met jou verdediging. Kom, die brief is in jou kamer.”
Dit is vir Lecia baie duidelik dat haar ou tante bitter bekommerd voel oor die onbekende prokureur se brief. Nie dat sy self ’n benul het waarom ’n prokureur nou juis aan haar sou skryf nie, tensy hy straks ’n kind van hom by haar as musiekleerling wou inskryf. Maar in daardie geval sou hy tog seker telefonies met haar in verbinding getree het, meen sy.
Die arme tant Emma het dit ook al so op haar senuwees. Omdat Lecia per ongeluk al ’n waaghalsige motorfietsryer en ’n dronk boemelaar raak gery en ook ’n paar voorbarige jong mans beledig het, meen sy stellig dat dit ’n gewoonte van die meisie is om haar aan sulke dinge skuldig te maak.
Met haar arm nog steeds om haar tante se mollige lyfie, stap Lecia by haar slaapkamer in, en haar blik val dadelik op die brief wat die ouer vrou vir haar op die kleedtafel gelaat het.
Ietwat nuuskierig tel sy die brief op, skeur die koevert oop en laat haar blik vlugtig oor die geskrewe reëls gly.
Sy het reeds die helfte van die brief gelees toe sy verbaas, maar met ’n frons tussen haar oë uitroep: “My wêreld, tant Emma, raai wat? Dit is glad nie ’n aanmaning van ’n prokureur nie, dit lyk dan nou vir my of ek iets geërf het . . .”
“Maar lees hardop, kind, ek wil mos ook weet wat aangaan!” spoor haar tante haar ongeduldig aan en neem op die voetenent van die bed plaas. Haar nuuskierigheid is nou behoorlik gaande, want van wie sal Lecia tog erf? Die kind vergis haar bepaald.
“Ag, hier aan die begin van die brief sê die man maar net dat hy baie moeite ondervind het om my op te spoor, ensovoorts,” vertel Lecia kortliks. “Luister net . . .”
U oom, meneer Isak Brank, is ’n maand gelede oorlede, en u word in die oorledene se testament as mede-erfgenaam van sy plaas, Blouberg, benoem. Die testamentêre bepaling lui egter dat u binne twee weke van die datum van hierdie kennisgewing u op bogenoemde plaas moet gaan vestig.
Indien u in gebreke bly om aan hierdie bepaling te voldoen, verbeur u alle aanspraak op u erfenis en sal meneer Wouter Fouché as die enigste erfgenaam benoem word.
“So ’n vermetele ou . . . ou addertand!” roep Lecia verontwaardig uit. “Selfs uit sy graf probeer hy nog gemeen wees deur so ’n onmoontlike voorwaarde te stel.”
“Haai, kind,” vermaan tant Emma sag. “ ’n Mens praat nie so lelik van die dooies nie.”
Lecia se groen oë vlam gevaarlik toe sy die ouer vrou stip aankyk en onthuts sê: “Sulke agterbakse en onregverdige mense soos oom Isak gaan nooit heeltemal dood nie, tant Emma, wees verseker daarvan. Oom Isak en sy skynheiligheid leef nog steeds in sy testament. Deur hom is my pa destyds onterf omdat hy in die regte gaan studeer het in plaas van om te boer, en nou stel hy dieselfde eis aan my. Verbeel jou, ek moet my op Blouberg gaan vestig! Hy kan maan toe vlieg!”
“Hy kan nie, Lecia. Die man is dood, my hartjie,” help tant Emma haar ongeërg reg. “Laat die ou satanskind tog maar rus. Hy het genoeg sonde en ergernis in sy lewe veroorsaak. Vertel my liewer van daardie man . . . wat is sy naam nou weer? O ja, nou onthou ek . . . Wouter Fouché. Hoe oud is dié knaap, en hoe lyk hy, hartjie?”
Lecia voel nog so ontstoke dat sy nie dadelik kan antwoord nie. Maar soos gewoonlik kry sy haar vurige humeur gou onder beheer en verduidelik sonder veel geesdrif: “Wouter is tien jaar ouer as ek, tante, dus moet hy nou vier en dertig wees. Maar ek ken hom nie juis nie. Ek het hom net een keer in my lewe gesien en toe was ek maar ’n snuiter van vyf. Ek onthou hom net as ’n langbeenseun met digte, donkerbruin krulhare en viooltjieblou oë. Hy is tant Breggie se broerskind. Sy en oom Isak het mos nooit kinders gehad nie, daarom het hulle Wouter aangeneem en grootgemaak toe sy ouers oorlede is. Ek dink hy was vyf jaar oud toe sy ouers oorlede is. Maar soos ek reeds gesê het, ek het hom maar een keer in my lewe gesien. Vandag is hy stellig net so ’n harde, skynheilige en selfsugtige man soos oom Isak wat hom opgevoed het. Ek kan nie eens meer onthou hoe die plaas lyk nie. Dis soveel jare gelede dat ons daar was. Al wat ek kan onthou, is dat daar ’n rivier naby die huis verbyvloei.”
Tant Emma sug swaarmoedig en kyk stil voor haar uit. Sy het nooit kon droom dat sy op haar oudag alleen in hierdie groot huis sal moet woon nie. Sy het altyd gehoop dat Lecia by haar sal bly totdat sy die dag nie meer daar is nie, maar nou sal sy natuurlik alleen hier moet woon, want Lecia durf nie haar erfenis verbeur nie.
Sy kyk weer na die jong meisie wat nog steeds met die brief in haar hande staan en sê ietwat weemoedig: “So, dan gaan ek jou nou ook oor twee weke verloor.”
Lecia kyk die ouer vrou verbaas aan. “En waarom, as ek mag vra, gaan tante my verloor? Ek koester hoegenaamd geen planne om nou al dood te gaan nie, my liewe tant Emma!”
“Maar jy gaan mos plaas toe, Leciatjie –” begin tant Emma, maar Lecia help haar sommer dadelik reg voordat sy nog meer kan sê.
“O nee, ek gaan nie, tante,” sê sy onomwonde en baie ernstig. “Lyk ek vir tante of ek van my wysie af is om my op so ’n verlate plek aan die einde van nêrens te gaan vestig? Blouberg . . . inderdaad! Dit klink vir my bra na ’n bergagtige wildernis, soos daardie een waardeur die Israeliete destyds getrek het. Nee, ek is nog lank nie ’n bobbejaan om my in die berge te gaan vestig nie. Ek sal nooit daar aard nie, my liewe tante. Ek is immers ’n beskaafde Brank.”
“Inderdaad – baie beskaaf solank jy nie jou humeur verloor nie,” stem die ouer vrou glimlaggend saam. Sy ken Lecia vandat sy mens is en weet baie goed hoe kort van draad en uitgesproke sy kan wees; presies soos al die Branks van Blouberg maar is – ’n omgekrapte ou nasie.
Lecia kyk haar tante gemaak verontwaardig aan, maar haar oë lag die ouer vrou openlik uit. Dis waar, haar tannie ken die Brank-familie baie goed.
“Skaam tante om my so te verkleineer,” maak sy dik van die lag beswaar, ofskoon daar nie ’n beduidenis van ’n glimlag op haar gesig te sien is nie.
“Ag, toemaar,” verdedig die ouer vrou haarself, “moet nou nie maak of jy ’n engel is net omdat jy soos een lyk nie, my hartjie. Ons weet tog almal dat jy in ’n rissiepit en ’n vuurvreter verander sodra jy kwaad is. Aard blykbaar na jou oom Isak. Jy lyk mos net soos hy met jou rooi hare en groen oë.”
“Oom Isak!” roep Lecia verontwaardig uit. “Nee, kyk, ek wil nie onbeleef wees teenoor die ontslapene nie, tant Emma, maar dáár was nou regtig vir jou ’n onmoontlike en befoeterde man. My pa het altyd gesê hy weet nie hoe tant Breggie met hom huishou nie. Hy wou altyd net maak en breek, en almal moes na sy pype dans. Maar ek is ’n mensliewende en vredeliewende Brank, sonder pretensies en fiemies. O, ek weet ek is ’n bietjie reguit van geaardheid en ’n ding is vir my óf wit óf swart. Maar ek glo nie ek aard na oom Isak nie, al het ons dieselfde kleur hare en oë. My rooi hare en groen oë het niks met oom Isak te doen nie; dis in die familie. Ons ou stamvader het glo rooi hare en groen oë gehad, en my pa het gesê hy en die duiwel was een mens. Pappie het gesê ons het slegte bloed van ons stamvader geërf . . . Nee, my hare en oë het niks met oom Isak te doen nie.”
“Ja, die arme ou Isak,” sug tant Emma asof sy swaar laste op die hart dra. “Jou ma het my destyds vertel hoe ’n onmoontlike ou hardekop hy was. Maar wat jou erfenis betref . . .”
“Vergeet asseblief van die erfenis, tant Emma,” keer Lecia haastig. “Ek sal die prokureur Maandag bel en vir hom sê dat ek nie in my oom se onsinnige testament belangstel nie.”
Sy begin ’n opgewekte deuntjie fluit terwyl sy die brief terug in die koevert steek, kompleet asof die onderwerp finaal afgehandel is. Maar tant Emma het haar eie mening oor hierdie saak en beskou die onderwerp glad nie as afgehandel nie. Wat haar betref, het hulle die onderwerp nog nie eens aangeroer nie. O nee, vandag is die dag wat hierdie hardekop na haar gaan luister, en sy weet net hoe om hierdie jongste spruit van die befoeterde spul Branks te hanteer.
Tant Emma kyk Lecia ’n oomblik stil, ondersoekend aan asof die meisie ietwat vertraag is en sy dit nou eers besef. Dan glimlag sy stilweg en skud haar kop ongelowig.
“Maar, my liewe kind,”