aankyk. Sylvie, wat bosnimfie beteken …
Hy wou meer oor haar uitvra, maar het hom daarvan weerhou. Hy het geen reg om vrae oor haar te vra nie. Sy is ’n ander man se vrou. Maar watter man? Watter man kom so laat tuis en veroorsaak soveel hartseer soos hy op Sylvie se gesig gesien het toe sy die deur oopmaak? En is dit aan die man dat Sylvie hartstogtelik gefluister het: “As jy wil lieg, lieg dan ten minste só dat ek jou kan glo!” Was dit dié man wat geïrriteerd sjuut! gesê het toe hy hoor hy, Eugene, kom swaar met die ongewoon smal en steil trappe af?
Lank lê Eugene hieroor en bespiegel, voel hoe die ou drif in hom oplaai om haar onthalwe. Maar meteens besef hy dat hy sy drif, sy vurige eerlikheid sal moet beteuel soos nog nooit tevore nie. Sylvie is verbode.
Hy probeer aan Lilette dink. Dis byna onmoontlik om haar beeld op te roep, en kry hy dit nog reg, dan word dit gou verdring deur ’n ander fyn gesiggie vol hartseer vrae …
Ag Heer, vra hy laat in die nanag, help my met iets wat ek nog nie ken nie, maar wat ek voel kom, so seker soos wat ek lewe. En help my om te onthou dat ek nog altyd eerbaar was, dat ek ’n meisie gevra het om vir my te wag. Maar nou moet ek erken dat dit nog altyd vir my maklik was om eerbaar te wees. Help my nou dat ek nie alles waarvoor ek staan, verloën nie.
Toe hy die volgende oggend by Rapenburg 49 aankom en dié slag die regte knoppie druk en die groot deur oopgaan, voel hy hoe sy hart swaar en langsaam klop. Hy klim die drie stelle trappe op, veel meer vlug van voet as die vorige aand, en tik twee maal met sy wysvinger teen die leë hangkas toe hy bo kom. Peet kom skuif oop en groet hartlik.
“Ek wil al dink ek het gisteraand maar net gedroom, weet jy!”
“Nog nooit!” lag Eugene.
“Ai, man, ek wil so graag net gesels en gesels, en nou moet ek swot!”
“Weg is jy, Peet. Onthou, jy’s nie hier vir jou gesondheid nie, maar ek is wel, ou maat. Waar’s die vroumense, dat ons kan gaan eet. Ek het laat geslaap en sal met gemak ’n pannekoek so groot soos ’n wawiel verslind!”
“Ag nou ja, hulle sal jou dit seker gun, maar hulle wil sommer nou al uit voordat dit weer reën. Hier is die sleutels van ons motortjie. Elsje is van plan om jou dele van Leiden te wys wat baie interessant is, hoor. Terloops, ek is bly jy gee nie om dat Sylvie saamgaan nie. Dis net …”
“Dat Elsje aanvanklik meer op haar gemak by my sal wees as daar nog iemand is,” voltooi Eugene met ’n begrypende glimlag.
Peet staan hom ernstig en bekyk. “Ek is so dankbaar, Gene, ek en Elsje albei, dat ons jou nie verloor het nie!”
“Ek ook,” en daarmee weet al twee dat dit nooit weer nodig sal wees om te praat daaroor dat daar ’n tyd was dat daar bitterheid tussen hulle was nie. “Wat wou jy sê van Sylvie?” vra Eugene ongeërg.
Peet dink ’n oomblik na. “Net dat sy ’n liewe mensie is wat ook maar swaarkry hier, en bly sal wees om ’n bietjie uit te kom.” Dis duidelik dat Peet veel meer kan sê, maar nie van plan is om dit te doen nie. Hy gesels nog ’n paar woorde oor die weer en dat dit gaaf is dat Eugene sy parka by hom het, en groet toe om te gaan studeer. Hy verdwyn by ’n deur in na ’n klein studeerhokkie. Eugene stap deur na die woonvertrek en vind Sylvie besig om die oggend se ontbytskottelgoed te was. Sy staan met haar rug na hom toe en sien hom nie dadelik nie. Sy het ’n rooi romp en ’n wit bloesie aan, en daar klingel twee rooi armbande aan een skraal gewrig.
“Hallo,” groet Eugene bedaard, en sy swaai vinnig om.
“O, dis jy,” groet sy vriendelik, en droog haar nat hande aan ’n droë doek af en kom nader. “Elsje kom nou-nou, hoor. Sy het vanoggend ’n bietjie later gerus as gewoonlik sodat sy oral saam sal kan stap. Maar ek waarsku jou, dit sal maar rus-rus moet gaan.”
“Dit pas my,” sê Eugene met ’n glimlag en sy blou oë bly vol op haar gesig. “Sê my, help jy haar altyd so mooi?” en hy wys na die skottelgoed wat nou staan en droogdrup.
Onder sy deurdringende blik kom daar ’n diep blos oor haar ivoorwit vel en sy stoot die gordyntjie op haar voorkop met ’n senuagtige handgebaartjie weg sodat dit weer terugwaaier.
“Ek … ag, sy help my ook baie,” stamel sy.
“Gesels julle lekker as die mans so hard leer?” vra hy geamuseerd.
Daar breek ’n laggie deur die troebelheid wat tog maar vlak in haar oë lê. En hulle is blou, sien hy vanoggend in die skerper lig; diep blougroen soos die see op ’n helder dag.
“Sy beteken vir my baie,” sê sy eenvoudig.
“En voel jy beter as gisteraand? Jy het vir my hartseer voorgekom?” Die woorde is uit voordat hy dit kon keer, en hy is onmiddellik jammer daaroor. Want daar sak ’n sluier oor haar gelaat, en sy kyk hom enigsins koel aan.
“Jy vergis jou,” sê sy, steek haar hande in haar wye romp se sakke en skud die steil swart hare uit haar gesig.
Eugene draai weg, kyk by die venster uit oor die grag, wat bruin-blink in die effense sonlig lê, na die ouwêreldse gewelhuise wat styf teen mekaar aanleun.
“Ek is jammer,” sê hy gewoonweg. “Ek wou nie rêrig persoonlik wees nie. Maar kom, ek wil tóg iets van jou weet. Waar kom julle vandaan, en hoe lank julle nog moet bly, en so aan.”
Daar is ’n klein stiltetjie waarin sy skynbaar sy vrae en haar antwoorde oorweeg. Sy is nes ’n bokkie, dink hy en draai terug, glimlag gerusstellend met haar.
Één woord van my wat op die seer plek druk, en sy sal wegspring. En daar is ’n seer plek. Daar is immers geen sprake van leuens en laatkom tussen twee mense wat mekaar vertrou nie …
En meteens weet hy, sien hy dit aan die skigtige manier waarop sy na hom kyk, dat sy die vermoede het dat dit wel hy was wat gisteraand so ontydig met die trap afgekom het. En sy is uiters gevoelig daaroor, bang vir blootstelling.
Hy stap tot by haar, sy hande agter sy rug, hou haar bang oë met syne vas, dwing haar om saam met hom te glimlag oor hierdie oomblik. En wanneer Eugene regtig wil, kan hy ongelooflik oorredend wees. Soos Maryn dikwels susterlik spot: dan tree sy bose geeste in werking. Maar of dit nou so is of nie, hy weet net een ding, en dit is dat hy met ’n enkele blik wens om die verdriet uit haar oë te vee. Hy slaag ook, vir die oomblik, want sy glimlag toegeeflik.
“Is jy maar van nature nuuskierig?” vra sy, en dis asof die klein bietjie humor ’n blinkblou vonkie in haar oë laat spring en ’n warm, sagte trek na haar mond bring.
Vasgevang in dié skielike transformasie, kan Eugene nie anders as om doodeerlik te wees nie.
“Nee, selde,” sê hy, “maar ek moet net weet waar jy vandaan kom … en waarheen jy op pad is.”
Sy kyk verskrik op na die lang man voor haar. Hy is so ontstellend presies soos die beskrywing wat Peet van hom gegee het. So eerlik, deursigtig byna, so vol daadkragtige léwe, dat ’n mens die vibrasies daarvan aan jou liggaam kan voel. En dit tril tot in haar diepste wese. Wanneer laas het enigiemand, behalwe soms Elsje, ooit na haar gekyk om uit ’n diep drang van belangstelling iets omtrent haar te wete te kom? Wanneer laas het enige man, laat staan nog haar eie man, na haar gekyk asof sy die vrou bo alle vroue is?
Vir die breukdeel van ’n oomblik laat sy toe dat die wonderlikheid van hierdie man se onbetwisbare besorgdheid oor haar haar soos ’n salwing omvou. Maar sy skeur haar los uit hierdie koestering, wil skrik daarvoor, wil juig daaroor, maar druk ’n vaste klamp op haar gedagtes soos sy maar gewoond is om te doen.
“Nou ja, wat wil jy weet? Al wat ek jou kan sê, is dat ek en George mekaar sedert ons jeug ken, dat ons saam op universiteit was en toe getrou het. As hy hier klaar gestudeer het,” en sy haal diep asem, “sal ons seker maar weer teruggaan na Kaapstad waar sy ouers is. Hy wil eendag ’n praktyk as prokureur daar begin …”
“En jou ouers dan?” vra hy afwesig en dink: George wat laat kom en George wat lieg …
“My ouers woon al die afgelope vyf jaar in Rome.