewers daar binne!” skree Carol op hom. “Gaan druk hom dood! Ek probeer slaap! Dis Sondag, as jy dit nog nie agtergekom het nie!”
Dis elke dag Sondag vir jou, kan hy vir haar sê. Wie weet wanneer staan jy weeksoggende op? Wat jy dan maak. Trek jou blink broekie aan en gaan draf. Vir die hele wêreld om te sien.
Ek vra jou niks.
Dis die stasie se nommer op die skerm. “Wat’s dit!”
“Het jy al die koerant gesien?” Kaptein Reginald Coffee.
Nee, Kaptein, dis nog nie eens behoorlik lig nie. Ek kan nie eens my eie gat sien nie. Maar praat maar, ek luister.
“Hulle quote jou, Peesee. Het jy nog nie gehoor nie? Het die dorpsmense jou nog nie gekom sê nie? In die Sondagkoerant.”
P.C. leun met sy rug teen die gangmuur. Hy probeer fokus.
“Kom ek lees vir jou wat hier staan,” sê die kaptein. “Ons medewerker berig dat ao. P.C. van Deventer van die SAPD wat in beheer van die ondersoek staan, bevestig het dat dit beslis ’n moord is. Hy wou egter nie bevestig of ontken dat die liggaam waarna gesoek word dié van ’n buitelander is nie. Boonop moontlik ’n Zimbabwiër wat onwettig in die land is.”
P.C. besluit om te wag. Die kaptein is nie goed met stiltes nie.
“Adjudant, wié het die koerant gebel? Wie het toestemming gegee dat hierdie tipe inligting bekend gemaak word?”
Bly maar stil. Sy ore begin sing.
“Fokkit, man, daar’s tot ’n foto van jou! Jy staan daar met jou dikbek soos … soos … fok weet wié!”
P.C. het die kaptein nog nooit gehoor skree nie. Hy vloek nie. In elk geval nie voor hom nie, hy wat juis dié reputasie het. Hy moet dus kwaad wees.
“Kom