die wollerige, oranje teddiebeer te druk om die sweet te absorbeer.
“Ek het nie meer kinders of ’n vrou nie.”
Dus kan dit nie sy vrou wees wat gebel het nie.
Petri sou beter gevoel het as sy stem nie onverwags gebewe en op die laaste woord gebreek het nie, as sy nie skielik besef het dit is nie net sweet nie – deel van dit wat hy kort-kort afvee, is ’n nattigheid agter die dikraambril. Sy sou ook meer gerus gevoel het as hy nie die woord “meer” bygevoeg het nie ...
Die dreuning van die vier JT9D-7 Pratt-en-Whitney-motore klink plotseling vreemd. Sagter, meer gedemp en minder skril.
Aan die hol kol op haar maag en die drukking teen haar oortrommels kom Petri agter dat hulle besig is om te daal.
Sy kyk op haar horlosie. Dié is op Greenwich-tyd plus een uur, ingestel – volgens die Kanariese Eilande wat ’n uur agter Suid-Afrika is. Tensy haar horlosie se battery pap is, weet sy nie hoe hulle nou al vir landing gereed kan maak nie.
Die man op 42C kyk ook op sy horlosie – die soveelste keer in vyf minute. Soos gisteraand, besef Petri. Sy moet dit ook onthou en noem, saam met die bleek gespannenheid, die sweet en emosionele toestand.
“Hoe laat is dit?” vra meneer Botha.
“Twintig oor twee.”
“Op die kop?”
“Negentien minute oor twee,” gee sy toe om hom gelukkig te hou.
Dié keer vroetel hy met die teddiebeer voordat hy dit weer styf met albei hande op sy knieë vashou.
Hy lyk so verlore en hartseer, Petri kry hom jammer. Sy wil hom van haar budgie vertel. Van Willempie met sy krom snawel wat vir haar ook soos ’n kind is, wat by die bure moet bly wanneer sy op ’n vlug weg is.
Maar agter haar in die kombuis hoor sy ’n klokkie lui, dringend en aanhoudend. Aan die oranje lig teen die dienspaneel sien sy dit is die stuurkajuit wat roep, nie ’n passasier wat diens verlang nie.
Om die indruk van normaliteit oor te dra en vir die wis en die onwis ’n bondgenoot te skep, praat sy met die vrou langsaan op 42B.
“Enigiets wat u verlang? Nog koffie?”
“Parakalo?”
Petri probeer Duits en Frans.
“Parakalo?” herhaal mevrou Kasakis.
Grieks, lei Petri af. Sy onthou hoe sy en Nico in Athene saam sinsnedes gepapegaai het om dankie te sê, asseblief, goeiedag en goeienag.
“Kalimera,” groet sy.
Hannes Scholtz wink na haar. Hy praat gedemp, onderlangs. “Jammer, maar Marcelle en Mariëtte is besig. Die kaptein vra dat jy so gou moontlik na die stuurkajuit kom.”
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.