Schalkie van Wyk

Meisie in die reën


Скачать книгу

antwoord sy paaiend.

      “As dit van my afhang, sal jy nóóit my pa ontmoet nie! Maar ek het jóú lief, nie jou ouers nie. Of sal jy my verwerp as ek in hulle oë nie ryk genoeg is om met hulle ryk dogter te trou nie?” vra hy geraak.

      “Draai alles vir jou om geld, Frans?”

      “Ja! Ek ervaar dit elke dag van my lewe: geld soek geld. As jy geld het, is almal jou vriende, wil almal jou ken, anders word jy rondgeskop, soos ek vandag rondgeskop is,” antwoord hy bitter.

      “Ek het jou nie rondgeskop nie – ek was net eerlik. Ek het jou nie lief nie, Frans, maar as jy geld as ’n maatstaf vir vriendskap gebruik, sal ek jou nooit kan liefhê nie, want ek sal altyd wonder of jy my liefhet oor my geld.”

      “As ek jou miljoene besit het, sou ek jou nog altyd liefgehad het. My gevoel vir jou, Marli . . . Asseblief, my liefste, ek besef ek is onredelik, maar ek is so bang ek gaan jou verloor. Ek het jou waaragtig lief, Marli. Jy weet hoe sensitief ek oor my armoede as kind is, daarom is geld vir my so belangrik. Kan jy nie verstaan nie?”

      “Ek het begrip vir jou situasie, maar dit maak my nie lief vir jou nie, Frans. Ek is jammer. Tot siens . . . En dankie vir alles,” groet Marli, draai om en begin wegstap na die oopstaande deur van die motorhuis toe.

      “Marli . . . wag!” roep hy, bereik haar binne enkele treë en gryp haar aan die arm. “Asseblief, my liefling. Dit was net ons eerste rusie, nie die einde van ons verhouding nie. Jy het dit tog geniet om saam met my uit te gaan? Jy hou tog van my?” vra hy pleitend.

      “Ek sou nie saam met jou uitgegaan het as ek nie van jou geselskap gehou het nie, Frans, maar vriendskap is nie liefde nie. As jy glo jy het my lief, sal jy allermins my vriendskap wil hê, daarom sal ek bly wees as jy nou gaan. Ek en Hilgard wil so spoedig moontlik vertrek.”

      Hy los haar arm asof dit hom brand, pers sy lippe in ’n harde lyn saam en sluk hoorbaar. “Ja . . . jy en Hilgard . . . Ek verstaan. Tot siens, Marli,” groet hy skor, draai om en stap vinnig na sy motor toe.

      Frans dink hy verstaan, maar sy kan werklik sy situasie verstaan en empatie met hom hê, want is sy nie in dieselfde bootjie as hy nie? Om alleen lief te hê, so wanhopig lief te hê, is ’n hartseer wat ’n mens self moet ervaar voordat jy dit kan verstaan, dink sy en vlug blindelings na die sitkamer toe.

      Hilgard wag haar in, sien die uitdrukking van totale onmag in haar oë en hou sy arms verwelkomend oop.

      Haar voete loop vanself en sy kruip in die veiligheid van sy arms, huil sag, ingehoue, oor haar vergeefse gevoel vir die groot, donker man wat met soveel teerheid oor haar hare streel.

      “Toe maar . . . toe maar, klein asjas. Vandag is jy my meisie in die reën, maar môre skyn die son weer,” troos hy, sy stem vibrerend in sy bors.

      Sy sukkel sy groot sakdoek uit die sak van haar denim, beur weg van hom af en droog haar trane. “As ek nog een maal vandag huil, knyp my!”

      “Nooit nie! Jy het tussen my en Armand in die kerk gesit en beurte gemaak om ons met die hakke van jou nuwe, wit skoentjies op ons maermerries te skop. Ons het saam afgespreek om jou te knyp . . . en jou gille was genoeg om die stokdowe oom Doepie te laat wakker skrik en opspring! Die dominee het daardie dag ’n wakker gemeente gehad om na die laaste deel van sy preek te luister!” vertel hy laggend.

      “Dis nie altyd goed om ou vriende te hê nie – hulle ken al jou sondes,” sê sy met ’n klein glimlaggie.

      “Nie almal nie. As dit jou so ontstel het om van Frans afskeid te neem, waarom nooi jy hom nie uit om die langnaweek in Mei te kom kuier nie?”

      Sy kyk hom verras aan. “Ek het nie . . .” begin sy, maar byt die res van haar sin op haar onderlip vas. As Hilgard glo sy het Frans lief, dat sy gehuil het omdat hulle afskeid van mekaar moes neem, sal hy nie so maklik agterkom hoe sy oor hom voel nie. Haar skynliefde vir Frans sal Frans nie seermaak nie, maar dit kan haar beskerm, dink sy verlig en glimlag dankbaar in sy oë. “Ek sal daaroor besluit wanneer ek eers by tant Alma is. En boonop . . .” Sy frommel sy sakdoek gespanne in haar hande, haar blik neergeslaan.

      Sy wysvinger lig haar ken en sy kyk sku in sy oë. “Toe jy en Frans motor toe gestap het, het ek jou tasse gaan haal om na my motor toe te dra. Die motorhuisdeur was oop en ek kon hoor wat julle sê.”

      “Jy het ons gesprek afgeluister?” vra sy, maar probeer nie eens kwaad klink nie.

      “Nee, ek het julle stemme gehóór, nie opsetlik afgeluister nie. Ek stem saam met jou, Marli: jy is nie in ’n gemoedstoestand om ’n besluit te neem wat die res van jou lewe gaan raak nie. Hou eers vakansie. Wanneer jy uitgerus is, kan jy oor jou toekoms besluit.”

      “Maar . . . het jy nie gehoor dat ek vir hom gesê het ek het hom nie lief nie?” vra sy verward.

      “Ja, daarom het ek baie vinnig omgedraai en jou tasse in die gastebadkamer in die gang neergesit. Voor jou ouma se dood het jy dit geniet om saam met Frans uit te gaan. Ek is seker jou gevoel vir hom sal weer verander nadat jy by tant Alma gekuier het.”

      “Jy glo ouma Heilet se dood is die oorsaak daarvan dat ek Frans nie kan liefhê nie?” vra sy ongelowig, en wonder ontsteld presies watter gedeelte van haar en Frans se gesprek hy gehoor het.

      “Wel . . . hy noem jou ‘liefste’. Pas so ’n woord nie by verliefdes nie?” terg hy.

      “Frans noem elke meisie wat hy ken ‘liefste’ of ‘skat’. Dis gerieflik as ’n mens te lui is om iemand se naam te onthou.”

      Sy glimlag tart haar uit. “En hy koop ’n duur verloofring vir elke meisie wat hy ken?”

      ’n Blos van verleentheid vlek haar wange rooi en sy frons ongemaklik. “Hy het net vir my die ring kom wys!” antwoord sy misnoegd en probeer haarself kwaad dink. “Jy lag my met jou oë uit, Hilgard. Wil jy hê ek moet my humeur verloor?”

      “En my ’n aaklige aspatat noem? Hoekom nie? Of het jy intussen ’n paar beter skelwoorde aangeleer?” vra hy, lag en warmte in sy stemtoon en oë.

      Sy glimlag vir hom. “Aaklige aspatat . . . die kamtige vloekwoorde wat jy en Armand my geleer het . . . En toe skop ek die dominee op die maermerrie toe hy my die dag ’n ‘oulike aspatat’ noem!” Sy neem impulsief een van sy hande in albei hare. “Ek is so bly jy het my kom haal, Hilgard. Dit voel of ek die afgelope tien jaar op ’n vreemde plek gekuier het, maar nou is ek eindelik weer tuis.”

      “En ek is weer heel, want ek het nie net Armand en my ouers nie, maar ook my klein asjas verloor die dag toe jou ouers jou weggeneem het van Groeneweide af. Ek dink ek is bly jy wou nie aan jou Frans verloof raak nie, want jy hoort op Groeneweide, Marli.”

      “As deel van die agtergrond?” spot sy.

      “Nee. As deel van my en tant Alma. Julle het almal saam in die opstal op Drie Werwe gebly, en omdat jou pa gewoonlik uithuisig was en jou ma skoolgehou het, het tant Alma jou grootgemaak. Dis waarom sy so gretig was om die ou opstal my nuwe ouerhuis te maak, want sy was nie minder stukkend as ek of jy óf jou ouers nie. Verstaan jy wat ek probeer sê?”

      “Ja . . . ja, ek begryp. Ons was almal saam, totdat die vliegtuigongeluk ons lewens aan flarde geskeur het. As my ma net Armand se dood kon aanvaar en verwerk, kon ons mekaar heelgemaak het. Maar sy het die meeste gely, want ek het oupa Fanus en ouma Heilet gehad, en jy en tant Alma kon mekaar troos, maar niemand kon haar troos nie,” antwoord sy mymerend en skrik toe sy selfoon lui.

      Hy kyk flitsend af na sy selfoon in die skede aan sy gordel, mompel: “Verskoon my,” en stap tydsaam weg terwyl hy praat. “Nee, nog nie . . . Ja, ons vertrek binnekort . . . Nee, ek het haar reeds gebel . . . Tot siens.” Hy plaas die selfoon terug, ’n ligte frons tussen sy wenkbroue. “Ek wens ek kan die vervlakste ding permanent afskakel, maar ek is bang tant Alma het my nodig.”

      “Waarom het jy die oproep beantwoord as die persoon jou irriteer?” vra Marli met ’n tergende glimlaggie.

      “Omdat die meisiemens . . .” ’n Skerp asemteug sny sy sin af, sy