Helana Olivier

Ware verhale van vergifnis


Скачать книгу

wag geduldig vir ons om ons lewe na God te keer. Dit is werklik “onbeskryflike genade”!

      Daar is nog ’n stukkie van hierdie verhaal wat ek moet vertel. ’n Paar jaar gelede is ek uitgenooi om te preek by die eeufees van die Metodistekerk in Kensington, Johannesburg. Ná die diens, toe ek staan en handskud met die vertrekkende lidmate, merk ek ’n ouerige paartjie wat eenkant wag. Toe almal weg is, kom hulle nader gestap. “Jy sal ons nie onthou nie,” sê hulle, “maar ons is meneer en mevrou Banks. Ons het jou altyd saamgevat Sondagskool toe.”

      Trane wel in my oë op. “Jul getrouheid het gehelp om my lewe te verander.”

      Daar is geen liefdesdaad, hoe klein ook al, en geen deernis sonder betekenis nie, geen leë vergifnis nie. Hierdie “klein lewetjie” van my is ’n lewende bewys van vergewende liefde.

      Verhaal 2: Misbruik tot bruikbaar

      2

      Misbruik tot bruikbaar

      Esté Mostert

      My pad van vergifnis begin toe ek ongeveer ses jaar oud was. Ons gesin het bestaan uit my ma, my pa, ek en my sussie. Ons het in ’n drieslaapkamerhuisie in Suidrand, Kroonstad, gewoon. Wat ek van hierdie tydperk van my lewe onthou, is motorongelukke as gevolg van dronkbestuur, verwyte, beskuldigings, spanning en hartseer oomblikke weens hoop wat telkens beskaam het. Ek sien hoe my pa, ’n alkoholis, reeds wiegend by sy motor se kattebak staan en brandewyn drink uit ’n bottel in die bruinpapiersak. My ma het dikwels gedreig sy gaan haar goed vat en wegloop. Ek het altyd gewonder of ek en my sussie ook deel van haar goed sal wees. As ons nie is nie, wat gaan van ons word? Mettertyd het die lewe by die huis ál meer gespanne geraak en het dit net ál slegter gegaan. Gelukkig kon ek in st. 6 ontvlug koshuis toe. Hoewel naweke steeds ’n gemors was, kon ek vir daardie volgende vyf jaar gedurende die week redelik sonder spanning funksioneer. Om maats huis toe te neem, het egter op ’n fiasko uitgeloop. Ek het ’n baie swak selfbeeld ontwikkel en ’n regte klein rebel geword wat letterlik met alles en almal wou baklei. Ek het geglo die hele wêreld weet wat by ons huis en binne my aangaan en daarom veroordeel almal my.

      Om weg te kom van alles en almal is ek ná matriek na die Vroueleërkollege in George. Ek was skielik ver van die huis af. Ek het in ontkenning geleef en sommer vinnig tien kilogram aangesit. Natuurlik het my reeds swak selfbeeld verder verswak, maar omdat ek nie van beter geweet het nie, het ek voortgesukkel. Ek was alleen, onseker en wanaangepas.

      Intussen het ek in voeling gekom met die geestelike sy van my lewe. Ek het God aangeneem as my Verlosser, maar toe begin my worsteling om Hom as my volmaakte hemelse Vader te sien, om te verstaan dat Hy my onvoorwaardelik sal vergewe, al was ek woedend vir my pa wat my lewe so verwoes.

      In 1979 het ek in Bloemfontein gaan kuns studeer. Gedurende hierdie tyd is kanker by my pa gediagnoseer en hy is in Bloemfontein in die tussentuiste vir kankerpasiënte opgeneem. Weer is ek gekonfronteer met gevoelens wat gewissel het van simpatie tot woede tot frustrasie. Ek het besef die spoke uit my verlede bly saam met my hardloop.

      In hierdie tyd ontmoet ek toe ook die persoon met wie ek eendag sou trou. Sy ma was die matrone by die tussentuiste waar my pa versorg is. Dis ’n hanetree van die universiteit af. Albei van ons het in die universiteitskoor gesing en omdat ek my pa se motor gehad het, kon ek hom ’n saamrygeleentheid gee wanneer ons moes gaan oefen. Hy begin my vertel ek is baie oulik en vir iemand met so ’n slegte selfbeeld soos myne, was dit al wat ek nodig gehad het om te hoor. Ek raak halsoorkop verlief. Intussen word my pa ál sieker, en my verhouding met die man raak ál hegter. In 1984 trou ons – min wetende dat dit die begin van die tweede fase sou wees waarvoor ek jare later weer vergifnis sou moes vra.

      Die eerste paar jaar van ons huwelik was opwindend – volgepak met gelukkige dae. Ons het suksesvol gevoel: Hy was ’n gesogte onderwyser by ’n baie groot en bekende seunskool en ek het aan die begin van ’n belowende kunsloopbaan gestaan. Vier jaar lank bou ons aan ons loopbane en rig ons ons huis in. Ons lewe sonder werklike struikelblokke. Toe ontdek ek ek is swanger. My man is ontsteld, want dit voel vir hom of hy nie beheer daaroor gehad het nie. In hierdie onstuimige emosionele tydperk ontvang ek een aand ’n oproep van my ouers se predikant om my te laat weet dat “my pappie oorlede is en dat hy sag heengegaan het”. Die volgende dag vertrek ons na my ouerhuis in Kroonstad, net om daar te ontdek my pa het hom in die motorhuis geskiet en my ma het op hom afgekom terwyl hy nog doodsroggelgeluide gemaak het. Ek was woedend omdat die predikant vir my gejok het. Het hy nie gedink ek sal dit in elk geval uitvind nie? Die begrafnisdiens was ’n marteling. Ek wou net wegkom van al die mense wat daar was, maar moes deur die hel sit, want dit was wat die samelewing van my verwag het. My pa se dood was vir ons ’n verlossing, maar dit was die begin van net nog meer skuldgevoelens en huilbuie op die mees onverwagse oomblikke. Ek het begin besef ek sit met ’n groot pak bagasie. Ek het egter nie geweet hoe om daarvan ontslae te raak nie.

      Ek was in my element met die geboorte van ons seuntjie. Ek was uit die staanspoor ’n toegewyde ma wat mal was oor my kind. Hy was die oulikste ding wat mens kon kry. My loopbaan het floreer en ek het geblom. Ek het ’n nuwe mate van selfvertroue ontwikkel wat mense na my toe aangetrek het. Met my huwelik het dit goed gegaan. Ek het vir ons vakansies beplan en die huis in ’n groter een herbou. Ek het die leiding in ons huwelik begin neem en het begin voel ek is besig om uit die as op te staan. Ek wou nog ’n kind hê en ons gesin het sommer met nog drie kindertjies gegroei! Ons het tien jaar van geluk beleef en gedink ons “groei”.

      Drie dae voor my veertigste verjaarsdag wou my vriendinne vir my ’n partytjie reël. Ek het vasgeskop. Dit het gevoel of ek my eerder wou martel. Op 4 September, ’n winderige dag, het ek drie kubieke meter rooigrond in my tuin weggewerk. Ek was geweldig gefrustreerd, want my man het gesê ek het “verander”. Hy was teenoor ons almal ongeskik, maar veral met die kinders. Wanneer ek met hom daaroor probeer praat het, was hy altyd reg. Sy veranderde houding het aan my begin vreet, want dit het gevoel of ek hom nie meer ken nie. Ek het gewonder hoe dit sou wees as ek hom in daardie stadium vir die eerste keer sou ontmoet. Sou ek enigsins van hom notisie geneem het, aangesien ek niks gehou het van die persoon wat hy geword het nie?

      Intussen het ek ál harder begin werk. Ek het in ons gesin se finansiële behoeftes voorsien, ons kinders emosioneel ondersteun en eindelik begin verstaan hoe om my pa se bagasie te begin afgooi. Ek het ál meer begin om my emosioneel van my man te onttrek deur my tot in my eie skeppingswêreld te verplaas. Ek het swaargekry, want my gevoelswêreld was vol swaar emosies en daar was niks wat dit onmiddellik kon regmaak nie. Ons seksuele verhouding is al meer afgeskeep ... in so ’n mate dat daar partykeer maande sonder intimiteit was. Intussen het my man baie ag begin slaan op sy liggaam – om fiks te wees, goed te lyk en maer te wees was skielik belangrik. Al was hy in daardie stadium werkloos, was dit in die haak, want my besigheid en loopbaan was goed gevestig. Daar was egter een probleem. Hoewel ek vir alles betaal het, was die huis in sy naam geregistreer.

      Toe kom daar ’n nuwe verwikkeling. My man het besluit om ’n koffierestaurant te koop. Om dit te kon doen, is ’n tweede verband op ons amperafbetaalde, wonderlike ou huis uitgeneem. Soos met enige nuwe besigheid, is daar net meer en meer goed aangeskaf wat afbetaal moes word en die winkel se opbrengs was nie genoeg om al die uitgawes te dek nie. So het ons begin voortploeter. Hy was nooit meer by die huis nie en ek het my amper doodgewerk. Die kinders het begin wonder wat met hul pa aangaan en ons vriende het hul wenkbroue gelig. Tussenin het ons darem elke week Bybelstudie gehou saam met vriende en medegelowiges in ons pragtige, groot ou huis.

      Die volgende verwikkeling het my onverhoeds betrap. My man het my onder ’n wanindruk gebring wat sy finansies betref. Ek, wat my lankal reeds emosioneel van hom onttrek het, het my nie eens daaroor bekommer nie. Tot op ’n dag! Skielik het ek besef ek het iewers langs die pad vir hom borg geteken. Ek het glad nie geweet wanneer of hoe ek dit gedoen het nie. Dit was net ’n kwessie van tyd voordat ons ons huis sou verloor. Hy het ons huis in die mark gesit.

      Behalwe dat ek in daardie stadium redelik uitgebrand gevoel het, het ek terselfdertyd ook roekeloos gevoel. Buitendien wou ek net wegkom van die mense rondom my. Om te probeer ontsnap van alles en almal het ek ’n kleinhoewe langs die rivier gekoop. Ek het my aandag probeer aflei deur vir ons ’n tuiste te probeer skep. Ek het baie van ons ou meubels probeer verkoop of verskuif.