Marzanne Leroux-Van der Boon

Klaprose teen die wind


Скачать книгу

haar maar altyd geken het.

      So neem hy voorlopig sy intrek by Jurgen. In ’n miniatuur-dak­kamertjie op die verdieping net bo die woonkamer. Beter bekend as Jurgen se studio. Waar die reën en enkele male die sneeu teen die skuins ruite val en van waar hy ook later die eerste mossies van die lente hul uitbundigheid hoor uitsing.

      In die begin gaan Jurgen meestal met hom mee, maar al gou raak hy met die stad bekend en kan Jurgen hom maar net die plekke aan­stip en hy vind hulle self. Maar hy is nie meer so swaarmoedig alleen nie, want as hy tuis kom, is daar iemand om na sy dag se ervaringe te luister. Jurgen ken die stad grondig. Hy neem Marc na plekke toe waaroor die gewone toeris nooit sou gedroom het nie. Hy leer hom sy guldens veel versigtiger bestee; hy leer hom Nederlands dink. Soms skok dit Marc, maar hy ontwikkel al spoedig ’n byna blinde ver­troue in Jurgen se oordeelsvermoë.

      In daardie eerste twee weke praat Jurgen nooit een maal oor sy werk by die Vigskliniek of werklik oor homself nie. Soms, as hy van die werk af by die huis kom en Marc reeds daar is, merk Marc dat hy gespanne is en baie stil, soms byna nie praat nie. Altyd verskriklik moeg. Dit vervul Marc dan met deernis en ook met ’n vreemde on­gerustheid.

      Vrydae gaan hy terug na Bodegraven om die naweek met Ouma deur te bring. Algaande kom hy onder die bekoring van Amsterdam. Die wonderlike vermenging van skoonheid en kruheid. In dié tyd gaan hy nie na die Walletjes nie.

      Op ’n aand vroeg in April kom hy terug om Jurgen koulik voor die verwarmer aan te tref. Die diere al drie om hom versamel. Hy bleker en matter nog as ander aande. Sodat Marc dankbaar is dis nie naweek en hy moet ook nog in die restaurant gaan sing en kitaar speel nie. Marc merk ’n trilling in sy hande, maar toe Jurgen self niks sê nie, gaan hy na bo om van sy warm klere ontslae te raak.

      Terug in die woonkamer tref hy Jurgen nog op dieselfde plek aan. Hy wil vra of iets verkeerd is, maar soveel vertroue is daar nog nie tussen hulle nie. Dus gaan haal hy vir hom ’n bier in die kombuis en kom by Jurgen sit. Rubicon, die Labrador, kom na hom toe en lê sy swaar kop op Marc se knieë, sy sagte bruin oë pleitend op hom gerig. “Ons gaan netnou stap,” sê hy vir die hond, “netnou.” Die hond sug en gaan lê swaar op die mat by hom.

      Al die tyd het Jurgen nie gepraat nie, nou vra hy: “Wil jy nog steeds saam met my na die Aidskliniek gaan?” Marc sluk sy bier so vin­nig dat sy neus daarvan brand. “Asseblief.”

      “Dis ’n ontstellende plek, Marc.”

      “Maak nie saak nie.”

      Jurgen sit hom ’n ruk lank stil en aankyk. “Hoeveel weet jy van die dood?”

      Hy kyk in sy bierglas. “My pa is ’n paar jaar gelede dood.”

      “Hoe?” Daar is ’n vreemde onsensitiwiteit in Jurgen.

      “Hy het selfmoord gepleeg. Homself geskiet.”

      “Ek is jammer, Marc.”

      “Waarom?” vra Marc sag.

      “Dat ek so uitgevra het.”

      “Dit maak nie saak nie.” Dis of Marc hom staal om nog iets by te voeg en normaalweg sou Jurgen dit kon aanvoel, maar nou kyk hy oënskynlik onsiende teen die donker rame vas. “As jy wil, kan jy môre saam­gaan. Ek werk net ’n kort skof van een tot vyf.”

      Marc knik. “Jy het lank gewerk vandag. Jy lyk … Is jy moeg?”

      “Ja,” sê Jurgen, maar niks meer nie. Hy lees nie, hy luister nie na musiek nie; sit net koulik met die Siamesie op sy skoot vasgehou. “Wil jy vir ons die verwarming aansteek?” vra hy naderhand vir Marc wat in ’n koerant begin blaai het.

      Marc kyk hom verbaas aan. Dit was die eerste dag dat daar ’n bietjie son sigbaar was. Hy het eintlik warm gekry met ’n windjekker oor ’n trui. Op meer as een plek in die parke het hy tulpe sien oopgaan. Dis nou ook nog nie juis koud nie. Maar hy staan op en steek die verwarming aan. Toe gaan hy uit om Rubicon vir sy wandeling te neem. Jurgen bly sit of hy hom nie sien gaan nie. Sodat Marc later seergemaak en afgeslote oor die brug in die grag staan en kyk. Hy wonder of dit tyd geword het dat hy moet teruggaan Bodegraven toe.

      Maar die volgende môre is Jurgen oënskynlik weer homself. Hulle gaan uit na die mark om groente en vrugte te koop omdat ’n Duitse vriend van Jurgen die aand op besoek kom.

      “Dalk sal Claus jou aanstoot gee, Marc. Ek weet nie of jy al met so ’n geval te doen gekry het nie,” sê Jurgen terwyl hulle die groente in die kombuis staan en skoonmaak.

      “Watter soort geval is hy dan?”

      “Hy’s uitgesproke gay. Bietjie kru, maar interessant. Ek wonder net of die kliniek én Claus nie net te veel vir een dag sal wees nie. Ek het eintlik half vergeet dat ek hom gevra het om vanaand hier te kom eet …”

      Marc se hande word stil oor die bak met wortels waaraan hy sny, maar hy sê: “Ek dink ek sal dit maak.”

      “Ek hoop so.”

      Die Amsterdamse Akademiese Siekehuis is selfs in vergelyking met die groot hospitale waarmee Marc in Suid-Afrika kennis gemaak het, ’n kolos. Toe hulle in die parkeergarage uitklim, voel Marc hom­self heeltemal onvoorbereid. Daar was soveel wat hy vooraf vir Jurgen wou vra. Maar daar was altyd ’n vreemde soort geslotenheid by hom oor sy werk, anders as die openhartige vriendelikheid wat Marc in die vorige twee weke leer ken het. Miskien het dit ook met sy eie on­ge­maklikheid oor die saak te doen gehad. Dat hy angstig is om hier­heen te kom en tog ook nie wil wegbly nie.

      Jurgen wys teen die gebou op na ’n blok. “Dis F-5 Noordwes. Die rooi sone.”

      “Hoeveel pasiënte is daar?”

      “Tien tot vyftien beddens.”

      “Almal Aids?”

      Jurgen knik. “Prognose zero.”

      Hulle stap deur die druk hospitaalgange na die afdeling.

      “Dis dalk nie ’n goeie plan dat jy die hele vier uur hier bly nie. Kyk ’n bietjie rond en as jy geïnteresseerd is, kan jy nog ’n keer terugkom, miskien met van die pasiënte gesels. Die meeste van hulle gee glad nie om om te praat nie.”

      Marc knik. “Ek sal sommer ’n trem terug stad toe haal.”

      Wat hom die eerste opval, is die byna algehele stilte wat daar heers in vergelyking met die bedrywige res van die hospitaal. Die deure na die kamers is meestal toe. Terwyl sy oë behoedsaam oor die naamkaartjies op die deure gaan, merk hy dat dit sonder uitsondering mans is. Hy sien ’n ouerige vrou met ’n bossie blomme styf in die hand geklem een van die deure versigtig oopstoot en ingaan.

      “As jy ’n rukkie hier wil wag, gaan ek net kyk watter werk daar is.”

      Marc knik en sy mond is verskriklik droog. Uit een van die kamers hoër op in die gang kom ’n jong man met rooigehuilde oë nikssien­de by hom verby. Hy gaan op ’n stoel sit. Marc sien hoe sy lyf ruk. ’n Suster kom met ’n koppie tee na hom toe. Sy lê haar hand op sy hare, kniel en praat naby sy gesig. Marc druk met sy hand agter hom teen die koue muur, want sy bene tril verskriklik.

      Skuins oorkant hom staan ’n deur oop. Die vertrek is vol van die silweragtige middaglig wat deur die reusevensters na binne stroom. Die mosgroen kleure in die vertrek is in kontras met bosse diep­geel rose en tulpe wat voor die venster en op die bedkassie in glas­potte staan. Twee mans. Die een in pajamas het sy maer bene hoog teen sy borskas opgetrek, sy kop teen sy knieë gestut. Sy oë is toe; sy hande, vingers weerloos na binne gekrul, lê slap op die bed. Sy vriend sit half oor hom gebuk, arm om sy skouers, kop teen syne deur die venster na buite en wegkyk.

      Ek wil hier uitkom, dink Marc. Maar sy oë bly vasgenael op die toneel voor hom. Ek wil nie met hierdie mense praat nie. Ek wil nie weet dat hulle daar is nie. Waarom het Jurgen my hierheen laat kom? Hy voel paniekerig.

      Die man met die opgetrekte bene op die bed het ’n paar sagte geel wolsokkies aan. Marc merk dat sy vriend die hele tyd sy voete sag masseer. Hulle praat nie. Op die bedkassie langs die tulpe sit ’n sagte bruin beertjie uitdrukkingloos na hulle en