Dana Snyman

Uit die binneland


Скачать книгу

met kamaste en sweetkolle onder sy arms. lemand wat vra: “Ek wonder wat gaan nou van Doktor se bulldog word, van ou Punch?” En iemand wat antwoord: “Hulle sal die ou dier seker maar uitsit.”

      Heel voor in die stoet het ’n kanonwa met doktor Verwoerd se kis daarop gery. Tant Betsie was agter ’n swart motor se donker ruite. En oral het soldate se stewels op die teer gestamp terwyl Ouma my hand al hoe stywer vasvat en Oupa die duiwemandjie op die Fairline se dakrak oopmaak en antie Baba ’n sakdoekie onder die swart net indruk en oor haar wange vee.

      Was ek ook hartseer? Of bekommerd? Of spyt?

      Ek weet nie, ek was vyf jaar oud. Ek het jare later eers verstaan.

      CV

      Ek dink Afrikaanse ouers wat hulle kinders na Engelse skole toe stuur, is verraaiers.

      Maar aan die ander kant wens ek soms ek kon op skool al goeie, aksentlose Engels leer praat het. Ek is skaam vir my lendelam Engels en wanneer ek Naas Botha of Marthinus van Schalkwyk op TV hoor Engels praat, kry ek namens hulle skaam vir hulle Engels.

      Dit beteken nie ek is nie besorg oor die voortbestaan van Afrikaans nie. Ek is. Maar ek is ook nie so besorg dat ek by die FAK, ATKV, Rapportryers, Praag, die Volkswag of die Groep van 63 sal aansluit nie. (Kan mens by die Groep van 63 aansluit of is daar vir net 63 mense plek?)

      Ek sal ook nie uit restaurante en winkels stap omdat hulle my nie in Afrikaans wil bedien nie, nes ek nie sal ophou Black Label drink omdat daar nie Afrikaans op die blikkies is nie.

      Jackie Nagtegaal se super cool Afrikaans en Dan Roodt se wit-warm drome laat my ewe ongemaklik voel. Ek sal dalk graag ’n Lamborghini soos Dan s’n wil hê maar ek wonder of ek ooit daarmee sal ry. Ek sal te bang wees ek trek motorkapers se aandag; deesdae is ek pal bang kapers skiet my.

      Allerhande dinge maak my deesdae bang.

      Ek is bang Nelson Mandela gaan dood.

      Ek is bang Jacob Zuma word die volgende staatspresident.

      Ek is bang ek gaan vir ’n griepinspuiting en word met die HIV-virus besmet of ’n verkeerspolisieman vang my in ’n spoedlokval en vra my vir omkoopgeld – en ek betaal dit! Of ek sê dinge wat my wit vriende sal laat dink ek is ’n rassis. (Om wit mense te oortuig ek is nie ’n rassis nie is deesdae vir my belangriker as om swart mense daarvan te oortuig.)

      Ek wil nie emigreer nie. Afrika klop in my are. Afrika is die lamp wat my die weg wys, die lig op my pad. In Afrika sal ek tuis wees tot in lengte van dae.

      Maar soms wonder ek of ons met ons ligte velle nie maar net gaste hier in Afrika is nie – toenemend onwelkome gaste. En dan, byna dadelik, voel ek skuldig daaroor en wonder ek of ek nie ’n rassis is nie.

      In Orania voel ek net so ontuis as in die Silver Lakes Golf Estate tussen die Afrikaanse jappies.

      Daarom bly daar vir my net drie dinge oor: geloof, hoop en liefde – en die grootste hiervan is die 9 mm-parabellum wat ek onlangs gekoop het om my mee te beskerm.

      Soms betrap ek myself dat ek sê: “Wanneer gaan ons nou eendag ophou verskoning vra vir apartheid?” Dit terwyl ek nog niemand verskoning gevra het vir apartheid nie.

      Ná elf jaar in die nuwe Suid-Afrika het ek steeds ’n behoefte aan katarsis. Miskien sou dit gehelp het as P.W. Botha in 1995 biskop Tutu se uitnodiging aanvaar het om saam met hom hand aan hand deur George se strate te stap om voor die Waarheidskommissie te gaan getuig. Miskien sou daardie prentjie meer duidelikheid vir ons almal gebring het. Of miskien is dit maar net ’n bewys van my naïwiteit.

      Ek wil hê swart mense moet my erken as ’n mede-Afrikaan; een met ’n identiteitskrisis en opregte bedoelings. Ek wil myself ook vergewe omdat ek toegelaat het dat P.W. en die Broederbond, die Transvaalse Onderwysdepartement en die Suid-Afrikaanse Weermag my so lank mislei het.

      Ek wil vir niemand meer die bliksem in wees nie.

      Ek wil ook ophou om laat saans, ná die derde glas wyn, na Gé Korsten en die Briels en oom Chris Blignaut te luister en nostalgies te raak oor inryteaters, Haas Das, Griekse kafees, padkos, fotoboekies, vakansies op Hartenbos en ou Afrikaanse flieks. Asof alles toe beter was as nou. Asof daar nie ’n vals noot in elke herinnering is nie.

      Ek wil ophou wroeg oor die verlede. Maar ek weet nie hoe nie. Die Kerk sou my miskien kon help, maar ek kom nie eintlik meer in die kerk nie – al glo ek aan God en beskou ek myself as ’n Christen.

      Ek kyk wel na al die Springbokke en die WP se wedstryde en identifiseer meer met Quinton Davids as met Geo Cronje, al het ek nie werklik iets teen Geo se baard nie.

      Ek was nog nie by die Apartheidsmuseum nie en ek weet nie of ek gou soontoe sal gaan nie. Ek weet ook nie of ek weer by die Voortrekkermonument of Bloedrivier sal kom nie. Ek besoek wel die Klein-Karoo Nasionale Kunstefees en Aardklop, maar ek bring meer tyd in Die Hoenderkop en ander kuierplekke as by grensverskuiwende dramaproduksies deur.

      Ek lees nie eintlik meer politieke berigte in koerante nie want ek het lankal my vertroue in politici verloor. Ek weet nie eens of ek gou weer in ’n verkiesing gaan stem nie want daar is tans nie regtig iemand vir wie ek wil stem nie.

      Ek is wie ek is, maar wie dit is, weet ek nie altyd nie.

      Al my helde is dood: Deneys Reitz, Will Jordan, tant Johanna Brandt, generaal Koos de la Rey, dok Craven en Herman Charles Bosman. Bart Nel is ook een van my helde maar, anders as Bart, is ek nie meer hy nie.

      Ek is illusieloos.

      Ek is leierloos.

      Ek is ’n Afrikaner.

      Krêp de Tjaain

      Hy was seker so agtien, dalk negentien, met ’n sonbril op die voorkop en ’n yl Brad Pitt-baardjie op die kennebak. Ons het nou die aand toevallig saam by die Quick Shop ingestap, ek vir ’n pastei en ’n Coke, hy skynbaar vir kondome want hy het gemik vir die rak teen die muur waar dié pakkies in gelid gehang het.

      Het ek maar soveel selfvertroue gehad, het ek gedink. Want ek, ’n relatief neuroselose man van in die veertig, sal steeds nie so openlik na ’n kondoomrak in ’n winkel stap nie – veral nie met ander mense in die nabyheid nie.

      Rustig het hy die pakkies deurgekyk en op een besluit. The Shield of Zeus for superlative performance. Toe het hy dit saam met twee Crunchies betaal, in die Honda Ballade – seker nog sy ma s’n ook – voor die deur gewip en gery. Heeltemal onselfbewus.

      Deel van ’n geslag waarvoor ’n kondoom niks vreemds is nie.

      En dit is seker hoe dit moet wees in ’n oorbevolkte Derdewêreldland waar een uit agt mense glo reeds HIV het. Dit is net so, wel, so anders as wat dit eens op ’n tyd was. Toe my stem begin breek en ek my hare soos Bobby Ewing in Dallas probeer kam het, was dit onmoontlik om sommer by ’n plek in te stap en ’n pakkie kondome van die rak af te haal.

      Oom Dafel, die apteker, het dit wel aangehou. In ’n laai, naby die Skedule 1-medisyne.

      Wie onthou nog die omstredenheid – ek dink dit was in 1977 – toe dit bekend geword het op Kyalami gaan ’n renmotor jaag met die kondoomvervaardiger Durex se naam daarop? Die volk was in opstand: die Kerke, Aksie Morele Standaarde, die ACVV, die NP – vreeslik.

      Op die ou end het die regering dit ingevolge die een of ander obskure wet verbied.

      Ons het nie die woord “kondoom” geken nie. Ons het gepraat van FL’s. Of effies. Of velle. Of rubbers. Of goue ponde.

      “Ek weet waar ons rubbers kan kry,” het Stoffel, my beste maat in standerd 5, gesê.

      “Rubbers? Waar?”

      “By Taki se kafee. Toggos sê so.”

      “Genuine?”

      “Genuine. Jy sê niks. Jy skiet net ’n twintigsentstuk in die lug op, vang dit, kap dit op die counter neer en skuif dit tot voor ou Taki. Hy sal dan weet.”

      “So,