bestraal, gebeur daar wonders. Onversetlike teenstanders word geesdriftige kampvegters.
Dankie, Here, dat U van die felste teenstanders geesdriftige medewerkers kan maak. Amen.
12 Maart
Sê nou maar hulle sondig …
Sou hulle teen U sondig, want daar is nie ’n mens wat nie sondig nie, en U in u verontwaardiging hulle aan ’n vyand oorgee, … en hulle daar in dié land waar hulle gevangenes is, tot inkeer kom en hulle weer tot U wend en U daar in die land van hulle gevangenskap smekend aanroep: “Ons het gesondig, ons het verkeerd gedoen, ons is skuldig.” 1 Konings 8:46, 47
In hierdie merkwaardige gebed van Salomo is daar ’n verrassende voorkennis ingebou. Salomo, wat vir seker onder leiding van die Heilige Gees bid, sien met ’n heldere insig hoe sy volk se harte nog in die toekoms teen God sal verhard.
Die geleentheid van die gebed is die inwyding van die tempel, sekerlik een van die heel grootste gebeure in die geskiedenis van God se volk. Die tempel sou dien as die ontmoetingspunt tussen God en sy volk. Dit sou die saambindfaktor tussen mense onderling en tussen mense en hulle God wees. En op hierdie heuglike dag waarop die tempel ingewy word, voorsien Salomo reeds dat daar nie vir altyd ’n eenheidsband tussen God en sy volk sal wees nie. Dekades later het dit toe gebeur. Die volk is in ballingskap weggevoer, aan hulle vyande uitgelewer. Die volk wat hulle rug op hulle God gedraai het, het alles verloor.
Maar dan onthou ons dat Salomo in sy gebed om genade gepleit het. As die volk hulle skuld bely en die Here aanroep, sal Hy hulle dan nie asseblief vergewe nie (vers 49–50)?
“Sou hulle tot inkeer kom, sal U vergewe?” Ja, natuurlik! Want God laat nooit ’n berouvolle sondaar tevergeefs roep nie, trouens, dit is juis sy wil, sy diepste begeerte, dat afvalliges tot inkeer sal kom.
Dankie, Here, dat U nooit iemand wat opregte berou toon, sal uitwerp nie. Dankie vir die wonder van vergifnis. Amen.
13 Maart
Wanneer Jesus vir jou bid
Maar Ek het vir jou gebid dat jou geloof jou nie begewe nie. As jy weer tot inkeer gekom het, moet jy jou broers versterk. Lukas 22:32
Jesus was voorbedag daarop dat Petrus Hom sou verloën. Petrus egter nie. Vir Petrus was dit ondenkbaar dat hy ooit sy rug op sy Meester sou draai. Petrus was uiteraard taamlik selfversekerd. En hy luister nie wat Jesus sê nie. Hy hoor net wat hy nie wil hoor nie, naamlik dat hy vir Jesus sal verraai. Hy hoor nie dat Jesus alreeds vir hom by sy Vader ingetree het nie.
Wat bid Jesus? Heel eerste dat Petrus se geloof hom nie sal begewe nie. Sodra ’n mens in ’n krisis beland, kom jou geloof op die spel. En watter geweldige krisis was dit nie vir Petrus nie. Watter yslike beklemming moes hom nie beetgepak het toe hy willens en wetens sy Meester verloën het nie.
Het Petrus se geloof hom toe geheel en al begewe? Nee. Want toe hy vir Jesus sien, het hy in trane uitgebars. Sy hartseer oor sy misdryf was niks anders as ’n geloofsbelydenis nie. Ek dink nie Petrus het in sy hele lewe ooit so swak en eensaam gevoel as op daardie moment toe hy vir Jesus in die oë gekyk het nie. Maar dit was ook die oomblik van die wete dat hy in daardie Man glo. As ’n mens oor jou sonde huil, is jou trane die groeikrag vir geloof.
Jesus bid verder dat wanneer Petrus tot inkeer kom, hy die ander broers sal versterk. En dit het hy inderdaad gedoen. Iemand wat deur ’n krisis getemper is, weet hoe om met ander medelye te hê, en hulle te versterk.
Here bewaar my daarvan dat my geloof my sal begewe onder die druk van krisisse. Amen.
14 Maart
Prediker van inkeer en bekering
Ek het eers vir die mense in Damaskus en in Jerusalem en toe deur die hele Judea en daarna vir die heidennasies gepreek dat hulle tot inkeer moet kom en hulle tot God moet bekeer; en dit moet hulle bewys met dade wat by die bekering pas. Handelinge 26:20
Paulus se Damaskus-ervaring het sy lewe op ’n nuwe koers geplaas. In plaas van vervolger het hy nou ’n voorloper in die evangeliebediening geword. ’n Mens kan verstaan presies hoe ontnugter en selfs ongelowig die Christene was toe hulle van Paulus se bekering gehoor het. Sê nou dis alles net ’n truuk om toegang tot die Christene se binnekring te kry? Ons is ook maar so. Ons vertrou nie altyd die vrede as ons hoor van ’n uitvaagsel wat tot bekering kom nie. Is dit nie maar sommer net praatjies nie? So asof God nie regtig mense se lewens handomkeer kan verander nie!
Maar by Paulus gaan dit toe nog veel verder as net ’n bekering; hy word ’n apostel, ’n wêreldsendeling by uitnemendheid. En waar het hy begin? Sommer by die wegspringplek, Damaskus. Toe in Jerusalem waar die destydse kerk gesetel was, voorts in Judea onder die Jode en daarna het die wêreld sy gemeente geword.
Wat preek Paulus? Hy roep mense op om tot inkeer te kom en hulle tot God te bekeer. Dit is en bly mos maar die enigste roete na ’n nuwe lewe. So het Paulus mos self op ’n wonderbaarlike manier ontdek. Maar dan voeg hy nog iets by: Dra vrugte wat by die bekering pas. Laat jou lewenswandel bewys lewer van die feit dat jy jou tot God bekeer het.
Here, my lewenswandel skiet nog soms te kort. Help my om so te lewe dat mense in my leefstyl sal sien ek behoort aan U. Amen.
15 Maart
Die vrot kolle in die kerk
Ek is ook bang dat wanneer ek weer kom, my God my by julle in verleentheid sal bring en dat ek sal moet treur oor baie van julle wat geruime tyd al ’n sondige lewe lei en wat oor hulle onreinheid, ontug en losbandigheid nie tot berouvolle inkeer gekom het nie … 2 Korintiërs 12:21
Hierdie teksgedeelte kom uit ’n tydperk lank ná die stigting van talle gemeentes dwarsdeur die destydse Midde-Ooste. Baie mense het tot bekering gekom en by die kerk aangesluit. Wanneer ons egter na die teks luister, word dit duidelik dat die gelowiges nie altyd so goed gehou het by Paulus se oproep om te sorg dat hulle leefwyse van bekering sal getuig nie. Daar was tekens van gruwelike sondige praktyke waaraan gelowiges hulle skuldig gemaak het. Selfs tussen Paulus en sommige gemeentes is daar deur kwaadwillige opstokers ’n wig ingeslaan. Daar het veral ernstige wantroue by die gemeente in Korinte onstaan. Die lug is egter intussen gesuiwer, maar die situasie bly nog gespanne. Sonde laat ’n merk op ’n gemeente.
Nou waarsku Paulus teen sodanige sondige praktyke. Hy is bang as hy by die gemeente aanland, sal hy moet hoor dat daar steeds belydende Christene is wat met sondige praktyke soos ontug en losbandigheid voortgaan. Dit sal vir hom ’n groot verleentheid wees as die mense nog nie tot inkeer gekom het nie.
Hoe lyk die Christelike gemeentes vandag? Is sommige lidmate se leefstyl nie dalk ’n verleentheid vir die kerk nie? Laat ons nie te maklik sondige praktyke sienderoë toe nie onder die valse vaandel van verdraagsaamheid? Moet ons mekaar nie eerder aanmoedig om tot inkeer te kom en die verkeerde weë te verlaat nie?
Here, bewaar ons daarvan om sonde oor die hoof te sien asof dit van minder belang is. Laat ons mekaar eerder aanmoedig tot ’n leefstyl waarmee Jesus self tevrede sal wees. Amen.
16 Maart
Die wagtende vader
En hy het sonder versuim na sy pa toe teruggegaan. Toe hy nog ver aankom, het sy pa hom al gesien en hom innig jammer gekry. Hy hardloop hom tegemoet, omhels hom en soen hom. Lukas 15:20
Miskien moet die verhaal van die verlore seun ’n uitgebreide opskrif kry: Die verlore seun en die wagtende vader. Die hoogtepunt van die verhaal word tog eers bereik toe vader en seun mekaar ontmoet.
Die pa van die verhaaltjie was ’n besondere mens. Selfs nadat die seun op so ’n robuuste manier sy erfporsie opgeëis het en terstond die huis verlaat het, het die pa nie moed opgegee nie. Hy het die kind liefgehad. En daarom het hy gewag. Ook nie tevergeefs nie, want op ’n dag was daar op die gesigseinder ’n figuur wat naderkom … Die pa was oorstelp van vreugde. Hy het die arme, verflenterde, afgetakelde kind so innig jammer gekry.