Schalkie van Wyk

Somer van betowering


Скачать книгу

nie. Skink in, skink in, Therine. Of wag, ek sal. Los alles net hier. Ek sal vir jou pa iets te drinke en te ete neem en dalk nog ’n halwe skon eet. ’n Mens moet dit vars eet, anders droog dit uit.”

      “Nog ’n vetrolletjie,” korswel Therine, knipoog vir Anneke en haak by haar in. “Kom ons vlug van die versoeking af weg, Anneke. My ma se buitensporige eetlus gee my hongerpyne.”

      Hulle loop in stilte na die agterdeur toe. Anneke bly staan en haar oë soek dié van Therine. “Moenie vir Tertius ’n vrou probeer kies nie, Therine. Dis sy keuse.”

      Therine bloos skuldig en vra aarselend: “Het jy geraai dat ek wil hê jy en hy . . .?”

      “Jy het dit nie gesê nie,” val Anneke haar ferm in die rede en gaan die kombuis binne.

      “Ek kan dit nog dink!” sê Therine koppig agter haar.

      Anneke kyk verbaas op toe Elbie met ’n onstuimige uitdrukking op haar gesig die Sondag net na middagete haar kamer binnestorm. “Wat doen ’n mens op ’n dooie drop op ’n Sondagmiddag, Anneke? My oë is seer gelees, daar is niks interessants op die televisie nie en ons het nie eens ’n swembad nie. Op Helderstroom kon ek minstens gaan perdry en in die rivier geswem het.”

      Anneke maak haar boek toe en glimlag simpatiek. “Ek mis ook ons gereelde pieknieks Sondagmiddae langs die rivier, maar as dit jou sal troos: Therine het gebel terwyl jy in die tuin was. Sy en Tertius kom vanaand by ons kuier.” Sy kyk afwagtend na Elbie, wat dikmond voor haar uitstaar, en vra onbegrypend: “Het jy nie gisteraand gesê jy het ons kuiertjie op Helderstroom geniet nie?”

      “Ek het dit geniet om op ons plaas te kuier en op Karwats rond te ry, maar ek het nie van die Davels gepraat nie,” antwoord Elbie onvergenoeg en sak op ’n stoel langs die bed neer.

      “Jy hou nie van hulle nie?” sê-vra Anneke ongelowig. “Nie eens van die moederlike tant Elize nie? En Tertius . . . Hy het alles in sy vermoë gedoen om ons nie soos gaste te laat voel nie. Is hy nie goeie geselskap nie?”

      Elbie maak ’n ongeduldige gebaar. “Moenie my allerlei skuldkomplekse gee omdat ek nie dol is op jou vriende nie, Anneke. Ek hou van tant Elize en Therine en Tertius is gaaf, maar . . . hulle is heelwat ouer as my eie vriende.”

      “Tertius is vyf-en-twintig – net ’n paar maande ouer as ek. Ek en jy is vriende.”

      “Susters – en dis baie beter as vriende.” Elbie ontspan en sy glimlag teësinnig. “Ek sal ter wille van jou van enigiemand hou, maar Tertius se . . . se gasvryheid is so oordrewe dat hy my skuldig laat voel.” Sy sug gefrustreerd. “Ek sal graag elke dag wil gaan perdry, maar met Tertius daar . . . Anneke, jy werk tog saam met Therine. Bel my wanneer Tertius besig is op die lande of om beeste te dip of wat ook al. Ek wil nie elke maal in hom vasloop nie.”

      “Ek sal, maar . . .” Sy kyk Elbie fronsend aan. “Wat het gebeur wat jou laat voel jy moet Tertius vermy, Elbie? Dit gaan nie net oor sy oormatige gasvryheid nie. Ek ken jou, my kleinsus. Wil jy daaroor praat?”

      “Dis niks nuuts nie, want jy het dit gesê toe jy en Tertius nog saam op skool was: hy is ’n opperste flerrie – nee, ’n losbol, want net meisies kan flerries wees. Hy wil hê ek moet saam met hom uitgaan. Ha! So desperaat is ek nog nie!”

      Sy het dit verwag, dink Anneke, en tog is Elbie se woorde soos dolksteke in haar binneste. Op skool het sy enkele kere saam met Tertius uitgegaan, maar almal het geweet hulle is klasmaats en blote vriende. Wanneer sy Tertius besoek het, kon sy en Tertius land en sand gesels, maar altyd nog net as vriende. Kan vriendskap ooit liefde word? wonder sy wanhopig.

      “Is jy nou vies vir my omdat ek Tertius kritiseer het?” onderbreek Elbie haar gedagtegang.

      “Glad nie,” antwoord Anneke rustig. “Ek vermoed al lank-al Tertius is verlief op jou. Wie weet, dalk hou jy meer van hom as jy hom eers beter leer ken het.”

      “Ek is nie van plan . . .” begin Elbie heftig, maar laat haar sin in die lug hang toe Nicolas huiwerig aan die oopstaande kamerdeur klop. “Soek Pappa iets te drinke?” vra sy en staan op.

      Nicolas stoot die vingers van albei hande deur sy silwergrys hare, ’n uitdrukking van volslae onbegrip op sy gelaat.

      “As Pappa met ’n astronomiese, argeologiese of filosofiese probleem worstel, bel een van Pappa se vriende of oud-kollegas,” sê Elbie behulpsaam, bekend met al die simptome wat Nicolas openbaar voordat hy met ’n lesing oor ’n onverstaanbare onderwerp begin.

      “Die man . . . Die man is klaar hier,” druk Nicolas sy verwarde gedagtes in woorde uit. “Eers bel Giepie van Graan . . . ’n Slim sakeman, dié Giepie. En nou is die man hier.”

      “Watter man, Pappa?” vra Anneke geduldig.

      “Het ek nie gesê nie? Die man wat Giepie gestuur het om Elbie te kom haal. Ek is besig, dogters. Julle moet my verskoon,” antwoord hy, draai om en begin wegstap.

      “Pappa, wag!” Elbie draf agter hom aan. “Hoekom wil oom Giepie met my praat? Wie is die man wat my kom haal?”

      “Hierdie man,” sê Luan uit die oopstaande glasdeure wat na die sitkamer toe lei.

      Nicolas steek in sy spore vas. “Ja, ja, dis die regte man. Laat my nou met rus, Elbie. Ek wil nie weer gesteur word nie,” sê hy meer verstrooid as ferm, gaan sy studeerkamer binne en maak die deur agter hom toe.

      “Jy het gehoor wat jou pa gesê het, Elbie: ek is die regte man. Sal ons gaan?” vra hy, treiterende lag in sy stem.

      Sy kyk na hom, wil hom afjak, maar word oorval deur ’n delikate trilling wat haar hele wese vul. Dit voel so sag soos sonlig wat deur groen lower syfer; so lig soos ’n seepbel waarin ’n reënboog wegkruip; so elektries soos die aanraking van sy hand in die skemerte langs die meer . . .

      “Ek kneus nie bloeisels nie,” sê die stem van gister in haar hart en doof die ragfyn trilling.

      “Ekskuus?” vra sy verward en knip haar oë vinnig, ineens bang dat sy gedroom en moontlik in haar slaap gepraat het.

      “Ek het gevra: kan jy self loop, of sal ek jou na my motor toe dra?” antwoord hy en hou haar geamuseerd dop.

      “Dis ’n simpel vraag,” sê sy geraak. “Ek wens net ek het ’n normale, dom pa gehad wat ’n boodskap in verstaanbare taal kon oordra. Kan jy?”

      “Normaal en dom wees? Ek meen so, ja,” antwoord hy met ’n erns wat deur die dansende lag in sy oë weerspreek word.

      “Hoekom het oom Giepie jou gestuur om my te kom haal?”

      “Seker maar omdat hy niemand anders gehad het nie. Jy weet tog oom Giepie kom selde of ooit dorp toe. Selfs sy bankbestuurder en sy prokureur besoek hom aan huis.”

      Elbie sug haar ergernis uit. “Ek weet, ek weet, maar wat wil oom Giepie met my maak?” Sy sien ’n glimlag aan sy mondhoeke pluk en vervolg boos: “Ek het nog nooit twee woorde met oom Giepie van Graan gepraat nie. My pa kuier soms by hom, maar dis net omdat hulle albei . . . agterstevoor is. Wat wil hy van my hê?”

      “As ek beloof om die rol van jou persoonlike lyfwag te speel, sal jy saamkom en hoor wat hy te sê het?”

      Sy kyk in sy oë en voel twyfel en onsekerheid uit haar vloei; weet intuïtief dat sy altyd veilig sal wees by hom, en knik woordeloos.

      Конец ознакомительного фрагмента.

      Текст предоставлен ООО «ЛитРес».

      Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.

      Безопасно оплатить книгу можно