ection>
HELENE DE KOCK
Omnibus 10
Ver vlug na môre • Met vandag se brood
Human & Rousseau
1
Die laat Aprilluggie laat ’n ligte bewing deur die hoë, donker sipresse gaan en dra die sonore stem van die predikant tot anderkant die draad, waar Damplaas se oop veld begin. Daar is ’n skaars waarneembare roering onder die klompie swart gekledes by die oop graf toe elkeen vorentoe leun om die los blomblare aan te vat en met ’n laaste gefluisterde groetwoord tot op die kis te laat fladder. Dis ’n rustige afskeid wat reeds die balsem van berusting dra, en selfs die snikke het ’n milde gedemptheid hier in die ou familiekerkhof op Damplaas.
Dis net die erfgenaam wat nog bly huiwer langs die graf en talm om sy hand na die bakkie met blomblaartjies uit te steek. Oplaas skud hy sy kop en steek sy hand in sy baadjiesak om versigtig ’n paar goudgeel populierblare daaruit te haal en dit sagkens in die graf te laat val, asof dit maar pas van die tak losgeraak het om dralend af te luier tot in die stof. Toe sug Eugene Basson diep en draai om, om saam met die ander swygsames huis toe te loop. Hy loop vinniger as die ander en loop uiteindelik heel voor, ál met die veldpaadjie langs verby die groot dam tot by die huis.
Dit was so ’n smartlike ingewing om die blaartjies te pluk, dink hy seer, maar sy pa sou daarvan gehou het. Oom Frederik het altyd die meeste van die herfs gehou – die stil seisoen, het hy dit genoem. Dit is goed dat hy in hierdie seisoen ter ruste gelê kon word, dink Eugene weer. Dis net so pynlik dat hy en Maryn vandag alleen moes wees. Hy kyk vlugtig om na waar sy suster langs haar man, Marcel Hoffman, loop, kop geboë en klemmend aan sy arm. Vandag moes Peet hier gewees het … en ook Elsje. Vandag verlang hy na Peet soos in der dae nie. Peet, aan wie hy nooit gedink het as aangenome nie, slegs maar as sy broer. Want ware broer wás hy. Eugene voel dit nou aan sy gemis, net soos hy dit gevoel het die dag toe hy agtergekom het Peet het, soos hy, vir Elsje lief, en erger, dat Elsje ook vir Peet bemin. Net ’n broer kan só kwets. Daardie dag het ook hy geweet, vir die breukdeel van ’n oomblik, hoe Kain moet gevoel het – want jaloesie was verantwoordelik vir die eerste moord. Selfs nou nog kan hy die seer, die onbewuste vernedering, aan sy hart voel rem. En tog, toe Peet en Elsje ná hul troue weg is Leiden toe, waar Peet in die regte studeer, het hy al hoe meer geweet dat Peet deel van hom is en sal bly. Ook Elsje, maar op welke manier weet hy nie meer nie. Ook sy pa het die afgelope agttien maande gesien hoe die onuitgesproke verlange na Peet, sy broer-vriend, aan hom vreet; met ’n oumensoog gekyk en geweet dat wat daardie Desembervakansie tussen die drie jong mense gebeur het, nog baie lank ’n siklus tot gevolg sal hê van verlang en verwyt en tóg verstaan.
Hy is so vasgevang in diep en seer herinnering dat hy Maryn eers opmerk toe sy aan sy arm vat. Hy kyk af in haar traannat oë, sien hoe ’n nuwe opwelling hulle laat oorloop, en hy besef dat sy suster hom op hierdie oomblik nodiger het as selfs haar man.
“Verskoon ons,” sê hy na agter en stap met haar weg oor die groot grasperke voor die wit spitsdak-opstal, loop ál met die geelgroen soom van die blinkbruin damwaters langs. Hulle praat eers nie, hy hoor net hoe sy haar so in die loop na die anderkantse wilgers toe leeg snik. Toe hulle onder die slap, ligswaaiende takke van die digte ou bome staan, met klein bruingeel blaartjies wat stadig rondom hulle neersif, draai Maryn na haar broer en rus met haar kop teen sy skouer.
“Ek … wens Peet was hier,” sê sy met ’n gedempte huilstem, en verwoord daarmee sy eie smagting.
“Ja …” antwoord hy skor, “en ook Elsje.”
Dit laat haar haar kop lig en skerp ondersoekend na hom kyk. Sedert voorlaaste Desember, toe Peet en Elsje as man en vrou hier weg is, het Eugene nog nooit weer uit sy eie oor haar gepraat nie. Hulle is nie as kwaaivriende uitmekaar nie, maar dis asof Eugene homself wou beskerm.
“Waarom?” vra sy versigtig. “Ek … ek verlang natuurlik ook na haar … maar jy?”
Eugene maak haar sagkens los van hom en staan weg van haar met sy gesig gekeer na die punte van die lang takke wat lui-roerend kringe op die damwater maak.
“Elsje Baumann is deel van ons, Maryn, net soos Peet Baumann met ons siele verweef is so seker soos enige bloedverwant …”
En albei dink daaraan dat sy so byna-byna Maryn Baumann was, as dit nie was vir die koms van ene Marcel Hoffman nie. Hy het soos ’n meteoor hul goed beplande lewe binnegeskiet, en sonder enige toedoen van sy kant af die hele patroon versteur. Maryn het besef dat sy en Peet, wat saam grootgeword het, nie vir mekaar die liefde het wat ’n man en ’n vrou vir mekaar moet hê nie, en Peet se oë het eensklaps vir Eugene se meisie, Elsje, oopgegaan. Dit was net Eugene wat magteloos en soms oënskynlik nikssiende moes ervaar wat dit beteken om die meisie van sy keuse af te gee. Al vier die ander – Maryn en Marcel, en Peet en Elsje – het gewén, net hy het agtergebly met ’n verlies wat soos lood in hom gelê het. Tog is dit in die laaste tyd asof die kwaliteit van sy verlies verander het. Hy weet nie of hy meer waarlik na Elsje verlang nie, maar wel na iémand.
“Sy is vir jou verbode, Gene,” sê Maryn sag, haar fyn hande onwillekeurig voor die bors van haar swart tweestuk saamgeklem, iets soos angs in die oë wat net so vuurblou soos dié van haar broer is.
“Jy verstaan my verkeerd, sus,” sê Eugene rustig, sy oë steeds afgewend en dwalend oor die lome kabbeling van water. “Dis maar net dat ek haar nie uitsluit by ons nie. Sy was ook baie lief vir Pa, weet jy!”
“Ek weet. Dis so oneindig jammer dat hulle nie kon kom nie. Maar ’n mens verstaan natuurlik. Ek is half bekommerd oor haar.”
“Nee wat, moenie wees nie. Peet het my gesê die dokter is heeltemal tevrede met haar. Dié soort griep maak glo so. Een dag lê jy met suurstof in die hospitaal en die volgende dag hoes jy rustig by die huis – Peet se woorde …”
Hulle kyk na mekaar en glimlag. Dis so tipies Peet, so raak en droog.
“Sy moet eintlik ’n rukkie lank na ons toe kon kom sodat die hoes in die klimaat kan opklaar,” sê Maryn bekommerd.
Eugene gee ’n droë laggie.
“Peet sal haar mos nooit laat kom nie, sus.”
Maar Maryn lag nie, sy kyk na haar broer met groeiende onrus.
“Eugene,” sê sy naderhand, toe haar dringende blik ook sy oë na haar toe trek. “Jy is die eerlikste mens wat ek ken. Jy sê en doen wat jy dink. Sê my nou, en praat die waarheid … sê my wát jy vir Elsje voel?”
’n Donker gloed styg onder Eugene se neutbruin gebrande vel op, sodat sy oë selfs blouer as gewoonlik is, maar hy kyk haar vierkant aan.
“Ek weet nie,” sê hy sonder om ontwykend te probeer wees, en Maryn laat haar asem in ’n sug uit.
“Ek glo jou,” antwoord sy onomwonde. “Maar beloof my asseblief iets …”
“En dit is?”
“Dat jy nooit met ’n vrou sal trou terwyl jy weet jy koester in jou hart ’n liefde vir Peet se vrou nie!”
Eugene se reaksie is iets tussen ’n wrang glimlag en ’n paaiende woord.
“Ek wil dit werklik nie só hê nie, Maryn. Maar wat doen ’n mens met jouself?”
“Jy moet haar vergeet, Gene, heeltemal vergeet. Ter wille van jouself en van ons almal, boetie.”
“Maar ek sê jou mos, ek weet nie meer of dit vir háár is wat ek stry om te vergeet, en of dit ’n vreemde verlange is wat woel om los te kom nie. Soms voel dit vir my asof ek myself nog nooit geken het nie. Ek weet nie meer wat in my lewe essensie het nie. Ek weet nie mooi wat ek soek nie, maar ek sóék. Miskien, as ek haar eendag weer sien, bied sy my dalk die begin van ’n oplossing.”
Maryn is stil. Dis selde dat Eugene hom so oorgee aan ’n ontboeseming, en dit stem haar tot diepe nadenke, selfs in hierdie pynlike uur.
“Ek het tóg ’n bietjie agter hom geskuil, weet jy, Maryn?” sê hy onverwags, en dit kos haar ’n goeie paar tellings om te besef hy praat van hul vader wat pas weggelê