Schalkie van Wyk

Somer van betowering


Скачать книгу

’n kwelfrons tussen sy wenkbroue. “My boeke, Anneke . . . Wat het die spul met my boeke aangevang?”

      “Elbie en twee seuns het dit uitgepak.” Sy glimlag deernisvol, kom nader en lê haar hand op sy arm. “Hou op om Pappa te bekommer. Elbie weet hoe die boeke gerangskik moet word: alfabeties, volgens elke vak. Dis ’n ruim, sonnige studeerkamer. Pappa sal nie die studeerkamer in die ou opstal mis nie.”

      Nicolas se uitdrukking vertroebel, sy stem skugter en skuldig toe hy vra: “Ek was altyd so, nè, Anneke? Onprakties, onhandig, hulpeloos en ’n oorlas. Dalk skort daar iets met my gene, want ’n normale man is . . . is diensbaar.”

      Sy kyk in stilte na die lang, skraal man wat soos ’n veroordeelde voor haar staan en voel haar hart ineenkrimp van medelye en empatie. Hy is alles wat hy gesê het, hierdie vyf-en-sestigjarige man met sy silwergrys hare, swartbruin oë en aristokratiese gelaatstrekke, maar hy is haar pa en sy het hom onvoorwaardelik lief, dink sy, kyk in sy oë en glimlag met opsigtelike trots. “Ek glo aan die adel van die intellek. Ons kan nie almal diensknegte wees nie. Ek was nog altyd trots om te kan sê my pa is professor Nicolas de Villiers, ’n geleerde man wat kennis, nie sente nie, versamel,” sê sy reguit en vervolg skertsend: “Kom sit by die kombuistafel. Ek sal diensbaar wees en vir ons tee maak.”

      “Ja . . . Tee, ja,” prewel hy, sy gedagtes elders, en neem op ’n stoel plaas terwyl sy oë Anneke volg. “Jy is Elizabeth . . . Jy is jou oorlede moeder uitgeknip, Anneke.”

      Sy glimlag bedroë. “As ek maar was! Ek weet ek is blond, soos sy, maar ek sal enige dag my klassieke gelaatstrekke vir Elbie se fynes verruil. En daarby het ek Pappa se groot hande en voete geërf. Dank die hemel ek is skraal, anders was ek so massief soos tant Philippa!”

      “Elbie het ’n prentjieboekskoonheid, maar jy is ’n mooi dogter, en jy weet dit,” sê hy ongeduldig, geïrriteerd omdat hulle oor die opsigtelike kibbel. “Ek het na jou innerlike verwys. Jou ma het my nooit verwyt oor my onlesbare dors na kennis nie. Sy was ’n plaasmeisie, prakties, soos jy, maar sy het my liefgehad en bewonder juis omdat ek . . . anders was. Vreemd, nè, Anneke? Ek het die bestuur van haar erfplaas in Klasie Venter se hande oorgegee, haar dikwels afgeskeep omdat ek my boeke bo mense verkies het, maar sy het my bewonder in plaas daarvan om my te veroordeel.”

      “Ons kan nie almal bruin oë hê nie,” sê Anneke lakoniek en plaas ’n koppie tee voor hom op die tafel neer.

      Hy glimlag waarderend. “Ook waar, maar dit verhoed nie dat ek skuldig voel nie. Jy kon ’n onderwyseres, soos jou ma, geword het. Dis waarvoor jou ma ’n trustfonds aan jou nagelaat het.”

      Haar oë vonkellag in syne. “Ek, my liewe pa, is ’n gebore kapitalis. Ek het my kaduks geleer om goeie punte op skool te kry omdat almal van my verwag het dat ek, die professor se dogter, goeie punte moet kry. As ek universiteit toe gegaan het, sou almal van my verwag het om met lof te slaag, maar ek het van jongs af besluit ek wil eendag so ryk soos tant Philippa wees, want dan kan ek so ongeskik wees soos ek wil.”

      “My liewe kind . . .” Hy staar haar verward aan, sy uitdrukking iets tussen geamuseerdheid en teleurstelling. “Ek kan nie glo enigiemand wil soos Philippa wees nie – veral nie jy nie.”

      “Ek twyfel of ek ooit so uitgesproke soos sy sal kan wees, maar ek wil haar onafhanklikheid hê. Dis waarom ek die bankwese as my loopbaan gekies het. Ek het alles geleer oor aandele en beleggings, en toe ek mondig geword het, kon ek my trustfonds gebruik om my eendag ’n ryk vrou te maak.”

      Sy glimlag selftevrede, word bewus van Nicolas se ontsteltenis en vra skuldig: “Skok my besluit Pappa? Ek is nie ’n ongevoelige, materialistiese mens nie, Pappa, maar geld . . . is belangrik.”

      “Baie belangrik,” sê hy met ’n doodse ondertoon in sy stem, “veral vir die dogter van ’n man wat nooit die waarde van finansiële onafhanklikheid besef het nie. Klasie Venter het die boerdery die afgelope vyf, ses jaar al hoe meer verwaarloos. As ek nie met my neus in my boeke gesit het nie, sou ek dit besef het. Ek herinner my dat jy by meer as een geleentheid voorgestel het dat ek ’n jonger plaasbestuurder kry, maar ek het nooit eens die moeite gedoen om te vra waarom jy so iets voorstel nie.”

      “Oom Klasie moes aangebied het om te bedank. Hy het besef die bestuur van die plaas was te veel vir hom,” probeer Anneke hom verontskuldig.

      “Jy het voorsorg getref, Anneke,” vervolg Nicolas mymerend. “Jy het jou universiteitsopleiding prysgegee sodat jy jou trustfonds sou kon gebruik wanneer jou pa die dag finansieel afhanklik is van jou.”

      Sy hoor die bitterheid en selfveragting in sy stem en trek haar asem sag in, hartseer in haar oë. “Nee, Pappa. Ek en oom Klasie het dikwels oor Helderstroom gepraat. Ek het nie gehuiwer om sy bestuursvermoë te kritiseer nie en hy het my beloof hy sal aftree voordat dit nodig sou word om ’n verband op die plaas te neem. Helderstroom is ’n klein fortuintjie werd, daarom weet ek Pappa sal nie oornag in ’n parasiet verander wat op my salaris teer nie.” Haar glimlag is soos ’n aanraking van liefde en lojaliteit. “Nie dat ek sal huiwer om my laaste sent met Pappa te deel nie, maar aangesien dit nie nodig is nie . . . Ek kan minstens my pa bederf.

      “Pappa se tee is yskoud. Gee die koppie aan. Ek sal vir ons vars tee skink.”

      “Jy is oud genoeg om te trou, Anneke. Jy gaan nie ter wille van my ’n oujongnooi word nie.”

      Die koppie rinkel op die piering in Anneke se hand en sy swaai vinnig om om te verhoed dat haar pa die verraderlike blos op haar wange sien. “Trou?” vra sy met gedwonge sorgeloosheid. “Ek sal trou as die regte man my vra, maar hy het nog nie.”

      “Dis goed so,” sê Nicolas ingedagte en staan op. “Ek gaan net gou by my nuwe studeerkamer inloer . . . kyk of die boeke reg uitgepak is. Die tee kan wag.”

      Hy slenter die gang binne, sy skouers effens geboë, terwyl Anneke hom verwese agterna staar. “Die tee kan wag,” herhaal sy saggies teenoor haarself. “Ek ook. Ek wag al so lank, maar Sondae in die kerk kyk hy aanhoudend na Elbie . . . As sy met hom trou, sal ek haar vir altyd haat!” Haar opstuwing van drif swig voor skaamte en sy sug verwese. “Nee . . . Nee, ek sal nie. Elbie het net soveel reg as ek om hom lief te hê. As sy hom gelukkig kan maak . . . Ek sal weggaan – hoe verder, hoe beter – en selfs Pappa sal my nie kan terughou nie. As ek dan nie kan liefhê nie, het ek seker die reg om alleen miserabel te wees!” sê sy uitdagend vir die koperkrane van die wasbak, maar diep in haar pleit haar stemlose liefde om vervulling. Dit laat haar hard op haar onderlip byt terwyl haar trane met die skuimende water in die opwasbak meng.

      Elbie maak die plaashek van Voetpaddrif agter haar toe, blik oor haar skouer om seker te maak dat slegs die dakke van enkele dorpshuise nog sigbaar is en huppel met die sorgvrye vreugde van ’n kind teen die helling van die heuwel af na die wilgersomsoomde meer toe.

      “Ek is bly, ek is bly, want my skooldae is verby,” sing sy uitgelate, vleg walsend tussen enkele boomstamme deur en bly effens kortasem staan. Die somergroen van die bome en gras en die silwer helderheid van die water verdiep in die vroegskemer wat soos ’n sagte sluier oor die aarde sak en die boodskap bring van die naderende nag. Die skoonheid van die vroegaand oorweldig haar oomblikke lank, maar die blydskap oor die matriekeksamen wat eindelik agter haar lê, laat haar arms in ’n impulsiewe gebaar wyd oopgooi terwyl sy hardop uitroep: “Oom Giepie se Ganspan, hoor jy my? Ek is klaar met skool! Vir altyd en altyd klaar!”

      “ ’n Aanhanger van die hedonisme,” sê ’n diep, welluidende mansstem skuins agter haar.

      Sy snak verskrik na haar asem, swaai om en sien hoe ’n lang, breedgeskouerde man, in rydrag geklee, sy perd onder die oorhangende takke van ’n reusewilger uitlei. Sy hare is swart, en sy hoef nie te kyk om te weet dat hy persblou oë, ’n kuiltjie in sy vierkantige ken en ’n sweem van ’n Romeinse boog in sy neus het nie. Wanneer sy haar oë sluit, kan sy sy lippe sien, fyn afgeëts soos dié van ’n standbeeld. Sy mondhoeke neig boontoe, asof hy wil glimlag, en sy onderlip is effens dikker as sy bolip. Lippe, sag en sensueel, wat in haar drome . . .

      “Jy ontken dit nie? Jy is ’n hedonis?” onderbreek sy stem haar gedagtegang.