te wen wat elke jaar toegeken word aan die beste presteerder. Al sê Jas hy kruip agter sy boeke weg as daar nette gestel moet word, en dat ’n mens wat nie werk nie ook nie kan eet nie. Hy weet nie leer is ook harde werk nie.
Intussen word Blommie gedoop – die troetelnaampie waarop Henriëtta Luisa uit die staanspoor genoem word. ’n Vloek vir ’n kind, wat nooit weer van Hillie of Boetie ontslae kan raak nie.
Felix bondel hulle almal die Sondagoggend in die motor Ladybrand toe. Die bure se dogtertjie bring die kleintjie in en Helena hou in die konsistorie oog terwyl die diens aan die gang is. As die Retiefs daar is, sien niemand hulle nie. Is hulle dalk “al om die veertien dae”- kerkgangers? wonder sy. Of voel tant Nelie nie lekker nie, of oom Stoffel?
Daar kom mense by die huis tee drink, en die twee kleintjies word gekiek: twee feetjies in frilletjies en kant, met satynskoentjies wat Anneke self gemaak het. En twee baie broeis ouers.
Ewe trots wys Helena die foto wat sy in haar Bybel hou.
“My boetie,” sê sy van die elfagtige seun met donker krulhare en spits ore, en die breë borskas van Jas Burre. “Hy lyk meer na my ma met die hartvormige gesig en bruin oë. Ek het altyd so gewens dis ek.”
“Het jy nie ’n foto van julle gesin nie?” wil Anneke weet.
’n Foto van haar pa en ma weerskante van haar en Boetie? O jinne nee, hoe kry hulle vir Jas voor ’n kamera?
Vir hom moet ’n mens betrek, soos die dag toe hy onder die boom sit en hardernet boet het, met sy kaal tone in die masse gehaak, en ant Tiek se seun hom gekiek het. Die vergroting hang in hul voorhuis. Sal later ook nog ’n reliek word, voorspel ou Erwee van ant Tiek.
Daar is nie eens ’n trouportret van Cora en Jasper in hul huis nie. “Hoekom nie?” wou Helena weet toe sy begin wonder het. In al haar maats se huise hang daar ’n trouportret in die voorhuis: die vrou in ’n wit rok met handtak en veil, die man in ’n donker pak met ’n wit sakdoek in sy bosak.
“Ons is voor die magistraat getroud.”
“En wat het Ma aangehad?”
“ ’n Baadjiepakkie.”
Met ’n hoed en skoene en handskoene. Amper soos voorstelling. Sonder ’n ou blommetjie.
“Hoekom?”
“Omdat jou pa dit so wou hê. Ons het later vir ’n tweede maal in die studeerkamer van die pastorie getrou.”
“Eers getroud en toe gekerk.” Hoekom Helena dit juis moes sê, weet sy nie. Sy het niks daarby bedoel nie, maar sy kon haar tong afbyt toe sy haar ma se gesig sien. So geknou.
Van Cora se ouers was daar foto’s; ook van ooms en tantes, susters en die swaer wat hul grond gekoop het, wat af en toe ’n mandjie druiwe of ’n kis vye gebring het om konfyt van te kook. Maar wat hoe later hoe minder sy gesig gewys het weens Jasper se houding van “ons het nie jul aalmoese nodig nie”.
Selfs van ouma Lina Nimb en haar pa, die ou Deen met die rooi baard wat Helena se grootjie was – en wat byna honderd jaar oud geword het sonder dat sy hom ooit lewend gesien het – was daar verbleikte foto’s. Niks van Jas of sy pa nie. Helena is te skaam om voor die mense te erken dat Jas Burre sy eie familie nie ken nie. Of is sy familiefoto’s iewers versteek in ’n boks in ’n kis op ’n solder?
“Daar sal seker familiefoto’s wees as ’n mens tussen die rommel krap,” antwoord sy Anneke se vraag ontwykend.
Dan raap sy Koekoe op en begin met haar ’n speletjie uit haar eie babatyd wat Cora met haar gespeel het: Voorkop, kyker, snuiter, mondjie-vol-pap, kennebak, gorrelgat, melkpens, doedelsak! En dan weer: Duimpie, duimpie-se-maat, langeraat, fielafooi, piepie-in-die-kooi!
Asof dit sal help om haar eie miserabelheid hok te slaan. Sy moes nooit so uitgebrei het oor hul Kersfees op Vollemink nie, en ’n gebrek aan familiebande.
Wat dink Anneke en Felix werklik as hulle klaar gelag het? vra sy haarself af toe sy later in die rigting van die spruit stap en op die bruggie se randsteen gaan sit onder die oorhangende takke van ’n wilgerboom. Aan die ander kant, waar jy vandaan kom, maak nie soveel saak as waarheen jy op pad is nie, het meneer Meyer altyd gesê. Dis waarom sy nie die werk by die ouditeur in die Paarl aanvaar het nie, waar sy later vir haar eer sou moes veg en dalk sou verloor het. Dis waarom sy eerder Grenspan toe gekom het.
Miskien nie die beste keuse uit ’n finansiële oogpunt nie, maar dit mag die begin van ’n begin wees, die onderste sport na die punt van die leer. Hoe gepas klink al die gesegdes van meneer Meyer nie nou nie. Op die oomblik is dit gerieflik dat sy by die Venters inwoon, maar dit maak tog inbreuk op hul privaatheid. As die tyd geleë is, sal sy wil nesskop op haar eie, ’n meer uitdagende werk met ’n beter salaris op ’n groter dorp kry. Bloemfontein? So ver wil sy nie nou dink nie.
Met haar bene opgetrek onder haar rok, ken op die knieë, kyk sy voor haar uit. Die grond is droog, die lug bedompig soos voor ’n donderweer. Almal sien uit na reën. Somerreën vir die jong mielies. Vroeë herfsreën vir die Sandveldse koringboere. Die aarde is dorstig. Die see ook. Vreemd, maar die see moet ook reën kry, anders is die vis skaars. Maar dis glo vieslik nat op ’n skuit se dek as dit op see reën, al is dit ook maar water.
As die oostewind dae lank gewoed en die see en lug bleek gewaai het, kom daar ’n kenterweer op, en ’n genadige koelte. Blou soos kobalt rol dit van die einder af oor die water land toe. Dis dan dat die masbanker agter die bamboes, feitlik in die klip, rys en die skuite losgooi, ’n skep maak en aflaai en dan weer uitgaan.
Chris de Wet het byna by haar verbygery en toe weer teruggestoot.
Sy is bly om hom te sien. “Hallo! Waar kom jy vandaan?”
“Ek het sommer kom kyk hoe dit op Grenspan gaan. Gaan dit goed?”
Sy knik.
“En met my?”
Aan hierdie uitgerekte ritueel van groet en oor en weer uitvra na mekaar se welstand moet sy nog gewoond raak. Sy merk dit ook in die spreekkamer en onder die huiswerkers. Dis iets wat sy moet onthou.
“Ek kan mos sien hoe dit met jou gaan. Wil jy sit?”
Sy maak vir hom plek langs haar op die muurtjie en weet toe nie verder nie. Skielik is sy baie bewus van hom hier langs haar: die jong, byna seunsagtige gesig, die opgeslaande wit hempskraag, die polsende kuiltjie, die tekstuur van sy baadjie teen haar kaal arm.
Selfbewus sit hulle ’n ruk lank terwyl die son laag bo die horison hang. “Was jy weer op Dewet?” vra sy, net om iets te sê.
“Ja, die skeerders was daar en ons het sommer gedip en gedoseer ook. Ons wil volgende maand ’n klompie jaaroudlammers vendusiekraal toe bring. En ’n paar tollies slagpale toe stuur.”
’n Slagtery sal sy altyd vereenselwig met die twaalf australorphenne en die swart haan met die pronkerige stertvere, spore en kam in hul hoenderhok. Een van die min vermaaklikhede vir Jas Burre op sy eie werf. Elke keer as Cora ’n hoender wil kop afkap, moet sy dit stilletjies doen dat hy nie daarvan weet nie. Want die kuikentjies word hans grootgemaak, in ’n boks by die vuurherd. Later spog hulle met potsierlike penveertjies; die haantjies wys spore, begin kraai en sleep pronkerig vlerk en skrop en roep die henne om te kom vreet.
Haar pa sal sy mond nie aan die bruingebraaide hennetjie sit nie. ’n Werfdier is te na aan jou eie mens, sê hy. Dalk nader, want hy neem meer notisie van die manewales van die ou haan as van sy eie weerspannige dogter en die seun wat nie aan sy verwagtinge voldoen nie.
Met so ’n slagtery het Helena haar ook uit die voete gemaak. Eenmaal toe die slagter hul hanskalf kom haal het, het sy hom byna te lyf gegaan, en dae lank nie met haar ma gepraat nie.
Miskien maak sy te veel daarvan. Maar sy moet in gedagte hou dat Chris de Wet ’n boer is, hy hou nie vee vir die aardigheid aan nie. Daarby is vleis hul stapelkos. Hy maak die stelling asof hy hom moet verdedig teenoor haar, wat skaars daaraan raak.
“Ek eet vleis,” help sy hom reg. “Eintlik