gepraat het – dat jy met die persoon wat die koor hanteer wil gesels. Dat jy met jou musiekagtergrond dalk tot hulp kan wees. Ek het ook genoem dat jy miskien met van die gevangenes sal wil gesels, hoor waarmee hulle besig is met die koor, en vra waar jy dalk ’n inset kan lewer. Ook gesê jy sal dalk nog gevangenes kan oorhaal om koor te sing, dis altyd iets wat die Korrektiewe Dienste hoog aanslaan. Die hoof het ingestem tot jou besoek. Maar dis steeds ’n moeilike posisie waarin ek my plaas; wees asseblief versigtig met wat jy doen. Onthou, sekuriteit en sekerheid is prioriteit binne die hekke van die tronk.
“Jy kan dus praat met die inmates, ek het so gereël – met Mostert ook, as sy sou wil. Maar net in die algemeen, en jy móét eers die beampte se toestemming hê. En jy kan beslis nie op hierdie stadium reeds met Mostert alleen ’n gesprek hê nie. Dit val net te vreemd op.
“Kry eers ’n gevoel van die hele opset, dit sal in elk geval goed wees as jy al die verskillende afdelings besoek. Dit sal jou help om te sien wat aan die binnekant aangaan, en dit sal jou ook help om Mostert beter te begryp. Dis te sê ás sy later toestem dat jy met haar gesels.”
In die afgelope weke voel dit vir Maggie of sy voortdurend aan geestelike vertigo ly. Dinge wat moet stilstaan, beweeg rondom haar en andersom. Maar uitstel kan sy nie nou nie; dalk is dit die enigste keer dat sy Bea sal sien. As sy klaarkry hiermee en dan nie verder kans sien nie, kan Mignon haar nie kwalik neem nie.
Sy maak die lêer op die lessenaar weer oop. Die koffie uit die beker in haar ander hand spat oor die blad; sy vee die bruin druppeltjies ongeduldig met haar hand af. Die papiere het geen definitiewe volgorde nie. Dit lyk of die polisie toe hulle klaar na die stukke gekyk het dit sommerso lukraak teruggeprop het.
’n Handskrifdeskundige sou waarskynlik min of meer die ouderdom kon vasstel waarop Mignon wát geskryf het, maar ook in stukke wat sy kennelik nie lank voor haar dood geskryf het nie, is daar soms kinderlike handskrif, wanordelike skewe letters. Regressie. En partymaal die harde kragwoorde en verwensings soos dit soms ook uit haar mond gespat het.
Waar is die Mignon van Laerskool De Kuilen – die goue-sterretjie-kind? Die tien-uit-tien-vir-skrif-dogtertjie? Die nimmer-lelikpraat-Getuietjie?
Maggie wens sy kon die tyd tussenin uitwis, Mignon gaan haal voor sy saam met haar ouers weggery het uit Kuilsrivier daardie dag. Sy trek ’n groenerige papier uit die lêer; dis die agterkant van ’n gekanselleerde dokument waarop geskryf is.
Wat neuk ek om nog meer te lees en neer te skryf? Dalk om na te kyk wanneer ek verlang, wanneer ek wens om iemand van vroeër te sien – sodat ek my dan kan staal, dat ek weer kan weet hoe korrup dit was. Russell met sy wonderkoringsaad – verkoop aan die gullibles teen ’n dollar ’n pond, met die belofte van ’n opbrengs soos nooit tevore nie, liewe Broers en Susters!
Sodat ek kan onthou hoe sy getroue, onnosele agterryers hom bygestaan het toe hy deur die Brooklyn Daily Eagle aangekla is. Die arme Charles, sies tog, hy was eintlik self die slagoffer van swendelary!
“Inkvis,” dis wat hy homself genoem het, hy het gevat wat hy kon – met tien pote wat kon gryp. Die drukkery, die boeke wat hy geskryf het, alles het net om homself gedraai. Die gewone Getuies moes sy vuilwerk doen, die smouswerk. Self die nie-Getuies wat die bouwerk aan Beth Sarim gedoen het, moes help verkoop. En later, liewe bliksem, later het hy hulle sommer ouderlinge gemaak. Mense wat niks van die Getuies geweet het nie. Enigiemand wat vir hom geld kon inbring, was goed genoeg.
Wil jy geld maak in Amerika? Word ’n Talk Show-aanbieder. Nee, wat van ’n nuwe dieet? Nog beter: Stig ’n nuwe kerk! Oprah, my Saviour! Oh, Doctor Phil, my Messiah! Hel. Kon Ma en Pa dan nie gesien het hoe fake alles is nie? Of een van my broers of susters later – Alexa? Et tu, Brute? Waar is jy tog?
Dis vele Mignons wat sy hoor. Die regsgeleerde wat die bedrog peil; die skerp ontleder, die ondersoeker na die valsheid. Die siniese volwassene wat die woede soms soos lawa oor die feite uitstort. Soms, ’n enkele keer of twee, die kind op die skoolterrein. Die froetang-etertjie.
Sy kyk op die horlosie. Dis nog maar sesuur. Toe sy klaar gestort en aangetrek het, is dit steeds te vroeg om te ry vir haar afspraak by die Worcester-gevangenis.
In die huis kan sy dit nie meer uithou nie. Sy ry na die naaste sentrum. Mall. Daar is niks soos ’n mall om haar te bedruk nie, maar dis die enigste plek waar sy teen aguur iets gaan kry om te drink. Cappuccino. Die toebroodjie wat sy afgesluk het met die swart koffie by die huis, sit in haar keel.
Haar koppie is te vinnig al leeg; dis net die skuimrandjies wat bo teen die dun porseleinwand kleef. Die kelner skuif ’n swart toevou-omslag voor haar in nadat hy nog ’n koppie op haar probeer afdwing het en sy hom nie sy sin wou gee nie.
Sy kyk op. Dis ’n jong mannetjie met netjiese swart hare, kort geknip; sy wange het ’n hoogrooi blos.
Op die rekening, boaan, is ’n versie as toegif: Lukas18:1 – Jesus het vir hulle ’n gelykenis vertel om duidelik te maak dat ’n mens altyd moet aanhou bid sonder om moedeloos te word.
Die jong man staan eenkant en wag dat sy die geld in die omslag moet sit. Is hierdie nou weer ’n bedekte skimp, iets om te suggereer dat hy eintlik op die randjie van moedeloosheid huiwer en dat hy geld nodig het, dat daar ’n groter fooitjie moet wees?
En as hy werklik opreg is met hierdie boodskappie wat hy vir mense aandra, is dit die plek en die tyd om dit te doen? Jesus loves you staan daar op die plakkate waarmee mense by die robotte staan en bedel. God seën u.
Sy weet nie. Die CSV-kringleiers van haar hoërskooltyd was daarop uit om almal ten alle koste te laat “getuig”. Of jy introvert of ekstrovert was, hakkelaar of redenaar. Maar niemand het hulle darem gekontroleer nie. Vir die Getuies was en is daar geen verskoning nie. Jy moet getuig om gered te word. Mignon was honend daaroor.
“Jóú kerk het gesê almal is klaar gered – vir wat moes ons so hard probeer, soveel deure in ons gesigte toegeklap kry? Nope. Daar is niemand wat jy kan glo nie, nie een nie.”
Maggie skuif die geld in die swart omhulsel. Die cappuccino het R18,50 gekos. Sy los ’n R20-noot; voel skuldig. En vies. Los my net, wil sy vir die man sê: alles is nie so eenvoudig soos wat jy dink nie. Van die lewe weet jy nog niks nie. Van mense soos Mignon en Bea begryp jou brose hartjie geen snars nie.
Die mis in die Du Toitskloofpas hang laag, byna tot teenaan die pad. Dit hou haar op, en toe sy Worcester eindelik inkom, ry sy verkeerd. ’n Paar keer moet sy vra voordat sy die regte pad verby PG Glass kry wat regs na die Worcester-gevangenis uitdraai.
By die sluithefbome voor die geboue word sy voorgekeer. “Mevrou moet Mevrou se karretjie daar in die parking area los.” Die sekuriteitsman het ’n vriendelike voortandlose glimlag.
“Het Mevrou Mevrou se selfoon in die kar gelos?” Sy het, ja. Jan Staal het haar dit op die hart gedruk.
Links van haar lê die tuine en grasperk. Randakkertjies met petunias en sierplantrissies. Nie ’n blaartjie waar hy nie hoort nie.
Sal sy kan raai watter een van hierdie vroue Bea Mostert is? Sal sy kan waag om te vra? Sy hoor haar eie hartklop soos wat sy aanstap na die baksteengebou regs. Sy weet nie hoe die gevangenes daar sal uitsien nie. Kry ’n mens in ’n tronk die kans om jouself te versorg? Het die mense toegang tot iets basies soos gesigsroom? Van die binnekant van hierdie afgeslote lewe weet sy niks.
Haar hande is natgesweet. Dit lyk nog nie na tronk nie, maar links binne sien sy die hek. Sy loop eers na regs waar die beamptes sit wat besoekers moet laat inteken; hulle vergewis van wie binnekom en die motiewe van diegene wat die inmates besoek.
Die vrou by die intekenboek beduie haar na die staaltraliehek. ’n Vrou in uniform sluit vir haar oop en ’n tweede beampte begin haar teen die sye af te tas; die soekstok beweeg langs en tussen haar bene, onder haar arms, oor haar bors en rug.
“Sorry, Mevrou, dis nou maar prosedure.”
Agter haar slaan die hek toe. ’n Enorme braaivleisrooster. Grys geverf. Kry die mense hier ooit iets soos braaivleis? Ruik hulle dit selfs ooit?
“Geen selfoon nie? Gevangenes mag nie met die