Elbie skuldig. Sy skeer die gek met tant Philippa, dryf haar tot raserny en trane en voel nie eens skuldig daaroor dat sy voorgee dat haar tante haar wind uitgeslaan het nie. Maar hoe anders bring sy haar strydlustige tant Philippa tot bedaring? wonder sy en sug onwillekeurig.
“Het jy die krag om te praat, Elbie?” vra Philippa, haar stem hees van kommer en trane.
“My pa het nie ’n keuse gehad nie, tant Philippa,” begin Elbie met onverwagte erns en sit orent. Sy neem een van Philippa se hande in albei hare en hou dit styf vas, asof sy wil verhoed dat Philippa skielik opspring en Hermien Posthumus oor haar skinderstories gaan konfronteer.
“Ek verstaan nie, Elbie. Is dit waar dat jou pa bankrot is? Dat hy ons erfplaas, Helderstroom, moes verkoop?” vra Philippa, die hartseer van verlies in haar stem.
Elbie skud haar kop. “Dis nie so erg nie, Tante. Pappa was nooit ’n boer nie. Tante – die hele dorp weet dit: my pa sit met sy neus in sy boeke, en snags, wanneer hardwerkende boere slaap, sit hy voor sy teleskoop en bestudeer die sterre. Mamma het dit geweet, maar sy het hom liefgehad. Ek weet wat die dorpenaars sê, maar Pappa is wat hy is en ek het hom lief soos hy is.”
’n Ergerlike frons vorm tussen Philippa se yl wenkbroue, maar dan val haar blik op Elbie se pleitende gesig en dit laat haar oorwonne sug. “Dis soos dit hoort: kinders moet hulle ouers respekteer. Maar ek mag reguit praat. Jou pa is ’n nikswerd en ’n mislukking as boer, Elbie, maar ek het respek vir sy geleerdheid en kennis, wat nie sal verhoed dat al sy beeste aan bek-en-klou-seer vrek nie!”
“Dis waarom oom Klasie Venter al die jare sy plaasbestuurder was. Maar die afgelope paar jaar . . . Oom Klasie is oud en sieklik en hy en tant Annie gaan by hulle jongste seun woon.”
“So, nè? Wat verhoed jou lamsakkige pa om ’n ander plaasbestuurder te kry?” vra Philippa onstuimig.
“My pa praat nooit daaroor nie, maar hy sukkel met sy gesondheid. Dokter Nienaber het self gesê dit sal beter wees as ons op die dorp kom woon. En Anneke is in haar noppies, want sy moes altyd vroeg opstaan om betyds by die bank te wees.”
Philippa se oë vernou agterdogtig. “Hermien Posthumus sê jou pa het Helderstroom aan ou Hans Davel verkoop. Waar die ou ruspe die geld vandaan kry –”
“Dis ’n bogstorie, Tante,” val Elbie haar in die rede. “Pappa weet hoe lief ek vir ons plaas is, en as ek ’n man was . . .”Sy sug ongeduldig en maak ’n afwerende gebaar. “My pa verhuur ons plaas, Tante. Hy sal dit nooit verkoop nie.”
“So sê hy nou,” kom dit skepties van Philippa. Sy kyk om haar rond en vra neerhalend: “Het jou pa dié ou bouval gekoop?”
“Nee. Ons huur die plek. En dis ’n pragtige ou viergewelhuis, nie ’n bouval nie. Die tuin is net ’n bietjie verwaarloos, maar dit sal ook regkom.”
“Julle kon by my kom bly het. Ek sit met die grootste huis op die dorp.”
Elbie glimlag vonkelend. “Saam met dertig katte? My pa sê hy verkies varke bo katte, want varke gee hom nie hooikoors nie.”
“As sy stowwerige boeke hom nie hooikoors gee, sal my katte hom ook nie pla nie,” sê Philippa en snuif geraak. Haar oë rek asof sy vir haar eie gedagtes skrik en sy buig nader aan Elbie. “Jou trustgeld vir jou studie, kind: het jou pa dit ook gesteel soos hy Anneke se trustgeld gesteel het?” vra sy nydig.
Elbie los Philippa se hand asof dit haar brand en spring op. Sy beweeg ’n paar treë weg en begin praat, haar rug nog op Philippa gekeer. “Anneke se trustgeld is veilig. Myne ook. My pa is ’n goeie, eerlike man, maar Tante . . . My pa sê altyd as ’n mens haat, vernietig jy net jouself. Dalk moet Tante liewer nou loop, want ek wil nie graag myself vernietig nie.”
Agter haar hoor Elbie Philippa steunend orent kom, dan die geritsel van die inkopiesakke, en sy besef verlig dat haar tante besluit het om haar besoek kort te knip.
“Ek is jammer, Elbie,” sê Philippa uit die voordeur, die nasale gefluit van haar stem sagter as gewoonlik, “maar ek wou net weet van jou trustfonds omdat ek van plan is om jou universiteit toe te stuur as jy nie die geld gehad het nie.”
Elbie draai onwillig om, die uitdrukking op haar gesig strak. “Dankie, Tante, maar . . . Waarom haat Tante my pa so? Hy was ’n lektor by ’n universiteit en sestien jaar ouer as my ma. My ma het dit geweet, maar sy het hom liefgehad soos hy was en sy is met hom getroud. Hy het nooit in boerdery belang gestel nie, maar maak dit van hom ’n nikswerd en ’n sukkelaar?”
“Nee, maar . . .” Philippa druk-druk met die punt van haar sambreel teen die voordeur, haar gesig afgewend.
“Maar wat, tant Philippa? Het ek nie die reg om te weet waarom Tante my pa verag nie?” vra Elbie met ingehoue drif.
“Verag?” Philippa skud haar kop verwonderd, ’n leeftyd van seer in haar oë. “Toe ek ’n kind was . . . Kinders hoor dikwels dinge wat nie vir hulle ore bedoel is nie. Elizabeth was blond met blou oë, soos Anneke, en fyn gelaatstrekke soos joune. ’n Mooi kind, en later ’n beeldskone meisie. Maar ek . . . was ek. Ek het my ouers hoor praat oor my . . . dat hulle nie moet onderskeid maak tussen my en die mooi Elizabeth nie; dat hulle my jammer kry . . . Jammer!”
“Is skoonheid so belangrik?” vra Elbie gelykmatig. Sy onderdruk die begeerte om na haar tante toe te loop en haar met vals woorde te troos.
“Dit moet wees, want ek het van kleins af besef: mooi kinders kry liefde, maar lelike kinders kry jammerte.” Sy lê Elbie met ’n handgebaar die swye op toe sy probeer praat. “Ek sal nooit weet of dit waar is of nie, maar dis wat ek as kind en grootmens geglo het. Net Elizabeth . . . Sy het gesê sy weet nie of ek mooi of lelik is nie, maar sy weet ek is goed, en my goedheid het my mooi gemaak in haar oë. Net Elizabeth het my laat voel ek is mooi. Net háár liefde was nie besoedel met jammerte nie. Ek sou enigiets vir my mooi, ouer suster gedoen het, want sy het my liefgehad.”
“My pa het haar weggeneem van Tante af,” sê Elbie begrypend.
“En haar gelukkig gemaak,” voeg Philippa gesmoord by en trek die voordeur agter haar toe.
Elbie luister na die klik-klak van Philippa se voetstappe op die geplaveide tuinpaadjie, storm na die voordeur toe en ruk dit oop. “Tant Philippa!” roep sy, vererg haar toe Philippa haar ignoreer en roep harder: “Ek kry Tante ook nie jammer nie, want Tante is te befoeterd! Dalk is ek lief vir Tante!”
Philippa ruk in haar spore tot stilstand en Elbie wonder benoud of sy die voordeur moet toeklap en sluit, maar dan sien sy haar tante se skouers ruk en hoor haar hoë fluitlag soos die gerunnik van ’n perd.
Philippa sit die drie inkopiesakke by die tuinhekkie neer en loop oor die sypaadjie na haar motor toe.
Toe die gedreun van die motorenjin wegsterf, draf Elbie nuuskierig nader om te sien wat in die inkopiesakke is.
“Twee rompe en bloesies en die skoene wat ek weke gelede in die winkelvenster bewonder het . . . En ’n yslike boks sjokolade!” deel Elbie haar blydskap met ’n mossie wat haar skeefkop en blinkoog dophou. “Glo my, meneer mossie, my tant Philippa is lelik, maar lieflik!” vervolg sy laggend, raap die inkopiesakke op en dans uitgelate terug na die voordeur toe.
Nicolas de Villiers loer wantrouig om die agterdeur, gewaar Anneke doenig voor die stoof en vra hoopvol: “Die hordes – is hulle weg?”
Anneke lag kopskuddend oor haar pa se gekwelde uitdrukking en skerts goedig: “My dapper pa! Waar het Pappa die ganske dag weggekruip? Of het Pappa by tant Philippa gaan kuier?”
Nicolas maak ’n verontwaardigde snorkgeluidjie deur sy neus, kom die kombuis binne en antwoord ergerlik: “Philippa sonder haar katte is ’n beproewing, maar omring deur haar katte kan sy ’n man tot moord of selfmoord dryf.” Hy kyk lugtig na die gangdeur. “Het Elbie van haar horde mansvriende ontslae geraak? Waar sy aan soveel mans kom . . .”
“Pappa!” Anneke blik hom onthuts aan. “Ek dank die gode dat Elbie se skoolmaats ons met die trek kom help het. En dit was seuns én meisies. Was dit