gehad nie en die muur het gevaarlik beweeg wanneer ’n mens die deur oopmaak. Ons twee hoërskoolseuns het ingespring en tussen hul skoolwerk deur gehelp om die plek meer leefbaar te maak. Daar op die kleinhoewe het hulle hul vriende baie gemis. Met spykers, ’n hamer en ou hout het ons jongste sy vrese en frustrasies in die wilgerbome by die rivier gaan uittimmer deur boomhuise te bou. My man was omtrent nooit by die huis nie. Hy het altyd die winkel as ’n verskoning voorgehou. In my naïwiteit het ek gedink my man sal sy winkel verkoop sodat ons ’n restaurant met ’n galery en werkwinkelgeriewe op die kleinhoewe sou kon inrig. Ek het begin bou aan ’n struktuur van drie honderd en sestig vierkante meter. Daar was ’n groot venster met ’n uitsig oor die rivier sodat ons sou kon sien hoe die son in die weste sak en op al die wonderlike wolke weerkaats wat in die ooste lê. Ek het skilderye uit my privaat versameling begin verkoop en die geld vir die bouwerk gebruik. My drome het my aan die lewe gehou en ek kon so normaal moontlik optree en my kinders emosionele sekuriteit bied.
Een Oktobermiddag het ’n groot skok egter op my gewag. Ek en ’n vriendin het op die stoep gesit. Daar was die mooiste sonsondergang, die buurman se skapies het oor sy kikoejoe aangestap huis toe en die reuk van varsgesnyde lusern was in die lug. ’n Kombi het nader gejaag en voor die stoep tot stilstand gekom. My man het soos ’n kaartmannetjie agter die wiel uitgespring. “Dit wat julle nou sien, is wie en wat ek regtig is.” Voor ons het ’n kaalkop, blinkgeskeerde man gestaan. Selfs sy bors- en rughare was gewaks. Sy houding was afstootlik en sy klere in ’n heel ander styl as gewoonlik. Ek was stomgeskrik. Tog het ek het vir nog ’n maand of twee verby ons hele situasie gekyk. Totdat die bom kort voor Kerstyd ontplof het.
Intussen het ek oproepe begin ontvang van mense wat wou hê ek moes weet wat aangaan. Hulle het my man by gayklubs gesien – in ons stad, sowel as in ander stede. Ek moes hoor van sy verhouding met ’n 27-jarige man. Ek het hierdie man toevallig een aand in die koffierestaurant ontmoet. Ek moes hoor van kere wat hy wedlope op ander dorpe sou hardloop, maar nooit daar was nie. Ek het geweet ons huwelik is iets van die verlede. Dit waarteen ek reeds jare lank geveg het, was onvermydelik. Onder die wilgers by die rivier het ek my byna doodgehuil terwyl die perde rustig naby gewei het. Ek het aanhoudend gesmeek dat God my moes help. En Hy het. Ná ses jaar kan ek terugkyk en weet Hy het my en die kinders op sy handpalms gedra.
Toe ek my man uiteindelik konfronteer, het hy al die aantygings ontken. Hy het beweer ek is die oorsaak van alles wat sleg is in sy lewe. Hy wou weet waar ek aan al die snert kom! Omdat daar reeds soveel tekens was dat hy gay was en die kinders se maats hulle al so dikwels gekonfronteer het met stories oor hom, het ek hom net gevra om te gaan. Hy het dit sonder verdere teëstribbeling gedoen. Ons tienerseuns het verwag ek sou so optree, maar die twee jonger kinders was geskok. Hulle was woedend omdat ek sulke leuens oor hul pa kwytgeraak het en hulle het hom vreeslik jammer gekry. Ek was emosioneel afgestomp. Ek moes hulle noodgedwonge die waarheid vertel, want leuens maak nie die waarheid sagter nie, dit maak dit net baie erger. “Pappa is weg, want hy hou meer van mans as van vroue en daarom kan ek nie meer met hom getroud wees nie.” Ek moes al baie erge dinge in my lewe doen, maar daardie gesprek was een van die ergstes. Ek sal my kleintjie se emosies seker nooit vergeet nie. Hierdie was die laagste laagtepunt in my 48 jaar op aarde. Ons was 27 jaar lank getroud.
In die volgende drie jaar het ek letterlik alles verloor: my hele vorige bestaan met al die baie drome en vooruitsigte. Omdat ek vir my man borg geteken het, het ek finansieel alles verloor. Ook die eiendomme wat ek op my eie bekom het. Ek het my man verloor en die kinders hul pa. My vroulikheid het ’n knak gekry toe ek besef my man se dinge het al voordat die kinders gebore is begin. Ek het fisiek ongesteld geraak en kon vir ’n paar maande nie skilder nie, want my hande was opgeswel en stokstyf van pyn. Galerye wat altyd my werk gekoop het, kon my nie meer ondersteun nie, want ek het gesukkel om produktief te bly. Die siekte het my oë aangetas en as gevolg van die kortisoon wat ek moes gebruik, het ek gewig aangesit. Weer ’n keer was my selfbeeld in sy peetjie. Dit het gevoel of ek nêrens hoort nie en ek het regtig nie ’n houvas op dinge gehad nie.
My man het intussen sy besigheid verloor en is weg Kaap toe om daar ’n lewe te probeer skep tussen mense wat hom sou verstaan. Ek en die kinders het alleen en hartseer op die kleinhoewe agtergebly met kwalik genoeg geld vir petrol en skool. Ons was werklik arm en moes daagliks planne maak om te oorleef. In daardie stadium het ons oudste my ook vertel hy is gay. Hy was baie jammer om hierdie bekentenis te doen, maar het besef die waarheid maak alles soveel makliker vir almal. Al was ek geskok, was ek tog verlig oor sy eerlikheid en moed. Ons het ’n wonderlike verhouding. Ons kommunikeer oor alles wat in ons lewe gebeur en sy onthulling het niks aan my liefde vir hom verander nie. Hy en sy pa het, ironies genoeg, ’n baie slegte verhouding gehad. Sy pa het selfs eenkeer geskryf hy hou nie van sy kind nie. Dit het baie probleme in ons seun se lewe veroorsaak. Hy worstel steeds soms met ’n swak selfbeeld. Vandag, ses jaar later, probeer ons vyf deur baie genade om so na moontlik aan normaal te leef.
Ná my man se vertrek het ons met baie ander emosies geworstel. Ons het in ’n groot mate verstote gevoel. Mense was geskok oor alles wat met ons gebeur het. Hulle het hul afstand gehou. Hulle het nie eintlik geweet hoe om ons situasie te hanteer nie. Van ons manlike vriende en familie het selfs by tye probeer om soos ’n pa vir die kinders te wees. Hierdie goedbedoelde gebare het die arme, gebroke kinders net nog meer verstote laat voel. Hulle het gevoel niemand weet of verstaan wat in hul gedagtes aangaan nie, daarom sou hulle eerder probeer regkom. As ’n enkelma en skielik die geestelike wagter van my huis (wat nou gevoel het soos ’n huis sonder diefwering), het ek begin bid en smeek dat God ons sou help en dat Hy ons sou bedek met sy kosbare bloed. Ek het nie eens vir ander dinge gevra nie, want my lewe was in ’n te groot warboel. Daar was gebroke emosies, woede, gebrekkige finansies, nuuskierige vrae, gesondheidsprobleme en ’n algehele gebrek aan energie. Eintlik wou ek net doodgaan. Gelukkig kon ek nie, want wat sou dan van my kinders word?
Ek was woedend vir my man wat vir baie jare in ’n oneerlike verhouding met ons as gesin geleef het. Ek was ook kwaad omdat hy my vroulikheid misbruik en daaragter geskuil het. Ek was ook ongelukkig dat hy sy kinders die reg ontsê het om in ’n normale, gelukkige gesin te funksioneer.
Die egskeidingsprokureur het my aangemoedig om te veg vir my regte, maar uiteindelik het ek steeds alles verloor en dit terwyl hy duisende rande uit my gemaak het. Ek het baie woede opgekrop en ek moes ’n manier vind om weer vrede terug te vind. Ek moes dit doen ter wille van myself, die kinders en my loopbaan en vinnig ook!
Snags as ek wakker geword het van uitmergelende gewrigspyne, het ek gebid dat God my vrede moes herstel. Ek het begin besef die enigste weg na herstel was dat ek my man moes vergewe en dat ek my kinders daarmee moes help. In die Bybelboek Matteus het God my van 16 Desember 2006 stap vir stap geleer. Jesus is die volmaakte voorbeeld van iemand wat op aarde volgens die wil van sy Vader gelewe en gesterf het sodat ons verlos kan word van sonde en alles wat ons op aarde bind. Deur Matteus 5 het ek besef daar is geen ander keuse nie as om my man en my pa te vergewe. Om vas te klou aan die verlede het my verhinder om te wees wie ek in Christus moes wees. Met ’n wrok en bitterheid in my hart sou ek ook sukkel om te verstaan wat my roeping op aarde is. In Matteus 5:22 staan elkeen wat vir sy broer kwaad is, is strafbaar voor die regbank. God het my gelei en ek het Matteus as ’t ware verslind. Dit was vir my die enigste duidelike riglyn. Die wonderlike dag toe ek die prokureur kon afdank, kon ek met my proses van vergifnis begin.
Ons gesinnetjie het baie gepraat en gebid oor hoekom ons moes vergewe; dat ons ook ter wille van onsself deur die proses moes gaan. Sonder vergifnis sou ons in die slote bly lê en nooit daar uitkom en sodoende skyn vir God se koninkryk nie. Ons het besef ons gaan swaar sakke vol ou gemors en bagasie saam met ons deur die lewe trek. Ons sou bly wonder hoekom ons lewens so saai en sonder visie is. Stadigaan het ek weer hoop begin kry en gesien ek en my kinders kon weer lag en soms sommer net onsself wees – al was dit net vir kort oomblikke. Ja, die vergifnisproses duur langer as een dag. Dit is ’n wilsbesluit en ’n daaglikse lewenstaak.
Op ’n dag het God die pynlike proses waardeur ons moes gaan baie duidelik gemaak. Ek het toe vir die eerste keer besef elke mens op aarde kry ’n kruisie om te dra. Wat anders sou dan die doel van ons aardse bestaan wees? Net lekkerte en vet pret? Ek kan nou eerlik antwoord: Nee, asseblief