sal vi’ ons lees.”
Net tóé kraai daardie hoender van vroeër weer. My oog vang die twee henne en die rooi haan in die draadhok agterop die karretjie en ek weet sommer dis daardie haan wat so kraai.
Oom Kokkie leun vorentoe en tel so ’n blou tassie van die karretjie af. Eens op ’n tyd kon dit ’n vrou se vanity case gewees het. Hy knip dit oop. Binne-in is allerhande goed: ’n pakkie Disprins en ’n haarkruller, ’n Okapi-knipmes, ’n botteltjie lewensessens, ’n tolletjie gare en twee flitsbatterye.
En onder al daardie goed haal oom Kokkie ’n boek uit, ’n Bybel, oorgetrek met bruinpapier wat al deurgeskif is.
“Ek het hom by oo’lie pa geërwe,” sê hy en gee die Bybel vir my aan. “Mens kry darem altyd hier en daar en so aan iemand met bereidwilligheid om vi’ jou ’n stukkietjie te lees.”
Dit is ’n Afrikaanse Bybel – Ou Vertaling.
“Nou wat wil oom hê moet ek lees?” Ek maak die Bybel oop en blaai. Party van die bladsye is al los. Van êrens af kry ek die reuk van motbolle.
Oompie Kokkie trek my eenkant toe, na waar die donkie lê, dié maer en skynbaar te gedaan om die vlieë om sy ore weg te waai. “Iets van donkies,” sê hy. “Lees vi’ ons iets van donkies, asseblief, meneer.”
Die vrou het van êrens af ’n hoed gekry, ’n regte kerkhoed soos my ouma Swannie s’n, met ’n pienk blom hier voor. Dié hoed is nou op haar kop. Sy kom staan by ons met die baba in haar arms.
Ek probeer dink: donkies, donkies. In die Sondagskool, lank gelede, onthou ek, het ons geleer van Bíleam wat op ’n donkie gery het toe die Here aan hom verskyn het. Levitikus. Of is dit nou Númeri? Ek blaai rond. Númeri 22.
“Toe antwoord Bíleam die Engel van die Here: Ek het gesondig, want ek het nie geweet dat U teenoor my in die pad gestaan het nie. Maar nou, as dit verkeerd is in u oë, sal ek teruggaan.”
Ek lees die hele hoofstuk, en gee die Bybel vir oompie Kokkie terug.
“Nou wat nou?” vra hy. “Bly meneer nie vi’ die gebed nie?”
Ek kyk na die oubaas en sy tante en die vaal donkie op die grond wat nie eens meer die moeite doen om die vlieë en brommers op sy ore te verjaag nie.
“Ek’s laat, my oom,” sê ek. “Ek moet ry. Jammer.”
Ek groet, stap terug motor toe, klim in en ry stadig terug N1 toe, my ruit afgedraai. In die truspieëltjie kan ek oompie Kokkie sien, al biddend, sy een hand in die lug, soos ’n predikant s’n, sy ander hand op die vaal donkie se kop.
En bokant die motorenjin se gedreun hoor ek weer daardie dekselse rooi haan kraai.
Wake up, Champ!
Die ou projektorkamer staan nog daar maar die dak is af en die vensters is met rame en al uit die mure gebreek. Die groot skerm lê in die gras. Miskien het die wind dit omgewaai. Of miskien het die mense van die plakkerskamp daar naby dit omgestoot want al die sinkplate is verwyder.
Die luidsprekerpaaltjies is ook nie meer daar nie.
Van die inryteater buite my grootworddorp het byna niks oorgebly nie.
Ek het nou die dag vir die eerste keer in hoeveel jaar weer by daardie paadjie ingery, verby die plek waar die kaartjieskantoor gestaan het. By die kafeteria, waarvan net die fondamente oor is, het ek stilgehou. Ek kon nie verder nie, die gras en die kakiebos het te hoog gegroei.
Hoeveel aande het ons nie daar gaan fliek nie.
Eintlik was dit meer as net fliek, dit was deel van ’n leefwyse. Min plekke in die land het nie ’n inry gehad nie. Ons s’n se naam was die Bosveld-inry.
Ek het al dikwels gewens ek kan sê ek het op twaalfjarige ouderdom die werke van Leo Tolstoi, Jean-Paul Sartre en Etienne Leroux ontdek en dat dit, meer as enigiets anders, my wêreldbeskouing help vorm het.
Maar dit het nie vir my só gebeur nie. ’n Groot gedeelte van my kulturele identiteit kom van die jukebox in ou Taki se kafee, van Springbokradiostories en Ruiter in Swart-boekies. En die flieks wat ek in die Bosveld-inry gesien het: Enter the Dragon, Kaptein Caprivi, The Champ, The Day of the Jackal. En natuurlik Dirty Harry.
Die inryritueel het laat Saterdagmiddae begin wanneer Ma kos in Tupperware-houers gepak het: gekookte eiers, hoenderboudjies, biltong. Dit was eintlik maar padkos, net sonder die toebroodjies en die wors. In die plek daarvan kon ons pouse hot dogs by die kafeteria koop – en Coke in papierglase. (Coke proe vandag steeds vir my lekkerder in ’n papierglas as in ’n botteltjie of blikkie.)
Ons het gewoonlik vir ’n double session gegaan – twee flieks ná mekaar. Dit was die sewentigerjare, ’n tyd van brose heldinne en helde wat ’n bars kon skop en skiet en double clutch. Ali McGraw. Sybil Coetzee. Charles Bronson. Bruce Lee. En … wel, Hans Strydom. (Hans was nie juis ’n vegter nie, maar kon ’n bars vry.)
Meestal het ’n ry motors al gewag wanneer ons in ons kapoengeel Valiant Regal voor die hek stilhou. Almal was daar, selfs die arm Prinsloos in hulle gaar Toyota Corona (met moontlik ’n kind of twee in die kattebak omdat die Prinsloos nie genoeg toegangsgeld vir almal gehad het nie).
Party mense het sponsmatrasse gebring en voor hul motors op die grond gegooi. Ander het kampstoele oopgevou en skelm doppe in hulle kattebakke geskink.
Die verrigtinge het net ná sononder begin – nadat oom Apie en oom Shorty en oom Boet hul toeters begin blaas en hul ligte op die skerm laat flits het.
Ek het nou die dag lank daar tussen die kafeteria se fondamente en die skerm in die lang gras rondgestap.
Dit is eienaardig: Geboue wat ’n mens ná ’n lang afwesigheid weer sien, lyk kleiner as wat jy dit onthou. Maar daardie ou projektorkamer het vir my effens groter gelyk. Miskien omdat ek vergeet het van oom Thys, die Bosveld-inry se eienaar, se kantoortjie wat deel daarvan was.
In my geheue staan oom Thys in die donker buite die projektorkamer in ’n safaripak en suig senuagtig aan ’n Gunston terwyl die projektor soos ’n reusesprinkaan daar binne staan en “kir-kir”.
Oom Thys was die ene paniek wanneer die projektor tydens die vertoning gebreek het en die skerm opeens swart was – iets wat gereeld gebeur het en altyd begroet is met flitsende ligte en ’n geskal van toeters.
Oom Thys se twee-in-een-reaksie was dan seepglad: Hy het vinnig, amper instinktief, nog ’n Gunston aangesteek en dan ’n aankondiging – in Engels, al was daar nie een bewese Engelsman op ons dorp nie – oor die luidsprekerstelsel gedoen: “Ladies and jintelman, we just want to say sorry for this tiny interruption. We experience a problem and are working on it. Just be patient, please. Dankie. Thank you.”
Voor die hoofattraksie – dit is wat flieks in daardie jare soms genoem is – was daar eers so drie advertensies: een vir Oom Tjops se slaghuis, een vir die Total-garage en een vir die plaaslike Avbob-tak. Dan was dit SA Mirror/SA Spieël, ’n kort dokumentêre insetsel oor landsake: ’n Nuwe dam wat geopen is, die Eerste Minister wat met tradisionele danse vermaak word tydens ’n besoek aan ’n tuislandleier, of ’n boksgeveg wat Pierre Fourie volgens Gerhard Viviers se radiokommentaar maklik-maklik gewen het, voordat die beoordelaars hom daarvan beroof het.
Een Saterdagaand het SA Spieël oor Suid-Afrika se goudbedryf gehandel. (Ek weet nie waarom onthou mens sulke goed nie.) Die skerm was meteens vol potte gesmelte goud en swetende mans in oorpakke terwyl ’n stem gesaghebbend vertel het dat Suid-Afrika 73,6% van die wêreld se goud produseer – tot groot vreugde van oom Apie op sy kampstoel voor sy Rambler Hornet: “Hondepatrollie! Het julle gehoor? 73,6%!” het sy stem deur die inry weergalm. “G’n wonder die bleddie terroriste wil ons land hê nie.”
Dieselfde terroriste wat in Kaptein Caprivi, Baaspatrolliehond K9 en twee Mirage Eskaders voos geskiet is.
Die aand toe Grensbasis 13, ’n ander treffer in dié genre, gewys het, het ’n Chev Firenza se wrak in die oopte voor die groot skerm gestaan. Dit was