mense: “Want soos hulle almal in Adam sterwe, so sal hulle ook almal in Christus lewend gemaak word” (1 Kor 15:22). Daar is baie ander Ou-Testamentiese persone wat tipes van Christus was, byvoorbeeld Melgisédek (Heb 6:20), Josef, Moses, Josua en Dawid.
Verder is daar verskeie Ou-Testamentiese gebeurtenisse, voorwerpe en gebruike wat ook van groot tipologiese en profetiese betekenis is. Israel se verlossing uit hulle slawerny in Egipte is ryk aan voorbeelde en tipes wat dui op die Nuwe-Testamentiese verlossing van ’n verlore mensdom uit die geestelike tirannie van Satan. Die eerste Pasga is in Egipte gevier, en die paaslam was ’n duidelike tipe van Christus: “… want ook ons paaslam is vir ons geslag, naamlik Christus” (1 Kor 5:7; vergelyk 1 Pet 1:18–19). Verskeie van die ondervindings van Israel gedurende hulle uittog was ook skaduwees van God se toekomstige handelinge met mense, en om daardie rede word gelowiges onder die Nuwe Verbond terugverwys na hierdie gebeurtenisse en ondervindings vir verdere onderrig:
Want ek wil nie hê, broeders, dat julle nie sou weet nie dat ons vaders almal onder die wolk was en almal deur die see deurgegaan het, en almal in Moses gedoop is in die wolk en in die see, en almal dieselfde geestelike spys geëet het, en almal dieselfde geestelike drank gedrink het, want hulle het gedrink uit ’n geestelike rots wat gevolg het, en die rots was Christus … Al hierdie dinge het hulle oorgekom as voorbeelde (Grieks tupos) en is opgeskrywe as ’n waarskuwing aan ons op wie die eindes van die eeue gekom het.
– 1 KORINTHIËRS 10:1–4, 11
Die tipologie is baie duidelik. Deur Moses te volg wat vir Israel uit Egipte gelei het, is hulle in Moses gedoop, en sodoende verenig met hulle geestelike leier wat die middelaar was van die Ou Verbond. Op soortgelyke wyse word ons in Christus gedoop, wat die Middelaar is van die Nuwe Verbond. Die voedsel wat Israel geëet en die water wat hulle in die woestyn gedrink het, is bonatuurlik voorsien en verwys dus na die geestelike voeding van God se volk. Vir ons is Christus die brood en water van die lewe. Die gekliefde rots verwys na Jesus Christus – Hy is die Ewige Rots wat vir ons geklief is, terwyl die stroom water wat uit die rots gevloei het, na die Heilige Gees verwys (Joh 7:37–39).
Verskeie ander tipes is ook vir die stigting van Israel en die Nuwe-Testamentiese gelowiges gegee: “Soos Moses die slang in die woestyn verhoog het, so moet die Seun van die mens verhoog word, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê” (Joh 3:14–15). Christus het ons van die vloek van die Slang verlos deur aan die kruis vir ons ’n vloek te word (Gal 3:13). Deur in die geloof na Hom op te kyk, word ons geestelik lewend gemaak terwyl God se geregtigheid saam met die ewige lewe aan ons toegereken word.
Die tabernakel, sowel as die tempel wat veel later gebou is, was ook ryk aan simboliek en tipologiese aktiwiteite wat na die Messias verwys het, na sy offer vir sonde, en sy goddelike eienskappe as die lig van die wêreld en die brood van die lewe. Die daaglikse gebede voor sy genadetroon is ook deur die tempeldiens voorafgeskadu. AB Simpson5 sê:
Die tabernakel is die uitnemendste van al die Ou-Testamentiese tipes van Christus. Dit was een groot les in geestelike waarheid. In sy wonderlike meubels, in die priesterlike orde en die vorm van aanbidding en diens, sien ons so duidelik soos nêrens anders nie, die heerlikheid en genade van Jesus en die voorregte van sy verloste volk … In hierdie voorbeeld wat Moses op die berg gekry het (Ex 25:8–9) verkry ons ’n baie goeie begrip van die heerlike tempel waarvan Christus die hoeksteen is en ons soos lewende stene opgebou word “tot ’n geestelike huis, ’n heilige priesterdom, om geestelike offers te bring wat aan God welgevallig is deur Jesus Christus” (1 Pet 2:5).
Downie6 sê: “Die tipologiese deel van die Bybel is net so belangrik soos die historiese, biografiese, profetiese, poëtiese, leerstellige en praktiese dele. Almal is nodig om ’n volledige Bybel te kan hê, en almal van hulle is noodsaaklik vir ’n goeie en breedvoerige begrip van die waarhede van God.”
Wanneer ons ’n studie van Bybelse tipologie doen, moet ons twee algemene gevare vermy. Eerstens is daar die gevaar verbonde aan die verontagsaming van tipologie deur dit nie in terme van die Nuwe-Testamentiese vervulling daarvan te ondersoek nie. Tweedens is daar die gevaar van die oordrywing van ’n tipologiese vergelyking deur ongeregverdigde afleidings te maak. Daar is aspekte van die tipe wat nie op die teenbeeld toegepas kan word nie. Alle onwerklike en eiesinnige vertolkings moet vermy word en daar moet getrou by die Skrif gebly word.
Komplekse scenario’s word soms gebruik as tipes van soortgelyke toekomstige situasies: “En soos dit gebeur het in die dae van Noag, so sal dit ook wees in die dae van die Seun van die mens: hulle het geëet en gedrink, hulle het getrou en is in die huwelik gegee tot op die dag dat Noag in die ark ingegaan het, en die sondvloed gekom en almal vernietig het. Net soos dit ook gebeur het in die dae van Lot: hulle het geëet en gedrink, gekoop en verkoop, hulle het geplant en gebou. Maar op die dag toe Lot van Sodom uitgaan, het vuur en swawel van die hemel af gereën en almal vernietig. Net so sal dit wees in die dag wanneer die Seun van die mens geopenbaar word” (Luk 17:26–30).
Wanneer hierdie tipologie bestudeer word, en spesifiek ook die uiterste vorm van sonde, is dit duidelik dat daardie vroeë gemeenskappe openlik gerebelleer het teen die gesag van God en ook teen sy aandrang om moreel ordentlike lewens te lei. Daardeur het hulle die toorn van God ontlok wat oor hulle uitgestort is. In die eindtyd sal daar ’n soortgelyke situasie ontstaan. Aangesien die verdorwenheid van die tyd van Noag en Lot tipies is van die geestelike, morele en sosiale verval van die laaste dae, kan die volgende korrelasie tussen die historiese en eindtydse situasies gemaak word:
• In die tyd van Noag en Lot het anargie geheers omdat mense in daardie wettelose samelewings gedoen het net wat hulle wou. Geweld was die mees algemene manier om geskille te besleg en doelwitte te bereik (Gen 6:13; 19:9). So sal dit weer wees.
• In die tyd van Noag en Lot was daar grootskaalse geestelike en morele verval omdat feitlik almal vrye teuels aan hulle verdorwe natuur gegee het. Die versinsels in mense se harte was altyddeur net sleg (Gen 6:5; 19:5). Dit sal weer so wees.
• In die tyd van Noag en Lot was mense totaal materialisties en het permissiewe en losbandige lewenstyle aanvaar, waaronder ook sodomie (afgelei van Sodom). Dit sal weer so wees.
• In die tyd van Noag en Lot het die algemene publiek met die manne van God gespot en hulle glad nie aan profetiese waarskuwings oor die oordele van God gesteur nie. Hulle het dit as belaglike en vergesogte stories afgemaak en met hulle roekelose lewenswyse van vleeslike genietinge en hebsug voortgegaan. Dit sal weer so wees.
• In die tyd van Noag en Lot het die Here die vervalle sondaars ’n billike tyd gegee om hulle van hul bose weë te bekeer. Hulle wou dit egter nie doen nie en het daardeur hulle eie lot verseël. Niemand anders behalwe hulleself kan vir hulle ondergang en ellende geblameer word nie. Dit sal weer so wees.
• In die tyd van Noag en Lot het God op ’n kritieke oomblik aan die gelowiges ontvlugting gebied deur hulle in ’n plek van veiligheid te stel voordat Hy die sondaars geoordeel het. Die volgorde is dus: profetiese waarskuwings van naderende oordele, daarna die beveiliging van die gelowiges wat op die herhaalde oproepe tot bekering gereageer het, en dan die oordele oor die sondaars. Dit sal weer so wees.
• In die tyd van Noag en Lot was daar onder die gelowiges nie plek vir vormgodsdienstige meelopers wie se harte nog aan wêreldse belange verknog was nie. Lot se vrou is ’n tipe van dié soort mense, en dit het op die laaste oomblik haar lewe gekos. Dit sal weer so wees.
• In die tyd van Noag en Lot het daar kort ná die beveiliging van die gelowiges ’n skrikwekkende toneel afgespeel toe God se genadetyd vir dié groep sondaars verbygegaan het. Dood en verwoesting is gesaai. Dit sal weer so wees.
• In die tyd van Noag en Lot het die sondaars nie besef hoeveel voorregte hulle geniet het as gevolg van die teenwoordigheid van ’n paar gelowiges in hulle midde nie. Die Here was bereid om ’n stad te spaar as daar net tien regverdiges in die stad was. Toe hierdie mense wat soos ligte te midde van ’n krom en verdraaide geslag geskyn het, skielik weggeneem is, het dit vir die goddelose wêreld waarin hulle gewoon het, nag