Hy knip-knip sy oë vinnig asof die wit en blou van die see en die lug en die bont bote hulle seermaak. Liewe aarde! dink hy half beklemd, wat ’n eienaardige mens.
Later die middag besoek die toergroep die Hypogeum, ’n prehistoriese ondergrondse tempel naby die dorpie Paola. En nog later verskeie kerke in Floriana en Valetta, wat Eugene met vreemde verwondering vervul. Die witkop meisie is ook in die groep, maar hou haar eenkant, kyk swygend na alles wat die gids vir hulle wys. Maar in die Sint Johannes-katedraal, waarin die eerste Groot Ridders van die Orde van Sint Johannes begrawe lê, kom staan sy reg agter Eugene terwyl hy Caravaggio se skildery Die onthoofding van Johannes staan en bewonder.
“Stormagtig en onstabiel,” sê die diep stem meteens reg by sy skouer, “en tog het hy so ’n helder en simpatieke siening gehad van die menslike dilemma.”
Eugene swaai om, sy oë feitlik op dieselfde vlak as hare, en dis die eerste maal dat hy merk hoe lank en skraal sy is. Sy mond gaan oop in hulpelose verbasing.
“Wie?”
Die liggroen oë lag.
“Die skilder,” antwoord sy lakoniek, en stap verby hom om van nader te kyk.
“O,” sê hy en verwens homself onmiddellik. Wat is hy nou nes ’n skoolseun wat betrap word dat hy met ’n ou meisietjie op die skoolterrein gesels! Hy voel sommer ergerlik. “Ek is Eugene Basson,” sê hy ietwat aggressief aan haar smal rug. Sy draai op haar tyd om, glimlag breed en vol.
“En ek is Mieke de Kuiper,” sê sy, en toe merk hy eers haar effense aksent, al praat sy vlot Afrikaans.
Dis asof daar ’n skerm tussen hulle wegskuif. Hulle staan en kyk na mekaar asof hulle pas ’n lisensie bekom het om mekaar van kyk te leer ken. ’n Klompie swart geklede ou vroutjies skuifel fluisterend verby hulle na die Hoë Altaar met sy pragtige soliede marmerbeeld van Johannes en Christus met die Doop en gaan geboë sit om te bid.
“Kom,” sê sy sag, en hy val swygend langs haar in, kyk vlietend na die witblonde kapsel hier digby sy gesig. Hulle loop stil deur party van die sy-kapelletjies en toe na buite. In die milde Mediterreense sonlig stap hulle met die trappies af na die ou kanon voor die kerk en kyk terug, laat hul oë dwaal oor die massiewe gebou.
“Hulle sê dis eintlik ’n goeie voorbeeld van die oorgangsperiode tussen die Gotiese en die Barokstyl,” sê sy en kyk skuins na hom op asof sy deelname van hom verwag.
Eugene kyk af in haar oë en blik weer vinnig weg, gee toe aan ’n kinderagtige impuls om haar te wys dat hy ook iets weet.
“Ietwat strak, is dit nie?” sê hy met ’n vae handgebaar wat die kanon ook insluit.
Sy glimlag fyn.
“Hmmm … maar Cassar was die argitek, en hy het van dié styl gehou,” sê sy.
Dit is meteens vir Eugene te veel. Hy is eenvoudig te eerlik om so ’n soort speletjie werklik te geniet.
“Kyk,” sê hy kortweg, “hierdie dinge trek my aan en fassineer my, maar my kennis daarvan is beroerd!”
Sy begin lag, ’n lae kabbelende lag, en dit klink asof die geluid sag met die trappe af die straat inrol.
“Jy is gaaf!” sê sy eindelik, en lag weer vir die konsternasie op sy gesig. “So óóp!”
“Hmf! Dis stukke beter as om te loop en voorgee!”
“Natuurlik, ja,” stem sy opeens kalm saam, maak haar oë toe en hou ’n skraal hand op. “Wag, laat ek raai. Jy… kom van die platteland … iewers in Transvaal miskien?”
“Nooit! Al wat ’n mens van Transvaal kan sê, is dat ’n mens net die Vaalrivier hoef oor te steek en dan is jy in die Vrystaat!” verweer hy met soveel oordrewe oortuiging dat haar oë oopvlieg.
“Die Vrystaat?” vra sy verwonderd.
“Damplaas in die Riemland,” antwoord hy gladweg.
Sy herhaal die woorde, en dit rol vreemd van haar tong. Sy glimlag skeef en haal haar skouers fyntjies op. “Klink mooi,” sê sy net.
“Is mooi,” brom hy, sy vuurblou oë uitdagend op haar gerig.
Sy kyk lank na hom sodat hy lus kry om verleë rond te trap, maar hy wyk nie voor haar blik nie, kyk na haar met net soveel openlike nuuskierigheid.
“Jy is lief vir jou mooi plek,” sê sy eindelik.
“Ja,” knik hy. “Sê jy my nou waarvandaan jy kom en waarheen jy gaan, Mieke.”
“Graag. Ek het ’n jaar lank in jou land verpleeg. In Johannesburg. Nou gaan ek huis toe.”
“Holland, vermoed ek?”
“O ja. Na Wassenaar, waar my ouers woon. Dan sal ek maar weer ’n verpleegwerkie iewers soek. En jy, gaan jy orals rond toer?”
“Ja en nee. Ek gaan eintlik om by vriende van my te kuier. Hulle woon in Leiden. Daarvandaan sal ek maar uitbeweeg.”
“Wassenaar is maar ’n kort entjie van Leiden af,” sê sy half ingedagte, en haar amandeloë vee oor sy sterk gesig en die breë skouers en gespierde bruin arms wat hy nou voor sy bors gevou het.
Maar Eugene is nie so naïef as wat sy uitgesproke eerlikheid hom soms laat voorkom nie, en hy glimlag net baie effentjies hierop sonder om verder daarop te reageer. O nee, dink hy, jy sal veel harder moet probeer as jy my werklik wil uitlok tot beter kennismaking. Jy mag baie lewenswys wees, gereed om te gryp wat voorkom, maar ek is versigtig. Ek het my nog nooit in my lewe deur vlugtige begeertes laat lei nie – waarom sou ek dit nou doen, noudat ek juis ingestem wil raak tot nadenke?
“Kom,” sê hy, en draai weg van haar, “hier is die ander al.”
Daardie aand gaan eet die groep in ’n tipies Maltese restaurant genaamd Coleiro’s Tavern. Omdat die ander dit skynbaar so aanvaar dat Eugene en Mieke toermaats geword het, ruim hulle vir haar ’n plek langs hom in aan die lang tafel wat spesiaal vir die gaste van die Malta Hilton gedek is.
Eugene voel nogal verleë oor die vanselfsprekende manier waarop Mieke dit aanvaar. Maar hy kan dit nie ontken nie: sy is aantreklik en ’n interessante mens.
Hulle eet ’n soort vispastei genaamd lampuki, en ’n oestergereg wat Eugene dadelik pront laat verklaar dat hy van lekkerder dinge weet. Hulle drink van Malta se plaaslik vervaardigde wit wyn en ook – vir die dors, want dis warm – ’n koeldrankie wat hulle Kinnie noem – Malta se bittersoet alternatief vir Coke.
Toe hulle die volgende oggend die vliegtuig na Luxemburg bestyg, dring dit vir die eerste maal tot Eugene deur dat hy en Mieke de Kuiper, afgesien van hierdie korterige vlug na Luxemburg, ook nog ure lank saam op die lugdiensbussie sal wees wat van Luxemburg na Utrecht loop. Nie ’n man wat hom oor die onvermydelike verknies nie, lê hy hom gou daarby neer en besluit om sommer alles omtrent haar uit te vis. Sy interesseer hom nou ten ene male.
Hulle sit ook langs mekaar in die vliegtuig en gesels land en sand tot in Luxemburg, waar hulle saam op die lugdiensbussie na Utrecht klim. Hulle ry eers deur die posseëlstaat en toe deur die malse heuwels van België, en Eugene is stil terwyl hy met die opgetoënheid van ’n eerste besoek aan Europa die wêreld sit en beskou.
Dis ’n nege uur lange rit, en spoedig begin hulle weer gesels. Sy vertel hom alles van die plekke waardeur hulle ry, vul hier en daar aan met staaltjies uit die geskiedenis, waarvan sy skynbaar honderde ken. Sy vertel egter onderhoudend en met gesag.
“Waar kom jy aan alles wat jy weet?” vra Eugene op ’n keer met ’n laggie. “’n Mens het mos nie ’n kennis van kuns en die geskiedenis nodig om te kan verpleeg nie, of hoe?”
“Nee,” sê sy met ’n glimlag, kyk ver by die venster uit na die plat aarde waar hulle Holland al binnegery het, na die jong gras en bottende bome. “Nee, jy is reg. Ek het my liefde en dalk ook my kennis van die geskiedenis by my vader gekry. Hy was ’n professor aan die Rijksuniversiteit in Leiden, en wel in die geskiedenis. Vir die kuns het