toe hy die bodem mistrap en vooroor in die water val. Kiki sit ’n keel op en fladder benoud oor sy kop rond.
Danda begin swem.
Hy korrel na die oorkantste eiland toe waarheen hy die hond sien swem het. Kiki sien waarheen hy mik en vlieg vooruit. Hy raak tussen die bome weg. Toe Danda moeg teen die oorkantste sandbank uitklim, hoor hy die hond iewers blaf.
“Vlooi!” roep hy weer.
Hy wag nie lank nie. Eers kom die kraai aangevlieg en ’n rukkie later verskyn Vlooi druipstert en skuldig uit die struikgewas. Danda mors nie tyd met met berisping of ’n uitvraery nie. Hy gryp die hond in sy arms en begin ’n pad soek oor die sand, tussen die bosse langs, stroom af. Hoe verder hy te voet kan vorder, hoe minder swemwerk bly daar oor. Vlooi wil nie in sy arms bly nie en spring af, maar bly naby Danda se voete.
Op die oostelike punt van die eiland steek Danda vas. Die eilandjies wat hy vroeër stroom af gesien het, lê nou nie te ver van hom af nie. Maar die vlot sien hy nêrens.
“Kom, Vlooi,” sê hy en plas die water in. Kiki raas iewers bokant hom in die lug, maar Danda val vooroor en begin swem, die hond langs hom. Die waterstewels rem aan hom, maar die stroom vergoed daarvoor, neem hom as’t ware op sleeptou.
Hulle gaan by die eerste eilandjie verby, spartel verder, dryf moeg by die tweede eiland verby. Toe is daar ’n bruin klipplaat voor hulle. Maar Danda merk niks voordat Kiki uitbundig op die klipplaat neerstryk en Sindo die ene oë en stert op hom afstorm nie. Eers toe sien Danda die vlot in die waai van die klipboog, netjies vasgemeer. En op die vlot, hoog en droog, ’n bietjie verveeld, doodkalm, sit Ratel die drama en betrag.
Danda swem so al wat hy kan. Tussen die hale deur sien hy hoe Sindo afkom tot by die rand van die stroom, grootogig, en heen en weer spring, stert hoog in die lug, en sy baas met klein piepgeluidjies aanmoedig om nader te kom. Ook Ratel merk hom en gaan sit op die rand van die vlot, wieg met sy kop op en af, angstig dat Danda en Vlooi die klipplaat moet bereik.
Vlooi bly agter en Danda swem stadiger, bang dat die hond weer ’n ander koers sal inslaan. Toe Danda vyf tree van die wal af is, kan Sindo dit nie meer hou nie en hy raap homself op en land bý Danda in die water. Danda gryp hom toe hy begin sink en hou hom bokant die water terwyl die stroom hulle meesleur tot teenaan die klip. Kiki en Ratel is ook dadelik by en Danda sukkel om homself teen die gladde, steil klip uit te trek. Sindo is vies vir sy nat lyf en probeer so hard om die water tussen sy hare uit te skud dat hy sy ewewig verloor en byna weer in die rivier beland. Toe kom Vlooi uiteindelik by die wal aan en Danda sleep hom uit.
“Deksels!” hyg Danda, “ek dag jy haal dit nie.”
Die vlot is onbeskadig en wonder bo wonder het niks afgeval nie. Sindo kom uitgelate aangebokspring en pyl reguit op die rugsak af, begin daarmee vroetel.
“Nee, los daar,” sê Danda. “Dis nog glad te vroeg vir eet.” Danda wil die rugsak toemaak, maar sien dan dat die plastieksakkie waarin die beskuit gebêre is, aan die bokant half oopgetorring is. Sindo het natuurlik van die onbewaakte kwartier gebruik gemaak om kwaad te doen. Danda maak die sak se gespe toe – tot die nagaap se groot ontsteltenis. “Ons eet nie voordat ons ’n bietjie gewerk het nie,” verduidelik Danda. “Aarde, die son is nog skaars op!”
Danda is moeg. Maar tyd vir rus is daar nie. Met dié hele drama het hy genoeg tyd verlore laat gaan en wie weet hoeveel sulke vertragings en teenslae lê daar dalk nog voor.
Eers toe al die diere weer saam met Danda op die vlot is, kom hy dit agter: die spaan is weg!
Vervlaks!
Omdat die eilandjie die ene klip is, groei daar niks. Daar sal hy nie ’n spaan kry nie. Hy sal dus daarsonder moet verder. En ’n vlot sonder ’n spaan is net so goed soos ’n motor sonder ’n stuurwiel.
Ná ’n groot gesukkel kry hy die vlot óm die klipeilandjie en terug in die stroom. En dis nie lank nie of hulle vaar weer.
“Dis wat ek vergeet het!” sê Danda na ’n ruk hardop en Vlooi waai sy stert. “’n Byl.” Hy het nooit gedink hy gaan ’n byl nodig kry nie. Vuurmaakhout breek jy mos sommer met die hand of, as dit te dik is, in die mik van ’n boom. En wie het nou kon dink hy gaan sy spaan verloor?
Wanneer die vlot te veel na dié of daardie kant toe dryf, probeer hy maar met sy hande roei om weer op koers te kom. Maar dit werk nie altyd nie en dis nie lank nie of hulle is teen die oostelike oewer. Hieroor is die diere baie in hulle skik, en voordat hy kan keer, is al vier op die wal. Die geluk is boonop aan Sindo se kant en met die grondvat-slag kry hy ’n tamaai sprinkaan beet wat op die plek verorber word.
Danda wil hulle nog terugroep, maar Kiki en Vlooi is reeds iewers tussen die bome in, albei ewe luidrugtig.
“Dan kan ek maar net sowel hier ’n spaan probeer prakseer, sê Danda vir homself. Of eintlik nie net vir homself nie. Hy het al geleer om hardop te gesels, al is daar nie ’n mens naby hom nie. As ’n mens die grootste gedeelte van jou lewe alleen was, leer jy later om sommer met die wind te gesels. Maar buitendien hou die diere ook daarvan om sy stem te hoor en partykeer lyk dit kompleet asof hulle verstaan wat hy sê. Veral Vlooi en Sindo. Ratel is maar dommerig en Kiki bly self nooit lank genoeg stil om te hoor wat iemand anders op die hart het nie.
Danda haal sy jagmes uit sy pofaddervelsakkie en begin rondsoek na ’n bakhoutboom. Bakhout is lig, sag genoeg om te kerf en redelik waterdig. Maar nadat hy minute lank sonder sukses gesoek het, kies hy maar ’n tak van ’n jongerige pypsteelboom.
Om met ’n jagmes so ’n tak af te knaag, vra nogal heelwat geduld en deursettingsvermoë. Later sit daar ’n yslike blaas in die waai van Danda se wysvinger. Maar aanhouer wen en uiteindelik tuimel die tak af grond toe – amper bo-op die arme Ratel. “Jy moet oppas daar onder,” sê Danda. “Netnou is jou ander been ook mank.” En soos gewoonlik beaam Sindo gewigtig.
Die tak word afgesleep rivier toe en op ’n breë sandbank, naby die aangemeerde vlot, sit Danda in die oggendson die jong takke en wegsny. Vlooi maak van die verposing gebruik om rotte uit te jaag, Sindo soek sprinkane, Kiki vlieg tussen die bome rond en Ratel lê lui in die son en steun van lekkerkry.
Danda sny die nuwe spaan aan die dun punt op ’n geskikte lengte af en roep die diere. Daar is nie nog tyd om dit netjies af te werk nie. Waar hy vanaand oorstaan, sal hy die tyd gebruik om die vatkant dunner weg te sny en die roeikant af te plat.
“Op is julle,” roep Danda. “Toe, maak gou. Op!”
Dié keer is Vlooi eerste op die vlot – gedagtig, waarskynlik, aan die feit dat hy netnou byna die hele vaart verpas het. Toe kom Sindo senuweeagtig by en daarna volg Ratel sukkel-sukkel. Oor Kiki bekommer Danda hom nie – hy sal wel agternagevlieg kom.
Die son sit al ’n hele ent bokant die horison en hy het nog skaars ’n kilometer afgelê. Teen dié pas gaan hulle nie vandag ver vorder nie. En hulle sal in elk geval ’n moordende pas moet volhou as hulle oor ’n week in die hawe wil wees.
Aanstoot, dus. Sonder genade.
En die rivier vat hulle.
Die lug is broeierig. So amper asof die dag reën beloof. Maar die wolke lyk nie juis daarna nie. Aan die ander kant is dit nog te vroeg in die dag om die wolke te glo. As dit moet reën en die reën is kwaai, kan dit natuurlik probleme skep. Wanneer die rivier die slag goed afkom, vat hy plek-plek sommer bome saam.
’n Uur of twee gaan dit goed. Die eilande word minder en die rivier loop gelyk en rustig. Maar soos die dag vorder, word die son warmer, en later sit Vlooi en Sindo op ’n hopie in Danda se klein skaduwee. Net Kiki en Ratel steur hulle nie veel aan die son nie. Teen twaalfuur maak Danda vir Sindo ’n lêplek onder die een olieseil en dit neem die nagapie nie lank om te snap wat van hom verwag word nie: hy kruip in die donker holte in en raak byna dadelik aan die slaap. Hy soek wel altyd avontuur, ja, maar as jy ’n halwe dag op ’n vlot drywe en jy is so bang vir water soos Sindo, raak dit te erg.
Hy weet nog nie wat daar alles vir hom voorlê nie, dink Danda. Dit is nog maar net die begin.