met die gaste.”
Met Bibi en Avital se terugkeer neem die vreugde ’n nuwe dimensie aan. Die gaste vorm groot kringe om die bruidspaar en daar word uitgelate gedans. Van die gaste lig hulle selfs op hul skouers en dans met hulle rond. Die kos smaak uitstekend en wyn vloei oorvloedig.
“Jode weet om fees te vier, al dreig die wêreld rondom om hulle te vernietig,” merk Henok sober op toe hy en Marc ondertoe gaan. Re’uven kom dadelik in hulle rigting. Soos gewoonlik loop hy ietwat moeisaam met ’n ligte kierie ná die ernstige verwonding wat hy aan sy voet opgedoen het in die Defensive Shield-oorlog van Pesach 2002. Toe hy en Henok aan die gesels raak, gaan Marc na Rivkah en die seuns soek. Maar eers gaan hy Bibi en Avital gelukwens. Hy neem hulle elkeen afsonderlik in sy arms en hou hulle lank vas. Ná David se dood het Bibi nog meer soos ’n eie broer vir hom geword. Die bruidegom het nou kleur in sy wange en sy oë is donker van geluk agter sy brilglase. Avital gloei daarvan. Omdat die ouerpare vriende is, ken die twee mekaar baie jare al, maar toe hulle in 2008/2009 saam in Operation Cast Lead geveg het, het die vriendskap tussen hulle respek en groot liefde geword.
Yhoshi wat sy pa gewaar het, kom hom jillend tegemoetgehardloop, gryp sy hand en trek hom tot by Rivkah wat tussen ’n groepie van hulle vriende sit. Soos vroeër die dag ontmoet hul oë vlugtig voor sy vinnig wegkyk. Daar word vir hom plek gemaak langs haar en sy glimlag senuagtig in sy rigting sonder om hom werklik aan te kyk. Natan kom op sy skoot klim en leun soos sy gewoonte is met sy donker krulkoppie teen sy pa se bors. Yhoshi hardloop gillend met ’n paar van sy vriendjies tussen die dansende mense deur. Marc trek versigtig sy kleinste se duimpie uit sy mond en vryf sy vingertjies tussen sy eie.
“Hy is baie moeg,” sê Rivkah langs hom.
Hy kyk na haar. “Wil jy huis toe gaan?” vra hy sag.
Sy knik en voor sy haar kop wegdraai, sien hy ontsteld hoe haar oë stadig met trane vul.
Hy staan onmiddellik op. “Ouens,” sê hy vir die groepie vriende by hulle, “hierdie seuntjie is moeg verby, ek dink ons neem hom maar bed toe.”
’n Koor van misnoeë gaan dadelik op, maar hy hou voet by stuk. “Ons werk ook albei môre.”
“Maar die fees het net begin …!” roep een.
Rivkah het ook opgestaan. “Nee, dis die beste dat ons liewer gaan. Ek is seker julle sal die fees aan die gang kan hou sonder ons.”
Dit ontgaan Marc nie dat ’n paar hulle ietwat wantrouig aankyk nie. Hy begryp dit. Rivkah is gewoonlik die gees van so ’n geleentheid en vanaand het sy nog skaars haar mond oopgemaak. Maar hy gee nie om nie, al wat hy wil doen, is om op ’n plek van stilte te kom met sy vrou. Hy móét weet wat aan die gang is.
Dis ’n ander saak om Yhoshi daar toe oor te haal om saam te kom. Hy is hoogs verontwaardig dat hy midde in hierdie heerlikheid saam met al sy maatjies moet huis toe gaan om te gaan slaap. Asof hy ’n baba is! Hy sit so ’n keel op dat sy oom wat daar naby met Henok staan en praat vinnig tot sy redding kom. Re’uven wat sy suster soos die binnekant van sy hand ken, het lankal skrif aan die muur gesien. Wat die skrif betéken, weet hy nog nie, maar hy weet hy moet ingryp.
“Los hom by my en Shlomit,” sê hy, “ons gaan nog bly, dan vat ons hom sommer saam huis toe. Laat hom maar vanaand by sy nefie slaap.
Anders as gewoonlik laat Rivkah haar dit sonder teëstribbeling welgeval. Marc het al ’n taxi bestel en kort voor lank is hulle tuis. Natan is al driekwart aan die slaap sodat Marc hom vinnig in sy pajamas wikkel, handjies en mond afvee en bed toe neem.
“Abba,” sê hy toe Marc die duvet om hom invou, “moenie weggaan nie.”
“Ek sal nie, liefling, ek bly hier by jou.”
Nog ’n paar oomblikke hou die donker ogies hom angstig dop, maar toe verslap die handjie wat styf aan Marc se trui vasgehou het en val sy oë toe. Marc bly by hom sit tot hy seker is hy slaap vas.
Toe hy uit die kinderkamer kom, hoor hy die geluid van die stort uit hulle badkamer. ’n Oomblik lank voel hy lus om by die voordeur uit te sluip, die ysige weer te trotseer en die bekende paadjie na die Kotel toe te vat. Om sy vrese voor Abba uit te stort. Maar hy onthou sy belofte aan Natan en hy weet ook dat hy só niks sal oplos nie.
Hy haal diep asem en gaan na hulle slaapkamer. Die badkamerdeur is toe en hy gaan op die kant van die bed sit. Toe die geruis van die stort eindelik stil word, kom Rivkah kort daarna saam met ’n wolk stoom in die koue slaapkamer uit. Sy skrik merkbaar toe sy Marc sien sit.
“Ek dag jy is Kotel toe vir Ma’ariv,” fluister sy byna.
“Nee,” sê hy.
Haar hare is los en krul uitbundig om haar gesig en teen haar rug af. Die handdoekstof kamerjas is styf om haar middel geknoop sodat sy kinderlik klein daar uitsien en sy is kaalvoet. Marc raak bedwelm van haar warm nabyheid en hy voel die haartjies op sy voorarm roer. Maar hy veg teen die begeerte wat in hom opkom en hy bly haar aankyk, sy mond so droog dat hy moeilik praat.
Sy woorde kom harder uit as wat hy bedoel het: “Wat is met jou aan die gang?”
Haar mond vertrek strak. “Niks.”
Hy besef hoe verkeerd sy aanslag was en laat sy ingehoue asem stadig uit voor hy weer sagter praat. “Rivkah, asseblief! Sê vir my wat dit is.”
“Daar ís niks om te sê nie.”
“Dis nie die waarheid nie.”
“Dit is niks, Marc. Ek is net moeg, ek wil gaan slaap, ek werk môre.”
“Wat het in Haïti gebeur?”
Meteens vlam haar wange. “Niks het in Haïti gebeur nie! Jy weet goed wat die situasie daar was. Kan jy dit nie verstaan nie?”
Sy druk haar gebalde vingers teen haar mond en haar oë skiet vol trane.
Marc staan vinnig op en neem haar in sy arms. ’n Wilde rilling tril deur haar en hy druk haar teen hom vas. Sy bedaar geleidelik en eindelik verslap sy, sug en laat haar kop teen sy bors sak. Hy vleg sy vingers deur haar welige hare en sus haar, fluister haar naam baie maal.
Sy is warm en bekend teen hom, hy ruik die soetheid van haar skoon hare, voel die fermheid van haar klein borste teen die sagte handdoekstof van die kamerjas en vuur roer in hom. Hy soek haar mond, maar sy het haar gesig in sy woljek gewurm.
“Kom,” sê hy sag teen haar nek en tel haar op.
Maar toe voel hy hoe sy verstyf en sy druk met haar oop hande teen sy bors. “Nee, Marc.”
Sy greep verslap en hy laat haar verward gaan.
“Ek is moeg,” sê sy beswaarlik hoorbaar en kyk nie na hom nie.
’n Paar oomblikke staan hy so stil voor haar afgewende gesig. Toe draai hy om en gaan uit en trek die kamerdeur sag agter hom toe.
Die volgende dag maak hy vroeg klaar by die universiteit en toe hy by die huis kom, kom Hadassah net met die kinders terug van die speelskool waarheen sy hulle soggens vir ’n paar uur neem. Toe hulle hom sien, kom hulle aangehardloop en hy hou sy arms oop en vang hulle.
“Ek bly by hulle tot Rivkah huis toe kom,” sê hy toe hulle weer bedaar het.
Sy kyk onrustig na sy wit gesig. “Dis nog twee uur voor sy kom.”
Hy dwing ’n glimlag oor sy lippe. “Ek sien te min van hulle.”
Sy talm onseker. “Is jy oukei, Marc?”
Hy raak gerusstellend aan haar skouer. “Dis goed, Imma. Ek sal regkom.”
“Eers is Rivkah na Haïti toe en toe is jy weer Auschwitz toe. Dit vreet aan mens se siel, sulke dinge. Julle moet oppas, Marc.”
“Ons sal, Imma.”
“Wat gaan ons doen, Abba?” wil Yhoshi dadelik weet toe sy ouma weg is.