hy. Ons het intussen ook by die reisagent vasgestel dat hy slegs die minimum deposito op sy kaartjie betaal het en die res oor ’n maksimum periode afbetaal.”
Petri raak koud toe sy die implikasies besef. Tog weier haar verstand om dit te aanvaar en soek sy uitkomkans. “Baie mense koop reiskaartjies op skuld. Dis nie te sê dat hulle nie van plan is om die balans te betaal nie.”
“In sy geval wel.”
“Hoekom sou hy tot op die laaste nippertjie gewag het om versekering uit te neem as hy iets beplan?”
“Praat sagter en drink jou tee,” maan Janine. “Ons wil nie slapende honde wakker maak nie. Moontlik het hy vooraf by ander versekeringsmaatskappye ook assuransie uitgeneem. Of dalk was hy bang sy vrou vind uit wat hy doen, kry snuf in die neus en probeer hom keer. Soos blykbaar wel die geval was, behalwe dat sy te laat was.”
“Tweemiljoen? En dan skaars genoeg geld vir die premie op honderdduisend? Dit rym nie.”
“Hy maak dalk nie resitasietjies nie.”
“Hoe het sy vrou uitgevind?”
“Ek weet nie.”
“Sy kon haar misgis het. Of hierdie is dalk ’n ander meneer G.J. Botha.”
“Jy is ’n optimis. Kan wees, maar daar is te veel toeval dat ons houtgerus kan wees. Jy sê jy het gisteraand met die man gesels?”
“Eintlik net gepraat. Hy is nie gesellig nie. Vanoggend het hy my geïgnoreer, net voor hom sit en staar met die teddiebeer op sy skoot. Hy wou ook nie eet nie.”
Janine het ook die ou oom so gesien – albei arms styf en beskermend om die beertjie, asof dit ’n baba is.
“Foei tog, ’n mens moenie oordeel nie,” merk Petri op. “Dalk het hy nie kinders nie.”
“Ek ken mense wat honde as hul kinders beskou, maar ’n stuk dooie speelgoed? Meer as getik. Koekoes as jy my vra. Jy sê hy wou niks eet nie?”
“Ek dink omdat daar nie plek was om die tafeltjie oor sy skoot af te slaan nie. Hy het ook niks gedrink nie, net kort-kort in sy sak gepeuter.”
“Baadjiesak?”
“Nee, kajuitsak.”
“Waar is die sak?”
“Dis te groot vir die hoederak. Hy het dit onder sy sitplek ingeskuif.”
“Ja, ek het dit ook netnou opgemerk. Dit steek halfpad uit tussen sy voete en dié van die vrou langs hom.”
“Moet ek die sak probeer skuif?”
“Nee! Onder geen omstandighede nie. Moenie eers daarna kyk of dit hoegenaamd aanraak nie. Ons weet nie wat binne-in is nie. ’n Bom of handgranate of wat nie. Al sê jy hy is ongesellig, is jy die enigste een wat kontak met hom gehad het. As ek of Johan instorm, gaan hy lont ruik. Jy is die aangewese een wat met hom moet gaan gesels – kalm en vriendelik en doodnormaal.”
Petri se keel is droog, die soort droog waarvoor tee nie help nie. “Wat moet ek probeer uitvind?”
“Enigiets van nut wat kan aandui wie en wat hy is.”
Petri vee haar klam handpalms aan haar romp af. “Ek is bang ek vang ’n gemors aan.”
“Jy sal nie. Gesels normaalweg oor koeitjies en kalfies. Of hy met vakansie gaan, hoe lank, of hy al voorheen op Las Palmas was. Wat hy doen, of hy getroud is, of hy kinders het, ensovoorts. Niks aardskuddends nie – soos met ’n gewone passasier. Sien jy kans?”
Petri knik. “Ek dink so. Ek hoop so.”
“Probeer sy aandag aftrek en sodoende tyd wen. Ons land oor twee uur, dan klim hy af en is die krisis verby. Met afdoende bewyse kan ons vra dat hy op Las Palmas aangehou en sy bagasie deursoek word.”
“Goed.” Petri bêre die koppies, dankbaar om te sien haar hande is nie te erg bewerig nie.
“Kuier hier en daar, werk dan stadig en geleidelik jou pad agtertoe tot jy op twee-en-veertig C kan konsentreer,” gee Janine raad.
“Het ek tyd?” Petri huiwer. “Twee uur voor landing, maar ...”
“Maar wat as hy besluit om binne twee minute die vliegtuig op te blaas?” voltooi Janine. Ook sy lyk senuagtig en minder selfversekerd. “Ons weet nie. Rapporteer onmiddellik indien jy bruikbare inligting bekom.”
Petri het na raad en vermanings geluister. Maar die teorie en die praktyk verskil. Hoe haas ’n mens jou langsaam met struikelblokke langs die pad?
35A vra lemoensap. 37B het ’n vuil koppie waarvan hy ontslae wil raak. Daarna kom Nico, wat uit liefde meer skade as goed doen.
“Hallo, engel. Ek dag jy het my vergeet?”
“Hoe kan ek, ná gisteraand?”
“Ek dag dis juis as gevolg van gisteraand ...”
“Nee.”
“Nog lief vir my?”
“Ja.”
“Sonder teëstribbeling, ruiterlik erken? Dis te maklik.” Nico frons. “Wat is verkeerd, Petri?”
“Niks nie.”
Hy ken haar te goed, merk dadelik die bekommerde trek om haar oë, die hand wat telkens na haar bloes se kraag voel – dieselfde onwillekeurige gebaar wat hy leer ken het as sy handrug ongeslaag was of as hy besig is om te veel dubbelfoute te maak.
“Wat is fout?” herhaal hy.
“Niks nie. Wil jy nog koffie of lemoensap hê?”
“Eerder vir jóú.”
“Die prys van ’n reiskaartjie koop ’n sitplek, nie die lugwaardin nie,” herinner Petri hom.
“Wat koop haar gawes? ’n Trouring?”
“Ons gesels later. Ek is ’n bietjie haastig,” skerm sy.
Nico hou op terg. “Roep as jy my nodig het of daar iets is waarmee ek kan help.”
“Dankie, Niek. Ek sal jou by jou aanbod hou.”
Petri kuier by 41F en bewonder die tjalie wat die vrou hekel en die stapel foto’s van haar kleinseun op Brighton, wat al ’n maand oud is sonder dat sy ouma hom gesien het ...
Dan is sy by 42C.
“Hallo, meneer Venter,” groet sy vrolik, hopende dat haar strategie werk. Indien dit lyk asof hulle nie weet wie hy is nie, sal dit hom meer op sy gemak stel.
Hy korrigeer haar nie en groet nie terug nie.
“Iets vir u? Tee? Koffie?” Sy kry selfs ’n ligte nooit in. “Vonkelwyn of ’n lugsiekpilletjie?”
Hy staar stom voor hom.
Petri probeer weer. “Het u die rolprent geniet?”
“Wat?”
“Die rolprent. ’n Dame vertel my sy het destyds toe hierdie rolprent gedraai het, hom misgeloop. Al rede hoekom sy op die vlug is, is sodat sy die rolprent kan sien. Nogal ’n duur fliek ...”
Steeds is daar nie antwoord nie. Net die stug gesig en die vingers wat aanhoudend teen die armleuning trommel.
“Gaan u met vakansie, meneer Venter?” verneem Petri.
Dit lok ’n reaksie uit. “Wat vra jy so baie vrae?” wil hy verdedigend weet.
“Driekwart van die mense op die Boeing gaan met vakansie. Las Palmas is pragtig, met palmbome en wit strande. Die winter- en somertemperatuur wissel nooit meer as vier grade nie. Was u al voorheen daar?”
“Nee.”
“Gaan u by u kinders of familie kuier?”
Die vingers hou op trommel, vee oor sy mond. “Hoe