oë. Vinnig in alles wat hy doen, maklik in sy omgang met woorde en met mense, seker van homself, klein soos hy nog is, buitengewoon intelligent. Natan op byna drie is so baie soos hyself dat dit Marc soms byna laat skrik. ’n Stil kind met groot, donker oë wat die wêreld verwonderd bestudeer, min praat, aanhanklik is, maklik onthuts raak. En hy het ongetwyfeld kunsaanleg – dis te sien in hoe hy reeds teken en die kleure wat hy gebruik. Hy lyk ook soms sterk op Marc se pa, Bert.
“Wel, ons gaan tekeninge kyk …”
“Prentjies?” vra Yhoshi teleurgesteld.
“Abba se tekenboeke,” sê Natan.
Marc kyk verbaas na sy jongste. “Ja,” sê hy, “dis reg.”
“Ek wil nie tekeninge kyk nie, ek wil Lego bou.”
“Nee, Yhosh. Ons gaan tekeninge kyk, want julle storie is ook daarin.”
“Storie?” vra hy.
“Jy sal sien.”
Natan het die wolhaarhondjie opgetel en hy soen hom ’n paar maal op sy neus. “Is Shmu’el se storie ook daarin, Abba?” vra hy.
“Ons almal s’n.”
Uit die gangkas haal Marc die stapels sketsboeke en pak hulle versigtig in volgorde op die koffietafel uit. Toe gaan hy met die seuntjies op die mat sit en haal die eerste een uit waarin hy toe hy vir die eerste keer in 2002 Israel toe gekom het, oorvloedig geskets het.
Hy maak dit versigtig oop, bewus daarvan dat dit die jaar van die selfmoordbomaanvalle was en dat hy die kinders nie alles kan laat sien nie. Hy blaai behoedsaam.
“Dis Imma!” sê Natan dadelik. “Haar mond is rooi.”
Marc haal diep asem. “Dit was die eerste dag wat ek Imma leer ken het. Sy het ’n granaat geëet.”
“Daar is Imma in die IDF,” sê Yhoshi.
“Sy het nie ’n geweer nie.”
“Sy het ambulanse bestuur, Natani,” help Yhoshi sy boetie reg. “Maar sy het ’n geweer gehad, nè, Abba. Net so een soos jy, nè?”
“Dis reg.”
“Wag, Abba!” keer Yhoshi toe hy vinnig by ’n reeks dramatiese foto’s in die volgende boek wil verby blaai.
“Dis nie mooi tekeninge nie, Yhosh.”
“Ek wíl sien, Abba!” Die kind gryp die blad vas en Marc is verplig om dit oop te slaan om te voorkom dat dit skeur.
Yhoshi blaai die bladsye stadig om. Daar is bladsy op bladsy gesigte en liggaamsdele in harde swart houtskoollyne geteken. Daar is die starende oë van ’n jong vrou, haar fyn hand in die sand, ’n man se skouers krampagtig oor haar gebuig.
Die kinders kyk doodstil na die kru tekeninge. Natan druk met ’n bewerige vingertjie op die vrou se gesig. “Sy is dood, Abba,” sê hy skaars hoorbaar. En toe: “Daar’s Imma! Daar is Imma, Abba. En daar en daar.” Sy stemmetjie word al hoër, “En daar is dod Iri en dodah Anat! Hoekom is hulle daar, Abba?”
“Wat is dit alles, Abba? Waar is dit?” vra Yhoshi.
Marc neem die sketsboek by hulle en maak dit toe. “Dit was lank gelede. Toe ek vir die eerste keer Israel toe gekom het en Imma leer ken het. Ons was met Iri en Anat by Kiryat S’hmona toe terroriste ons aangeval het.” Hulle kyk hom met groot oë aan.
“Sy is dood, Abba,” sê Natan asemloos.
“Ja, liefling, Shuna en Jo’el was ook saam met ons en die terroriste het haar doodgeskiet.”
“Hulle het nie vir Imma doodgeskiet nie,” sê Natan sag.
“Natuurlik nie, meshuga!”
Marc vat sy oudste ferm aan die skouer. “Jy noem niemand onnosel nie, Yhoshi, veral nie jou broer nie.”
“Slicha, Abba,” sê hy vinnig, “kan ons nog kyk?”
Marc moet grinnik. “Ek dag jy wou nie tekeninge kyk nie.”
“Nee, Abba, ek wil.”
Hulle maak ’n nuwe boek oop waarin baie tekeninge is van ’n ou man met ’n lang baard wat ’n klein seuntjie teen sy bors vashou.
“Hoekom het jy so baie daarvan geteken, Abba?”
Marc sug. “Yhosh, my eie abba het vroeg weggegaan … doodgegaan. Ek het baie verlang om ’n abba te hê. Toe het ek dié man gesien en hy was soos ’n abba vir my.”
Die kind kyk hom ernstig aan. “Jy sal nie weggaan nie?”
“Nee, lief, nee.”
“Imma het gehuil,” sê Natan langs hom.
Sy keel trek toe en hy slaan sy arm styf om sy kleinste. “Imma het baie swaar gekry daar in die ver land waar die aardbewing was, Natani. Sy sal weer beter word.”
Hy blaai verder. Daar is ’n pragtige pastel-gekleurde tekening van ’n ou rabbi met ’n lang, wit baard wat by die stene van die Kotel staan. Die lig val oor sy hoë kaal voorkop en die blou en goud borduursel van die tallit wat sy kop en skouers omvou. Bokant hom in die rotsgleuf nestel ’n groot duif.
“Dis nie saba Chaim nie.”
“Nee, Natani, dit is nie. Toe Abba die eerste keer hier gekom het, het ek nie al die dinge van Israel geken nie en dit was vir my regtig wonderlik. Daarom het ek die rabbi’s so baie geteken.”
“Jy teken hulle nog baie.”
“Omdat dit nog altyd so mooi vir my is, Yhosh.”
Hulle kyk na die vele sketse wat hy van Rivkah as bruid gemaak het. Vreemd genoeg, eerder as dat dit Marc ontstel, bring dit ’n mate van verligting. ’n Soort vertroosting dat alles wat so lank mooi en normaal was, nie net kan wegval nie.
“Jy en Imma het ook Kiddushin gehad.”
“Natuurlik, meshu … Natani,” sê Yhoshi ongeduldig met ’n versigtige blik in sy pa se rigting.
Toe hulle een van 2005 se boeke oopslaan, sê Natan: “Imma is anders hierso, Abba?” Hy beduie met sy handjies oor sy maag.
“Sy’s swanger!” kreet Yhoshi.
“Hoe is swanger?”
“Sy gaan ’n bába kry!”
“Jy hoef nie te skree nie, Yhosh, ons is nie een doof nie. Imma was swanger daar met Yhoshi, Natani. Dit was baie kort voor hy gebore is.”
Yhoshi se wange het rooi geword, maar hy sê niks.
“Het jy van my wat nog gebore moet word ook geteken, Abba?”
“Natuurlik, lieweling, ons kom daarby.”
“Daar’s Shmu’el!” roep die kleintjie op ’n keer bly en druk die hondjie wat hy nog al die tyd vashou stywer vas.
Op ’n stadium staan Marc op om vir hulle warm sjokolade te maak, maar hulle is so geïnteresseerd in die sketsboeke dat hulle niks anders wil doen nie.
“Hoekom het jy so baie helikopters wat brand geteken, Abba?”
“Dis omdat dod David daarin doodgebrand het, Natani. Hy en Abba was saam in die oorlog en jy was nog nie eens gebore nie.”
Marc maak die boek vinnig toe en neem die volgende een.
“Kyk, dis jý, daardie, Natani. Net na jy gebore is. In Imma se arm.”
Die kleintjie kyk lank na die tekening. “Imma is mooi,” sê hy eindelik.
Marc neem die handjie in syne. “Sy is baie mooi, Natani. Daarom is jy en Yhosh ook mooi.”
Die kind kyk op na hom, oë groot van erns. “Jy is ook mooi.”
“Waar is dit?” vra Yhoshi by ’n