dop. En wat oorbly, dink hy met sy oë op die reuseskuur, is ’n vreemde mengsel van my eie ek en ’n vaag bekende, maar baie ontwykende persoon. Ek is nie meer tuis by myself nie, besef hy; ek is skigtig soos met ’n vreemdeling. Miskien is dit waar wat Lilette sê, dat ek nie een van daardie mense is wat kalm met die vloei van die lewe kan saamgaan nie, maar dat ek altyd met ’n vaart stroomop wil beur. Ek weet net een ding: iets daar anderkant roep my.
Sy gedagtes gaan onwillekeurig terug na die dag toe hy en Peet as klein seuntjies met bootjies op die dam gespeel het, en hoe Peet sy bootjie laat wegdryf het oor die dam totdat dit ’n spikkeltjie geword het wat deur die kabbeling ingesluk is. Waarom het jy nou dit gedoen? het hy aan Peet gevra. Peet het hom afwesig aangestaar, en toe stadig gesê: Ek vaar saam met hom weg – wie weet waar ek gaan uitkom. Jy weet, Gene, ek hoor partymaal hoe die wêreld daar buite vir my wag, ek voel dit.
Tóé het hy Peet onbegrypend aangekyk en gou-gou sy eie bootjie aangekeer na die veilige wal se kant toe. Maar vandag ervaar hy daardie selfde gevoel – dis asof die plaasstilte ’n dik, afwagtende swye geword het met ’n dowwe frekwensie wat ver, ver uitkring en sy gedagtes saamneem.
Ek gaan nou dadelik dorp toe om met Marcel te gaan praat, neem hy sy eerste besluit sedert sy pa weg is. En dan gaan ek na Lilette en ek gaan haar vra om te wag op ’n man wat nie seker is of hy na haar toe gaan terugkom nie.
Daarmee draai hy om en stap vinnig deur die veld, terug opstal toe, om te gaan aantrek vir die dorptoeganery.
Kwalik ’n kwartier later klim Eugene in die Duitse spogmotor wat hy ’n paar jaar gelede by sy pa present gekry het, en ry dorp toe deur die milde Riemlandse herfsaand, gebaai in die roesrooi van die laaste sonstrale. Rondom hom, al met die breë grondpad langs, glooi die heuwellanderye omlaag, en hier en daar vang die dik kontoerwalle die diep koper van die laat daglig, net om diep skadustrepe te word totdat daar nog net die donker is en ’n oranje gloor op die verste kim lê. Hy ry rustig, sy oë dwalend oor die bekende toneel.
Toe hy ’n kind was, was die son wat sak oor die deining van die lae, netjies bewerkte heuwels vir hom prentjiemooi. Nou is dit roerend skoon – ’n fluistering van die goddelike.
Nee, om heeltemal eerlik te wees, dink hy toe hy die dorp binnery, dit was eers sedert ek Elsje verloor het en die seer vir die eerste maal aan my lyf gevoel het, dat ek werklik sensitief geword het, dat ek met nuwe oë na al die wonderlike vanselfsprekendhede van my behaaglike bestaan begin kyk het.
En toe hy voor Marcel en Maryn se groot huis op die boomryke erf stilhou en die motor afskakel, bly hy ’n oomblik lank stil sit, dink ver terug aan ’n dag toe hy as stormagtige tiener in woede uitgevaar het omdat hy gemeen het dat ’n onderwyser hom verkeerd behandel het – en dit net nadat hy ’n paar dae tevore emosieloos en ongemotiveerd gekla het dat hy nie bra weet wat hy op universiteit gaan soek nie, want hy kom tog eendag terug Damplaas toe. En kort daarna het hy weer in ’n argument met Maryn betrokke geraak oor wie van hulle twee nou eintlik die Basson-koppigheid geërf het, en haar so onnadenkend gedomineer dat sy in trane na hul pa gevlug het. Sy pa het hom by al hierdie geleenthede streng betig, maar die woorde wat hy sekerlik nooit sal vergeet nie, het hy gebesig die aand voordat hy universiteit toe vertrek het om landbou te gaan studeer.
“Kind,” het sy pa gewigtig gesê, “’n mens word nou wel met ’n sekere temperament gebore, maar ai, jong, tussen die drif van ’n Paulus en die flegma van ’n Abraham lê daar ’n goue gebalanseerde persoonlikheid! Soek dit!”
“Hóé, Pa?” het hy vertwyfeld gevra, en eerlik soos wat hy nog altyd was, geweet dat hy tempering nodig het.
“Ondersoek jouself, Gene, en verootmoedig jou. En vrá daarvoor!”
Maar vir verootmoediging, moet hy nou erken, was daar in die jare wat gevolg het nie veel tyd nie. Alles het so glad en goed gegaan. Geen moeite met die studie nie, geen inspanning om die meisie van sy keuse na hom te trek nie, geen rede tot verootmoediging nie, want die drif het bedaar en die flegma het geneig na gemoedelikheid. Dit was asof hy in ’n lome windstilte geleef het. Totdat die krisis met Peet en die beeldskone Elsje gekom het, en hy, onseker soos ’n kind, moes erken dat hy homself nog glad nie ken nie. En ook daar langs sy pa se graf in die Damplaasgrond, wat die vrug van hul albei se liefde dra, het hy geweet dat hy homself sou moes vind of vir altyd huiwer om te lewe. En dit kan hy alleen doen as hy lig het. Hierdie begeerte om Leiden toe te gaan, voel hy aan as só bestem, so suiwer is die verlange om Peet en Elsje weer te sien, so brandend is hy om alles weer goed te maak. En hy hoop en bid met mag dat Elsje vir hom nie meer sal wees wat sy was nie …
Op dié gewigtige noot klim hy stadig uit die motor en stap stoep toe, waar Maryn al uitgekom het om te kyk hoekom hy nie binnekom nie.
“Ons het al gewonder waar jy is en wat jy met jouself aanvang,” groet sy sag. “Elke keer as ons Damplaas toe bel, sê Selina jy is uit, iewers in die veld.”
Hy loop tot by haar, buk en soen haar op haar voorkop. “Ek het baie gehad om oor te dink,” sê hy ernstig, “en daarom is ek nou hier. Ek het baie om met julle oor te praat.”
“Ek hoop nie jy gaan Leiden toe nie,” sê Maryn kort en klaar, en draai om en loop voor hom uit die huis binne. Hy antwoord nie dadelik nie, maar wag totdat hulle gerieflik in die ruim, sonnige sitkamer sit.
“Ek gaan beslis Leiden toe,” sê hy, en kyk sy fyn suster vierkant in die oë. “En ek het jou en Marcel se hulp nodig om dit te kan doen.”
Sy kyk tellings lank swygend na hom, en toe sy praat, bewe haar mond. “Ek ken jou goed genoeg om te weet dat niks op aarde jou sal stuit as jy eers jou kop op ’n ding gesit het nie. En ek weet nóú al dat Marcel jou te eniger tyd tegemoet sal kom omdat jy my broer is, maar ek wil nou en hier vir jou sê dat ek dink jy gaan moeilikheid soek …”
“Ek gaan nie na Elsje toe nie,” val hy haar gerusstellend in die rede. “Altans nie vir die doel wat jy blykbaar vermoed nie. Hemel, Maryn, verstaan jy nie dat ek Peet nodig het nie? Vir die eerste maal in my lewe weet ek dat ek werklik afhanklik is van sy vriendskap en van sy goedkeuring. Jy weet hoeveel ouer en wyser hy as ons is!”
Maryn knik stadig, en hy kan sien hoe sy haar gedagtes laat gaan oor hul aangenome broer. Peet, slim Peet, wat hulle albei altyd so goed begryp het en wat wou sterf van ellende toe hy besef hy is verlief op Eugene se meisie. Liewe Peet, wat dit sy plig gevoel het om met Maryn te trou uit dankbaarheid vir wat die Bassons al vir hom gedoen het, en toe eenvoudig moes knak voor die meesleurende krag van sy liefde vir Elsje …
“Jy weet,” sê Eugene skamper, asof hy sy suster se gedagtes kan lees, “ek kan eerlik nie sê dat ek ooit vir Elsje gevoel het wat Peet klaarblyklik vir haar voel nie …”
“Hoekom dan …?”
“Aag, jy weet, ek was vir haar lief ómdat … nie ondánks nie … Sy was blond en mooi en dierbaar. Sy het so goed gepas by die erfgenaam van die grootste plaas in drie distrikte …”
“Nou waarom wil jy dan nog soontoe gaan?”
“Om ver weg en alleen te wees,” antwoord hy sonder skroom. “Ek wil Peet ’n slag sien en ek wil die wêreld invaar … vir … vir sowat ses maande!”
“En Lilette?”
“Ek gaan nou na haar toe,” antwoord hy niksseggend, en hoor met verligting hoe sy swaer se Kewer voor die deur stilhou.
Soos Maryn voorspel het, willig Marcel dadelik in om op Damplaas waar te neem in die tyd dat Eugene oorsee sal wees. Hy is ’n besadigde, verstandige man wat, anders as sy vrou, nie veel vrae vra nie.
“Wanneer gaan jy?” is al wat hy wil weet.
“Net sodra ek klaar geplant het,” antwoord Eugene dankbaar. “Dit wil lyk asof daar genoeg vog in die lande is vir plant …”
“Kan ek jou kom help om die planters reg te maak?” vra Marcel, sy oë besorg op sy jong swaer.
Eugene glimlag baie effens.
“Ja … ek sien jy lees my reg. Ek sal Peet veral nou baie mis. Hy was altyd so handig met die