E. Kotze

Hoogty


Скачать книгу

Sy word van kop tot tone geïnspekteer. “Kyk hoe lyk jy, so maer soos ’n graatjie. Het jy nie kos gekry nie? In daardie kamtige land Kanaän. Was dit nie so wonnerlik soos jy gedink het nie?”

      Sy staan met haar hande om die stoelleuning geklem. Skaamkwaad. Sy moet erken dat sy dit nooit weggesteek het nie, baie uitgesproke was omtrent Vollemink, en nie ver genoeg kon wegkom nie. Sy wou die wêreld sien, leer, as ’n nuwe mens anderkant uitkom.

      Dit het sy wel gedoen. Sy het gasvrye mense ontmoet, verfynd en bedagsaam, wat goed was vir haar. Selfs lief geword het vir haar. Mense wat mekaar nie verskree nie. Tussen wie sy ten spyte daarvan in sekere opsigte ’n vreemdeling gebly het, in ’n soort ballingskap verkeer het.

      Sy wil dit skaars aan haarself erken, maar vanoggend toe hulle mekaar groet, toe haar ma haar hande om haar gesig vou en vra: “Hillie, is dit jy?” het sy oor haarself getwyfel. Wie is sy, waar hoort sy?

      Haar ma het oor haar hare gevryf. “Jy was so lank weg, my kind. Ek het al gedink ons het jou verloor, jy sterf ons geheel af.”

      “Ai, Ma, ek is mos nou hier. Ek het gekom so gou ek kon, en ek gaan ’n hele maand bly.”

      En as haar hart moes praat, sou sy plegtig wou belowe dat sy vir altyd terug is. Net om dadelik terug te krabbel: om wat te maak as sy eers hier is?

      Sy was nie van plan om met haar pa te redekawel en rusie te maak nie, hom rede te gee om haar aan te val en nog ’n oorlog te ontketen nie. Sy het gehoop hy gee haar kans om mooi te verduidelik, haar kant van die saak te stel.

      Maar Jas is nou op dreef en lank nie met haar klaar nie. “Nou is jy sonder taal, Heuleuna, jy met jou wysbek. Ek ken jou nie so nederig nie.” Hy kam ’n paar visgrate met sy vingers uit sy snor. “Ek het vir jou ma gesê, daardie tyd toe jy jou loop verhuur het aan die jags ou man . . .”

      Helena kyk stom na haar pa. Het sy reg gehoor? “Waarvan praat Pa tog?”

      “Wie se kooi jy soggens moet opmaak. Of wil jy sê ou Tiek lieg? Sy was by jou ma in die gang toe julle oor die foon gepraat het. Hoe dink jy moet jou ma nie gevoel het nie, en ek? Siesa! Nou sê ek: as jy in die moeilikheid is, moet jy nie dink om jou pakkie hier te kom afgooi nie. Ek en jou ma is te oud om hoerkinders groot te maak.”

      “Jasper!” roep Cora onthuts.

      “Jasper se gat!” Hy slaan met sy vuis op die tafel dat die koppie uit die piering spring en flenters op die vloer val.

      In plaas van om eers tot tien te tel, vlam Helena op. “Siesa vir Pa self wat altyd die ergste van ’n ander dink, en dan nogal van Pa se eie dogter. Ek skaam my, ja, om eers Pa se naam te noem voor ’n ordentlike mens! Pa praat nie weer so met my nie. En Pa se geld wil ek nie hê nie.”

      Sy het haar dit so anders voorgestel: die geld wat sy hom skuld plus rente in ’n wit koevert. Eers dankie sê en dit dan in sy hand sit. Waarna hy ’n prekie afsteek, dat hy maar net sy vaderlike plig gedoen het, en verleë die geld teruggee. Maar sy moes dit gedroom het.

      Uit haar handsak op die bakkis agter die deur pluk sy ’n tienpondnoot en gooi dit voor hom neer. “En as Pa wil weet wat ek hier soek: ek het kom kyk wat hier by die huis aangaan.”

      “Soos wat?” Hy raak nie aan die geld nie.

      “Hoekom Boetie nie op skool is waar hy hoort nie. Wat maak ’n seun wat nog nie eens skeer nie op die see?”

      “Moenie jy nou met Boetie kom neuk nie. Boetie het standerd ag gemaak, dis ver genoeg.”

      “Die verstandhouding was dat hy vanjaar Paul Roos toe sou gaan, en daarna universiteit toe. Meneer Meyer het self gesê hy het die verstand en die aanleg om ingenieur te word. Of ’n argitek.”

      “Jy en die skoolmeesters! Sê jy vir Meyer ek het gekom waar ek vandag is met die Onse Vader en die Tien Gebooie. Daar is mos ’n enjineer op Vollemink, en hy teken sommer huisplanne ook. Boetie moet leer om sy hanne en sy kop te gebruik. Vis is nie sommer elkeen se hierjy nie, hy is nie net slim nie, hy’s skelm, jy moet uitgeslape wees as jy ’n lewe op die see wil verdien. Wie moet eendag in my stewels klim as ek van die skuit afstap as hy op die skoolbanke sit? Moet jy nou nie sy kop vol kak kom praat nie, want ek sal dit nie vat nie!”

      Helena sou haar pa in dieselfde taal kon terugantwoord. Sy het grootgeword met die kru bywoorde en byvoeglike naamwoorde wat Jas se woordeskat deurspek. As iets verkeerd loop op see, ruik die lug na kruit soos die donders en bliksems val; selfs God se naam word uit die hemel gehaal. Vloek is soos konfyt op brood vir Volleminkbaai se kinders, dit gee lekkerte aan ’n speletjie, laat jou groot en belangrik voel.

      Cora het vergeefs Helena se mond met ’n seeplap uitgewas en peper gestrooi; as dit na hoe lyk, swets sy soos ’n ketter. Eers nadat sy hoërskool toe is, in die Paarl tussen kinders uit die voorste families beland en ’n paar maal ’n krater van haarself gemaak het, voor die hoof verskyn het en oor die kole gehaal is, het sy besef ’n opgevoede jong meisie praat nie so nie. In ordentlike geselskap sal sy met sulke taal nooit aanvaar word nie, sal sy altyd Hillie Burre van Vollemink bly.

      Beledig en verneder en magteloos keer sy haar rug op die huis, kies sy die paadjie strand toe. Sy ploeg deur die dik sand in die rigting van die vlei, waarvan die mond hierdie tyd van die jaar droog genoeg is dat ’n mens oor die klippers kan spring. Sy klim ’n duin uit waar hulle as kinders gespeel het, waarteen hulle afgerol het tot in die branders se skuimrand. Waar ’n dubbele ry spore die sit- of lêplek van vryerspare verraai het.

      Sy laat haar oog gaan oor die baai waarin bote nog maneuvreer om af te laai. Oorkant op die eiland sit swartvoëls en meeue en pikkewyne in aparte kolonies. En die malgasse wat nooit ophou met raas nie op hul neste.

      Dis alles so bekend: die fabriek, die hotel en kroeg – die kom-kry-mekaar-plek van die seemanne. ’n Euwel in baie huise waar daar vroeër skaars geld vir kos was, en ’n toevlug vir die arme ellendeling met ’n kwaai vrou wat hom by die deur uit skel.

      Vir baie jare was Vollemink ’n sukkelende, selfs agterlike vissersdorpie, een van vele aan die Weskus. Hier het die eerste ou vissers ’n sukkelbestaan gevoer; hulle smiddae in die duine ingegrawe met ’n halfbottel soetwyn, op die uitkyk vir hardervis wat agter die bamboes rys. Uitgeroei en hul nette gestel en uitgetrek op die wal. Die mandjies vis opgedra huis toe, waar die vroue moes help sout en inryg en ophang. Kreef gevang, eers met bakkies rondom die baai, later al verder met kotters tot bo in Honneklip en Portnollis.

      Toe, tydens die Tweede Wêreldoorlog, was daar ’n aanvraag nie net vir kreef nie, maar vir ingemaakte vis. Daar het fabrieke opgegaan, trolskuite is gebou, die pelagiese vis is met beursnette gevang. ’n Tydperk van voorspoed het aangebreek: garages en winkels het in die middedorp opgerys, Friedmans se afdelingswinkel en ’n norring kleiner besighede, die kafee en biosaal, kerksaaltjie en sekondêre skool en biblioteek. Die tennisbane is nog dieselfde, maar onlangs is daar ’n kliniek gebou, met langsaan ’n tweeverdiepinghuis vir die nuwe jong dokter. Mense wat van die hand tot die mond gelewe het, het skielik geld in hul sakke.

      Toe die skippers welvarend word en in die Bodorp begin bou – party huise glad weelderig, die stoepe toegemaak met glas teen die suidewind – was dit net die Frosts wat bly woon het in die lang huis bokant die fabriek. Omdat dit gerieflik is vir Frost, die bestuurder, dat hy van sy voorstoep af die bedrywigheid in die hawe kan dophou.

      En Jas, wat volhou dat hy goed bly waar hy is; hy soek nie mense wat oor sy heining kom hang nie. En hy maak graag band los anderkant die mond, waar die goewermentsveld begin. Al spook dit ook daar, flap ’n gedoente soos ’n volstruis sy vlerke agter die rietpolle sodat hy een aand in aller yl met sy broek in sy hand agter sy eie houthoop moes kom sit.

      Sy losstaande huisie in die oudorp is nader aan die vlei geleë, ’n historiese landmerk uit ’n byna vergange era, een met die sandduine en biesiepolle waar die vryers hulle saans ingegrawe het. As die duine maar kon praat, sou hulle boweal die name van Auret Nagel en Vilna Frost kon uitroep.

      Helena wriemel haar tone in die sand toe sy aan Vilna dink, haar beste maatjie van baie jare, haar boesemvriendin. Vilna die voorperd, drie jaar ouer, vol streke, Helena soos ’n