klein lampies op elke tafel.
“Weet Hennie Smit van ons reëling, Lilette?” wil hy onrustig weet, sy oë dringend op haar gesig, wat vanaand omraam is deur die koperkleurige hare wat hier en daar sag glim in die lamplig. “Weet hy dat ek na jou toe terugkom?”
Sy poog om te glimlag, maar haar mond bewe so dat sy faal en haar kop laat sak sodat hy skaars haar uitdrukking kan uitmaak.
“As hy dit weet,” sê sy sag, “dan weet hy meer as ek.”
3
Die oggend van Eugene se vertrek is dit koud. Vroegdag al is daar misvure by die werkers se huise gemaak en nou trek die rokies in lang, lui slierte oor die werf en die veld en oor die dolblink damwater, om te meng met die mis wat daarvandaan opstyg.
Eugene het opgestaan toe dit nog donker was, vir laas sy tasse en dokumente nagegaan en hom toe soos ’n tiener wat vir die eerste maal na ’n buurpartytjie gaan, met die grootste sorg geklee. Hy wou-wou darem vir homself lag kry. Maar vlak onder die stuwende opgewondenheid is daar ’n knabbelende vrees – dat hy dalk weer kan verloor, dat hy dalk te lank gaan wegbly. Oplaas keer hy homself in die kombuis voor toe hy koffie drink. Besluit: Ek gaan, en daar is niks wat my keer om vroeër terug te kom nie. En ’n tweede gedagte: Daar is niks wat Lilette verhoed om in die vakansie vir my te kom kuier nie! Dié gedagte kikker hom so op dat hy in ’n opgeruimde stemming is toe Marcel, Maryn en Lilette voor die huis stilhou om hom te kom oplaai na Johannesburg. ’n Halfuur later het hy almal op die plaas gegroet en hulle vertrek.
Die vier jong mense ry lustig geselsend deur die winterse oggend, gaan eet in Johannesburg en dwaal lank in die middestad rond. Hulle kom kort voor vyf op die lughawe aan. Daar is nog ruimskoots tyd om eers weer rustig te gaan eet, en hulle maak so. Lilette gesels vrolik saam, maar toe die oomblik aanbreek dat Eugene die lokaal vir oorsese passasiers moet binnegaan, klem sy woordeloos aan sy arm en groot trane biggel uit haar oë. In ’n oomblik van stomme weet-nie-wat-nou-nie, druk hy haar krampagtig teen hom aan.
“Ek kom sommer gou weer. Jy moet dadelik vir my skryf. Jy moet wag vir my. Ek kom vir seker terug,” praat hy, en bly eers stil toe sy sag ’n hand oor sy lippe plaas, haar strek om hom te soen en toe vinnig tussen die mense in wegbeweeg. Half verdwaas groet hy sy suster en Marcel, draai vir laas by die toonbank om om vir hulle te waai, en stap toe deur.
Maar dis eers toe die reusevliegtuig se romp van die aanloopbaan af lig, dat Eugene ’n sidderende sug van verligting en ontlaaiing slaak. Dis asof die spanningsgreep waarin hy sedert sy vader se siekbed en afsterwe onophoudelik geleef het, stadig en byna traag verslap, en toe hulle hoog bo die grootse wydtes van die kontinent vlieg, sit hy steeds roerloos soos ’n marionet waarvan die toutjies geknip is. Tog weet hy vir die eerste maal seker dat hy die regte ding gedoen het, want selfs in hierdie kort tyd en groeiende afstand wat hulle skei, kan hy al helderder dink – oor hom en die klein rooikopmeisie. Daar is ’n goeie kans, dink hy nou in luilekker en veilige bespiegeling, dat ek en sy dalk net saam geluk sal vind. As ek my twakkerigheid, soos sy pa sou sê, my kortgebondenheid en koppigheid laat vaar, sal sy my dalk baie liefkry en ek vir haar.
Dat hierdie siening geensins deur die ware liefde onderskryf word nie, val hom glad nie op nie. Want die ware liefde ken Eugene Basson nog glad nie. Maar voordat die seisoen van die een halfrond na die ander kan glip, sal hy dit nog vind en weet hoe dit smaak om ’n struikelblok te word vir jouself en vir ander – sonder dat jy dit so wou.
Hoe langer die vlug duur, hoe meer voel Eugene hom ontkoppel van sy gebaande lewe op Damplaas, en hoe meer voel hy hom deel van die kapsule-bestaan van die geselsende, opgeruimde passasiers, almal op pad na Luxemburg via die eiland Malta. Want so het hy dit ook beplan. Hy sal ’n dag op die eiland oorbly en die wêreld daar ’n bietjie bekyk. Ook wil hy homself ’n paar uur in ’n aartsvreemde plek gun om so geheel en al los te kom van onlangse indrukke en gevoelens. Dis goed om afstand te kry – so het sy pa ook altyd gesê – want dan neem die verstand oor en die hart skik hom. Nou ja, mog dit so wees!
Die sitplek langs hom is gelukkig leeg sodat hy kan hoop op ’n taamlik gerieflike nagrus. Toe hy later die aand, na ete en ’n filmvertoning, die armleuning tussenin opslaan om skuins te lê, vang sy oog dié van ’n meisie skuins oor die paadjie. Dis ’n aantreklike witkop meisie met hoë wangbene en amandelvormige, groenerige oë, wat hom ’n lang oomblik deurtastend aankyk voordat sy haar kop met ’n effense glimlaggie om haar vol lippe wegdraai. En lank ná die kajuitligte gedoof is, sitlê Eugene met die eienaardige gewaarwording dat sy hom met een felle oogopslag klaar opgesom het, sy vernis afgestroop en hom gekategoriseer het.
Hy slaap soos ’n mens wat verskeie dagreise ver te voet afgelê het en sy kop dankbaar op die eerste plat klip kan neerlê. Hy word eers wakker toe die luidspreker liggies kraak en die passasiers aangespreek word.
“Goeiemôre, dames en here! Dit is kaptein Schmidt. Op regterhand lê Tripoli, en dan kan u maar kyk hoe die Noord-Afrikaanse kus onder ons uitskuiwe. Ons land oor veertig minute op Malta, waar sommige van u sal oorbly in die Malta Hilton. Geniet u verblyf!”
Eugene sit regop, vee met ’n hand oor sy gesig en ken wat ’n skeer benodig, en kyk reg in die gesig van die meisie van die vorige aand. Sy knik haar kop met die wit bolla effens asof in ’n groet, en kyk toe vinnig weg. Ook Eugene kyk vinnig by die luik uit om die klompie wit geboutjies op die barre geel sand wat as Tripoli aangedui word, te bekyk; sien met verbasing dat die Middellandse See werklik ’n diep turkooisblou is, en plaas toe die meisie met mening uit sy gedagtes. Toe staan hy op om te gaan skeer, en vind dat hy van die eerstes is wat wakker geword het en dus gou-gou plek kry.
Dis toe hy na sy slaapwarm gesig in die spieëltjie kyk dat hy vir die eerste maal weer daaraan dink dat hy nie vir Peet laat weet het dat hy kom nie. Dit was sy opsetlike voorneme om onaangekondig daar aan te land. Dit sal hulle geensins verontrief nie, want deur ’n agentskap het hy vir homself laat plek bespreek by ’n ou hotelletjie genaamd De Witte Singel. Dis glo ’n ou gerestoureerde kanaalhuis wat naby die universiteit geleë is en sommer ook naby die Rapenburg, waar Peet en Elsje woon.
Hy is bly dat hy so besluit het. Sonder enige voorbereiding op sy koms sal Peet se reaksie om hom te sien eerlik wees. Hy sal terstond weet hoe dit tussen hulle staan. Ja-nee, dink hy toe hy die laaste repies skuim van sy gesig vee, van nou af wil ek die dop van elke ontmoeting hier self kraak, self ontdek wat agter elke fasade bestaan, en of ek myself daarby sal kan neerlê of nie.
Toe hy weer gaan sit, hou hy sy oë neergeslaan, en bly kyk in ’n tydskrif totdat die vliegtuig begin daal vir die landing op die barre bruingeel rots in die blou-blou see. Maar Malta blyk gou vol verrassings te wees. Op die lughawe is daar twee klein bussies wat wag om die passasiers na die Malta Hilton te neem. Sommer met die intrap stamp die forse Eugene sy kop teen die lae deurkosyn dat daar ’n rooi knop sit, en hoor die gedempte lag van ’n meisie iewers agter hom – en sonder dat hy omkyk, weet hy dis die witkop. Die Maltese busbestuurder maak hewig verskoning in sy eie taal, Malti – wat Eugene later sou vasstel ’n Arabies-Italiaanse dialek is – en beduie toe in krom Engels dat die Maltese ’n klein ras is en dat menige fris Suid-Afrikaner homself al só verwond het. Eugene glimlag bedremmeld en vryf die seerplek, beloof die ontstelde Lilliputter van ’n mannetjie dat hy in die vervolg sy kop soos ’n skilpad sal intrek voordat hy in ’n bus klim.
Die hele rit na die Malta Hilton sit Eugene by die venster en uitkyk en verwonder hom aan die kaal, byna boomlose landskap op pad na die hoofstad, Valetta. Dié stad is nes die res van Malta baie Mediterreens – die ene songebakte kalksteen en blou waters. Hulle ry die voorstad Floriana binne deur die Porte des Bombes – ’n imposante sewentiende-eeuse poort. By die Kingsgate gaan hulle die stad self binne.
Hulle hou voor die Malta Hilton stil – ’n lae wit Moorse gebou met boë en pilare. In die ontvangsportaal met sy blink marmervloer kry elkeen sy kamersleutel en bagasie, en word daar in verband met bustoere op die eiland reëlings getref. Eugene besluit om die oggend op ’n boottoer te gaan.
Ná ’n heerlike ontbyt in een van die vier restaurante van die luukse hotel voeg Eugene hom by die ander toergangers en hulle word weer per bus na Valetta-hawe vervoer. Daar word hulle in groepies ingedeel. Elke groep