hom kom, is Marc so mislik dat dit voel of die vloer onder hom golf. Jurgen wat sy asbleek gesig sien, neem hom onmiddellik styf aan die arm en laat hom op ’n stoel sit. Eers toe hy die vertroostende smaak van tee oor sy lippe kry, begin die mis om hom opklaar. Kom die gesigte van Jurgen en die verpleegster by hom weer in fokus.
“Is jy okay?” vra Jurgen gedemp en beduie vir die verpleegster dat hy haar nie meer nodig het nie.
Marc knik verleë. “Ek weet nie wat my oorgekom het nie.”
“Dis niks. Baie mense kom so oor van ’n hospitaal se reuk. Jy word later gewoond daaraan.”
Dis die eerste keer dat dit my oorkom, dink Marc, maar hy sê dit nie. “Ek is jammer.”
“Nonsens. Neem die bus stad toe, dan laai ek jou halfses by die terminus op. Goed so?” Jurgen druk sy skouers en bly hom besorg aankyk.
’n Groot verlange om sy kop teen Jurgen te laat sak en lank so te bly sit, oorweldig hom byna. Soveel so dat hy byna sy lip aan die binnekant stukkend byt. Maar die skerp pyn bring hom genadiglik genoeg tot bedaring om waardig afskeid te neem en weg te gaan.
Marc stap deur die binnekant van die hospitaal uit. Eers so ontdaan dat hy volslae verdwaal en die pad moet vra. Op die grondvlak tref hy ’n egte klein dorpsplein aan: winkeltjies, poskantoor, haarsalon, ’n oop kafee, blommestalletjies en ’n menigte mense. Sommige pasiënte word op hul beddens na besoekers hier uitgestoot met word-gou-gesond-kaartjies in stringe om die bed gespan. Dikwels met bottels aarvoeding daarby. Ander sit weer in kamerjasse rond en gesels. Gesellig! Hy dwaal daar tussen die mense. Totdat hy langsamerhand weer rustiger word.
Na links sien hy ’n aanwysingsbordjie: Stiltecentrum. Hy stoot die deur behoedsaam oop. Toe hy sien dat die vertrek leeg is, gaan hy na binne. Die rustige atmosfeer trek hom aan. ’n Klein kapel is dit, met blou matte en sagter blou gemakstoele oral rond. Op die klein kateder lê ’n Nuwe Testament oopgeslaan. Hy raak ingedagte aan die vertroude artikel en bly staan ’n rukkie daarby.
Daarna stap hy deur die helder, koue middag, so diep in gedagte versonke dat hy byna voor die trem wat hy moet haal, beland. Later dwaal hy half rigtingloos deur die stad. Die weemoed van sy eerste dae in Amsterdam is terug by hom. Uiteindelik loop hy weer langs die Walletjes. Kom voor die raam met die Jamaikaanse vrou te staan. Hy sien dat sy hom vaag herken. Sy kyk hom afwagtend aan, maar hy glimlag verleë en draai weg.
Dit het donker geword en nog kouer. Hy hurk weg in sy windjekker. Dwelmhoertjies kom hulle teen hom aanvryf. Halfbeswymdes hang in die pienk flikkering van neonligte teen die deurkosyne. Hy kyk weer na die fietse van elke beskrywing en leeftyd wat oral aan brûe en bome vasgeslot staan. Te oordeel na die roesgraad van sommige, staan hulle al jare daar. Hier en daar is ou mans stoïsyns aan ’t visvang in die gragte. ’n Platboomskuit, bo-oor toegeglas, vaar langsaam onder die brug deur, vol lig en musiek en opgewonde toeriste.
Toe hy straataf gaan, kom hy ’n bejaarde man en vrou teë wat oogknipperend uit ’n pornofilmlokaal steier. Hulle is so styf ingehaak dat dit lyk asof hulle moeite het om mekaar regop te hou.
Dankbaar herken hy Jurgen se ouerige motortjie toe dit eindelik deur die onstuimige verkeer aankom en stilhou sodat hy kan inklim. Binne is dit warm. Hy ril ingenome, kyk na Jurgen se mooi hande op die stuurwiel en stoot sy lang bene verlig voor hom uit.
Drie
Dit word nege-uur voor Claus, Jurgen se Duitse vriend, opdaag. Ook aan die Nederlanders se begrip van tyd begin Marc hom algaande wen. Nagmense.
Vooraf het Jurgen hom ingelig dat Claus ’n joernalis is. Hy is vir ’n kort rukkie in Nederland om stof vir ’n artikel oor vigs in te samel. Hy woon afwisselend in Hamburg en New York.
Aantreklike man in sy vroeë vyftigs, melancholiese oë, sensuele mond. Hy bekyk Marc met soveel openlike belangstelling dat hy daar ongemaklik van voel.
Ná ’n voortreflike ete wentel die gesprek al gou om vigs. Oor die toestand in New York waarvandaan hy so-ewe kom, sê Claus somber teenoor Marc: “Daar’s elke week ’n begrafnis. Dikwels iemand wat jy goed geken het. Duisende New Yorkers is al dood en tienduisende bevind hulle in die laaste stadium van die siekte.”
“Ek wis nie dat dit só erg was nie,” sê Marc geskok.
“Daar woon minstens halfmiljoen mense met Aids in New York. Ag, seker heelwat meer. Latino’s, junkies, homo’s. Iedereen het in sy familie- en vriendekring wel een wat siek lê. Of seropositief is. Of het al een sien doodgaan. Hierdie arme bliksems het die keuse tussen ’n vuil, swak hospitaal sonder simpatie waar daar teen hulle gediskrimineer word, of soos ’n hond op die straat …”
“Wil jy whiskey hê, Claus?”vra Jurgen wat gebukkend met sy rug na hulle by ’n klein drankkabinet staan.
“Graag.”
“Ek het gedink oor die mense al meer … veilige seks beoefen …” Marc word warm om sy ore.
Claus se oë ontmoet syne, simpatiek ten spyte van sy siniese woorde. “Ag, wat is veilige seks nou presies? Verlede jaar ontmoet ek ’n aantreklike jong man wat my vertel dat hy seropositief is …” Hy trek sy skouers op. “Maar die liefde blyk sterker te wees dan alle angs. Op ’n dag skeur die kondoom …” Marc merk hoe die sigaret tussen sy vingers tril en hy probeer so hard om sy hand stil te hou dat sy arm daarvan begin pyn. “Ek was skielik doodbang, te bang om die toetse te laat doen. Vroeër het ek altyd gesê dat ek die toets sou laat doen as daar die geringste kans is dat ek seropositief kan wees. Maar tóé kon ek nie.”
Marc se blik gaan na Jurgen, want hy kry die rare gevoel dat Claus eintlik met Jurgen praat al kyk hy hóm aan. Maar Jurgen is nog steeds met sy rug na hulle besig.
“Hier by ons is ’n teorie dat paniek die siekte kan aktiveer.” Jurgen het met ’n bier in sy hand kom sit, sy ander hand voel-voel na die kat wat onder sy stoel lê en slaap om hom op sy skoot te hys. Hy lyk wit en gespanne.
“Ja,” sê Claus en roer sy glas afgetrokke, “die toets bly maar bo jou kop hang soos die spreekwoordelike swaard. ’n Paar maande gelede kom ek in Genoa ’n Griekse jongen teë. Dmitri.” Marc merk dat Jurgen nie opkyk nie. “Ons raak verlief, dus nooi ek hom saam New York toe. Maar hy wou dat ek my eers laat toets. Hy’s vyf en twintig en net klaar gestudeer, heelwat om voor aan die lewe te bly … Eers wou ek nie.” Hy sug. “Maar eensaamheid is ’n verskriklike ding en ten slotte laat ek tog maar die toets in New York doen. Die weke tot die uitslag was suiwer hel. Maar ek was negatief en Dmitri het gekom. Maar ons is versigtig.”
“Hoe’s dit met Stephan?” vra Jurgen ná dit ’n ruk lank so stil was dat Marc van die stadsverkeer ver onder hulle bewus geword het.
“Hy hou hom nog self steeds met ’n streng makrobiotiese dieet aan die lewe, maar …” hy skud sy kop, “vir hoe lank dit nog gaan help … Daar’s Chris … onthou jy hom nog?”
Jurgen knik. Marc sien dat hy sy bierglas met ’n onvaste beweging na sy mond bring.
“Sy vriendin is inmiddels dood. Hy maak dit ook nie meer lank nie, hoor. Hulle het te dikwels dieselfde naald gebruik.”
Marc voel Claus se oë ondersoekend op hom rus en hy sê senuweeagtig die eerste ding wat by hom opkom: “’n Vriend van my wat ’n uitruilstudent in Amerika was, het in 1987 die groot Aidsmars in Washington gesien.”
Claus skud sy kop stadig, blaas die rook langsaam deur sy neus uit. “Dit het ek meegemaak.”
“Hy het gesê dat daar duisende mense was.”
“Ontsaglik was dit. Volgens die homobeweging seshonderdduisend.” Hy leun vooroor na Marc. “Ons het langs ’n enorme lapkleed geloop met die name van duisende Aids-dodes daarop gestik. Ek het gesien hoe mans met gesigte vol Kaposi-vlekke moeisaam aangesukkel het om die name van hulle minnaars op die lap te kom soek. Dit was ontsettend.” Hy neem ’n groot sluk uit die glas wat al weer byna leeg is.
“Ons regering neem die siekte nou maar eers