Marzanne Leroux-Van der Boon

Go'el Yisra'el


Скачать книгу

      Die nag lê Marc wakker in sy bed en luister na die wind wat aan die rame ruk en nog sneeu bring. Hy dink vir die soveelste keer aan Rivkah se vreemde optrede toe hy en die seuntjies haar op die lughawe gaan haal het. Dit was byna of sy weggeskram het van fisieke aanraking. Hy het toe maar geglo dis reaksie op haar traumatiese ervarings en dat sy baie moeg was. Die verskriklike dinge wat Shlomo oor aandete vertel het, laat hom nou iets beter verstaan van haar half koue, half verwilderde houding. En tog stel dit hom nie heeltemal gerus nie. Vandat Rivkah agt jaar gelede deel van sy lewe geword het, het sy al uiterse trauma belewe en hy het haar nooit so gesien – gevoel – reageer nie. En toe hy haar netnou gebel het, het dit geklink asof sy gehuil het. Hy verval later in ’n rustelose slaap.

twirl.jpg

      Die volgende dag is dit steeds bitter koud, met nou en dan ’n sneeubui en kwik wat onder vriespunt gedaal het. Toe hy en Henok voor Auschwitz se hekke staan, omvou ’n groot benoudheid sy hart. Die ingang wat hy soveel maal op foto’s en in films gesien het, “Arbeit macht frei” in ’n sierlike boog oor die hekke geskrywe, die grou, sneeubedekte geboue agter. Dis een ding om Zvi daaroor te hoor praat, daarvan te lees, dit in ’n dokumentêre film te sien en ’n ander om op die grond te staan waar dit gebeur het. As hy skrams na Henok kyk, sien hy die verbete trek om sy vriend se mond.

      Hy ril in sy dik jas en sneeustewels en dink aan die duisende Jode wat versmorend saamgehok in beestrokke hierheen vervoer is. Dikwels in die koudste wintermaande sonder die luukse van warm, beskermende klere of iets om te eet of te drink. Vroue met klein kindertjies, babas. Ou mans en vroue. Hulle het hierdie afskuwelike plek binnegegaan en nooit weer teruggekom nie. Wat sou in hulle gedagte omgegaan het toe hulle deur hierdie selfde hekke gevoer is? Hoeveel het hulle geweet van wat daar op hulle gewag het?

      Henok raak aan sy arm. “Marc, ons moet onthou wat ons hier sien, ons moet práát van wat ons sien en hoor. Ons vyande is ywerig besig om dit uit die geskiedenisboeke weg te skrywe.”

      “Ek weet,” fluister Marc met stram lippe.

      Hulle stap woordeloos deur verskeie barakke waar die kru lewensomstandighede van die bewoners realisties uitgebeeld is. Maar dis by ’n uitstalling van die gevangenes se persoonlike besittings wat na die oorlog gevind is waar dit vir Marc voel of sy hart wil breek. Hy kyk nie na Henok nie, maar hy is bewus van die ontsaglike emosie wat ook deur hóm skeur. Hulle word genadeloos gekonfronteer met duisende brille, haarborsels, kamme, skeerapparate, skoene, krukke, rugstutte, kunsbene en koffers so ver as die oog kan sien.

      “Here God,” hoor hy Henok byna onhoorbaar kreun.

      Hulle stap deur die ontroerende swart en wit foto’s van stapels en stapels uitgeteerde gestorwenes, van brandmaer, verhongerde kinders wat wonder bo wonder oorleef het. Toe kom hulle by een van die gaskamers en die krematorium. Marc knyp sy oë styf toe, want dis of hy die krete van die sterwendes kan hoor. Hy dink aan die gruverhale wat Rivkah se grootvader wat in Auschwitz was hulle vertel het. En hy verstaan hoe die ou man sy geloof in die goedheid van die Almagtige verloor het.

      Asof hy Marc se gedagtes lees, prewel Henok langs hom: “Waar is U in dit alles, God van Israel? Hoe kón U dit toegelaat het? Waar was U?”

      Marc het geen antwoord vir die man wat so onlangs nog uitgevind het dat hy deel van God se volk is nie. Sy eie verdriet en verdwasing is self so enorm.

      Shlomo wat al tevore in Auschwitz was, het die oggend reeds terug vertrek Israel toe en ’n bejaarde rabbi van Litaue sluit hom by die twee getraumatiseerde mans aan toe hulle gaan eet. Hy is van die min Jode wat in Vilnius, Litaue, oorgebly het en al meermale in Auschwitz was.

      Hy luister stil na Henok se “waar-was-God” vrae. En na Marc se verslae swye. Dan sê hy afgemete, “Chaverim, banim Avraham,” en gaan ter wille van Henok voort in Engels met ’n swaar aksent en hier en daar Hebreeuse woorde tussenin, “die profetiese woorde en die beloftes van HaShem staan vir ewig, en selfs in die midde van hierdie aaklige hoofstuk van die geskiedenis het Adonai ’n oorblyfsel bewaar én voorbereidings getref om ’n wonder te laat geskied …”

      “’n Wónder?” vra Henok amper kwaad.

      Rabbi Wertheimer knik. “Uit die as van hierdie afskuwelike gebeurtenis, wat buite die beskrywingsvermoë van enige taal val, was daar ’n vlugtige venster van genade waarin die Tanach se profesieë vervul kon word.”

      “U praat van genáde?” wil Henok steeds ontstig weet.

      Weer knik die rabbi. “HaShem se genade reik veel verder as wat die mens ooit sal verstaan, Chanok. As gevolg van die Shoah het die wêreld skuldig genoeg gevoel om in 1948 in die VN vir die totstandkoming van die Staat van Israel te stem. Sommige van dié wat die dodekampe oorleef het, sou leef om hierdie droom te sien waar word en in die Beloofde Land te gaan woon.”

      “Was dit nie te ’n hoë prys om te betaal nie …?”

      “Chanok, die Ewige van Israel het sy volk nie net uitverkies om ’n teken te wees van hoe Hy seën nie, maar ook van hoe Hy tug. Hulle het sy heilige Naam ook onder die nasies waar hulle gekom het, ontheilig.”

      “Maar tog … tóg …?”

      Rabbi Wertheimer stryk lank ingedagte oor sy baard voor hy weer praat. “Chanok, jy ken die storie van Yechzk’el HaNagid?”

      Henok skud sy kop verward.

      “Die profeet Esegiël,” help Marc Henok se gebrekkige begrip van Hebreeus.

      “Ja, ek weet van hom …” reageer Henok ietwat verleë.

      “Goed. Nou in die tyd van Yechzk’el het die volk geweldig gesondig,” gaan die rabbi voort, “nie dat hulle dit nie nou ook doen nie, maar toe veral. En die arme profeet moes HaShem se misnoeë, sy gloeiende toorn, aan hulle oordra. Hy moes op ’n kleitablet HaShem se oordeel wat oor Yerushalayim aan die kom was, uitbeeld. Eers moes hy die stad op die tablet teken en toe moes hy met kleimodelle daar rondom die beleg van die stad uitbeeld. En daarna moes hy driehonderd en negentig dae op sy linkersy voor die tekening gaan lê om die jare van die huis van Israel se ongeregtigheid te dra en daarna nog veertig dae op sy regtersy lê om die ongeregtigheid van die huis van Juda te dra.”

      “Darem ook verskriklik,” sug Henok.

      “Dis die Ewige van Israel wat ons dien, Chanok, Adonai. Hy is heilig, met Hom is nie om te gaan soos met ’n mens nie. Wat ek wou sê: HaShem het vir Yechzk’el uitgelê waarom hierdie dinge oor Israel sou kom.” Hy tas in sy jas se binnesakke rond en kom met ’n slapband Engelse Bybeltjie te voorskyn. “Laat my dit vir jou hieruit voorlees …”

      “U het ’n Complete Jewish Bible, Tanach en B’rit Chadashah!” sê Marc verstom.

      Die ou rabbi haal sy bril af en kyk Marc vol aan, daar kom ’n sagte glimlag om sy mond. “Ek weet wie Israel se Mashiach is, Marc. En uit julle gesprek wat ek gisteraand opgevang het, weet ek dat julle twee dit ook weet.

      U wéét?” vra Marc verstom.

      “Yeshua Natzeret,” sê hy sag, “daar is baie van die Jode in Litaue wat weet. Ewenwel, laat my nou hieruit lees wat Adonai Elohim vir Yechzk’el in hoofstuk 5 gesê het. Hy lees stadig en duidelik:

      “This is Yerusalayim!

      I have placed her in the middle of the nations;

      countries can be found all around her.

      But she has rebelled against my rulings

      and committed wickedness more than the nations,

      against my laws more than the countries around her;

      because they have rejected my rulings

      and not lived according to my laws.”

      Hy maak die Bybel versigtig toe voor hy verder praat. “Dan verduidelik HaShem hoe Hy die volk oor die gruwels wat hulle gepleeg het, sal straf voor die oë van die nasies. Verskriklike oordele spreek Hy uit en,