om waar te neem op Damplaas in sy beplande maande lange afwesigheid. Hy voel heeltemal gerus om Marcel waarnemend op Damplaas te laat, want hy weet goed dat Marcel ’n krisis sal kan hanteer en nie sal skroom om hulp in te roep nie, veral van Hennie Smit wat, behalwe sy veeartsenypraktyk, ook nog ’n boer is.
Hy kuier nog ’n rukkie, maar staan op om te vertrek toe die gesprek neig om te verdrietig te raak. Dis veral Maryn wat aanhoudend oor hul pa praat, en hoewel hy dit begryp, is hy nie bereid om dit nou al met iemand anders te bespreek nie. Hy het nie verniet die afgelope dae alleen rondgedwaal nie, en selfs nou is hy nie gereed om dié smartlike ervaring te deel nie, selfs nie met sy suster nie. Aan die een kant vrees hy dit om summier in trane uit te bars, en andersyds wil hy nie koud voorkom nie. Die middeweg het hy nog nie gevind nie. Dit was sy lewe lank so – hy het óf in drif ontplof, óf koel oor dinge heen gestap. Miskien het sy pa destyds reg gehad, hy moet die goue middeweg soek. Dít het hy nodig. Maar een ding weet hy bo alle twyfel – dat hy baie liefde het om te gee, dat hy daarna smag om dit aan die vrou in sy lewe te skenk, as hy net sekerheid kan kry.
Daarom steek hy ’n gerusstellende, vertroostende hand na Maryn uit toe hy hulle groet.
“Moet jou nie oor my bekommer nie. Ek sal my bes doen om geen dwase dinge aan te vang nie.”
Maar toe hy in die motor klim en die pad vat na die koshuis waar Lilette loseer, weet hy dat dit gewaagde woorde was. Enigiemand wat aan homself oorgelewer is, kan faal. En Eugene Basson bid ’n vinnige, dringende gebed om bewaring. Hoeseer hy hom nog in die komende maande op hierdie vlietende gebed sal beroep, kan hy nou nie dink of droom nie.
Hy kry Lilette buite die koshuis op ’n lappie kweek, waar sy met ’n paar standerdsessies sit en gesels. Sy spring dadelik vervaard op toe sy hom bemerk, vat-vat verleë na haar vlamrooi hare wat soos ’n dogtertjie s’n los op haar skouers lê.
“Hallo?” groet sy versigtig.
“Hallo, Lilette. Stuur jou satelliete weg dat ons kan gesels!”
Die kinders lag en maak hulle uit die voete, maar Lilette betrag hom enigsins meewarig, vee met haar hande oor die kort rompie van haar tennisrokkie.
“Jy sal ’n rukkie moet wag,” sê sy, “want ek het geen idee gehad dat jy sou kom nie!”
Eugene slaan berouvol ’n arm om haar. “Ek is jammer. Ek is regtig jammer, hoor. My suster het my al dikwels gesê dat ek geen bedagsaamheid het nie. Ek begin insien dat sy gelyk het …”
Lilette glimlag skeef op na hom. “Watter ongewone boetvaardigheid!” spot sy. “Toe maar, ek sal nou-nou klaar wees. Gee my net vyftien minute!”
Maar hy hou haar terug, bly staan agter een van die struike in die voortuin.
“Jy verstaan nie,” sê hy stil. “Ek is werklik jammer oor alles … oor wat jy alles van my moes verduur in die tyd sedert Peet en Elsje hier weg is … my ongereelde besoeke, my kortgebakerde houding.”
Ook sy verstil, kyk na hom met ’n sober gesiggie wat al hoe witter word. En vir die eerste maal besef Eugene met ’n skerp helderheid: sy het hom lief. Só lief dat hy die mag het om haar onherroeplik seer te maak. Sonder dat sy ’n woord uit, lees hy dit in haar groot bruin oë.
“Lilette …” fluister hy, voel hoe die ontroering in sy binneste weer ’n effense gevoel in hom losmaak, en hy druk haar met mag teen hom vas. “Maak baie gou, ek sal net hier vir jou wag.”
Dis eers toe sy in die skadu’s van die bome en struike verdwyn het, dat hy effens tot besinning kom en besef dat hy nou miskien by haar ’n sekere verwagting gewek het, en dít terwyl hy gekom het om haar te sê dat hy weggaan. Ag hemel, dink hy skielik beswaard, ek trap oral verkeerd. Waarom moet ’n mens deur skande en skade leer?
Toe sy haar ’n kwartier later weer by hom aansluit, wag hy haar met ’n nugtere waaksaamheid in, sterk vermeng met ’n baie opregte begeerte na haar fyn vroulikheid, haar borrelende blydskap en sobere klein swyes. Sy kán my motiveer, besef hy. En hy sug effens toe hy haar arm neem en motor toe stap.
Hulle ry swygend die dorp uit, ry halfpad in Heilbron se rigting, en hou toe op ’n hoogtetjie onder ’n klomp bloekoms stil wat hoog en swart teen die aandlug staan. ’n Ruk lank sit hulle doodstil, toe draai Lilette na hom. Hy steek sy hand uit en knip die flou kajuitliggie aan, en oomblikke lank kyk hulle in mekaar se oë. Albei weet dat dit ’n kruispadpraatjie gaan wees dié.
“Jy gaan weg,” konstateer Lilette sag, haar oë op die aantreklike, bruingebrande gesig van die man langs haar, en op sy sterk, manlike hande wat hy nou lig op die stuurwiel laat rus.
“Ja,” sê hy met ’n stadige knik van sy kop, en kry verder niks uit nie, want dis asof sy keel meteens toesnoer. Sy lyk so mooi, so breekbaar mooi soos sy hier sit, met die lig wat ’n diep gloed uit haar koper hare tower, en haar oë wat vol mistieke skadu’s is.
“Voordat jy enigiets verder sê,” praat sy weer, “is daar iets wat jy moet weet …”
“En dit is?” vra hy met ’n vae gevoel van onrus, sodat hy sy hand na haar toe uitsteek en albei haar klein hande in haar skoot vasvat.
“Hennie Smit … het my gisteraand gevra om met hom te trou.”
Alles in Eugene se malende gemoed stol tot stilstand. Hy sit so roerloos dat dit voorkom asof hy haar nie mooi gehoor het nie. Die waarheid is dat die paar woorde hom onweerlegbaar wys dat hy nie kans sien om van hierdie meisie afstand te doen nie. Nie nou al nie en miskien nooit nie. Sy kakebeen voel stram toe hy vra: “Wat was jou antwoord?”
“Ek het nee gesê,” antwoord sy dadelik.
Sy reaksie hierop is onmiddellik en so onverwags dat hy self verbaas is. Met een haal van sy arm pluk hy haar teen hom aan, omsluit haar fyn gesig met een hand en soen haar. En in die soen is daar begeerte en blydskap en ’n nuwe betekenis. Vir die eerste maal soen hy haar nie net omdat hy haar wil nagsê of omdat hy ’n vlietende behoefte aan haar troostende vroulikheid het nie, maar omdat hy voel dat hy sal sterf as hy dit nie doen nie. Dis asof sy hom uit ’n diep put ophys en hy net haar gesig in die sonkol daarbo kan sien. In hierdie oomblik klem hy hom aan haar vas, asof sy alles wat hom kan skaad van hom kan wegweer, asof sy hom hoog bo homself kan uitlig. Toe hy eindelik nog net haar kop krampagtig teen sy bors druk, vra hy sag en smekend: “Sal jy vir my wag totdat ek terug is, Lilette?”
“Ja …” sug sy byna fluisterend. “Ek sal vir jou wag, nie omdat ek so seker is van jou nie, maar omdat ek jou liefhet.”
“Ek weet,” sê hy deemoedig, “en jy sal nooit weet hoe hoog ek dit op prys stel nie. Jy is seker die dierbaarste meisiekind wat daar rondloop!” Dit val hom geensins op dat daar in hierdie lofdig geen woord van wederkerige liefde is nie. Wat hy sê, sê hy in ’n opwelling van diepe en opregte dankbaarheid, en hy soen haar weer, in ’n uiting van die wonderlike warmte wat haar bekentenis in hom laat ontstaan het.
“Ek het geweet Hennie sal die een of ander tyd sy kans benut,” sê hy ligweg, hou haar besitlik teen hom vas.
“Jy het hom soveel kanse gegee,” antwoord sy sag, en hy hoor dat dit geen bitse verwyt is nie, slegs die waarheid.
“Ek weet dat ek geen reg het om enigiets van jou te vra nie, Lilette,” sê hy berouvol. “Hennie verdien ’n beter antwoord van jou …”
“Juis,” sê sy onverstoord en wikkel haarself ’n bietjie los. “Daarom het ek hom verlof gegee om my weer eendag te vra.”
Hy kyk haar skerp aan. “Hou jy dan ’n agterdeur oop?” vra hy dadelik kwaad.
Sy hou sy oë in ’n kalm blik. “Gene …” sê sy, “ag, Gene … jóú huis het dan ’n hele paar deure wat oopstaan!”
Daarop vind hy geen enkele weerwoord nie. Dis waar. Wie is hy om ewige trou van haar te wil afsmeek as hy haar geen waarborg van sy eie trou kan gee nie, slegs maar van sy vrese om terug te keer van ’n vrugtelose sending en te vind dat hy haar verloor het …
“Jy is reg,” sê hy oplaas.