nagte.”
Die ketel begin sing.
“En as jy nou weg is, met wie gesels ’n man dan smiddae en so?”
Danda huiwer ’n hele ruk. Dan waag hy dit. “Hoekom kom oom Ou-Faans nie maar saam nie?”
“En wat dink jy word van my slaai en goed?”
“’n Mens kan lekker groentetuin maak by die see.”
“En my rumatiek?”
“Ons trek blare.”
Ou-Faans skud sy kop en begin weer met sy verslete pyp werskaf. “Maak vir ons ’n koffietjie,” sê hy. “Dan werk ons die ding uit.”
Hulle sit ’n uur lank en beplan, en die uur vlieg. Om na Ou-Faans te luister terwyl sy kop werk, is ’n interessante storie. Gewoonlik is hy ietwat aan die stil kant, maar as hy kattekwaad uitdink, praat hy aanmekaar. En dié ding van Danda is vir hom amper nes kattekwaad. Dis net ’n bietjie gevaarliker en ’n bietjie belangriker as wat kattekwaad kan wees. En kry Danda dié ding reg, sal hy nie sommer maklik weer hoef terug te staan vir ’n probleem nie.
“Ek het hier twee olieseile,” sê Ou-Faans. “Jy kan hulle kry. Die goed is beter as sakke. Hulle is waterdig. En blikkieskos het ek heelwat. Vleis. Groente. Bietjie ingelegde perskes en pere ook – vir Sindo en so.”
“Dit sal gaaf wees, Oom.”
“Maar met die geld sal jy moet versigtig wees. Jy kan dit nie sommer so in jou sak hou nie. Netnou foeter jy van die vlot af en dan is die note daarmee heen.”
“Dan hou ons dit maar in die bottel.”
“Ja. Maar ons sal moet sorg dat die bottel nie lek nie. Miskien ’n bietjie pik om die deksel smeer. Dit sal help.”
“Maar waar bêre ons die bottel, oom Ou-Faans?”
“Dis wat ek nou sit en wonder.”
“Miskien onderaan die vlot.”
Ou-Faans skud sy kop. “Dit kan lol. Netnou skuur jy oor ’n klip, dan is die bottel aan skerwe. Nee, jy sal dit in een van die seile moet toedraai. Dan bind jy die seil bo-op die vlot vas. Of so iets.”
Die middag toe die son water trek, dra Danda sy eerste vrag rivier toe. Ou-Faans is nêrens te sien nie.
“Ek weet niks van die ding af nie,” het hy vooraf gesê. “As hulle my saam met jou by die rivier sien, sit hulle netnou twee en twee bymekaar.”
Danda dra alleen. Die diere is ’n oorlas, want Sindo probeer heeltyd saam met die vrag op Danda se skouer ry, en as hý die aftog blaas, is Kiki weer by. Hulle besef waarskynlik daar is iets vreemds aan die gang, want hulle skop so ’n lawaai op dat Danda vrees die hele dorp is netnou by.
Die eerste vrag is die twee olieseile en oom Ou-Faans se enigste paar waterstewels. Hy steek die goed tussen die biesies weg. Met die tweede vrag bring hy agt blikkies maalvleis, agt blikkies perskes en pere en ’n sakkie beskuit. Die laaste vrag bestaan uit ’n blikkie kondensmelk, ’n blikkie koffie, ’n ketel, ’n beker, ’n bietjie sout en suiker, ’n pak vuurhoutjies toegebind in ’n plastieksak, en ’n brood.
Ou-Faans wou hom eers meer kos saamgee, maar hy het teengestribbel. “Die vlot is mos maar klein, Oom, en met die diere en alles gaan daar nie baie plek oor wees nie. Buitendien: ek het net sewe dae tyd; as ek laat kom, is alles verniet. Nou dink ek só: hoe minder kos ek saamvat, hoe haastiger sal ek wees om daar te kom.”
“Ja, maar ’n honger maag bring jou ook nêrens nie. Jy moet onthou – julle is vyf monde. En Ratel vreet of hy betaal word.”
“Hy moet maar vis vreet. En veldvrugte en so.”
Daarby het dit gebly. Ou-Faans het nie te veel geredekawel nie; miskien ook omdat hy hoeka nooit aan pieperigheid geglo het nie. Hy het self dikwels gesê: “Jy moet onthou, Danda, ’n jagter moet honger wees voordat hy raak skiet. ’n Oorvol maag maak jou skeel.”
Dis al sterk skemer toe Danda die bottel olie uit die wolwedoring se hol stam gaan haal en die vlot en spaan vir oulaas insmeer. Sindo wil soos gewoonlik weer help, maar hy is vies vir die gladde gemors wat uit die bierbottel kom en betrag sy handjies met wydgerekte oë voordat hy dit aan Vlooi gaan afsmeer.
Danda maak eers goed seker sy proviand en ander gereedskap is ordentlik weggesteek, toe bind hy weer die spaan aan die vlot vas en sleep die vlot tussen die riete in tot waar niemand dit kan sien nie.
Op pad terug huis toe deur die donker is die diere meer bedaard. Hulle lyk teleurgestel, asof hulle ’n avontuur belowe is en dit nie gekry het nie. Net die nagaap is gelukkig, want hy het nog nooit van die water gehou nie en raak altyd erg omgekrap as Danda met die vlot begin peuter.
Die vroeë sekelmaan hang al tussen die haak-en-steek toe Danda by die agterdeur ingaan. Tante Maria en oom Peet sit aan tafel; oom Peet soos altyd in die somer net in sy blinkgestrykte broek en ’n frokkie. Sy kruisbande hang weerskante van sy stoel af.
“Jy kom nie met daardie aap hier in nie,” sê Tante, en Danda draai om, gaan weer uit. Hy het vergeet Sindo sit op sy skouer. Hy bêre die nagaap in sy kartondoos, streel vir oulaas oor Vlooi se rug waar dié teen die stoepmuurtjie aangeleun lê, en gaan weer in.
“Was jou hande,” sê oom Peet.
Danda gooi waswater in die skottel en was sy hande en gesig. Toe gaan sit hy. Sy bord boontjiesop staan reeds ingeskep, en langs sy bord lê twee snye brood, elkeen met ’n stukkie botter op wat van die hitte al begin smelt het. Hy eet sonder om iets te sê. En niemand vra hom uit nie. Wanneer hy in sy spoor trap, pla Tante-hulle hom nooit.
Solank hy soggens sy eie bed opmaak, sy vuil klere getrou in die wasgoedmandjie gooi, nie sy diere in die huis toelaat nie, die werf gereeld vee, saans die asblik leegmaak, nooit vergeet om die hoenders kos te gee nie, en Saterdae die vloere vryf, is hulle tevrede. Net oor kos is hulle partykeer moeilik. Hy kry sy porsie en daarby bly dit. Tante het hom twee keer in die spens betrap en daarna nooit weer nie. Want sy het hom albei kere die aand sonder kos bed toe gestuur, en dit was groter straf as pak. Die ergste van alles was dat hy nie eens vir homself die kos wou gaan vaslê het nie. Dit was vir Vlooi, die tyd toe hy hondesiekte gehad het. Toe kry Vlooi net sy gewone handjie maalvleis, en Danda niks.
Oom Peet gaan skep vir hom ’n tweede bord sop in. Gelukkig is Danda nie dol oor boontjiesop nie – gevolglik is hy heeltemal tevrede met sy porsie.
Hy hou hulle onderlangs dop. Tante met haar grys bolla en haar dik arms. Sy lyk altyd so tevrede met haarself. Oom Peet lyk weer altyd verveeld en moeg. Na elke tweede, derde lepel sop skep hy sy een kruisband met ’n krom duim van onder af terug oor sy skouer, maar dit gly weer af.
Môre vroeg as hulle opstaan, dink Danda, sal hy en Kiki en Vlooi en Sindo en Ratel en die bottel geld al lankal om die rivier se tweede draai wees. Hulle sal hom nie mis voor môre aand as Tante sien hy daag nie vir ete op nie. En teen daardie tyd is hy baie ver hiervandaan.
“Het Tante-hulle nog nie weer van my pa iets gehoor nie?” vra Danda toe almal klaar geëet het. Hy vra maar altyd vir Tante, want oom Peet hou nooit daarvan om vrae te beantwoord nie.
“Daar was gister ’n brief,” sê tante Maria. Maar sy borduur nie verder nie.
“Gaan dit darem nog goed met hom?” vra Danda na ’n rukkie.
Oom Peet snuif en laat sy duime om mekaar draai, en Tante staan op om die skottelgoed te gaan inpak. ”Hy sê nie veel nie. Hy sê net hy sukkel elke maand om jou losies betaal te kry.”
Dis nie heeltemal waar nie, dink Danda. In die brief sê hy net hy sukkel om sy drie werkers elke week betaal te kry en dit pla hom dat hy nie vir Danda meer sakgeld kan bekostig nie.
“En wat sê hy van die skip?”
Tante gooi warm water op die vuil borde en oom Peet snuif weer ’n slag.
Toe