vorendag kom, val sy pa hom in die rede. Hy beveel die werksmense om gou te maak en vir die man klere en skoene en ’n ring te bring. Die kind word eervol terug verwelkom, want, so sê die pa: Hierdie seun van my was dood, en hy lewe weer; hy was verlore en ek het hom teruggekry (vers 24).
Die wagtende pa. Groter liefde kan ’n mens nie kry nie. Dit is die beloning van inkeer en bekering, nie die klere en skoene en vetgemaakte kalf nie, maar ’n pa wat glimlag.
En so is dit met God. Hy is die wagtende Pa. Hy dwing niemand terug nie. Maar Hy wag dat mense sal terugkom. Want Hy het hulle lief. En watter fees is dit nie wanneer Pa en kind mekaar kan omhels nie!
Here, dankie dat U ook vir my met ’n glimlag omhels het. Amen.
17 Maart
Ouboet se fout
… maar hy antwoord: “Kyk, al die jare werk ek soos ’n slaaf vir Pa … en vir my het Pa nog nooit eers ’n bokkie gegee sodat ek saam met my vriende kan feesvier nie. Maar nou dat hierdie seun van Pa, wat Pa se goed met prostitute deurgebring het, terugkom, het Pa vir hom die vetgemaakte kalf geslag!” Lukas 15:29, 30
Die pa het nog ’n seun gehad. Die oudste. Die gehoorsame werkesel wat nooit ’n voet verkeerd gesit het nie. Hy was nog in die veld toe die jonger boet gearriveer het. Toe hy by die huis kom, was die fees al aan die gang. En was sy verontwaardiging groot toe hy uitvind waaroor die fees nou eintlik gaan! Woedend staan hy toe daarbuite en brom. Sy pa kom uit en probeer verduidelik. Maar nee, hy is diep teleurgesteld. Hoe kan sy pa eers daaraan dink om ’n fees vir hierdie niksnuts en deurbringer voor te berei?
Maar wat die seerste gemaak het, is dat hy wat so getrou gedien het, niks kry nie. Nie eens ’n skamele ou slagdingetjie vir ’n lekker braai saam met sy vriende nie. “Ag nee, Pa!”
Foeitog, ek kry hom jammer. Nie oor die gebrek aan braaivleis nie, maar oor die gebrek aan liefde. Alles draai om homself. Sy pa verduidelik later: “Jou broer was dood en hy lewe weer.” Dit gaan oor lewe en dood. ’n Siel is gered. Wees bly!
Hoeveel keer moet ons hemelse Vader kop skud oor sy “oudste seuns” wat skynbaar geen erg het aan die randfigure wat tot bekering kom nie. Of die randfigure wat nog tussen die varke bly nie. Doen ons moeite om hulle daar te gaan soek? Besef ons dat dit oor lewe en dood gaan?
Here gee my ’n passie vir mense wat hulle rug op U gedraai het. Laat ek hulle gaan soek eerder as om hulle te veroordeel. Amen.
18 Maart
Hoe lyk my lewenspad tot nou toe?
Ek wil luister na wat God die Here sê, want sy woord bring vrede vir sy volk, vir dié wat Hom getrou dien. Hulle moet net nie weer afdwaal nie. Psalm 85:9
Ons het vir ’n hele aantal dae oor inkeer en bekering gepraat. Teen hierdie tyd het jy hopelik ’n redelik goeie indruk van wat dit behels. Waarskynlik het jy jouself algaande aan sommige van die modelle getoets. Maar dis nog nie genoeg nie. Ons moet ’n slag indringende bestekopname doen. Hoe lyk my eie lewenspad tot nou toe? Het ek op ’n dag soos die verlore seun ’n keuse gemaak om terug te keer? Meer as een keer? Is die lewe by die Vader vir my nog ’n fees? Kom ons gee eerlik aan hierdie en ’n paar ander vrae aandag.
’n Eerlike evaluering van jou lewenspad begin deur baie noukeurig na die Woord van die Here te luister. Ja, dis goed om te erken dat jy by tye afdwaal en by God in die verleentheid kom. Maar dis nog beter om liewer uit die staanspoor te vra wat die Here se wil vir jou lewe is. Ons raak van koers af omdat ons nie die padkaart reg lees nie. En daarom strompel ons val-val vorentoe. Vorentoe, ja, maar op ’n baie ongemaklike manier. Om ware vrede te ken, om lewensvervulling te ervaar, om ’n heel mens te wees, moet jy in lyn met God se woord loop.
Luister na God se woord en ervaar sy vrede. Luister én doen. En moenie van ’n afdwalery ’n stokperdjie maak nie. Wees nou vandag eerlik met jouself en die Here oor presies waar jy jou nou bevind.
Here help my om my lewenspad te sien soos wat U dit sien. Maak u woord vir my duidelik dat ek kan luister. Amen.
19 Maart
Selfvoldaan of afhanklik?
Toe dit goed gegaan het, het ek wel gesê: “Niks sal my ooit laat wankel nie.” Deur u goedheid het U my op ’n veilige berg laat staan, Here. Maar toe U U aan my onttrek het, het ek baie bang geword. Psalm 30:7–8
Die digter van Psalm 30 gee vir ons ’n kykie in sy persoonlike portefeulje. Hy begin die psalm met ’n loflied. Hy het inderdaad rede om die Here te loof en prys. Hy was skynbaar baie siek en het toe sy toevlug tot die Here geneem. En die Here het hom gesond gemaak.
Die digter het nogtans sy siekte ervaar as tugtiging van die Here. Volgens hom was dit deel van God se toorn oor sy ongehoorsaamheid. Maar die toorn van God duur genadiglik net ’n oomblik, net lank genoeg om jou tot besinning te laat kom. God se goedheid, so jubel hy, duur lewenslank.
En dan kom ons by ’n belangrike stukkie selfevaluering. Toe dit goed gegaan het, het ek wel gesê: “Niks sal my ooit laat wankel nie.” Hoe dikwels is dit nie juis God se genade, al die goeie gawes waarmee Hy my oorlaai, wat tot hoogmoed en selfvoldaanheid lei nie. Hoe maklik gebeur dit nie dat mense hulle voorspoed aan hulle eie vernuf toeskryf en geheel en al vergeet van die woord “genade” nie.
Daar is min dinge wat jou weer op jou knieë bring soos ’n ernstige siekte. Dan besef jy hoe broos en breekbaar jy regtig is. En dit is mos dan wat jy, hovaardige mens, die gevoel kry dat God Hom aan jou onttrek het … Genadiglik het die digter ontdek dat God se goedheid lewenslank duur. Die siekte was maar net om hom weer sy afhanklikheid van die Here te laat besef.
Here, baie dankie dat u goedheid lewenslank duur. Bewaar my van verwaande selfvoldaanheid. Ek is so diep afhanklik van U. Amen.
20 Maart
Die pad na die lewe
Jesus het hom geantwoord: “As jy volmaak wil wees, gaan verkoop jou besittings en gee die geld vir die armes, en jy sal ’n skat in die hemel hê. Kom dan terug en volg My.” Toe die jongman dit hoor, het hy bedruk weggegaan, want hy het baie besittings gehad. Matteus 19:21–22
Presies wat die man onder die ewige lewe verstaan het, is nie heeltemal duidelik nie. Dit was vir hom egter duidelik die hoogtepunt van geestelike vervulling. Ons verstaan dit dalk beter. Daar word tog heelwat in die Nuwe Testament daaroor gesê. Die vraag is egter of dit by die jongman ’n selfsugtige, selfgerigte versugting was. Die vraag is of ons geestelike ideale nie ook soms maar net selfgesentreerd is nie. Dink ’n bietjie daaroor na …
Die tweede verrassing is Jesus se antwoord, naamlik ’n verwysing na die wet. Doen wat reg is. Daaroor kan die jongman glimlag. Hy is ’n wetsgehoorsame gelowige. Volpunte sover! Maar hoekom verwys Jesus na die wet en nie na “geloof alleen” nie? Omdat die wet niks anders as ’n geloofsdaad is nie. Om vir God en jou naaste lief te hê, is geloof in aksie.
En dan Jesus se skokterapie. Gaan verkoop alles wat jy het, deel dit uit, en volg My. Waarom hierdie drastiese opdrag? Die jongman het soveel bagasie gehad wat hy met hom saamgedra het dat hy die lewe gemis het. Die goed waaraan hy verknog was, het hom eintlik vasgehou. Die nood van die wêreld het by hom verbygegaan. Hy het na ’n gemaklike antwoord gesoek. Hy was nie bereid om sy gemaksone te verlaat nie.
Die goed waaraan ons vasklou, is sekerlik een van die grootste probleme in ons navolging van Jesus. En dis dié goed wat maak dat ons die lewe misloop.
Here help my om los te kom van die goed waaraan ek so verknog geraak het. Amen.
21 Maart
Hoe lyk jou CV?
Tog sou ek ook op uiterlike dinge kon vertrou. As iemand meen dat hy op uiterlike dinge kan vertrou, ek nog meer … Filippense 3:4
Maar wat eers vir my ’n bate was, beskou ek nou as waardeloos ter wille van Christus, ja, nog meer: