sy kan nie. Sy kan nie Tertius gebruik, bloot om wraak te neem op Luan nie, want diep in haar hart weet sy wie die prins en wie die dienskneg is. Luan is die alleenheerser oor haar liefde, die enigste aanspraakmaker op haar lojaliteit, selfs al sal hy nooit bewus wees daarvan nie, besef sy met ’n gevoel van volslae onmag. Haar verlange na hom is soos ’n kloppende seer wat met elke hartslag saam met haar bloed deur haar are bruis.
“Gaan jy nie eens die moeite doen om my te antwoord nie, Elbie?” kom dit gekrenk van Tertius, sy stem skor van spanning.
Sy glimlag sonnig en sê vertroulik: “Ek sê dit net vir jou, Tertius, maar . . . ek voel nie werklik groot en klaar volwasse nie. Daarby het my tant Philippa my laat verstaan dat sy my summier sal onterf as ek ’n verhouding met enige man aanknoop voordat ek my studie voltooi het. Ek stel nie in haar geld belang nie, maar sy sal die lewe vir my arme pa ondraaglik maak as dit bekend word dat ek saam met jou uitgaan. My pa het klaar soveel las van sy maagseer – ek wil nie die rede wees dat hy in die hospitaal beland nie.”
“Jy is ’n wonderlike meisie,” sê Tertius met innige waardering. “Dat jy bereid kan wees om ter wille van jou pa jou eie liefde op te offer . . . Dit kan nie vir jou maklik wees nie, maar ek verstaan en ek sal jou wense eerbiedig, Elbie.”
En nou laat hy haar soos ’n huigelaar en ’n skurk voel, dink Elbie skuldig en gluur hom vies aan. “Moenie my verhef tot die status van Moeder Theresa nie, Tertius. Dis vir my baie maklik om tant Philippa se bevele uit te voer, want ek is nie lief vir jou nie.”
Tertius lyk ’n oomblik lank van stryk gebring en glimlag dan begrypend. “Ek besef dit, Elbie, maar as ons mekaar beter kan leer ken . . . Enigiets is moontlik. Maar ek sal geduldig wees. Ek sal harder werk as ooit tevore en ’n reusesukses van die boerdery maak. Oor vier jaar kan ons weer praat.”
Sy sug ongeduldig. “Vier jaar is ’n leeftyd om op ’n seepbeldroom te wag, Tertius. Neem ander meisies uit. Ek is seker meer as een sal bereid wees om met jou te trou.”
“Gee jy nie om dat ek intussen ander meisies uitneem nie?” vra hy geraak.
“Hoe kan ek? Ek gaan beslis nie vier jaar lank met my neus in my boeke sit nie. Ek is jonk en vry om my lewe te geniet – en jy ook.”
“Seker, ja.” Hy glimlag afgehaal. “Maar as jy oor vier jaar niemand anders liefhet nie . . . Ek sal hier wees, Elbie.”
“Waar anders?” vra sy ongeërg, draai haar perd om en jaag op volle galop terug na die ou opstal op Helderstroom toe.
Therine Davel plaas die skinkbord met teegoed op die tuintafel onder ’n skaduryke peperboom neer en kyk ongeduldig rond. “Ek wonder waar draai my ma nou weer,” sê sy vir Anneke, wat ’n bord warm skons op die tafel neersit. “Ek het haar gewaarsku dat ons alleen gaan tee drink, want na al daardie moeite gaan ek nie koue skons eet nie.”
Anneke blik met ’n ondeunde glimlag na Therine se krulhare wat vlamrooi in die spatsels sonlig wat deur die blare syfer, vertoon. Therine het ’n humeur wat by haar kleur hare pas, dink sy, maar haar opflikkerings van ergernis word oorheers deur haar sagte geaardheid en warm humorsin. Dank die hemel Tertius en Therine het tant Elize se rooi hare en groen oë geërf, want as Tertius háár ooit sou liefkry . . . Sy wil rooikopkinders met sproetjies op hulle neusies hê, nie verbleikte kinders soos oom Hans met sy verbleikte, wit hare en sy verbleikte, blou oë nie. Haar gedagtes laat haar bloos en sy peuter met ’n knoop van haar rooskleurige bloesie, oneindig dankbaar dat Therine nog nooit die geheim van haar gevoel vir Tertius geraai het nie.
“Koewie! Ek kom, kinders!” roep Elize uit die rigting van die stalle.
“Draaikous!” roep Therine en begin die tee skink.
Elize trippel op ’n skommeldraffie nader, druk-druk oor haar onbeheerbare, kort, krulhare, vee met haar hande oor haar vuilerige voorskoot en plof uitasem op die naaste tuinstoel neer. “Skarrel hier, skarrel daar . . . nes ’n vervlakste eekhoring wat akkers vir die winter versamel. Dankie, my kind,” sê sy toe Therine vir haar ’n koppie tee aangee. Sy proe aan haar tee, pruim haar lippe en beduie na haar koppie. “Nog ’n lepeltjie suiker, Therine. En nog ’n skeppie vars room op my skons. Vier sal seker genoeg wees.” Sy kyk met verwondering na Anneke. “Ek kan dit nie verstaan nie, Anneke. Ek draf my bene af van sonop tot sononder, werk my gedaan in die huis, die tuin en veral by die hoenders, maar ek bly rond en gesond. Hoe jy en Elbie sulke graatjies kan wees . . .”
“Sê Mamma ek is vet?” vra Therine dreigend.
Elize hap en kou smaaklik aan die skon in haar hand, haar blik oorwegend op Therine en dan op Anneke. “Ek sou sê jy lyk uitspattig gesond langs die maer Anneke, my liefkind. Stem jy nie saam nie, Anneke?”
“Ek is te jonk om stemreg te hê,” antwoord Anneke vinnig en hou haar hande afwerend op. “Ek en Therine het ’n goeie basis vir ’n lewenslange vriendskap: ons praat nie oor gewig of die grootte van ons hande en voete nie,” vervolg sy en steek haar hande onder die tuintafel weg.
Langs haar bars Therine gierend uit van die lag.
“Sy sien weer lawwe prentjies in haar gedagtes,” sê Elize vies. “Waag dit net om vir Anneke te vertel hoe ek in ’n bikini sal lyk, meisiekind, en jy kry ’n oorveeg!”
Therine skud haar kop en kry haar lagbui onder beheer. “Dis ek en Anneke, Mamma. As my prins die dag met my trou en sy liewe bruidjie oor die drumpel dra, breek hy sy rug en land in die hospitaal terwyl ek alleen ons wittebrood hou. En Anneke . . .” Sy swyg en giggel onkeerbaar.
“Ek weet al,” kom dit met droewige selfbejammering van Anneke. “As my prins my hand wil soen, verbrysel ek sy vingertjies in my grote. En op ons huweliksnag skop ek hom katswink en hy land langs jou prins in die hospitaal.”
“Lawwe kinders!” Elize se lag is soos warm musieknote, almal op dieselfde toonhoogte, wat soos krale ingeryg word. Haar wange skud ritmies saam met haar dubbelken en haar maag en vorm die orkesinstrumente van haar lagsimfonie.
Wat ’n liewe, sonnige mens, dink Anneke waarderend. Ten spyte van swaarkry en teleurstelling kyk tant Elize die uitdagings van die lewe vierkant in die oë en durf die een na die ander laggend aan. Wat ’n wonderlike ouma sal sy nie vir Tertius en . . . en sy vrou se kleinkinders wees nie.
“Dalk moet ek van my vrees van perde vergeet en leer perdry,” tob Therine hardop. “As die perdry mý nie gewig laat verloor nie, sal die perd definitief gewig verloor!”
“Van perde gepraat . . .” Elize kyk met ongewone erns na Anneke. “Hoekom het jy nie saam met Tertius en Elbie gaan perdry nie, kind? Julle is al soveel jare maats, maar Elbie is vir hom ’n vreemdeling.”
“Ek was nooit so dol op perdry soos Elbie nie, Tannie,” antwoord sy gelykmatig. Boonop wou sy nie ’n vyfde wiel aan die wa wees nie, want sy kon sien hoe Tertius na Elbie kyk, dink sy en slaan haar oë neer sodat die skerpsinnige Elize nie haar geheim ontdek nie.
“Goeiste, oumense kan darem toe wees,” kom dit ergerlik van Therine. “Kon Mamma nie sien Tertius val oor sy voete om Elbie te beïndruk nie? Die arme drommel is vir die duisendste maal so verlief dat hy skoon oormekaar kyk.”
“Jy oordryf, Therine. Jou broer besef Elbie ken ons nie so goed nie, daarom probeer hy net om haar tuis te laat voel,” sê Elize partydig.
“En daarom staar hy haar met kalweroë aan en stotter met ’n yl stemmetjie wanneer hy met haar praat?” vra Therine boos.
“Wag nou, Therine,” sê Anneke paaiend. “Ek weet jy hou van my kleinsus. Hoekom irriteer dit jou dat hy van Elbie hou . . . dalk verlief is op haar?”
“Omdat . . .” begin Therine opstandig en byt byna haar tong af in haar haas om haar woorde te stuit. Sy glo Tertius en Anneke is ’n volmaakte paartjie, want hulle kan oor enige onderwerp gesels, oor dinge lag wat sy nie snaaks vind nie en mekaar bewonder vir hulle prestasies. Sy is bewus van die onsigbare band tussen haar broer en Anneke, maar as hulle onbewus is daarvan . . .
Sy maak ’n afwerende handgebaar en staan op.