dat hulle opgehou het om deel te wees van God se plan vir die mensdom, en nou vervang is deur ’n “geestelike Israel” wat nie van Joodse oorsprong is nie (die kerk). Die Bybel verkondig nie die vervangingsteologie nie.
Israel was, en is nog steeds, ’n seën vir die wêreld omdat die Woord van God aan hulle toevertrou is (Rom 3:2), en veral ook omdat Christus, die Verlosser van die wêreld, as ’n lid van die stam van Juda in Israel gebore is (Luk 3:23-31; Rom 9:4-5). Die verlossing wat deur hulle geweier is omdat hulle die Messias verwerp het, is gedurende die afgelope twee millennia aan die nie-Joodse wêreld gebied. Dit beteken dat Israel in hulle gevalle toestand reeds ’n seën vir ons is. Paulus maak ook die belangrike opmerking dat indien Israel gedurende hulle geestelike blindheid al ’n seën vir ons was, hoeveel te meer sal hulle nie ’n seën wees vir die wêreld tydens hulle volheid as ’n ware Messiaanse volk nie! (Rom 11:11–12).
In die tussentyd, in afwagting op hulle geestelike herlewing as ’n volk tydens die tweede koms van die Messias, moet ons aan Israel wys wat die werklike en blywende verskil is wat die verlossing van die Messias in ’n gelowige se lewe kan maak. Terwyl ons ’n studie maak van die Ou-Testamentiese feeste, wat God se feeste is en nie ’n uitvindsel van Israel nie, moet ons die Messiaanse simboliek van die feeste aan die verbondsvolk verduidelik.
Wanneer die boodskap van die feeste met die lewe en werke van Jesus van Násaret vergelyk word, verkry ons sterk bewyse dat al sewe die feeste hulle finale vervulling in Hom verkry. Vier van die sewe is reeds op ’n merkwaardige en onweerlegbare wyse vervul, en ons staan op die drumpel van die vervulling van die laaste drie wanneer Christus weer kom – eers om sy bruid te kom haal en daarna om die wêreld te oordeel en die oorblyfsel van Israel en die nasies te red.
1. Chumney, The seven festivals of the Messiah, p 1
2. Parsons, The Festival of Sukkot: The Feast of Tabernacles, p 4
3. Downie, Harvest Festivals, p 53
2
Die vertolking van Bybelse profesieë
Elke Christen is daartoe verbind om eerbied vir Bybelse profesieë te hê en hom- of haarself aan die bestudering daarvan toe te wy. Petrus sê:
En ons het die profetiese woord wat baie vas is, waarop julle tog moet ag gee soos op ’n lamp wat in ’n donker plek skyn, totdat die dag aanbreek en die môrester opgaan in julle harte; terwyl julle veral dít moet weet, dat geen profesie van die Skrif ’n saak van eie uitlegging is nie; want geen profesie is ooit deur die wil van ’n mens voortgebring nie, maar, deur die Heilige Gees gedrywe, het die heilige mense van God gespreek.
– 2 PETRUS 1:19–21
Vier baie belangrike beginsels wat ons moet eerbiedig, blyk uit hierdie gedeelte:
Eerstens het Bybelse profesieë ’n vaste boodskap oor die toekoms. Petrus sê die profetiese woord is baie vas en ons móét daarop ag gee. Dit is nie menslike spekulasie nie, maar ’n betroubare woord wat beslis in vervulling sal gaan omdat die hoogste gesagspersoon in die heelal, God self, hierdie woorde gespreek het. “God is geen man dat Hy sou lieg nie; of ’n mensekind dat dit Hom sou berou nie. Sou Hý iets sê en dit nie doen nie, of spreek en dit nie waar maak nie?” (Núm 23:19). Sy Woord is die waarheid (Joh 17:17), daarom is daar by Hom “geen verandering of skaduwee van omkering nie” (Jak 1:17). Hy het die toekoms in sy hand en nie een van sy beloftes of waarskuwings sal onvervuld verbygaan nie – in Jesus Christus sal hulle almal vervul word (2 Kor 1:20).
Tweedens is Bybelse profesieë absoluut uniek en in ’n kategorie van hulle eie. God het dit deur sy Heilige Gees aan mense bekendgemaak en in sy Woord laat opteken. Hierdie inligting moet van alle ander profesieë onderskei word. Buite-Bybelse profesieë dra nie ’n goddelike stempel van egtheid en waarheid nie omdat hulle óf menslik óf selfs okkulties van oorsprong mag wees. Profesieë van hierdie aard word nie van ’n studie van die profetiese woord in die Bybel afgelei nie, maar het hulle oorsprong in drome, visioene, waarsêery, fortuinvertellery, vreemde stemme wat met mense praat, en ook van buite-Bybelse profete en sieners soos Nostradamus en ander. Baie volke het hulle eie profete wat die gesag van die Bybel ignoreer en vir hulle profeteer oor wat hulle graag wil hoor. Soms word buite-Bybelse profesieë aan die Bybel gekoppel om meer geloofwaardigheid daaraan te verleen – dan raak dit nog meer misleidend. Bybelse profesieë het net een oorsprong: “… deur die Heilige Gees gedrywe, het die heilige mense van God gespreek” (2 Pet 1:21). Bybelskrywers het onder die direkte inspirasie van die Heilige Gees profesieë uitgespreek en neergeskryf. Hierdie direkte openbarings het in die jaar 95 nC, ná die skryf van die boek Openbaring wat die laaste Bybelboek is, opgehou. Die volle raad wat God aan ons wou openbaar, is in die Bybel opgeteken (vergelyk Hand 20:27). Ons moet nét die Bybel vir inligting oor die toekoms raadpleeg.
Derdens is Bybelse profesieë nie ’n saak van eie uitlegging nie. Geen mens op aarde – al is hy ook hoe hooggeleerd – kan self, volgens eie insig, die profesieë van die Bybel uitlê nie. Hierdie profesieë is deur die Heilige Gees gegee, daarom kan net Hý jou in die hele waarheid lei en aan jou verligte oë van die verstand gee om die betekenis van sy woorde te verstaan (Joh 16:13; Ef 1:18). Jy móét dus weergebore wees en onder die leiding van die Heilige Gees die Woord bestudeer voordat jy die ware betekenis daarvan sal begryp. Selfs al is jy weergebore, moet jy seker maak dat jou vertolking van die profesieë nie deur die kerkvaders of teoloë van jou denominasie beïnvloed word nie. Hulle kan ook verkeerd wees, en as jy hulle sienings navolg, word jy nie noodwendig deur die Heilige Gees gelei nie. Dit is opvallend dat mense wat nie die werklike betekenis van die profetiese woord verstaan nie, daartoe oorgaan om vreemde uitleggings daarvan aan te bied. Omdat dit nie regtig vir hulle sin maak nie, besluit hulle om nie die profesieë ernstig en letterlik op te neem nie, maar om simboliese of allegoriese verklarings daarvoor te gee. In werklikheid is dit ’n aanduiding van ongeloof in die profetiese woord, want hulle wil nie glo dat daar aan die einde van hierdie bedeling ernstige verval in die Christendom én in die wêreld plaasvind; dat Israel in tye van groot benoudheid en vyandigheid in hulle eie land herstel word; dat daar ’n Antichris en ’n groot verdrukking kom; dat die ware gelowiges die verdrukking sal ontvlug; en dat die Here Jesus ná sy wederkoms ’n duisendjarige vrederyk op aarde sal vestig nie. Hulle vergeestelik eerder die Bybel om van hierdie konkrete feite af weg te kom en sodoende ruimte vir hulle eie standpunte te skep, wat as teologiese tradisies van een geslag na die ander oorgedra word.
Vierdens, sê Petrus, moet ons die profetiese woord bestudeer totdat die môrester in ons harte opgaan. Die môrester dui volgens Openbaring 22:16 op die Here Jesus, en meer spesifiek die feit dat Hy weer kom. Die môrester verskyn in die laaste nagwaak en verkondig die boodskap dat die nag byna verby is. Vir Christene is hierdie boodskap die toekomsverwagting dat Jesus Christus weer kom en dié keer as die Son van Geregtigheid die hele wêreld sal verlig en sy vrederyk hier sal vestig. Nou is dit geestelik gesproke nog donker, maar weldra sal die nag van sonde en ongeregtigheid verby wees en ewige geregtigheid aanbreek. Het die môrester van hoop en die blye verwagting van die Here Jesus se koms al in jou hart opgegaan? Indien nie, dan moet jy die Bybelse profesieë oor die eindtyd en die wederkoms van Christus intensief bestudeer. Sonder hierdie kennis kan jy nie daarop aanspraak maak dat jy ’n ingeligte Christen is wat in alle opsigte in die lig wandel en jou tydsomstandighede reg verstaan nie. Met die môrester in jou hart maak jy jouself los van die huidige, goddelose wêreld en bou aan ’n koninkryk wat nou nog verborge is, maar binnekort op aarde geopenbaar sal word wanneer die Koning kom.
TIPOLOGIE
Afgesien van Bybelse profesieë is daar ook verskeie tipes in die Ou Testament wat ’n voorafskaduwing is van Nuwe-Testamentiese persone of gebeurtenisse. In sy voorwoord vir Hugh Downie se boek4 oor Israel se oesfeeste sê J Boyd Nicholson dat die studie van tipologie op sekere persone, voorwerpe en gebeurtenisse toegepas kan word. In Romeine 5:14 word dit duidelik gestel dat “Adam … ’n voorbeeld is van Hom wat sou kom.” Hy is dus ’n tipe van