Schalkie van Wyk

Meisie in die reën


Скачать книгу

droog, van die diep, troetelende klank van sy stem, maar haar snikke skeur met pynlike asemteue uit haar en laat haar smal skouers ruk.

      “Marli, Marli . . . asseblief, ou kleintjie, jy gaan dehidreer as jy nie ophou huil nie. ’n Fyn, klein meisie soos jy kan onmoontlik soveel trane huil,” sê hy paaiend.

      Haar snikke verstil en sy kyk hom vies aan. “Is jy simpel? Ek het nog nooit gehoor van iemand wat gedehidreer het net omdat hy gehuil het nie!”

      “Wel, daar is altyd ’n eerste maal,” antwoord hy, sy glimlag tevrede. “Maar jy het ophou huil en dis al wat belangrik is. Ek het vir ons Chinese wegneemetes gekoop, en of jy nou daarvan hou of nie, jy gaan saam met my eet. Of verkies jy nog insekte en wurms soos in jou kleuterdae?”

      “Jig! Ek het nooit wurms en insekte geëet nie!” protesteer sy, verlig en dankbaar dat sy, ten spyte van haar trane, nie haar gevoel aan hom verraai het nie.

      “Jy het. Ek en Armand moes jou gereeld oppas as jy in die tuin gespeel het, want jy het enigiets in jou mond geprop en dan moes ons dit uitgrawe. Nie dat dit maklik was nie – jy kon deksels seer byt!”

      Sy lag saam met hom en erken verleë: “Ek moet jou ongelukkig glo, want my pa het my van my barbaarse eetgewoontes vertel.” Sy neem sy sakdoek en droog haar trane af. “Jy kan jou sakdoek terugkry sodra ek dit nie meer nodig het nie,” vervolg sy en laat hom toe om haar orent te help.

      Hy bly staan, haar hand nog in syne, en sê mymerend: “Tien jaar . . . en jy was ses, sewe jaar hier in Johannesburg, maar ons het mekaar nooit raakgeloop nie.”

      “Het tant Alma jou nie vertel ek bly by my ouma Heilet nie?”

      “Sy het, maar ek het nie die moed gehad om jou te besoek nie – nie na jou ma se brief aan my nie. Boonop was jou ouma jou ma se ma en ek het aangeneem sy en jou oupa sou my ook nie met ope arms in hulle huis verwelkom het nie.” Hy glimlag skeef. “Sien, ek lyk net groot en gevaarlik, maar eintlik is ek ’n lafaard met ’n klein hartjie,” spot hy met homself.

      “Ék sou jou verwelkom het,” antwoord sy impulsief, sien die tergende lag in sy oë en weet sy bloos van haar kleintoontjies tot by haar kroontjie. Hoekom maak liefde ’n mens so oorsensitief en selfbewus? wonder sy onthuts. Sy kon altyd eerlik sê wat sy dink of voel, maar haar nuutgevonde gevoel vir Hilgard laat haar vrees dat sy haar liefde aan hom sal verraai.

      “Nóú vertel jy my,” verwyt hy haar glimlaggend, gee haar ’n spontane drukkie en stap met sy arm om haar skouers saam met haar die trap af. “Hoekom het jy nie vir tant Alma ’n boodskap gegee nie? Sy sou my laat weet het as jy wou gehad het ek moet kom kuier.”

      “Ek was so gewoond daaraan om nie oor Armand of die mense van Groeneweide te praat nie dat ek nooit daaraan gedink het nie. Daarby was ek nie bewus van die briewe wat jy vir my geskryf het nie. Ek was ’n tiener en jy was reeds ’n effektemakelaar en volwasse – ons het niks meer gemeen gehad nie.”

      “Jou eerste veertien jaar was deel van my – van die dag af toe ek my gesig en hande moes was en my hare moes kam voordat ek die oorweldigende voorreg kon hê om Armand se babasussie in haar wiegie te bewonder.” Sy lag is ’n klank vol warmte. “Jou kamer was wit en pienk, nes jy met jou pienk gesiggie en jou wit haartjies. Op tien het ek nie in babas belanggestel nie, maar jy was Armand se babasussie en dit het die situasie verander. Ek en hy het die dag soos ridders gevoel toe ons mekaar plegtig beloof het ons sal sorg dat niemand jou ooit seermaak nie.”

      “Armand het?” vra sy, trane soos fyn druppeltjies reën aan haar wimpers ingeryg.

      Hy trek haar digter teen hom aan en skud haar liggies. “Waag dit om te huil, asjas, en ek praat nooit weer ’n woord oor Armand nie,” dreig hy.

      “Asjas . . .” Sy glimlag oorwonne. “Dis wat jy en Armand my genoem het as ek op my driewiel agter julle wou aanry wanneer julle rugby of krieket gaan speel het. ‘Wees nou ’n soet klein asjas en ons bring vir jou ’n roomys of sjokolade,’ was julle gereelde belofte, wat julle net so gereeld verbreek het!”

      “En wat jy net so gereeld geglo het!” lag hy.

      “Hoe anders? ‘Asjas’ was vir my ’n eretitel, iets wat ek met die misterieuse volwasse wêreld geassosieer het. Toe ek eintlik uitgevind het wat die woord beteken, was ek reeds gewoond daaraan om jou en Armand se klein asjas te wees en kon dit my nie skeel nie,” antwoord sy, gaan die kombuis binne en plaas hulle wegneemetes in die mikrogolf.

      “Dis byna vieruur,” sê Hilgard ná ’n blik op die horlosie teen die muur. “Is jou tasse reeds gepak, Marli, of slaap ek vannag hier?”

      Sy lag hom uit. “Grootprater! Jy besit jou eie woonstel in die stad. Jy het nie spesiaal Johannesburg toe gery om my te kom haal nie – jy woon en werk hier.”

      “Korreksie: ek hét hier gewerk, nie meer nie.”

      “Maar . . . is jy nie meer ’n effektemakelaar nie? Tant Alma het gereeld gespog oor die groot sukses wat jy van jou loopbaan gemaak het. Waarom het jy van werk verander?” vra sy onkant betrap.

      “Ek sal altyd ’n effektemakelaar bly, want gelukkig is daar so iets soos die Internet, maar ek stel nou net in my eie beleggings en dié van ’n paar ou kliënte – onder andere jou pa – belang. Wat ek die res van die tyd doen . . .” Hy lig sy hande op, sy handpalms na haar gekeer. “Kyk!”

      Sy beweeg nader aan hom. “Eelte? Ek het gevoel hoe hard is jou hand toe jy myne vasgehou het, maar ek het aanvaar dis as gevolg van die een of ander sport.”

      “Boeresport!” skerts hy en vervolg ernstiger: “My pa was nie ’n gebore boer nie. Hy het liewer met vliegtuie en enige ander masjien gepeuter en die boerdery aan ons plaasbestuurder oorgelaat. Ek wou boer, maar ek het besef ek het die kapitaal nodig om al die verbeterings aan te bring wat ek beoog. Ek en Armand het tydens ons hoërskooljare al in die effektebeurs en aandele belanggestel, daarom is ek universiteit toe om ’n effektemakelaar te word. Rekeningkunde, ekonomie . . . Ek kan my kennis ook in my boerdery op Geldenweide gebruik.”

      “Jy is terug op Geldenweide, sommer by tant Alma?” sêvra sy met blye verrassing.

      “Dis die gerief van die opstalle van Geldenweide en Drie Werwe: hulle is langs mekaar en vorm die oostelike grens van Groeneweide. Ons is boere wat op die dorp woon!”

      “Is jy al lank terug op Geldenweide?” vra sy terwyl sy hulle kos na die ontbythoekie toe dra.

      “Minder as ’n maand.” ’n Glimlag lig sy mondhoeke. “Selfs tant Alma weet nog nie dat ek van plan is om permanent te boer nie. Ek wou eers die kat goed uit die boom kyk, seker maak dat ek wel van my rol as boer gaan hou.”

      “En?” vra sy toe hy oorkant haar aan die tafel plaasneem.

      “Ek geniet dit selfs om vieruur soggens op te staan! Ek gaan beslis bly. Maar intussen: eet jou kos, voordat jy my verplig om jou met ’n teelepel te voer.”

      “Ja . . . ek sal,” antwoord sy, eet werktuiglik, maar proe nie wat sy eet nie. Sy stel nie in kos belang nie – nie met Hilgard wat oorkant haar sit en ongekende emosies deur haar binneste jaag nie. Sy wil net na hom kyk, sy gelaatstrekke een vir een met haar oë streel, sy breë skouers en gespierde arms bewonder en na die diep, welluidende resonansie van sy stem luister. As sy net aan hom kan raak . . .

      Nee, nee, sy is nie meer normaal nie. Sy is vier-en-twintig en sy was nog altyd in beheer van haar emosies, selfs toe sy geglo het sy voel aangetrokke tot Frans. Maar sy is bang vir haar bandelose begeerte om in Hilgard se arms te wees, deur hom gesoen en geliefkoos te word. Het sy eensklaps al haar selfrespek verloor? wonder sy ontsteld.

      “Jy eet nie, asjas,” raas hy kamma. “En jy het my nog nie vertel of jy reeds jou tasse gepak het nie.”

      “Ek eet,” antwoord sy, kou en sluk vinnig ’n paar mond­jiesvol en sê gejaagd: “Ek het gedink . . . besluit ek sal volgende week met my eie motor Groeneweide toe ry. Ek . . .ek het nog ’n paar sake om af te handel.” Ja, dis beter so, dink sy verlig. Sy het ’n week nodig om nugter oor haar gevoel vir