nie.”
“Gaan kyk, jy sal verstom wees.”
Hy beweeg weg met Eudoxia. Laura probeer om hulle nie agterna te staar nie en Laetitia kom staan by haar.
“Mans soos daai bring net hartseer,” sê sy. “Mens moet hulle liewer vermy.”
Wat sien Laetitia in hom raak? wonder Laura ongemaklik. Kastig lighartig sê sy: “Ek stem. Dis net moeilik as mens verplig word om elke dag saam met so een aan tafel te sit.”
Maar Laura moet haarself streng berispe dat sy nie haar dag en die heerlike toer moet laat bederf deur simpele versugtinge nie.
* * *
Ná die oggend op die Rooiplein, ’n besoek aan die verstommend kleurryke Heilige Basileus-katedraal met sy vele koepels, inkopies by die GUM-afdelingswinkel en ’n rit deur Moskou, keer hulle na die skip terug.
Laura en Laetitia het saam gestap, met ander mense van die toergroep gesels en saam koffie gaan drink, maar die Iere het ná die besoek aan die Kremlin hul eie gang gegaan. Hulle het ook nie soos die ander met die bus na die skip teruggekeer nie. Laura het hulle natuurlik gemis.
Toe sy die middag terug in haar kajuit is en uitkyk na die kaai, sien sy hulle in ’n taxi aankom. Die vroue het verskeie pakkies by hulle. Blykbaar het hulle behoorlik inkopies gaan doen. Sy sit en kyk tot hulle aan boord gekom het.
Om wie te beïndruk? vra haar gewete terwyl sy haar hare was en stileer en nuwe grimering aanwend voor aandete. Sy vertel haarself maar dat sy bloot nie by die deftige Iere wil afsteek nie.
Toe sy later by hulle aan tafel sit, sien sy dat mevrou St John haar bestudeer. ’n Mens se voorkoms is natuurlik vir die vrou uiters belangrik. Hulle is almal uitgevat, spesiaal geklee vir die aand, want ná ete is daar ’n uitvoering van Russiese musiek in die groot saal, en byna al die toerlede sal dit bywoon.
“Het julle vandag amberjuweliersware gekoop?” vra Laura.
“Ja, hoe weet jy?” Eudoxia se stem is kil en sy kyk Laura op en af.
“Ek het net gehoor julle praat daaroor toe julle na die amber in die skeepsboetiek gekyk het.”
“Ons moes nogal soek vir goeie goed, maar ons het dit uiteindelik gekry,” sê Eudoxia. Sy kyk liefdevol na Kyle. “Jy was so geduldig, my lief. Jy het niks gekla nie en oral saamgegaan.”
“Ek het my lewe lief,” grap hy, met ’n knipoog vir Laura.
“Amber was nog altyd vir die Russe ’n besonder kosbare edelsteen,” begin mevrou St John op haar vername manier vertel. “Dit is eintlik net ’n fossielhars wat versteen het. Die bome waarvan dit kom, het egter al uitgesterf, daarom dat dit so kosbaar is, en die beste amber het boonop antieke insekte of plantmateriaal in. Daar is mos ’n hele amberkamer in die Katharina-paleis. Dit is tydens die Tweede Wêreldoorlog deur die Duitsers verwoes, maar weer net soos voorheen herbou, fabelagtig.”
“Ek kan nie wag om dit te sien nie,” sê Laura beleefd. Sy bied daarna aan om dié aand vir die wyn te betaal, maar Kyle wil van niks weet nie: “Terwyl ek die man aan tafel is, sal ék die drank borg.”
Hulle eet en gesels lekker. Laura kom agter dat die statusbewuste mevrou St John ’n spottende sin vir humor het en sy lag saam oor die staaltjies wat die ouer vrou vertel. Sy is baie oplettend en soms nogal katterig, sien alles raak wat ander doen en vind oral ’n bron van vermaak.
“My voorsaat, Grigori Baltikov, was een van Katharina die Grote se nie-amptelike minnaars,” vertel sy. “Hy het net af en toe ’n kans gekry as een van die amptelike minnaars nie beskikbaar was nie. Hy het so by die agterdeur ingekom, maar Katharina het enigeen wat haar bed gedeel het, ruim vergoed.”
“Moeder se voorsate het ook maar skandalig gelewe,” terg Eudoxia. “En nou is ons so stigtelik.”
“Katharina die Grote was nie ’n mak vrou nie. Pieter die Grote kon ook maar barbaars wees,” merk Kyle op. “Hy het nie juis waarde aan gewone mense se lewens geheg nie. Duisende het hulle doodgewerk om St. Petersburg te bou, soos julle weet. Hy het sy bojars – die adelstand – gedwing om hul baarde af te skeer en Westerse klere te dra, terwyl hulle Bisantyns, Slawies, Asiërs was, heeltemal Oosters in hul denke. Hy was genadeloos met sy hervormings en enigiemand wat nie met hom saamgestem het nie, het hy vernietig. Stalin was net so erg. Hy het hierdie waterweë met derduisende gevangenes se arbeid laat bou en hulle het soos vlieë gesterf. Dit pla my dat ons dit nou kom geniet en dat mense nie weet watter koste in lewens dit geverg het om dit alles tot stand te bring nie.”
“Ek weet van dié dinge,” sê Laura stil. “Ons kan darem in ons harte aan hulle hulde bring.”
Meteens is daar ’n demper op die geselskap geplaas. Mevrou St John sug. “Ag, hoor nou hoe praat dié dokters. Bloeiende harte. Maar dis alles waar. Ek is so sentimenteel oor my Russiese voorsate, maar dit is waar dat hulle die gewone mense onderdruk het en tot in die negentiende eeu nog slawe gehad het. Die Russiese geskiedenis is deurspek met lyding en wreedheid, al is die oorblyfsels van tsaristiese Rusland so manjifiek.”
“Ag, mens moenie soveel geskiedenis lees nie,” sê Eudoxia smalend. “Dit krap jou tog net om.”
Hulle gaan ’n tydjie later saam na die saal vir die konsert. Die musikante is twee jong mans, een met ’n trekklavier en een met ’n balalaika. Laura sien Laetitia by die saal inkom en wink haar nader.
“Kom sit by ons,” nooi sy.
Laura sien hoe Laetitia se blik op Kyle talm toe sy almal bekend stel. Laetitia kan skaars haar bewondering wegsteek, maar Laura besluit om aandagtig na die verhoog te kyk. Die twee musikante speel en sing Russiese volksliedere. Een man is ’n tenoor en die ander een ’n bariton en hul stemme is vir Laura soos soet, warm heuning. So mooi, ’n mens kan dit amper proe.
Die pragtige musiek maak haar eensklaps treurig. Sy wens Albert kon hier gewees het om dit saam met haar te waardeer.
“O, dis so mooi,” sê Laetitia in haar oor. “Hartroerend, ek sê jou.”
Laura knik. Sy sien uit die hoek van haar oog hoe Eudoxia met haar blonde kop teen Kyle se skouer aanleun. Hoe haar hand deur syne omvou word. Aan sy ander kant sit haar ma in vervoering. Hulle lyk al drie so gelukkig en tevrede.
Ná die uitvoering fluister Laetitia aan haar: “Julle klomp was vrolik aan tafel vanaand. Ek het net heeltyd gehoor hoe julle lag. Wie was die grapjas?”
“Glo dit of nie, maar mevrou St John het allerlei staaltjies.”
3
Toe Laura die volgende oggend by ontbyt aankom, is die Iere nie daar nie. Sy is al halfpad met haar ontbyt toe Kyle opdaag en oorkant haar inskuif.
“Jammer ek is laat, en verskoon asseblief die ander twee. Eudoxia het vanoggend ’n taamlik hewige asma-aanval gekry,” sê hy.
“Ag nee! Is dit nou onder beheer?”
“Ja, dankie. Dis ook maar goed ek het saamgekom.”
Laura voel skuldig bly dat hy ’n slag sonder sy verliefde verloofde met haar kan gesels. Hy eet vinnig en praat tussendeur. “Spanning veroorsaak aanvalle, maar sy behoort nie nou enige stres te hê nie. Maar mens weet nooit wanneer sy ’n aanval gaan kry nie.”
“Hoe behandel jy haar?”
“Sy het altyd bronchodilatore by haar. Ek het ook al laedosis-inhalasiesteroïede voorgeskryf. Sy kry glad nie daaglikse aanvalle nie, dit raak darem nou gespasieer.”
“Die aanvalle maak haar seker vreeslik benoud.”
“Ja, haar asemnood is vreeslik. Sy was bang om sonder my op dié reis te kom en mevrou St John wou dit al so lankal doen. Ek was verplig om saam te kom, maar ek moet erken dat Rusland my ook nog altyd gefassineer het. Die probleem is net, ek is rusteloos, ek wil baie meer rondloop. Eudoxia voel nie altyd lus nie en haar ma is nogal gemaksugtig. Sy ry liewer iewers heen. Die oplossing