stilbly. “Ons sal jou later meer vertel. Ons toergids is op pad hierheen, sien ek.”
Tatiana is al feitlik langs hul tafel. “Hallo, almal,” koer sy, maar haar oë talm langer op Kyle Barrymore as op die vroue. “Ek vertrou julle keur die tafelplanne goed. Ons moet gelyke nommers aan tafels sit en toe het een en drie gepas. Ons sal dit waardeer as julle so kan bly, tensy julle werklik aandring en ons dit wel suksesvol kan herrangskik.”
“Nee, dis reg so,” sê Kyle. Hy kyk na Laura. “Pas dit jou, dokter?”
“Noem my Laura, asseblief. Ja, dis in orde, dankie. Mits dit julle ander pas.”
“Ja, wat,” sê mevrou St John gelate. Eudoxia sê niks. Haar dun lippe pers op mekaar.
Tatiana wip weg na die volgende tafel. Die kelner kom vra in geradbraakte Engels of hulle borscht – beetsop – of groentesop verkies.
“Ag nee, ek het mos gesê hulle gaan ons borscht voer,” kla Eudoxia. “Dit laat my aan bloed dink, so rooi!”
“Dis tradisioneel, en beet is mos maar rooi,” sê mevrou St John. “Liewer dit as groentesop.”
“Beetsop is vir my lekker,” sê Laura. “Ek sal graag daarvan neem, dankie.”
“Ek ook, ek hou daarvan.” Kyle glimlag sameswerend vir haar. Hy bestel Kaukasus-wyn en skink vir almal.
Mevrou St John proe en trek ’n suur gesig. “Dis nou nie Franse wyn nie.”
“Waar ek vandaan kom, in Suid-Afrika, maak ons ook baie lekker wyn,” sê Laura. “Maar ek gaan nie vergelyk nie. Hierdie wyn is heeltemal lekker genoeg. Dis mos Rusland. Dis anders hier.” Sy hoor Eudoxia onderlangs brom.
“Ons kry nogal Suid-Afrikaanse uitvoerwyn by die huis,” sê Kyle. “Ek het dit nog nie gekoop nie, maar wanneer ek terug is, sal ek nou beslis daarvan kry.”
Mevrou St John vra Laura indringend uit oor haar tuiste, familie, werk en omstandighede. “So, noudat jou man dood is, reis jy lekker rond,” merk sy einde ten laaste op. Sy laat dit klink asof sy dink Laura het geërf en nou verkwis sy haar erfgeld, speel die vrolike weduwee.
“Ek onderneem hierdie reis bloot omdat hý dit nog vir ons bespreek het. Albert sou wou hê ek moet kom. Ons het so baie daaroor gepraat en so uitgesien na alles. Hierna gaan ek aansoek doen om iewers in die Britse Eilande te locum. Ek ken baie mense wat uit Suid-Afrika soontoe is om te werk, tydelik of permanent. Dis ’n avontuur. Miskien moet ek Skotland toe gaan. Ek dink nie ek wil in Londen bly nie.”
“Wat van Ierland?” vra Kyle. “Ek weet dat baie dokters uit die buiteland daar kom locum. Noord-Ierland is baie mooi. Was jy al daar?”
“Ek was al in Dublin en die suide van Ierland, by die Ring of Kerry, en ek en my man het die Blarney-steen gaan soen.” Sy glimlag. “Hy het gespot dat die gift of the gab ons bedside manner sal verbeter.” Sy voel meteens ’n skerp steek hartseer toe sy die dag onthou, maar praat voort. “Dublin is dalk ook ’n moontlikheid.”
“Jy moet gaan waar jy lekker sal werk,” sê Kyle. “Jy sal tog nie ’n toeris wees nie. Kies vir jou ’n goeie hospitaal of praktyk, iewers waar jy tuis kan voel.”
2
Laura is uitgeput van die reis, die tekort aan behoorlike slaap en die opgewondenheid om uiteindelik in Rusland, wat haar verbeelding so aangryp, aan te kom. Sy besluit om vroeg te gaan inkruip. Dit word egter nie donker nie, is sy gewaarsku. Hierdie is die somertyd van die sogenaamde white nights, soos in die film waarin die beroemde balletdanser Baryshnikov gespeel het. Sy het die film gesien toe sy nog op skool was.
Op die kaai dwaal mense rond en ander loop op die dekke en rondkyk toe Laura ná ete na buite gaan. Dit kon netsowel die middel van die dag gewees het.
Dit is nie juis stil in haar kajuit nie, vind sy minute later, en die skip wieg saggies in die water. Laura trek die gordyne voor haar patryspoort toe, drink ’n slaappil en kry haarself so vinnig moontlik in die smal kajuitbed. Sy het afgeskaal van ’n dubbelkajuit na ’n enkelkajuit, nie bloot om die koste te verlaag nie, maar omdat ’n tweede, leë bed haar te veel aan Albert sou laat dink het. Ten spyte van die lig buite en die onrustigheid van die groot skip, raak sy feitlik dadelik aan die slaap.
* * *
Toe sy wakker word, sien sy bly dat sy nege ure lank geslaap het. Dis ’n rekord vir iemand wat gewoonlik met net ses tot sewe uur klaarkom. ’n Ruk lank lê sy en word eers behoorlik wakker, luister na die geluide rondom haar. Sy dink aan die vele lewens op dié skip, waarvan sy nou een uitmaak. Dan onthou sy wat sy gedroom het.
Kyle Barrymore was in die droom, nie Albert nie. Dit laat haar skuldig voel. Maar Kyle het haar vermy in die droom. Wanneer sy met hom wou praat, het hy weggedraai. Sy het verwerp gevoel.
Hy behoort aan ’n ander vrou, Laura, berispe sy haar nou in haar kajuitbedjie. Buitendien stel hy nie in haar belang nie. En sy stel nie in hom belang nie. Haar hart is nog te seer oor Albert.
Sy staan op, gaan stort en trek skoon ontspanningsdrag aan. Haar gunsteling blou langmouhemp, wat haar nog altyd gevlei het, pas mooi by haar jeans, wat ietwat los sit – sy’t gewig verloor sedert Albert se dood. Sy maak haar hare losserig vas en grimeer haar gesig liggies. Nou’s sy reg om die skip te gaan verken voor ontbyt.
Die skip is luuks genoeg, maar nie so uitsonderlik soos die reuseskepe van rederye soos die Princess Lines waarop sy al in Westerse waters gevaar het nie, dink Laura terwyl sy rondkyk. Sy en Albert het twee seereise op sulke skepe onderneem. Sy loop van heel voor tot agter op die dek en kyk na die geboue van Moskou. Die bemanning wat sy teëkom groet byna almal in Russies. Dit voel vreemd om niemand te ken nie, geeneen van die mense wat sy op die dek en kaai sien rondwandel nie.
Daar is ’n aantal duur boetieks op die skip, net voordat ’n mens die eetkamer bereik, en Laura kyk ingedagte na die amberjuweliersware. ’n Vrou van haar eie ouderdom, wat sy in die toergroep raakgesien het omdat sy altyd so kunstig lyk, met baie klingelende silwerarmbande, reusagtige silweroorringe en los kaftans, kom staan langs haar.
“Haai. Ek sien jy is ook only the lonely,” sê die vrou. “Ek het opgelet daar is nog ’n vrou van Stellenbosch op die toerlys, dis mos jy, nè? Ek is Laetitia Roux, ek’s kunsdosent by die universiteit. Ek het gedink as ek nie nóú op dié trippie kom nie, sal ek dit nooit in my lewe doen nie. Ek is geskei, sien, en niks kinders nie. Jou beurt.”
Laura glimlag. Sy hou sommer dadelik van dié vriendelike vrou. “Ek’s Laura Jansen, ek was tot nou ’n GP op Stellenbosch. My man en vennoot, Albert Bekker, is onlangs dood. Ek het die praktyk verkoop en nou doen ek eers dié reis, wat hy nog bespreek het. En ek beplan nog aan my toekoms.”
Laetitia kyk haar ondersoekend en simpatiek aan. “Haai, shame. Ek weet van ’n Bekker en Jansen-praktyk, maar ek is dokter Niemand se pasiënt. Jy lyk te jonk en mooi om ’n huisdokter te wees. Of jy dra jou jare besonder goed.”
Laura lag. “Nee, ek is al dertig.”
“Ek is dan vyf jaar ouer as jy. Ons is nog bloedjonk, man, ons moet vorentoe kyk en geniet wat te geniete is. My naam is nie verniet Laetitia nie. Dit beteken ‘vreugde’. Ons moet sorg dat jy bietjie vir jou verlies getroos word.”
“Dankie. Dis lekker om jou te ontmoet.”
“Ag nee, dié ou amberjuweeltjies is pateties,” hoor Laura agter haar, en kyk om. Daar staan die twee St John-vroue. Mevrou St John hou ’n stringetjie aan een vinger in die lug, sit dit minagtend neer.
“Ons sal seker ordentliker goed in Moskou of St. Petersburg kan kry,” sê Eudoxia.
“Maar ek het reeds soveel amber wat ek nog van die Baltikovs geërf het. Jy gaan dit tog by my erf,” sê haar ma afwysend.
“Ag, Ma s’n is so outyds. Ek wil nuwe ontwerpe hê. En ek wil dit nou dra, nie eendag nadat Ma dood is nie.”
Laura kyk of sy vir Kyle Barrymore iewers sien. Hy is nêrens en sy voel verspot teleurgesteld.