goed betref nie, maar beslis wat lewensvreugde en lewensvervulling betref. Daar is geen groter beloning as om God se doel vir jou lewe te bereik in gehoorsaamheid aan sy Woord nie.
Here, dankie dat u Woord vir my kosbaarder is as goud. Amen.
8 Februarie
Wanneer God se Woord oopgaan
Wanneer u woord vir mense oopgaan, bring dit lig; dit gee insig aan dié wat nog onervare is. Met my hele wese smag ek na u gebooie, verlang ek daarna. Psalm 119:130–131
In hoevele huise is die Bybel nie ’n geslote boek nie. Ja, dit word by geleentheid, of soms nogal heel dikwels, gelees. Nogtans gaan die dieper betekenis daarvan verlore omdat dit nie met verwagting gelees word nie. Jesus se treffende gelykenis van die saaier verduidelik maar alte goed hoedat die woordsaad nie in almal se lewens dieselfde uitwerking het nie.
Wanneer God se Woord vir mense oopgaan, bring dit lig en gee insig. God se Woord verlig ’n mens se verstand. Dit maak jou skerp in jou waarneming en besluitneming. Jy kry nuwe begrip vir jou omstandighede en ontdek in die lig van die Woord hoe om dit sinvol te hanteer. Maar dan moet die Woord vir jou oopgaan, dit moet vir jou ’n Godsopenbaring word. Jy moet terwyl jy die Woord hoor of lees, ervaar dat God self aan die woord kom. Dit gaan hier oor die verskil tussen ’n terloopse, haastige stukkie van die Bybel lees, en om biddend en met verwagting die Bybel te lees. Dit sal goed wees om gereeld vir jou tyd af te sonder om rustig en met verwagting met God se Woord om te gaan.
Die verskil tussen ’n geslote boek en die Woord wat vir jou oopgaan, kom in vers 131 aan die lig. Wanneer ’n mens met jou hele wese smag na God se woord, daarna verlang omdat dit vir jou kosbaar is, gaan die Woord vir jou oop en ervaar jy hoe God self met jou praat.
Here, maak die Woord vir my oop sodat ek u stem duidelik kan hoor. Amen.
9 Februarie
Naby die Woord; ver van die kwaad
Laat u woord my op die regte pad hou; moet tog nie dat enige kwaad die oorhand oor my kry nie. Psalm 119:133
Ons laaste aanhaling uit die pragtige Woord-psalm. En hoe nodig is dit nie dat ons hierdie gebed in alle opregtheid sal bid nie! As kind het iemand vir my ’n kaartjie gegee om voor in my Bybel te plak: “Hierdie boek hou jou weg van die duiwel, of die duiwel hou jou weg van hierdie boek.” In dié eenvoudige spreuk lê ’n tydlose waarheid opgesluit. Daar is so baie dinge wat ons omgang met God se Woord blokkeer. Ek weet nie of die duiwel altyd die skuld moet kry nie; hoe dikwels is dit sommer net my eie luiheid of selfsugtige motiewe wat maak dat die Bybel stof vergaar nie.
Die beste raad is om by die eerste deel van die teksvers te begin. Ten einde te sorg dat die Here se Woord my op die regte pad hou, moet ek met die Woord besig bly, dit lees en oordink en in my elkedagse lewe toepas. Die Here sal deur sy Woord aan die woord kom as ek vir Hom ’n spreekbeurt toelaat. Ons maak so maklik tyd vir so baie ander sake op ons agenda. En ons skeep ewe maklik ons stiltetyd af. Wil jy nie ’n slag ernstig bestek neem van die tyd wat jy aan Bybelstudie en gebed afstaan nie? As jy jou padkaart en navigator ken, sal jy nie anders kan as om op die regte pad te bly nie.
En dan vir die tweede helfte van die teksvers. Die kwaad sal nie die oorhand kry as ek dit met die Woord beveg nie. So het Jesus mos self vir ons geleer toe Hy deur die duiwel versoek is.
Here, ek hou vas aan u Woord; hou my asseblief op die regte pad. Amen.
10 Februarie
Onvoorwaardelike gehoorsaamheid
Die Here het vir Abram gesê: “Trek uit jou land uit, weg van jou mense en jou familie af na die land toe wat Ek vir jou sal aanwys.” Abram het toe weggetrek, gehoorsaam aan die woord van die Here … Genesis 12:1, 4
Hoe antwoord ’n mens op God se woord? As ons na ’n aantal bekende Bybelkarakters luister, is dit duidelik dat woord en antwoord nooit in ’n vakuum plaasvind nie. Dit vorm deel van ’n intieme gesprek. Dit vind gewoonlik plaas in die ruimte van ’n verhouding. Kom ons begin by Abram.
Presies hoe die gesprek tussen Abram en God verloop het, weet ons nie. Die Bybel voorsien ons nie van besonderhede nie. Dit klink byna soos iets wat skielik uit die lug geval het. Maar dit kon nie so wees nie. Tussen God en Abram moes daar reeds ’n verhouding bestaan het. Hoe die Here gepraat het, word nie vertel nie. Waarvan ons wel seker kan wees, is dat daar by Abram geen twyfel bestaan het dat dit die Here self is wat met hom gepraat het nie.
Wat die Here daardie dag vir Abram te sê gehad het, was iets geweldigs. Ons kan nie vir een oomblik by die lees van ’n paar teksverse ’n idee kry van hoe ontwrigtend dit moes wees nie. God vra van Abram om feitlik alles wat vir hom saak maak, prys te gee – sy familie, sy land, sy gewaarborgde sekuriteit. En dit alles om na die vreemde en onbekende te trek. Waarom? Sodat hy vir ander tot seën kan wees.
En Abram gehoorsaam die Here se stem. Hy argumenteer nie. Hy gehoorsaam. Hoekom? Omdat hy die Here vertrou.
Here help my om U in volle vertroue te gehoorsaam. Amen
11 Februarie
Sonder U gaan ons nêrens nie!
Toe het die Here gevra: “Moet Ek self saamgaan en vir jou vrede gee?” Toe het Moses vir Hom gesê: “As U nie self saamgaan nie, moet U ons nie van hier af laat wegtrek nie. … Dit is juis deurdat U met ons saamgaan dat ons, ek en u volk, anders is as al die ander volke op die aarde.” Eksodus 33:14 –16
Vir my persoonlik is dit een van die mooiste stukkies kommunikasie tussen God en mens. Dit speel af kort ná die goue kalf-episode. Die atmosfeer is gelade. Senuwees is rou. ’n Groot klomp mense het as gevolg van die volk se ongehoorsaamheid gesterf. Die Here het besluit om nie verder met die volk saam te trek nie. Sedert die uittog uit Egipte was dit die heel grootste krisis, en dit kon op ’n totale rampspoed afstuur. Moses ontmoet die Here in die tent van ontmoeting … en hulle praat met mekaar soos vriende met mekaar praat (Eks 33:11).
Moses se antwoord op God se oordeel is voorbidding; hy tree vir die volk in. Hy pleit vir die volk. En dan volg hierdie stukkie unieke gesprek. Die Here vra vir Moses of Hy self moet saamtrek (waarteen Hy alreeds vantevore besluit het!) Moses se antwoord is aangrypend mooi: As U nie self saamgaan nie, moet U ons nie van hier af laat wegtrek nie. Dit kom maar net daarop neer dat hy nie bereid is om ’n voet te verroer sonder God se teenwoordigheid nie. Ja, die volk hét gesondig, maar hulle bly nog steeds God se volk. God se teenwoordigheid maak die verskil tussen Israel en die heidendom, tussen kerk en wêreld.
Is jý anders as die res van die wêreld omdat jy in God se teenwoordigheid leef?
Here, sonder U wil ek ook nêrens gaan nie. Bly by my! Amen.
12 Februarie
Ontvanklik vir God se woord
Die Here het gekom en gaan staan en soos die vorige kere geroep: “Samuel, Samuel!” En Samuel sê: “Praat, Here, u dienaar luister!” 1 Samuel 3:10
In Samuel se verhaal is dit treffend hoedat die Here die inisiatief in ’n mens se lewe neem. Dit het al by Samuel se ma begin, die kinderlose vrou wat op die Here vertrou het en toe haar kind aan die Here gewy het. Ons lees dat die jong Samuel “die Here gedien het” onder Eli se toesig. Maar hy het die Here nog nie persoonlik geken nie, want die woord van die Here was nog nie aan hom geopenbaar nie (vers 7). ’n Kind wat die Here “dien” maar Hom nog nie “ken” nie – dit klink vir my nogal baie na die storie van baie eietydse verbondskinders!
Toe roep die Here na Samuel. Maar Samuel ken nog nie die Here nie, daarom weet hy nie wie na hom roep nie. Gelukkig weet Eli en hy gee vir die jong seun duidelike instruksies hoe om op die Here se roep te antwoord. Toe gebeur dit: een van die opwindendste ontmoetings tussen God en mens! Toe die Here weer roep, is Samuel ontvanklik vir sy woord: Praat, Here, u dienaar luister!
Samuel het die Here leer ken deur vir sy woord ontvanklik te wees. Ja, natuurlik gebeur dit