Schalkie van Wyk
Somer van betowering
Melodie
1
Elbie de Villiers druk die langsteelverestoffer teen die plafon van die ruim sitkamer, dartel ligvoets na die onderpunt van die vertrek toe, pirouetteer op die bal van haar regtervoet en beweeg terug in die rigting van die voordeur.
“Elizabeth!” mishoring Philippa van Reenen se stem met kritiese misnoeë uit die oopstaande voordeur.
Die verestoffer ruk uit Elbie se hande, kantel Philippa se breërandhoed oor haar oë en land kletterend op die stowwerige plankvloer.
“Móénie, tant Philippa,” praat Elbie verwytend met Philippa se lang, spits neus wat onder die rand van haar hoed sigbaar is. “Ek besef dis Tante se straf om met afgestorwenes te kommunikeer, maar ek kry hoendervleis en hartkloppings as Tante so onverwags met my oorlede ma begin praat. En hoekom skree Tante op haar? Is dit nie half ongeskik om met geeste rusie te maak nie?”
Philippa worstel om met drie inkopiesakke, ’n sambreel en haar handsak in haar hande haar hoed uit haar oë te kry. Met haar hoed skeef oor haar linkeroog, gluur sy Elbie met onverbloemde argwaan aan, haar mond ’n dun streep van afkeuring.
Elbie kyk vinnig oor haar skouer en neem twee haastige treetjies na regs. “Wat kyk Tante so? Staan my oorlede ma langs my?” vra sy lugtig en voel-voel versigtig met haar hande na die onsigbare teenwoordigheid langs haar.
“Jý, dogter,” fluitpraat Philippa toornig en steek-steek met haar sambreel na Elbie, wat haar met intense belangstelling betrag, “het nie ’n tikkie respek vir jou meerderes of weldoeners, óf jou armsalige, eiesinnige moeder nie – mag sy in vrede rus.”
“Ék?” Elbie lig haar ken onthuts. “Ek is agtien, tant Philippa, maar ek is nie skaam om te erken dat ek die afgelope twaalf jaar elke aand my ma se foto nagsoen nie. Dis Tante wat tydig en ontydig op my arme ma skree. En ek weet hoekom: Tante kan haar nog nie vergewe omdat sy met my liewe, verstrooide pa getroud was nie.” Sy hou haar kop effens skeef, haar oë donker van erns, en vra bekommerd: “Het Tante geweet dis sonde om met die dooies te kommunikeer?”
“Gee my krag . . . en help my om nie te vloek nie,” fluitpraat Philippa op ’n laer noot, kyk desperaat om haar rond en trippel met kort treetjies na die houtkrat voor die vuurherd toe. Sy rangskik haar inkopiesakke sorgvuldig langs die krat en sak met ’n sug van verligting daarop neer, haar handsak en sambreel nog in haar hande.
“Gaan Tante lank kuier?” vra Elbie gekwel. Sy buk af en raap die verestoffer op. “Tante kan self sien: die ou plek is die ene stof en spinnerakke en dooie goggas en weeluise.”
“Weeluise?” skril Philippa en wip met verrassende energie orent.
“Goetertjies met pootjies,” verduidelik Elbie en krap met mening haar linkerarm en dan agter haar een oor.
Philippa sak stadig terug tot op die houtkrat, stoot haar hoed uit haar oë en staar Elbie in stilte aan. Uiterlike skoonheid is ’n sonde, besluit sy, en daarvan het Elbie ’n oormaat gekry. Haar koperblonde hare omraam ’n fynbesnede gesig met hoë wangbene, ’n pikante neusie, vol lippe en ’n ferm, dog fyn ken. Haar oë is nagdonker met lang, digte wimpers, en haar donker wenkbroue vorm ’n skrille kontras met haar ligte hare. Haar slanke figuur is soos ’n jong wilgerloot, soepel . . . en sondig, want geen man sal soveel skoonheid kan weerstaan nie. Is Elbie bewus van haar sensualiteit? wonder sy diep besorg.
“As Tante nou dadelik loop, sal die weeluise Tante nie bykom nie. Sal ek Tante se pakkies dra?” bied Elbie hulpvaardig aan.
“Bly stil en luister na my, Elbie,” kom dit streng van Philippa. “Ek besef jy het jou skewe humorsin by jou nuttelose pa geërf, daarom sal ek jou stories dat ek met jou oorlede ma kan kommunikeer, summier ignoreer. Jy is oorlede Elizabeth se naamgenoot, daarom –”
“Elbie,” val sy Philippa koppig in die rede. “Anneke is sewe jaar ouer as ek. Sy het my vertel Ma het niks van haar eie naam gehou nie, daarom het sy my Elbie gedoop. Toe Tante my kort na my ma se dood Elizabeth genoem het, het ek my oorhoeks geskrik, want ek het geglo Tante praat met my oorlede ma. Het Tante vergeet hoe bitterlik ek gehuil en na my ma gesoek het? Hoe ek gepleit het dat Tante my moet wys waar sy wegkruip?” Sy swyg effens kortasem, haar oë donker poele van verwyt.
“Jy was destyds ses, nie ’n agtienjarige meisie wat so pas gematrikuleer het nie. Jy behoort te besef dat jou ma jou ’n onreg aangedoen het om jou nie na haar te vernoem nie. Elizabeth was per slot van rekening ook my moeder se naam,” antwoord Philippa styf en trek haar mond tot ’n pruimedant van afkeer.
“Om liefdeswil!” Elbie swaai die lang verestoffer gefrustreerd rond en laat stof en spinnerakke op haar en Philippa reën. “Ek het werk om te doen, Tante. Anneke is besig om in te pak, en ons meubels sal nou-nou hier wees. Ek sal nooit die huis skoonkry as Tante aanhou klets nie.”
Elbie sien hoe Philippa orent kom en reguit op haar afloop, ’n veglustige uitdrukking op haar gesig. Net soos ’n stoomskip, dink Elbie. Vroue wat so groot en breed soos haar tant Philippa is, kan nie doodgewoon loop of stap nie – hulle stoom. En daarby is tant Philippa gestraf met ’n mishoringstem, yl, vaalbruin hare, ’n groot voorkop, klein, groenbruin ogies, ’n manjifieke neus en ’n dunlipmond. Toe sy klein was, het sy geglo tant Philippa is ’n heks, want haar skerp ken krul effens boontoe, asof dit ’n geselsie met haar lang neus wil aanknoop.
Tant Philippa sou nooit ’n skoonheidskompetisie kon wen nie, maar sy is ’n imponerende vrou wat selfversekerdheid en innerlike krag uitstraal, besef Elbie en staal haarself vir haar tante se aanslag.
“Dan is dit waar,” hyg Philippa, haar stem yl van skok. “Ek dag ou Hermien Posthumus skinder net vir die lekker, maar . . . Elbie, kind, is dit waar dat jou pa in finansiële nood is?”
Elbie plooi haar neusie, dink ’n oomblik na en skud haar kop. “Hoegenaamd nie, Tante. My pa het eindelik tot sy sinne gekom.”
“Dan het ou Hermien vir my gelieg. Dan is daar geen sprake dat Nicolas jou ma se erfplaas aan die Davels verkoop het nie.” Philippa swaai haar sambreel soos ’n swaard bokant haar kop rond. “Die ou koringkriek! Ek sal Hermien Posthumus leer om lasterstories oor my bloedfamilie te versprei! Ek vat haar hof toe!” dreig sy wraaklustig en storm weg na die voordeur toe.
“Staan! Halt! Hou stil!” roep Elbie paniekerig, aarsel ’n oomblik en storm agter Philippa aan. Sy kry haar tante aan die arm beet en rem haar terug met haar volle gewig.
“Meisiekind, los my!” bulder Philippa en skud die tenger Elbie soos ’n lastige terriër rond.
“Eina!” gil Elbie met ’n stem wat Philippa se ore laat tuit en sy sak in ’n roerlose hopie op die plankvloer neer.
Skok laat die bloed uit Philippa se gesig dreineer en sy neem ’n huiwerige treetjie nader aan Elbie. Sy maak haar mond oop, probeer iets sê, maar haar stem kraak onverstaanbaar in haar droë keel. Sy sak steunend op haar knieë neer, laat val haar sambreel en handsak en vryf met bewende hande een van Elbie se polsgewrigte. “Elbie? Klein Elbietjie?” fluister sy skor en sien hoe haar eie trane op Elbie se gesig val. “Ag verdriet, waar is my sakdoek?” vra sy wanhopig en huil harder.
“Hier, Tante,” sê Elbie swakkies en druk ’n bondel stowwerige snesies in Philippa se hand.
“Dankie . . . Dankie,” prewel Philippa, vee haar trane af en laat stofstrepe op haar wange. Sy snuif en kyk skuldig na Elbie, wat weer haar oë gesluit het. “Dis hoekom ek nooit ’n man gekry het nie; ek is so sterk soos ’n man. Maar ek ken nie my eie krag nie. Arme klein Elizabeth . . . Ek het jou ma ook altyd seergemaak, al het ek dit nie bedoel nie. Ek is jammer, Elbie. Ek het nie dalk jou arm gebreek nie? Elbie?”
Elbie maak haar oë oop en verwyt bitter: “Tante se elmboog is skerper as ’n hooivurk. As my longe op die krop van my maag gesit het, was ek nou dood.”
“Maar ek het dit nie bedoel nie!” verweer Philippa haar ontsteld. “Sal ek die dokter –”
“Nee,” val Elbie haar swakkies in die rede. “Luister na my, tant Philippa, want dalk is dit my laaste woorde.”
“Ek